Kortetjies en 'n lange. PG du Plessis
Читать онлайн книгу.section>
Kortetjies en ’n lange
PG du Plessies
Tafelberg
Onder die storievertellers is PG du Plessis ’n gerekende en bekende. Nie net op TV of die verhoog nie, maar ook in koerantrubrieke en die bundels wat verskyn het. Baie van die stories is aangepas vir televisie, waar dit ’n ander gestalte gekry het, soos die onvergeetlike Koöperasie-stories.
Twee van PG se vroegste kort-kortverhaalbundels, Het olifante elmboë en Neklis, beleef nou saam, onder ’n nuwe titel én met nuwe verhale bygeskryf, ’n heruitgawe. Die titel van die versameling kom van die ou slinger-luie van plaas-oproepe: Kortetjies en ’n lange.
Maar nét ’n gewone heruitgawe is dit nie, want PG het, in sy eie woorde, “aan party van die stories gepeuter” – onder meer aan dié wat hy vertel het tydens sy verhoogoptredes (eers saam met Alexa Strachan en later saam met Ollie Viljoen, Valiant Swart en Pietman Geldenhuys). Van die stories het hy nou, so sê hy, in die rêrige verteltrant van ’n verhoog af oorgeskryf, effens aangedik en verander – want ’n bundel bied meer plek as ’n koerant of tydskrif. Van die stories lees dus anders, ligter. Dalk kan ’n mens hulle, in die ware sin van die woord, egte bek-vertellings noem.
En dan is daar die lange: ’n rasegte kortverhaal wat met sy een voet in die Anglo-Boereoorlog staan en met die ander een so tussen 1948 en vandag. “Ons mond”, heet hy, en aan hom is daar geen jota of tittel verander nie, omdat dié verhaal – volgens PG – te waar van sy lewe en te heel in homself is.
Het olifante elmboë?
Sy kyk vir my met bruin oë; sy sê:
“Het hy elmboë?”
Sy’s so agt jaar oud. Sy’s ernstig en sy’s vuil. Ek neem aan sy praat van die olifant anderkant die draad.
“Hoe moet ek nou weet?” vra ek terug, want ek weet regtig nie.
“Hulle maak sy voet vas.”
Dis duidelik ’n ontdekking oor die beheer van groot diere wat nou in haar spook. Sy sê dit nie net vir my nie, maar vir die versamelde bondeltjie mense teen die draad.
Die sirkus kom staan by tye in Pretoria-Wes. Langs die skouterrein. Die olifante paradeer dan aan die ander kant van die draad en ek stap soms daar verby. By uitgrawings en olifante staan ek stil om eers te kyk. Sy blykbaar ook.
Dit lyk nie of sy te veel was, of gewas word, nie. Daar’s ’n skurwe plek agter haar oor en tussen haar wysvinger en duim lê daar ’n winterskurfte. Haar kaal voete het al in die ryp geloop en haar enkelkneukels is donkerbruin.
“Kry jy koud?”
“Nee,” sê sy, “ek het ’n jas.”
Sy het hom nie aan nie, en dis bloot die onnodigheid van my bekommernis wat sy konstateer. Sy vleg haar handjies deur twee diamante van die draad.
Anderkant, by die betaalhek, begin ’n tou mense inval.
“Gaan jy kyk?” vra ek.
“Ek weet nie. Ek dink ek gaan inslip.”
“Jy mag nie. Ek sal vir jou betaal.”
“Ek mag nie geld vat nie.”
Daarmee is ek afgehandel en verby. Afgehaal. Ek dag ek wil goed doen aan die kind. Ek het seker so gelyk, want haar oë bly half bejammerend op my. Nou kry sy my jammer! Dêmmit, wat gaan aan?
“As jy gaan kyk, sal ek jou binne kry.” Sy sê dit met sekerheid. Asof ek sal gaan, en asof sy daar sal wees. Want sy hol al dáár om die draai en haar voetjies lig hoog agter. Sy hardloop goed. Ek sien in haar hardloop en in haar eiesinnigheid die lesse van agterstrate.
’n Middag by die sirkus sal my een laat artikel en twee leuens vir en deur my sekretaresse kos oor afsprake wat verpas is. Daarom koop ek ’n kaartjie en gaan sit. In die middag. In die sirkus. Omdat ek deur ’n vuil agtjarige verwerp en gedaag is.
