Brigadier en die raaiselponie. Marga Jonker

Читать онлайн книгу.

Brigadier en die raaiselponie - Marga Jonker


Скачать книгу

      

      Brigadier

      en die

      raaiselponie

      Marga Jonker

      Tafelberg

      Vir Hardus

      1

      Bio-pappie

      “Flippen rý net, Bio-pappie, step on it!” sis Alexandra se stem in Ben se rigting. “Ek gaan mal word as ek nog ’n oomblik langer hier moet rondhang!”

      Die Land Rover se deur klap toe en die logo MULTIMEDIA P teen die linkerkant van die voertuig word MULTIMEDIA PHOTOGRAPHY.

      “Gordel vas!” skree Christa van die stoep af waar sy on­der Marius se arm staan.

      “Ja, ja, gordel vas,” beaam Ben. Hy loer oor sy skouer na Zahn, maar haar veiligheidsgordel is reeds vas.

      Die Land Rover trek vinnig weg, die perdesleepwa steu­­nend agterna.

      “Ag, ek hoop tog net Marius skink gou vir haar iets vir haar senuwees.” Alexandra se stem klim ’n oktaaf.

      “Hy sal darem seker. Hy lyk seker net so skaperig?” sê-vra Ben.

      Zahn kyk terug na die kleinerwordende prentjie agter die Land Rover. Marius staan met sy arm styf om haar ma se lyf terwyl dié dapper vir hulle waai.

      “Ma én Ma­rius is eintlik oukei,” het Zahn gisteraand nog weer vir Alexandra probeer oortuig. “Hulle raak net gou op hulle senuwees as dinge nie netjies is nie. Jy moet net leer om ’n bietjie meer georden te lewe.”

      “Flip, Zahn, is jy ernstig?” Haar sestienjarige suster het haar oë dramaties gerol. “Zahnie, jy is unhealthy! Jy is oud voor jou tyd! Snap out of it! Jy is veertien, nie flippen veertig nie! Hulle is stokou mense! Ma én Marius kom uit ’n TCM-fliek uit!”

      “Dis darem nie heeltemal waar nie,” het Zahn vir haar ma se vriend probeer opkom. “Marius kan soms baie snaak­se grappies vertel, én hy reël darem vir ons al daardie fliekkaartjies.”

      “Daai fliekkaartjies is net sodat hulle kan gaan deftig uiteet sonder ons. Fliek is goedkoper as uiteet. Hy is ’n boekhouer en bereken elke sent. Hy en Ma het geen idee wat regtig vir ons belangrik is nie. Ek like nie mense wat my nie get nie!” Alexandra het haar regterhand in die rooi vingerlose handskoen gebal en daarmee in die palm van haar linkerhand – in ’n swart vingerlose handskoen met ’n spinnerakpatroon op – geslaan. “Dit freak my uit!”

      Zahn maak seker haar iPod en oorfone is in haar rugsak, net ingeval sy dalk langs die pad ’n gestry uit haar ore moet blok. Haar vingers streel oor haar nuwe Monty Roberts-boek, Ask Monty: Over 170 most common horse prob­lems solved.

      Hulle ry ’n ent langs Melkbosstrand se kuspad af. Die see lê vandag grys uitgestrek, met branders wat lusteloos op die strand uitrol. Ben draai die Land Rover se neus van die teerpad af op die grondpad in die rigting van die Melkbosstalle.

      “Julle vat net nie weer ’n jaar om die perd te laai nie. Ek wil so gou as moontlik uit hierdie verkrampte plek wegkom!” knor Alexandra. Sy maak haar swartgekleurde hare los en frizz dit met haar vingers deurmekaar. Ben ry rustig verder. Dit lyk nie of Alexandra se ongeduld hom enigsins pla nie.

      Hulle parkeer voor die kantoor. Alles lyk stil. Die meeste ruiters is op ’n uitrit langs die see.

      Zahn spring uit die Land Rover. Ben klim ook uit en volg haar na die agterkant van die sleepwa. Alexandra draai die truspieëltjie na haar toe en begin nog grimering aansit.

      “Wat doen ons nou?” vra Ben.

      “Weet jy nie hoe om ’n perd te laai nie?” vra Zahn.

      “Nee, ek weet nie veel van perde af nie.” Ben is van gemiddelde lengte en moet sy seningrige arms bo sy kop uitstrek om die knip van die perdesleepwa se swaar agterklap los te maak. Sy lang krulhare val agtertoe. Hy dra ’n swart-en-silwer oorkrabbetjie in sy oor. Sy swart T-hemp hang los om sy skraal lyf. Dit pas by die swart Levi-jeans. Iets aan sy lyftaal en sy hare laat haar dink aan ’n seerowerkarakter in ’n fliek.

