Dokter sonder grense. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Dokter sonder grense - Malene Breytenbach


Скачать книгу

      

      Dokter sonder grense

      Malene Breytenbach

      Toe Clare Rutland se broer Nick, wat in Sierra Leone vir die humanitêre organisasie Dokters sonder Grense werk, skielik verdwyn, besluit Clare om hom te gaan soek. As ondersoekende joernalis het sy al dikwels in Afrika gewerk, en met die hulp van Spies Lategan, geharde voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Spesmagte, bereik sy Freetown. Sy weet dat Nick se enigmatiese vriend, die Franse dokter Louis du Plessis, ook in Sierra Leone is, en heimlik hoop sy dat hulle sal ontmoet. Niks kon haar egter voorberei op die gruwels van die burgeroorlog nie, en gou verkeer Clare sowel as Nick en Louis in lewensgevaar. Spies Lategan is die enigste man wat hulle kan red, maar sal hy bereid wees om sy lewe te waag?

      ~ 1 ~

      Clare sit lank stil by haar lessenaar, maar naderhand trek sy met ’n sug die foon nader en skakel. Sy het gewik en geweeg voordat sy tot dié stap met dié besondere man oorgegaan het, nadat sy hom weer onlangs by vriende raakgeloop het en hy haar sy visitekaartjie gegee het. Vir dié ou skoolvriend van haar broer was sy nog altyd lugtig. Nou bel sy hom omdat sy in die nood is en nie anders kan nie.

      Die foon lui taamlik lank voordat ’n vrou stroperig antwoord: “Flying Spear Air Services, how can I assist you?”

      “Hallo, is dit moontlik om met majoor Spies Lategan te praat?” vra Clare.

      “Mag ek vra wie praat?” vra die vrou agterdogtig.

      “Ek is Clare Rutland.”

      “O? Kan ek sê in verband waarmee u met hom wil praat?”

      “Dis privaat. Is hy beskikbaar of nie?”

      “Van waar ken u hom?”

      Clare raak ergerlik. “Luister, wat is dit met al die vrae? Hy het my sy visitekaartjie gegee en nou bel ek hom om ’n guns te vra. Hy is nie die president van die land nie. Hy bedryf ’n besigheid en hy moet tog seker met mense praat?”

      “Ja, maar hy is versigtig om sommer met enigeen te praat nadat hy by Executive Outcomes gewerk het, veral vir joernaliste. Is u dalk een?”

      “Ek is ’n vryskutjoernalis, maar ek wil –”

      “Hy’s lankal nie meer by ’n private military company nie. Hy doen nie onderhoude nie, hoor.”

      “Ek wil nie ’n onderhoud met hom voer nie.” Clare raak nou regtig kwaad. “Skakel my net deur, asseblief. Hy ken my en my broer al jare lank. Hy sál met my praat.”

      “Wil u vlieg, of iets laat aflewer?”

      “Jy kan maar sê ek wil vlieg, maar waarheen kan ek ongelukkig net vir hom sê.”

      “Orraait dan, u gaan deur.”

      “Lategan,” draal die stem oor die foon. Clare stel haar voor dat hy agteroor sit in sy stoel, dalk nog met sy voete op die tafel. Teen sy muur sal een van daardie kalenders met sexy halfnaakte vroue wees.

      “E ... Spies, dis Clare Rutland hier. Liewe hemel, maar ek het ’n stryd gehad om deurgeskakel te word. Wat is dit met jou sekretaresse dat sy jou so verbete beskerm?”

      “Aha, ek het gehoop jy kontak my vroeër of later, mooi ding! Ag, ou Cindy dek my agterhoede. Mense dink mos ek’s ’n huursoldaat. Jy kan nie glo watse probleme dit vir my veroorsaak nie. Hoe gaan dit met die sexyste verslaggewer wat ek ken? En die kwaaiste?”

      Clare moet haar ergerlikheid oor sy vrypostigheid onderdruk, want sy is verleë.

      “Goed, dankie.”

      “Wil jy saam met my –?” begin hy vra, maar sy val hom in die rede.

      “Spies, die rede waarom ek jou bel, is ’n ernstige saak. Ek het nodig om na Sierra Leone te gaan en ek weet as iemand my daar gaan kry, sal dit jy wees. Jou lugdiens vlieg na Afrikalande en ek veronderstel jy gaan ook soontoe.”

      Daar is ’n kort stilte. “Jislaaik, ou girlie, wat de donner wil jy dáár gaan soek? Die burgeroorlog is nog nie regtig verby nie, en daar is ’n klomp barbare wat mekaar wil uitdelg. Wil jy gaan bloeddiamante smokkel? Want dis al wat daardie lot het wat enigeen se belangstelling kan gaande maak.”

