Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse
Читать онлайн книгу.twee al in die bed is, speel hulle twee ’n rekenaarspeletjie of hy help haar om vir Leon en Magriet e-posboodskappe te stuur. Of soms kyk hulle net saam televisie. Hy vra nie sulke blatante vrae soos die jonger twee nie, maar hy is ook nie so ’n vrywillige bron van inligting soos hulle nie. Die grys oë neem soos sy pa s’n alles waar, maar dis nie altyd moontlik om te sien wat hulle dink nie.
“André, waar bring julle gewoonlik Kersfees deur?” vra sy een aand, terwyl sy monsters op die rekenaarskerm jaag.
“As my pa tyd het, gaan ons huis toe, maar hy is vanjaar baie besig, so miskien sal ons net hier bly.”
Georgina kyk vraend na hom. “Wat bedoel jy met huis toe? Ek dog hierdie is julle huis.”
Die donker kop knik. “Ons het ’n ander huis ook, so drie uur se ry uit die stad uit. Dis amper soos ’n plasie. Ons het daar gewoon toe ek klein was, maar my ma …” Hy huiwer ’n oomblik voor hy verder gaan: “… het nie daarvan gehou nie, toe kom woon ons hier. Sy het ook hier in die stad gewerk.” Die laaste woorde klink soos ’n verskoning. Asof hy haar besluit moet verdedig.
Georgina knik stil.
“Dis vreeslik mooi daar. Ons het perde en daar is ’n dam en groot grasperke. Dit lyk soos die park hier oorkant. As ek my pa vra, sal jy saam met ons gaan? Miskien kan ons al volgende week gaan?”
“Ek weet nie wat jou pa se reëlings is nie. Miskien moet ek eers met Mark praat.”
Sy oë draai na haar. “Waarom vra jy nie net my pa nie?”
Georgina konsentreer op die rekenaarskerm. “Hy is baie besig. Ek wil hom nie pla nie.”
Maar die volgende oggend word sy voor ontbyt studeerkamer toe ontbied.
“Ek hoor jy en die kinders wil plaas toe gaan vir Kersfees.” Hulle twee het die kuns vervolmaak om met kopknikke te groet en dan die besigheid so vinnig as moontlik af te handel.
Georgina luister verbaas. Dis nie soos sy haar en André se gesprek onthou nie, maar sy is ook nie lus vir ’n lang verduideliking nie. Hy gaan haar in elk geval nie tyd daarvoor gee nie.
“As dit u pas, sal ek saam met hulle gaan.” Sy wil eers byvoeg dat dit die kinders goed sal doen om uit die stad te kom, maar sy bedink haar betyds.
“Waar het jy beplan om Kersfees deur te bring? Ek sal nie voor Oukersmiddag daar kan wees nie.” Die grys oë is saaklik.
“Ek het geen planne gemaak nie.”
Sy oë vernou vir ’n oomblik. “Dan moet jy miskien maar nie ander planne maak nie.” Hy tel sy aktetas op en sy draai om, maar sy stem keer haar. “Herinner asseblief die kinders dat ek nog hulle lysies vir geskenke moet kry.”
Georgina draai om. “Koop u self hulle geskenke?”
Tot haar verbasing bly die donker oë saaklik en afgetrokke. “Ann sorg gewoonlik dat die goed by die kantoor afgelaai en toegedraai word.” Die saaklikheid verander na ’n stille uitdaging om kritiek te lewer.
“Sal u omgee as ek hulle geskenke koop? Dit sal vir my lekker wees,” voeg sy haastig by.
“Weet jy wat hulle wil hê?”
“Ek het ’n idee …”
Hy knik en daarmee is die gesprek afgehandel.
“Wat gaan maak jy op ’n plaas vir Kersfees? Ek het klaar vir jou plek aan die tafel gemaak!” Etiénne pruil teleurgesteld.
“Ek weet self nie wat ek veronderstel is om daar te doen nie, miskien sy beeste gaan oppas!”
Sy oë rek. “Hét hy beeste?”
Georgina skud laggend haar kop. “Hoe sal ek weet? Miskien moet ek die varke voer. Al wat ek weet, is dat hy beslis nie gesê het ‘Juffrou Walters, jy is welkom om die dag saam met my en die kinders deur te bring’ nie!”