      “My vriendin het die sleepwa vir ons gereël. Sy sê dis ’n baie goeie en veilige wa. Sy het ook vir ons die gastehuis met die stalle by Plettenbergbaai gekry.” Ben sukkel met die staalknip.

      “Ja, die sleepwa lyk goed. Ons moet maar net kort-kort kyk dat Briggs rustig staan.” Zahn se maag trek op ’n knop as sy dink aan die twee weke wat voorlê saam met haar wilde suster en dié vreemde man wat hulle pa is. Sy pluk die linkerkantse skuifknip maklik los en kyk geïrriteerd hoe Ben steeds onseker met die regterkant­se een vroetel. Sy tatoeëring krul van sy hand af oor sy pols tot by sy elmboog soos ’n veelkleurige branderplankversiering.

      “Môre, oom Jimmy,” groet Zahn toe die stalbestuurder nader stap.

      “Môre, môre, Zahnie. Môre, môre,” groet oom Jimmy.

      “Aangename kennis. Ben Turner, Zahn se pa,” sê Ben, asof dit die normaalste ding is, en skud oom Jimmy se uit­gestrekte hand.

      Oom Jimmy kyk vraend na Zahn, maar sy knik net en trek haar skouers op. Sy gaan nie nou probeer verduidelik nie.

      “Nou waar sleep julle die Brigadier heen? Ek hoop nie julle gaan te ver nie. Gelukkig is hy darem ingeënt en nie ’n pieperige kêrel nie.” Hy kyk na Ben. “Ry jy ook?”

      “Wel, ons gaan Plett toe – en nee, ek ry nie perd nie. Ek is meer van ’n motorfietsman,” antwoord Ben rustig.

      “Nou laat ek help om julle op die pad kry. Gaan haal jy gou vir Briggs, Zahn, dan maak ek solank die sleepwa reg,” bied oom Jimmy aan.

      Zahn draf na waar Brigadier met gespitste ore oor sy staldeur loer. Sy voel sommer hoe die spanning uit haar wegsypel terwyl sy die donkerbruin warmbloed se nek streel. Die groot perd druk sy neus teen haar hare en blaas oor haar kop. Sy ruik sy bekende lusern-asem.

      “Jy moet gou water drink. Kom, ou grote.” Zahn stap met hom tot by die waterkrip. Brigadier druk sy neus in die water en blaas ’n paar borrels. Druppels koue water spat oor Zahn se hande.

      “Ek is jammer om jou so ver weg te neem van Scarlet en Chardonnay af. Ek kan steeds nie glo dat Alexandra dit reggekry het om ons saam te sleep nie, maar jy weet hoe is Alex – ’n regte ninja. Sy sal Tafelberg verskuif as sy die dag wil.”

      2

      Oom Jimmy

      Die groot perd volg Zahn rustig tot in die dubbele perdesleepwa.

      “Gits, Zahn, ek het skoon vergeet,” sê oom Jimmy. “Carla het vanoggend jou saalkleedjie geleen. Hare was om een of ander rede sopnat.”

      Oom Jimmy wys na waar Zahn se vriendin se pienk saalkleedjie hang om droog te word. “Ek is nie seker wat gebeur het nie. Dalk weer Kareltjie wat poetse gebak het. Maar hier, jy kan my beste een leen.” Oom Jimmy gee vir haar ’n geweefde rooi saalkleedjie aan. Dit pas eintlik by die cowboy-saals wat oom Jimmy altyd gebruik.

      Wat nóú nog!, wonder Zahn met ’n sug.

      “Dis reg so, oom Jimmy. Sê net vir Kareltjie hy skuld my!” Hulle laai haar saal, toom, rystewels en rypet alles netjies aan die oop linkerkant van die wa. Zahn hou van haar goed netjies gepak.

      “Wat van kos, Zahn? Moet ons vir hom kos laai?” vra oom Jimmy. “Of is daar kos by die stalle waar die Brigadier gaan staan?”

      Ben haal sy skouers op.

      “Nee, ek weet self nie. Dit is ’n gasteplaas. Daar is ’n gastehuis en mens kan daar kom vakansie hou met jou perde en jou honde, maar ek weet nie van die kos nie. Ons moet ons eie kos maak, dit is selfsorg. Dalk geld dieselfde reëls vir die perde.”

      “Ja wat, hier is mos genoeg plek vir kos, oom Jimmy. Ek wil nie kanse waag nie, netnou sit ek met ’n honger perd,” stel Zahn voor.

      Zahn en oom Jimmy dra bale lusern en ’n houer met Briggs se spesiale hawervoermengsel uit die voerkamer. Ben help


Скачать книгу