Go'el Yisra'el. Marzanne Leroux-Van der Boon

Читать онлайн книгу.

Go'el Yisra'el - Marzanne Leroux-Van der Boon


Скачать книгу
on>

      

      Go’el Yisra’el, Verlosser van Israel

      Marzanne Leroux-Van der Boon

      Lux Verbi

      Vir daardie wonderbaarlike houthuis op Stilbaai waar drome vanself woorde word en my man koffie en beskuit bring. Terwyl daar ’n wolf by my voete slaap.

      Hoofstuk 1

      Pole

      65ste herdenking van die Auschwitz-Birkenau-bevryding

       26–27 Januarie 2010

      Marc ril en trek sy mus laer oor sy gesig, in sy dik wolhandskoene voel sy vingers verstok van die bitsige koue. Sneeu val in koue slierte teen sy gesig, hang ’n wasige sluier oor alles rondom hom. Instinktief staan hy stywer teen Henok aan. Maar toe hy verontskuldigend opkyk na die groot swart man langs hom, sien hy dié is onbewus van sy nabyheid. Sy gesig is vaal, sy oë, rooi van ongestorte trane, vasgenael op Binyamin Netanyahu waar hy sy Bevrydingsdagtoespraak lewer. Israel se Eerste Minister, en al die ander Israelse hoogwaardigheidsbekleërs, wat Gabi Ashkenazi, leërstafhoof, insluit is in dik, lang, swart jasse geklee, swart kippot op die kop.

      Maande tevore het hy en Henok besluit om dié gedenkdag in Pole te kom bywoon en die dag daarna ’n besoek aan Auschwitz te bring, waar Henok nog nooit en ook hý nog nie tevore was nie. En nou staan hulle hier tussen honderde ander in hewige sneeu en luister na Bibi se emosionele toespraak.

      “Ongeveer hoeveel Jode het hier in Auschwitz en Birkenau omgekom?” het Henok op pad hierheen in die trein gevra.

      “Van die voorjaar van 1942 af tot die najaar van ’44 is Jode vanuit die hele Nazi-besette Europa hierheen getransporteer – in beestrokke. Meer as ’n miljoen van hulle het hier gesterf. Die konsentrasiekampe van Auschwitz-Birkenau het die simbool van die Shoah geword. Dié wat nie in die gaskamers gesterf het nie, is van hongersnood dood, of aan oorvermoeienis of allerhande siektes. Duisende het ook gesterf as gevolg van die wreedste mediese eksperimente wat op hulle uitgevoer is, of is eenvoudig by die Muur van die Dood tereggestel.”

      “En al die jare wis ek nie eens dis my mense nie …” het Henok geprewel.

      Marc skud die herinnering uit sy kop en luister weer na Netanyahu. Die Eerste Minister praat stadig, nadruklik oor die Joodse volk se reg tot selfverdediging te midde van toenemende besorgdheid oor die bedreiging uit Iran en toenemende pogings om Israel se bestaansreg onwettig verklaar te kry en dié staat se weermag aan bande te lê.

      “Uit die vervloekte aarde van Auschwitz-Birkenau en ander uitwissingskampe rys die stemme van ons broers en susters, ons mense wat aan gas versmoor het, wat verbrand is en vermoor,” sê hy. “Onthou wat Amalek aan julle gedoen het, Israel,” waarsku hy, sy stem trillend van emosie terwyl hy ’n passasie uit Deuteronomium aanhaal.

      Hy gaan weer sterker voort: “Ons sal nóóit vergeet nie. Ons sal nie die Shoah-verloënaars of diesulkes wat Joodse grafte en gedenktekens ontheilig, toelaat om ons nagedagtenis uit te wis of te verdraai nie.”

      Hy waarsku weer dat al het die “Nazi-Amalek” byna geheel en al ’n vergete spook van die verlede geword, ’n “nuwe Amalek” aan die verskyn is en weer eens dreig om die Joodse volk uit te wis.

      “Maar ons sal dit nie toelaat nie! Ons sal nooit vergeet nie en voortdurend daarteen waak.” Hy haal diep asem teen emosie wat duidelik dreig om hom te oorweldig. “Ons het een derde van ons mense in hierdie bloeddeurdrenkte Europa verloor, ons het geleer dat die enigste waarborg vir ons volk se beskerming die Staat van Israel en ons weermag, die IDF, is.”

      Oor ete die aand in die hotel waar hulle die nag oorbly voor hulle die volgende dag die Auschwitz-kamp wil besoek, sit ’n Israeli by hulle aan die tafel. Shlomo het kort tevore uit Haïti, wat op 12 Januarie deur ’n verwoestende aardbewing getref is, teruggekeer. Dit blyk dat hy ’n lid is van die span van ZAKA, Israel se noodreddingsorganisasie, wat met koorsagtige spoed na Port-au-Prince vertrek het om die gewondes te behandel en slagoffers onder die tonne puin uit te grawe.

