Pad na jou hart. François Bloemhof
Читать онлайн книгу.FRANÇOIS BLOEMHOF
PAD NA JOU HART
VIND JOU WARE NOORD
na ’n storie en draaiboek deur
Ivan Botha &
Donnalee Roberts
Jasmyn
SKRYWERSNOTA
Ek het van die begin af waardering gehad vir my medewerkers se professionalisme. Die feit dat Ivan en Donnalee enduit tot die produk verbind was en ’n “fliekboek” selde in Afrikaans verskyn, sou my reeds sterk laat oorweeg het om een te skryf wat op hulle storie gegrond is. Toe is daardie storie boonop lekker gebeurtenisryk en vol ontdekking en warmte.
Hierdie roman is op die draaiboek gebaseer en nie op die rolprent nie. Net soos wat die regisseur die draaiboek geïnterpreteer en verwerk het, kon ek ook. Daar is noodwendig heelparty verskille tussen rolprent en boek, ook in die dialoog. Waar die rolprent byvoorbeeld wen aan visuele indrukke en die stemming wat deur musiek geskep word, kon ek weer die karakters met gedagtes en motiverings uitbou. Ek het wel later na die eerste snit gekyk sodat ek stukkies detail asook die voorkoms van mens en plek kon bywerk.
Dit was ’n aangename pad!
1
Elke mens het ’n pad wat hy moet stap. Of nee, ’n klomp van hulle. Hulle lê daar vir jou en wag wanneer jy die wêreld binnekom, sommiges onveranderbaar en sommiges wat jy self sal inslaan.
Soos daardie feit vir ander mense geld, so geld dit vir Basson van Rensburg, net nog iemand met ’n reis wat op hom wag. Een van miljoene, maar met sy eie, spesifieke doel en bestemming.
Jy kan beplan soos jy wil, glo wat jy wil, jy kan jou roete mooi uitwerk. Maar al jou keuses en besluite?
Wel, hulle kan dalk help.
Of jou net mooi van die spoor af trek.
Basson van Rensburg, 27, ryk, aantreklik. Dis ’n goeie wegspring daardie, die bates van jeug, genoeg geld en goeie voorkoms. As jy na ’n gelukkige einde soek, gee sulke eienskappe jou ’n voorsprong.
Maar.
Dis nie hoe dit werk nie. Om by ’n gelukkige einde uit te kom, moet jy weet wat jy soek en kan uitwerk hoe om dit te kry. En die beste moontlike einde is die een wat jou bring by iemand anders se hart. Dit is die moeilikste pad daai, en die wêreld lê wyd en die wêreld lê oop. Enige plek kan jy verkeerd afdraai. Die slaggate is net so wyd.
En só wag die elemente om in plek te val. ’n Son wat opkom soos hy nog nooit opgekom het nie. ’n Kompas wat oopgemaak word sodat die naald kan soek, soek, nes elke mens sy ware noord soek. Briewe wat geskryf word, padkaarte wat oopgevou word, sleutels wat oorhandig word, lyste wat gemaak word, ’n hartklop wat deur ’n onpartydige masjien gemeet word. Indrukke en brokkies wat saam ’n geheel moet vorm wat jy nie nou al kan voorspel nie.
Jy is dan nog maar by die begin.
2
“Dis die spier in die menslike lyf wat die hardste werk …”
Hy is gewoond daaraan om sulke retoriek met die nodige gewigtigheid te lewer. Mense luister as hy praat, hy het die regte stem en houding. En kennis. Verder is hy immers Basson van Rensburg, 27, ryk en aantreklik en gebore om aankondigings te maak, net soos soveel ander mense gebore is om te luister.
“Met die vermoë om aan te hou klop buite die liggaam,” voeg hy by en beduie na die mure om hom. “ ’n Korporatiewe masjien.”
Basson is gemaklik in stylvolle grys, al is dit nie die soort pak waarin die man op straat sou weet hoe om reg te beweeg nie. Nie elke lyf is ontwerp vir korporatiewe flair nie. Om die langwerpige tafel sit sy toehoorders. Dit is stil hier in die raadsaal in Sandton, Johannesburg, maar elders in die gebou is daar ’n kakofonie van produksie, masjinerie, industrie.
“Menere, ek waarborg julle ’n groei van 14.8 persent in ons winste, en dis net in die eerste jaar.”