      “Ek wil my broer gaan soek, Spies. Ek het jou gesê hy werk vir die organisasie Dokters Sonder Grense in Sierra Leone. Ons hoor nou al maande lank niks van hom nie, terwyl hy voorheen gereeld van hom laat hoor het. Ek en my ma raak nou regtig bekommerd.”

      “Ek was verbaas toe ek hoor hy is in Sierra Leone, van alle plekke. Aan die ander kant het ek altyd gedink hy gaan nie ’n voorstedelike algemene praktisyn wil wees nie. Hy het te veel van ’n wille streep gehad.”

      “Ja, ja. Hy was laas by ’n plek met die naam Bo, maar ons het geen idee waar hy nou is en óf hy nog daar is nie.”

      “Nee, want dis steeds oorlog, en die Revolutionary United Front, wat ons Executive Outcomes-ouens destyds uitgejaag het, is weer terug. Goed besig om mense te vermoor, te vermink, te beroof, en hulle vuil pote op die diamante te kry. Hulle het geen genade vir ouens wat humanitêre werk doen nie.”

      Clare se maag trek op ’n knop. “Ek wil vir Nick gaan soek, en ek wil ook skryf oor wat daar aangaan, want ek string vir Britse en Franse koerante.”

      “Dis nie ’n maklike land om iemand in te soek nie. Weet sy organisasie dan nie waar hy is nie?”

      “Hulle sê kommunikasie is soms moeilik daar, en dit lyk my hulle dink hy besoek vlugtelingkampe in die binneland. Mense word glo gereeld vermis en dan daag hulle weer iewers op. Dis nie goed genoeg vir my nie. Ek het ’n slegte gevoel oor Nick.”

      “Jy weet mos die ouens wat vir Médecins sans Frontières werk, neuk in gevaarlike plekke in. Jy kan nie verwag om heeltyd van hom te hoor nie.”

      “Kyk, gaan jy my help of nie? Want as jy nie wil nie, kan jy net reguit so sê, dan probeer ek iemand anders.”

      “Wie anders?”

      Sy weet nie wat om te antwoord nie, want hy is al hoop wat sy het. Sonder sy hulp kan sy nie daardie vreemde, oorloggeteisterde land binnegaan nie.

      Sy hoor hom saggies lag. “Oukei, ons kan praat, maar nie oor die foon nie. Kry my vanaand by die Three Bees in die Waterfront. Agtuur. Weet jy waar dit is?”

      “Ja, ek sal dit kry. Dankie, Spies.”

      “Nie te danke. Sien jou graag, of ek nou sal commit of nie.”

      Weer lag hy saggies, en sy groet.

      Sy sit lank en mymer by die foon. Wel, daar het sy nou die eerste stap geneem en dié karakter wat altyd dwars moet wees, gekontak. Hy is nie heeltemal ’n skurk nie, maar naby daaraan. Nou moet sy hom probeer oortuig om haar te help, met sy Spesiale Magte-agtergrond, sy kennis van Sierra Leone, sy waaghalsige uitkyk op die lewe, en sy lugdiensie wat goed en mense na ander Afrikalande vervoer. Hy het natuurlik baie geld gemaak by Executive Outcomes, en dit klink asof hy diamante uit Sierra Leone smokkel. Wat ook al, sy sondes gaan haar nie afsit nie. Sy moet Nick vind, en sy sal enige strooihalm aangryp om dit reg te kry.

      Maar dis nie slegs vir Nick wat sy wil gaan soek nie. Voordat Nick stil geraak het, het hy geskryf dat sy vriend Louis du Plessis se vrou daar in Sierra Leone dood is. Dis dié aantreklike, enigmatiese, half-Franse dokter wat Nick oortuig het om by Médecins sans Frontières aan te sluit toe sy en haar broer twee jaar gelede in Frankryk vakansie gehou het.

      Geen ander man het haar al ooit laat voel soos Louis haar laat voel het nie. Sy was verlore, oorweldig. Tevergeefs oorweldig, want hy was verloof aan Adelaide,’n mooi Franse dokter. Hulle sou binnekort trou, en na Afrika gaan om vir MSF in Sierra Leone te gaan werk.

      Nou is Louis ’n wewenaar, en hy is ook daar iewers, dalk in net soveel gevaar soos Nick. Sy wil egter nie aan enigeen ’n woord oor Louis rep nie. Hoe sal dit nou lyk as mense moet weet sy wil ook die wewenaar gaan soek? Dit lyk so ... opportunisties. Haar vernaamste rede om Sierra Leone toe te gaan, is darem om Nick te vind.

      Clare loop by die skemer restourant in en kyk of sy Spies sien. Die meisie by die ontvangstoonbank groet vriendelik.


Скачать книгу