Heler van skade. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.Heler van skade
Malene Breytenbach
Hartklop
1
“U kan ingaan, dokter,” sê die gesette jong ontvangsdame vriendelik. “Dokter Jens en dokter Marita wag op hete kole vir u.”
Lucinda is net so effens op haar senuwees, want al het dié twee direkteure van die Wynland-kliniek haar genooi om vir die onderhoud te kom, moet sy nogtans ’n goeie indruk maak en sy het die afgelope ruk so hard gewerk dat sy bang is sy lyk moeg. Daarom staal sy haar en loop by die groot kantoor in, waar ’n middeljarige man en vrou op gemakstoele by ’n koffietafel vir haar sit en wag.
Hulle staan albei op en glimlag vir haar.
“A, dokter O’Neill,” groet dokter Jens Krause en skud haar hand. “Dis goed om jou weer te sien. Laas was jy nog ’n student in my klas, en dis nou seker agt jaar gelede.”
“Ek onthou u egter goed as ’n uitstekende en inspirerende dosent,” komplimenteer sy glimlaggend.
“Ag, ek was nog altyd geesdriftig en het hard probeer om julle te beïnvloed,” skerts hy. “Ontmoet my vrou en mededirekteur, dokter Marita Krause. Ek het haar in Pretoria ontdek.”
“Aangename kennis, dokter.” Lucinda neem die sagte hand wat nogtans ’n ferm greep het. Sy kyk in oë so potblou soos haar eie en hou van die uitdrukking van sagtheid en verwelkoming daarin.
“Jou reputasie het jou vooruitgeloop, jonge dame,” skerts die vrou. “Ons is baie bly jy het ingestem om vir ’n onderhoud te kom. Sit gerus, dan gesels ons.”
Lucinda het pas oorkant hulle plaasgeneem, toe kom die ontvangsdame in met ’n skinkbord waarop daar koekies en tee is.
“Hierdie is ons regterhand, Bets Naudé, vir wie jy al ontmoet het,” sê Jens Krause. Dankie vir die tee, Bets.”
“Ja, ons het kennis gemaak, dok. Ek wou nog vir dokter O’Neill sê ons sal dit nie teen haar hou dat sy so mooi is nie. So ’n gesig behoort die siekste pasiënt te troos.”
Lucinda is verleë, maar die ander lag.
“Jy sal aan hierdie grapjas gewoond moet raak,” sê Marita kastig streng. “Sowat van kordaat en bekkig het jy lanklaas gesien.”
Bets loop glimlaggend uit, maar knipoog vir Lucinda.
Hemel, hulle tree almal op asof hulle nie twyfel dat sy die pos sal aanvaar nie, dink sy. Dit laat haar gevlei en heerlik gesog voel.
Marita Krause beduie na die skinkbord. “Help jouself, dokter O’Neill.”
Nadat hulle klaar tee gedrink het, sien Lucinda dat die direkteur saaklik lyk. “Teen dié tyd besef jy seker dat ons jou ge-headhunt het, nè?”
“Ek het so iets vermoed, dokter Krause.”
“Ons kliniek word hoog aangeskryf en dis iets waarop ons besonder trots is. Jy weet, ek en Marita het dit op die been gebring met behulp van skenkings van oorsese stigtings en dis ons lewe. Ons is ook trots op die kundigheid van die personeel wat ons gewerf het. Ons het ’n uitstekende laboratorium met ’n patoloog en twee assistente waar ons bloedtoetse en ander toetse kan doen. Benewens die afdeling vir volwassenes het ons ook ’n afdeling vir kinders en ons kry pasiënte uit die hele land, uit Afrika en selfs van oorsee. Ons het nog altyd twee pediaters in diens gehad, maar dokter Sarah van Wyk tree af en ons wil weer so ’n goeie pediater aanstel.”
“Ek weet van haar,” sê Lucinda. “Sy is internasionaal bekend. Wat laat u dink dat ek, wat nog nie eens dertig jaar oud is nie, haar skoene sal kan vol staan?”
Marita Krause glimlag vir haar. “Moenie dink ons het nie verskeie potensiële kandidate geïdentifiseer nie. Jy het die reputasie by Tygerberg dat jy ’n harde werker is en dat jy baie goed met kinders klaarkom. Ek is seker hulle wil jou nie verloor nie, maar onthou, hulle kry darem altyd nuwe bloed namate die mediese studente afstudeer. Ons is bereid om die salaris wat jy nou kry te verdubbel om jou te lok.”
Lucinda kyk verstom na haar. “Verdubbel?”