Etiénne se sensuele mond glimlag breed. “En jy wil so graag welkom voel.”
Sy gooi een van die bont kussings op die rusbank na hom. Dan strek sy haar lui uit.
“Kom ons praat oor ’n interessanter onderwerp. Ek is beslis nie lus om my onverwagse rusdag te versuur met praatjies oor Sy Hoogheid nie.”
“Dis vriendelik van hom om jou die dag af te gee.”
“Die werk maak my nie meer moeg nie. Ek het eintlik baie geheg aan die kinders geraak. Dis die pa wat my moeg maak! As hy praat, spring almal rondom hom op aandag – man en muis. Niemand vra waarom nie, almal spring net. Jy het nog nooit so iets gesien nie! Wat mense darem ook nie vir geld sal doen nie!”
Sy donker wenkbroue lig vraend. “Dink jy dis net die geld?”
“Wat anders? Wie by sy volle verstand sal so ’n lewe wil lei? Nie ek nie!”
“En tog sê jy sy personeel is almal al jare by hom. Sê dit nie vir jou iets nie?”
Georgina se oë draai groot en onskuldig na hom. “Dat hulle miskien almal masochiste is, of van lotjie getik …”
Sy skouers ruk en hy vryf sy lang vingers deur haar hare.
“Ek soek ’n guns,” gaan sy ongestoord verder en toe hy haar net vraend aankyk, vervolg sy huiwerig: “Ek soek twee kaartjies vir die balletuitvoering in die operahuis.”
“Lyk ek vir jou soos die goeie towertante? Daardie kaartjies is maande gelede al uitverkoop! As ek mag vra, vir wie soek jy die kaartjies?”
“Ek wil vir Jean neem. Ek het ’n vermoede dis haar groot passie.”
“Waarom vra jy nie jou baas nie? Ek is seker hy het ’n privaatlosie.”
“Ek gaan hom nie vra nie. Ek is seker as jy net wil, kan jy vir my kaartjies kry. Tussen al jou kontakte moet daar iemand wees wat kaartjies sal hê – miskien ’n ou meisie of twee. Probeer asseblief net. Ek sal jou ewig dankbaar wees!”
“Hoe dankbaar?” Sy donker oë vonkel ondeund.
“Nie heeltemal só dankbaar nie, maar baie dankbaar!” Sy kyk op haar horlosie. “Ek moet gaan. Dankie vir middagete. En probeer asseblief jou bes!”
Hy stap saam met haar voordeur toe en wag vir ’n huurmotor om te stop. Dan soen sy hom vlugtig op die wang en spring vinnig in die wagtende geel motor.
“Waar was jy so lank?” Bertie staan ontevrede in die portaal toe sy uit die hysbak stap.
“By Etiénne gekuier. Hy stuur vir julle groete.” Sy tel die ontevrede seuntjie op.
“Is hy jou kêrel?”
Georgina skud haar kop. “Nee, hy is nie my kêrel nie.”
“Nou wie is jou kêrel?” Jean het uit die kombuis gekom en neem die ondervraging by Bertie oor.
“Ek het nie ’n kêrel nie.”
“Maar jy hou van Etiénne!”
Georgina knik. “Ja, ek hou baie van hom.”
“Gaan jy met hom trou?” Jean sit nou op een van die regop antieke stoele wat in die portaal staan. Haar kop is effens skuins gedraai, en Georgina gaan sit op die ander stoel, met Bertie op haar skoot.
“Sjoe, julle is darem nuuskierig. Nee, ek gaan nie met hom trou nie, ook nie met iemand anders nie.”
“Waarom wil jy nie trou nie? Wil jy nie ’n babatjie hê nie?” Jean se gesig is die ene konsentrasie en Bertie draai homself op haar skoot om, om nog beter te kan hoor.
Sy oorweeg dit om vir die dogtertjie te sê in vandag se tye is dit nie eens meer nodig om te trou om ’n babatjie te kry nie, maar sy bedink haar. “Alle vrouens wil nie trou nie.” En dan verstil haar stem toe ’n groot gestalte in die studeerkamer se deur verskyn, arms losweg gevou. Alhoewel hy niks laat blyk nie, is sy seker hy het elke woord van die vreemde gesprek gehoor. Hy kon nie anders nie –