Onderwêreld. Fanie Viljoen
Читать онлайн книгу.
Onderwêreld
Fanie Viljoen
The adage is true that the security systems have to win every time, the attacker only has to win once.
— Dustin Dykes
But did you, in your three-piece psychology and 1950’s technobrain, ever take a look behind the eyes of the hacker? Did you ever wonder what made him tick, what forces shaped him, what may have molded him?
I am a hacker, enter my world …
Mine is a world that begins with school … I’m smarter than most of the other kids, this crap they teach us bores me …
— The Mentor
(Uittreksel uit “The Hacker’s Manifesto”)
<html>
<body>
<h><b>SIGN ON</b></h>
<p>Die invoer van ’n kombinasie van ’n gebruiker se identifikasie en sleutelwoord om toegang te verkry tot ’n rekenaar, program of netwerk.</p> </body>
</html>
Dis hoe vrees voel: Vuur blits deur jou lyf, elke senuwee ruk wakker, adrenalien gooi jou gedagtes in snelrat, jou oë sper oop, jou asemhaling hou op en jou borsholte pers saam. En jy hoor dit – jou eie hart. Klop. Klop. Klop.
’n Onbekende geluid maak hom wakker. Of dalk is dit iets in ’n droom wat sê: “Staan op. Jy moet hom keer!”
Dit is waar die vrees begin.
Af, af met die donker gang stap hy nou. Sy keel trek toe. Die vuishoue van sy hartklop hamer al vinniger. Hy het lus om terug te draai, weg te hardloop, maar hy is byna by daardie vertrek aan die end van die gang. Dit is daar waar die lig brand. Dit is daar waar sy oë vanaand sal oopgaan.
Hy kan skaars sy eie voeteval hoor op die dig geweefde mat. Sy asemhaling is vlak, maar elke asemteug word mettertyd dieper, dringender as die vorige een. Nou is hy by die halfoop deur van sy pa se studeerkamer.
Jy moet hom keer!
Keer dat hy wát doen?
Hy staan eers net daar. Luister. Hy hoor die krieke buite die huis. ’n Motor in die straat. Uit die studeerkamer kom die geritsel van papiere.
Die lig wat onderdeur die deur skyn, verlig die punte van sy tone. Hy ruik die houtdeur se politoer, die bekende reuk wat orals in hulle huis hang. Sy vingers raak aan die deurhandvatsel en die koue stuur ’n skok deur sy elfjarige lyf.
Daar kom ’n geluid uit die studeerkamer. Soos ’n verskrikte dier, dalk. Nee, dit is ’n mens. Dit is sy pa.
Die seun stoot die deur heeltemal oop.
Wat hy voor hom sien, word die eerste snydende skreegeluid wat deur sy grootwordjare sal eggo: Sy pa se groot lyf, half oor die lessenaar gebuig, asof hy besig is om te skryf. Maar in sy hand is daar nie ’n pen nie. Daar is ’n 9 mm-pistool in sy geklemde vuis. Een vinger is om die sneller.
Die seun sien die fyn haartjies op sy pa se vingers blink in die lig van die lessenaarlamp, sy kneukels wit van die spanning. Sy pa se oë is vasgevang deur die swart metaal asof hy nie meer weet waar hy is nie. Asof hy onbewus is van die leerstoel waarop hy sit agter sy groot lessenaar. Asof hy nie weet van die lamp se lig wat op sy gesig skyn en hom laat lyk soos die monsters waarvan die seun gedroom het toe hy jonger was nie.
Die een kant van sy gesig is helder verlig, die ander kant in skadu.
Is dit sy pa? wonder die seun nou. Ís hy nie dalk ’n monster nie? En is dit nie net ’n droom dié waaruit sy regte pa hom netnou sal wakker maak nie; vir hom water sal bring om hom te kalmeer nie?
Kalmeer.
Dis wat hy nou moet doen. Maar dit is nie so maklik nie. Nie as jou hart besig is om jou ribbes stukkend te slaan nie.
“Pa!” sê hy.
Die woord kom lê tussen hulle. ’n Eggo.