Teen die skerm is dit uitgebeeld, geprojekteerde syfers. By WERKERSMAG is daar ’n minusteken, by PROFYT ’n plus. As jy op die regte manier daarna kyk en jou emosies uit die ding uit hou, is dit ’n pragtige som.
Sakelui wys nie maklik hul gedagtes nie; dis mos dodelik vir besigheid. Tog verklap die aandeelhouers se gesigte ’n kombinasie van skeptisisme en opgewondenheid. Die projeksies is haas te goed om te glo, maar Basson van Rensburg sê dan so – Basson junior, grootgemaak om te weet wat gaan vir wat, in elk geval wat faktore soos produktiwiteit en winsgewendheid betref.
“Tegnologie het lankal die res van die wêreld se hande-arbeid oorgeneem.” Sy stem is beslissend. Hy kyk hulle een vir een in die oë. “En dis hoekom ons by Vecto Petroleum mens met masjien gaan vervang. ’n Hart wat nooit ophou klop nie.”
Onder hom, onhoorbaar, hou die maatskappy se masjiene aan met werk. Die mense wat vervang gaan word, ook.
Deur meer as een van dié om die tafel se kop flits die gedagte: Wat dink sy pa hiervan?
“Wys nou hande.” Dit registreer nie as ’n bevel nie omdat hy dit op die regte manier vra. Dié om die groot tafel wissel blikke, kry dit selfs reg om hulle gevoelens weg te steek. Tog kan hulle nie dadelik die hande gelig kry nie: hande wat moet help besluite neem oor ander se lewens.
Dan tog. Hulle lig daardie hande. Hy met die moderne mondering en vlymskerp besigheidsbrein verwag dit dan en het alles so logies uiteengesit.
Basson se gesig verraai niks. Dis tog die uitslag wat hy verwag het.
3
Die man lyk uitgeput waar hy daar lê, asof hy swaar dra aan elk van sy 58 jare, sy vel bleek teen die blou hospitaalklere. So het siekte nou eenmaal die manier om mense gelyk te maak; dokter Scholtz sien dit al gebeur vir langer as wat hy wil onthou.
Hy aarsel nog, loer deur die gaping in die gordyntjie wat om die bed getrek is, maak homself gereed vir die informele manier van praat wat hy met min ander pasiënte gebruik. Basson van Rensburg is nie een vir jeremiades en oordadige simpatie nie. Nou ook, as hy skuins draai na die hartmonitor toe, is dit met die reguit blik wat hom tot sulke hoogtes in die sakewêreld geneem het.
Die aspris masjien wil nie saamspeel en óók oorpresteer nie. Stadig begin dit darem weer ritme vang en die verpleegster buk, steek ’n naald in die pasiënt se arm en koppel ’n drup.
“Seker nie jou drink of choice nie,” verbreek dokter Scholtz die stilte en hy is bly om te hoor hy klink joviaal. “Maar hey, if the lady is buying, hoe kan ’n man nou nee sê?”
Verpleegster Norma kyk op en glimlag skaam. Min selfvertroue het sy gehad toe sy hier aangekom het, en net so min sal sy hê die dag dat sy vertrek of hulle haar hier uitdra. ’n Staatmaker, harde werker. Sy verdwyn by die gordyntjie uit.
Die dokter knik vir André wat langs die bed sit; skielik kan hy nie die man se van onthou nie. Getroue André, ooglopend die soort wat altyd daar is om op gereken te word. Soos ander kere toe hy hier kom besoek aflê het, dra hy sy “uniform”: strikdas en kruisbande. Hy is meer as net Basson se regterhand; het al soos familie geword en dit lyk vir dokter Scholtz die twee mans dink so eenders oor sake dat hulle ’n dag lank plekke sou kon ruil en niemand sou agterkom nie – as dit nie was vir die groot fisieke verskille nie. André het ’n kop vol hare terwyl Basson senior s’n bra karig is, en dan is daar sy bril wat hy alewig afhaal en opsit.
“En hoe voel jy, Basson?” vra die dokter.
“Flouer as jou grappies.”
Daarop kan nie een van die twee sy lag hou nie. Dis egter een gesonde laggie en een wat kortgeknip word, Basson senior se asem is te min.
Dis tyd vir erns, en dokter Scholtz frons. “Jy was gelukkig, my vriend. Dit was ’n ligte beroerte. Dit lyk of die bloedtoevoer drasties verswak het, so dit wil voorkom asof hierdie