“O ja. Die kliniek doen goed en ons kan bekostig om ons mense behoorlik te vergoed.”
Lucinda byt vlugtig op haar lip. “Dit gaan nie vir my bloot om geld nie, maar om beskadigde kinders weer fisiek en geestelik heel te kry. Daar gaan baie trauma met siekte gepaard.”
“Dit besef ons maar alte goed,” sê Marita Krause. “Ons weet jy het ook sielkunde deur Unisa gestudeer ten spyte van jou veeleisende werk. Jy werk blykbaar al sedert jy gekwalifiseer het by Tygerberg, en eintlik kon jy al ’n privaat praktyk oopgemaak het of by een aangesluit het.”
Haar man kyk stip na Lucinda. “Ons het jou werklik hier nodig. Een van die redes is dat ons vigs-pasiëntjies meer word. Daarom bied ons nie slegs ’n beter salaris nie, maar uitstekende byvoordele. Jy kan byvoorbeeld gratis in een van ons kothuise intrek. Die een wat dokter Van Zyl ontruim, kan vir jou opgeknap word.”
Lucinda voel die versoeking al groter word. Die omgewing hier is pragtig tussen die wingerde en berge. Sy sal nie meer deur die verkeer tussen Kaapstad en Tygerberg hoef te sukkel nie. Ongetwyfeld is hierdie kliniek baie goed toegerus en het dit die modernste geriewe, wat nie altyd die geval is by die opleidingshospitaal nie. Sy sal boonop haar duur dorpshuis in Kaapstad, waarvoor sy ’n groot verband moes uitneem, kan verhuur. Dit sal die verbandkoste help dek.
Maar om weg te gaan van die kindereenheid by Tygerberg sal ook hartverskeurend wees. Vir haar wat wees grootgeword het, was haar kollegas daar soos ’n familie.
Sy frons en kyk af na haar hande. “Ek sal daaroor moet dink.”
“Kom ons wys jou ons fasiliteite, dan besluit jy,” sê Jens Krause, en hy klink regtig asof hy dink dit sal die deurslag gee.
“En hier is ons kinderafdeling.”
Lucinda loop agter Jens aan die saal binne en kyk na die ruimte, die lig en vrolike dekor. Dit voel asof haar hart swel. Dis so mooi, veel mooier as by Tygerberg, maar die kinders hier lyk net so siek. Sy tel tien beddens.
“Ons het MIV-positiewe kinders en drie teringgevalle wat ons afsonderlik behandel omdat dit so aansteeklik is. Tussenin kom kinders met alles van brandwonde tot gastritis ook hier aan.”
Terwyl hulle deurloop, kyk die kinders wat nie so siek is nie, grootoog en nuuskierig na hulle. Lucinda steek vas toe sy ’n dogtertjie met groot, hartseer oë en blonde krulle sien. Die kind hou ’n pienk beertjie styf vas. ’n Gewaarwording soos ’n herinnering aan iemand van lank gelede, kom by Lucinda op.
Sonder om twee keer te dink, loop sy nader. “Hallo, jong, wat is jou naam?”
Die dogtertjie huiwer eers, maar met ’n klein stemmetjie antwoord sy: “Nanette.”
“Nanette? Dit klink soos ’n feetjie se naam.”
Sy word met ’n klein glimlaggie beloon.
“Wat is jou beer se naam?”
“Net Beertjie.”
Die kind praat met ’n effense vreemde aksent Afrikaans, maar dis nie ’n Engelse aksent nie. Lucinda druk haar skouer en draai terug na die Krauses, wat haar met glimlagte dophou, asof hulle vermoed dat sy reeds halfpad gevang is.
“Dié enetjie is MIV-positief en dis taamlik ver gevorder, want haar ma het vigs gehad,” lig Marita Krause haar sag in.
Lucinda knik, maar haar hart is sommer seer. Sy het al genoeg kinders gesien wat met dié gevreesde siekte gebore word en dis ’n doodsvonnis. Sy kon haar nog nooit genoeg verhard om net klinies te reageer as sy hulle sien nie.
Hier en daar huiwer sy by beddens, of gesels sy met die kinders, maar die blondekoppie bly haar by. Die teringlyertjies gryp haar ook aan die hart.
Nadat sy al die pasiënte gesien het, kom ’n man met ’n wit jas en grys hare saam met twee verpleegsters in.
Dokter Jens stel hulle voor: “Hierdie is die ander pediater, dokter Ras Wannenburg, suster Martie de Koker en verpleegster Jenny de Lange. Mense,