Nou kyk sy pa op. Daar is ’n glans van herkenning in sy moeë oë. Hy kom stadig terug uit die donker onderwêreld. Sy skouers sak effens, asof die spanning daaruit vloei. Sy greep om die vuurwapen verslap. Die gewig van die pistool laat dit uit sy hand gly tot op die oopgespreide stuk lap op die lessenaar.
Die seun wil vra: “Wat doen Pa?” Maar die woorde kom nie verby sy droë keel nie.
Sy pa kyk na hom. ’n Spiertjie ruk bo-kant sy oog. Die verstarde ooglede beweeg nou.
Gaan sy pa huil? Hy het hom nog nooit sien huil nie.
Sy pa vou die pistool toe in die lap. Sy hande bewe.
“Gaan … gaan slaap nou, my seun,” stamel hy en trek ’n lessenaarlaai oop. Tydsaam druk hy die pistool daarin. Daarna strek hy sy vingers uit na ’n geel koevert wat op die tafelblad lê. Maar voor hy dit kan raak vat, kyk hy op. Sy gesig is natgehuil.
Die seun staan net daar, sy een hand steeds op die deurknop.
“Dis oukei, ek belowe,” sê sy pa. “Ek … ek sal nie …” Die stilte word ’n spons wat die woorde moet indrink. “Jy moet nie vir jou ma vertel nie. Oukei? Dis ons geheim.” Sy mondhoek trek skeef toe hy probeer glimlag. “Gaan slaap nou.”
Die seun se hand gly van die deurhandvatsel af en val langs sy sy. Hy sê steeds niks nie, maar binne in hom weerklink sy pa se stem.
Toe hy omdraai en kamer toe stap, hoor hy sy pa sê: “Nag. Lekker slaap …” Sy pa sê sy naam, maar hy hoor dit nie. Sy naam los op in die donker. Verdwyn.
Maar dit is goed so, want jare later sou hy vir homself ’n ander naam kies. Een waarmee hy die vrees kon uitdryf. ’n Naam wat sê hoe dit voel om magteloos te wag vir antwoorde en net eggo’s uit die onderwêreld in ruil te kry.
Ekk-0.
<html>
<body>
<h><b>PING</b></h>
<p>’n Rekenaaropdrag waartydens ’n pakkie inligting van een rekenaar na ’n ander gestuur word. Die teiken-rekenaar moet die inligting eggo om te bevestig dat dit bereikbaar en aktief is.</p>
</body>
</html>
<h1>Sluimerende grys selle, Polyfilla en ringtones</h1>
Die skril gelui van die selfoon bars by my ore in en ontplof binne-in my benewelde brein. “Hier kom die sirkus!” sou my ma, Rina, nou laggend gesê het as sy die polyphonic ringtone hoor. En dan sou sy dalk skuldig voel omdat sy haarself toegelaat het om te lag.
Ek druk die kussing oor my kop. Dit doof die klank effens uit. Ek wil nog slaap, verdomp. Maar die gelui dring deur die kussing en kom haal my daar uit. Met toe oë gryp ek na die selfoon op die bedkassie. My duim mik na die reject call-knoppie, maar voordat ek dit kan druk, sien ek die naam op die skerm: Nicole.
Die naam swem deur die sluimerende grys selle in my kop – en dit tref my. Nicole! My girl. As ek dooddruk, sal sy my hel gee. My duim beweeg vinnig oor na die antwoordknoppie.
“Hei, sexy! Wat vat jy so lank om te antwoord?” Net om haar stem te hoor, bring Nicole se beeld voor my op. Lang blonde hare wat sy agter haar ore indruk. Fyn neus. Mooi lippe en blou oë wat so mooi kan flirt en terg.
“Nicksie … Sorry, girl. Ek …”
“Slaap jy dan nog, Greg?”
“Of course, ja. Ek slaap altyd totdat Ekk-0 … uh, ek bedoel Eckardt my kom wakker maak. Hy draf nog. Sal seker nou hier wees.”
“Eckardt? Hoe gaan dit met hom?” Die vraag laat my ongemaklik regop sit in my bed. Ek het dit nog nooit vir Nicole gesê nie, maar ek like dit nie as sy uitvra oor Eckardt nie. Oukei, miskien is ek net simpel, maar as Nicole vra oor Eckardt, gaan iets