      Met ’n swaarkloppende hart luister Marc na die man se weergawe. Rivkah was ook met ’n groep paramedici van Magen David Adom – MADA, Israel se Rooikruis – in Haïti.

      Shlomo verduidelik dat hulle en MADA van die eerste soek-en-redspanne was wat kort na die ramp daar aangekom het. Hulle is onmiddellik by een van die universiteitsgeboue met veelvuldige verdiepings, wat ingestort het, ontplooi. Na ’n operasie wat agt en dertig uur geduur het, kon hulle daarin slaag om agt studente te bevry.

      Henok wat weet dat Rivkah ook in een van die reddingspanne was, kyk in Marc se rigting, maar hy skud sy kop voorlopig.

      Shlomo beskryf die tonele sonder erbarming. “Die stank van ontbindende liggame het oor alles gehang. Afgryslik. Dit was nes die verhale wat ons van die Shoah hoor – duisende lyke waar jy ook al kom, getalle wat geen mens jou kan indink nie. Die toestande daar lê eenvoudig bo wat ’n mens vir iemand wat dit nie meegemaak het nie kan verduidelik. Die druk was ontsettend. Ons kon die geroep hoor van mense wat vasgeval was, maar hoe ons ook al gegrawe het ons kon nie by hulle kom nie.”

      “Hoe raak ’n mens onder sulke omstandighede nie van jou sinne beroof nie?” wonder Henok.

      Shlomo swyg ’n paar oomblikke voor hy antwoord. “Te midde van die chaos en dood het die ZAKA-span nog tyd gemaak vir ons Shabbat-gebede.” Daar is ’n flou glimlaggie om sy mondhoeke te bespeur. “Ek neem aan dit was nogal ’n vreemde gesig om ons ses Chasidiese mans daar op die ineengestorte geboue te sien staan, toegedraai in ons talliyot. Baie van die plaaslike mense het doodstil in die puin gesit en staar na ons wat daar in Jerusalem se rigting staan en bid het. Toe ons klaar was, het hulle ons omring en die talliyot gesoen …”

      “Ek het altyd gemeen dat selfs voor die aardbewing toestande maar haglik was daar,” sê Marc.

      “O, beslis. Die mense van Haïti is immers die armste nasie in die Suidelike Halfrond.” Hy skud sy kop. “Mens kan nie regtig vir iemand wat dit nie gesien het verduidelik hoe dit daar lyk nie. Dis onbeskryflik …”

      Toe hy weer lank stilbly, sê Marc sag: “My vrou was ook daar.”

      Shlomo kyk verras van sy bord kos op. “Ja? Hoe? Was sy by die Tuisfrontkommando betrokke?”

      “Sy’s ’n Magen David Adom-paramedikus.”

      “Ja, ja, ek weet MADA het ongelooflike werk daar gedoen. Hulle is mos noodtoestande gewoond. Die IDF het op die 15de ingevlieg en binne tien uur ’n veldhospitaal opgerig.”

      “Ek verstaan dit was fenomenaal.”

      “Inderdaad. Dit was die eerste en grootste veldhospitaal in die verwoeste area en dit kon 500 pasiënte hanteer. Vyf dae lank was dit die enigste daar en dit was gou die mees gevorderde hospitaal in Haïti met ’n pediatriese saal, ’n radiologie-afdeling, ’n waakeenheid, ongevalle, twee operasiekamers en ’n chirurgiese afdeling. Daar was selfs ’n mediese laboratorium, ’n X-straalsentrum en ’n apteek.”

      “Ongelooflik,” sug Henok

      “Dit kan jy wel sê,” gee Shlomo toe. “Die volledige span word môre in Israel terugverwag.”

      “Rivkah het al die 24ste saam met ’n kleiner groep teruggekom omdat sy geweet het ek het maande lank al ’n vliegkaartjie hierheen vir die bevrydingsherdenking.”

      “Dan het ons heel waarskynlik op dieselfde vlug teruggekom, want ek was in presies dieselfde posisie as jy met ’n vliegkaartjie wat ek verlede jaar al gekoop het. Sy kon jou seker ook baie vertel.”

      “Wel, ons het mekaar skaars ’n paar uur lank gesien en sy was so moeg sy wou net slaap. Ons het ook twee jong kinders wat baie tyd in beslag neem en oorstuur was met hulle ma wat net teruggekom het.”

      “Wie’s jou vrou?” vra Shlomo.

      “Rivkah Krige.”

      “O, ja. Ja, ons was op dieselfde vliegtuig.” Hy glimlag. “Mooi vrou wat jy het. Knap.”

      Marc glimlag verleë. “Ek was baie teë daarop dat sy gaan, maar sy is nie iemand om terug te hou nie.”

      “Lyk so.


Скачать книгу