Speurder Kwaaikofski 2: Die geheim van die vlieënde koei. Jürgen Banscherus
Читать онлайн книгу.
Jürgen Banscherus
Speurder Kwaaikofski
Die geheim van die vlieënde koei
Vertaal deur Kobus Geldenhuys
Met illustrasies deur Ralf Butschkow
Human & Rousseau
Hoofstuk 1
Vanoggend het ek my rekenaar ingevat om reggemaak te word. Hy hoes die laaste tyd aanhoudend en maak vreemde skreegeluide.
Ferdi in my klas het hom vir my probeer regmaak, maar al wat hy reggekry het, was om die geluide erger te maak.
“Dis rekenaargriep,” het die man by die winkel gesê en gegrinnik.
Ek het glad nie gedink hy is snaaks nie. “Wat gaan dit my kos?” wou ek weet.
Die man dink vir ’n oomblik na, toe sê hy: “’n Paar honderd.” Toe my mond oopval, voeg hy by: “En dis ’n spesiale prys.”
Wat! Is die man mal?
“Een honderd,” sê ek toe ek oor die skok kom.
“Drie.”
“Een,” hou ek vol.
“Twee. Maar net omdat dit jy is, Kwaaikofski.”
“Een.”
Die man dink weer ’n bietjie, dan knik hy sy kop. “Goed, jy wen. Kom haal jou rekenaar oor twee dae.”
Ek het dadelik spore gemaak.
En nou lê ek by die huis op my bed, drink die een glas melk ná die ander en wonder waar ek voor oormôre geld gaan kry om vir my rekenaar te betaal. As dit regtig nie anders kan nie, sal ek my ma moet vra om vir my die volgende nege maande se sakgeld vooruit te gee.
Nie lank gelede nie was ek net so gekrok soos my rekenaar.
Die eerste herfsblare het begin val en ek het gevoel soos my punte vir ons laaste grammatikatoets – vrot.
Toe ek een middag na Olga se kiosk toe gaan vir ’n nuwe pakkie Carpenters, hoor ek boonop my gunsteling-kougom is uitverkoop.
“Dit ook nog,” sug ek.
Olga skuif ’n glas koeldrank oor die toonbank na my toe. “Wat makeer dan, Kwaaikofski? Is jy verlief of iets?”
Sy vra deesdae aanhoudend uit oor my liefdeslewe. Maar dis verniet, ek het niks om haar te vertel nie. Meisies gee my die horries.
“Is daar fout by die skool?” vis sy verder.
“Ag, skool!” antwoord ek en rol my oë.
Olga kyk my fronsend aan. Dan krap sy my hare deurmekaar.
“Jy moet ’n bietjie wegkom, Kwaaikofski. Vir ’n week ontspan en vergeet van diewe en skurke – dis wat jy nodig het.”
“Vakansie?” Ek snork. “Ons het nie geld daarvoor nie, Olga. My ma sal nee sê.”
“Toemaar, toemaar,” sê sy. “Ons maak ’n plan.”
Sy loop na haar ou Mercedes, wat so blink dat jy jouself daarin kan sien, haal haar selfoon uit en bel ’n nommer.
So gebeur dit toe dat ek ’n week later op die trein sit, op pad na haar broer.
Toe ek by die stasie uitklim, is daar nie veel te sien in Klein-Amerika nie. (Ek spot nie – dis regtig die plek se naam.) Net ’n kaartjiemasjien en ’n afdak waaronder mense kan wag as dit reën – maar ook net twee of drie mense op ’n slag.
Langs die treinspore wei swart-en-wit gevlekte koeie, en tussen die bome steek daar ’n kerktoring en ’n paar dakke uit.
Terwyl die trein agter die naaste groot mishoop verdwyn, kom ’n man na my toe aangeloop. Hy is so breed as wat hy lank is en dra ’n olierige hoed bo sy poedinggesig.
“Kwaaikofski?” vra hy.
Ek knik en steek my hand uit. Hy druk dit só hard dat ek amper sy skoene soen.
“Ek is Lothar,” sê hy.
Sonder een woord verder vat hy die swaar rugsak van my skouer af en dra dit na ’n trekker wat langs die kaartjiemasjien staan.
Ek loop agter hom aan en klim op een van die klein sitplekkies bokant die yslike wiele. Lothar skakel die enjin aan en ry verby die koeie in die rigting van die woud.
So dis nou Olga se broer! Ek kan nie glo die twee verskil so baie van mekaar nie.
Ná sy met hom oor die foon gepraat het, het my vriendin en kougomverskaffer gesê Lothar het dadelik aangebied dat ek die herfsvakansie vir ’n week by hom kan kom kuier.
“Hy sien uit daarna om jou te ontmoet,” het Olga gesê.
As dit waar is, wys Lothar dit op ’n vreemde manier.
Toe ons tussen die bome deurry, lê Klein-Amerika voor ons. Op die meeste dertig huise staan om die kerk.
Hoe moet ek vir ’n hele week hier uithou? Tussen koeie, trekkers en nors boere, en boonop met die reuk van koeimis in my neus?
My ma wou eers nie byt aan hierdie storie nie, maar Olga het haar later omgepraat. Miskien moes ek liewer na my ma geluister het, dink ek terwyl die trekker by die dorpie se stofstraat indraai.
En toe, nes ons by die eerste huise kom, gebeur dit . . .
Iets – ek weet nie wat nie – vlieg deur die lug en beland voor ons in die pad.
Lothar trap woes rem en my kop tref sy breë rug.
Dit voel vir ’n oomblik of ek in ’n boomstam vasgeloop het.
“Alles oukei?” vra hy toe ek weer regop sit.
Maar voor ek kan antwoord, sien ek iets voor ons in die straat lê.
Dis ’n koei, ’n groot blou rubberkoei!
Dis onmoontlik! wil ek uitroep, maar ek is te verstom. Al wat ek uitkry, is: “Dis . . . dis . . . dis . . .”
“Ja-nee,” is al wat Lothar oor die saak te sê het.
Hy ry versigtig om die rubberkoei, af met Klein-Amerika se een en enigste stofstraat en draai dan by ’n smal plaashek in.
Lothar het die trekker skaars afgeskakel toe ’n meisie na ons aangehardloop kom.
“Ek is Julie,” sê sy. Gelukkig vergruis sy nie my hand soos haar pa nie.
Vir ’n plaasjapie lyk sy nie sleg nie: blonde hare, blou oë en glad nie vet en rond nie.
“Jy sal hou van Lothar se dogter,” het Olga nogal gesê toe ek vir my ’n ordentlike voorraad Carpenters vir die vakansie by haar gaan koop het.
Lothar verdwyn met swaar voetstappe by die skuur langs die huis in en Julie gaan wys my die dakkamer waar ek gaan bly.
Op pad soontoe vertel ek haar van die rubberkoei.
“Weet jy dalk wat dit kan beteken?” vra ek.