Wanneer laas het ek die onrus van wag gevoel? Wanneer jy onseker is of ’n meisie vir ’n tentatiewe afspraak sal opdaag. Wanneer jy die vooruitsig besweer met die skynbedrog dat sy tog nie sal kom nie; wanneer jy die hoop nie kan onderdruk nie en die naderkom van die afspraaktyd vrees omdat dit dalk ’n teleurstellende waarheid sal word.
Maar nie dene nie. Sy daag tussen my bene op van onder die stellasie waarop ek sit.
Sy kruip deur en kom sit op my skoot.
“Is jy nie bang hulle gooi jou uit nie?”
“Jy’t dan ’n suit aan,” sê sy en sy gee haar oor aan die gebeure.
Ek moet die sirkuswondere aanskou deur links en regs van haar oliehare verby te kyk Dit sal eendag mooi hare wees as sy skoongewas by die Hamburger Hut opdaag.
Ek versit haar skerp boudjies van been tot been en sien haar lyfie jubel met elke ding wat gebeur.
Die dwergies en die nar kom vermaak die mense. Hulle val. Die mense lag en die kinders skree van plesier.
Dit duur ’n rukkie voor ek agterkom die lyfie op my knie het stil geword.
“Ek gaan nou loop,” sê sy.
Sy glip onder my hande uit tussen die sitstellasie se planke deur. Daar is trane in haar oë, sien ek, en ek haas my na buite.
Sy’t van agter die tent af gekom, dit vermoed ek, en ek sien haar langs die agterheining wegloop.
Ek haal haar in waar die draad ’n verkeerd-om hoek maak.
“En nou?” vra ek.
Sy staan voor my en ek kan nie uitmaak of sy kwaad is nie.
Naderhand, eers naderhand, sê sy: “Ek wil nie ’n olifant wees nie.”
Nog later: “Hoekom lag die mense vir dwergies?”
Hemel, kind, dag ek, moet dit nie sê nie, en moenie trane in jou blink jong oë daarvan kry nie.
Sy draai om en kruip deur ’n gat in die draad.
“Dis my gat,” sê sy met die deurkruip.
Toe hol sy weer. Ek weet ek kan haar nie meer volg nie. Dis haar gat en ek moet vir ’n sekretaresse gaan verskoning aanbied dat ek weg was.
By die kantoor lyk die mure na diamantdraad. Ek wonder of ek moet ophou geld vat, dalk soms inslip en ’n gat van my eie in die draad bewerk.
Ek sal, omdat ek nie meer anders kan nie, dan maar ophou om vir dwergies te lag.
Dis te laat om nie meer ’n olifant te wees nie.
Potyster sweis nie
Tussen die hope yster in die skrootwerf grawe ek die dag ’n weggooistofie uit. Oud, mooi, geroes, stukkend. Ek koop hom per gewig, laai hom op die bakkie en ry die plat Wes-Transvaalse pad plaas toe vir die derde keer dié week.
Met die bakkie se radio is ek verneuk, want hy sis net as hy wil-wil vermoed ek draai hom by ’n stasie verby.
Ek laai dus maar die skoolseun op wat met sy kleurbaadjie staan en duimgooi.
Hy groet met ’n seunstem waarin die grootword begin kraak. Ek sien die kleurbaadjie word vinnig uitgegroei en hy trek sy te lang arms so ’n bietjie terug om die moue nie te kort te laat lyk nie.
Hy sê waar hy skoolgaan, dat hy op pad huis toe is vir die naweek – van die koshuis af. Hy vra ook of ek ou yster bymekaarmaak vir verkoop. In ou yster is baie geld, sê hy oor my stofie, voor ek hom kan vertel dat ek eintlik met woorde probeer boer.
Die stofie interesseer hom, en ek sit en vertel hoe ek die ding weer in gebruik wil kry. Regmaak, sweis, staanmaak en gebruik.
Potyster, verseker hy my, weld nie sommer nie. Ek gee toe dat ek daaraan nou nie eintlik gedink het nie, en dat ek maar sukkel met die sweisery.
Dis duidelik dat hy die toekoms van my en die stofie nie met vertroue tegemoet sien nie.
Net iemand wat yster ken,