Hartepad. Gerrit Rautenbach
Читать онлайн книгу./p>
GERRIT
RAUTENBACH
Hartepad
Queillerie
Hartepad is ’n versameling reisstories uit vier windrigtings. Dis ook ’n effe emosionele boek en word dus opgedra aan die vier vrouens wat my lewe rigting gegee het.
Dit word eerstens opgedra aan my eie persoonlike ma wat van kleins af vir my gesê het ek sal nooit ophou swerf nie.
Tweedens gaan dit aan my eie persoonlike meisiekinders Michelle en Nandi wat nou diklekker die swerfding doen.
En eindelik gaan dit aan Susina wat my gekry het om op te hou swerf …
Mosambiek is nie ’n piekniek nie
Wat is dit, hierdie ding wat met ’n mens gebeur as jy deur ’n grenspos is? Nee, meer spesifiek, as jy deur ’n Afrika-grenspos is. Daar kom so ’n balhorige losbandigheid oor jou. Ewe skielik is jy lus vir lag en lyk almal mooier en dinge is sommer net lekkerder wanneer jy wegry in jou nuwe bestemming in.
Wat dit ook al is, ek voel dit nou deur my hele lyf hier waar ek deur Komatipoort se grenspos Mosambiek inry. Maar dan het Mosambiek my nog altyd ’n rilling van lekkerte gegee. Van toentertyd toe Peter de Nobrega jou geleer het wat die regte musiek is om na te luister op LM Radio. Daai tyd was ek nog net ’n tjokkertjie en Mosambiek en Lourenço Marques was ’n magiese en idilliese plek iewers daar doer in Afrika. ’n Plek waaroor ek toe net kon droom en vir myself sê dat ek eendag nog soontoe sal gaan. Want saam met my pa en ma het ons ons vaste vakansieplekke gehad. Wintervakansies Krugerwildtuin toe en Desembers af Buffelsbaai toe. Ek onthou nog my pa het een jaar – ek dink ons was toe by die see – ’n rympie gemaak oor dié twee bestemmings: Hoor ek die geskreeu van die spreeu, verlang ek na die geskreeu van die meeu … Hier waar ek nou op die EN1-pad van suid na noord deur Mosambiek ry, is ek seker ek is op een van die plekke in die wêreld waar die spreeu en die meeu maklik die naaste aan mekaar is. Aan die westekant links van my lê die Lebomboberge en die Krugerwildtuin met sy swetterjoel glansspreeus en oorkant in die ooste die Indiese Oseaan met sy myle vol meeue.
In 1975, kort voordat ek op my eie kon begin reis het, reik Bob Dylan ’n nuwe liedjie uit. En my lus om te gaan, brand ál groter.
I’d like to spend some time in Mozambique
The sunny sky is aqua blue
And all the couples dancing cheek to cheek
It’s very nice to stay a week or two
In dieselfde jaar begin dinge ’n bietjie anders te lyk. Op 25 Junie kry Mosambiek onafhanklikheid van Portugal. Dit op sigself was nie soseer die probleem nie, maar FRELIMO (Front for the Liberation of Mozambique) en RENAMO (Resistance de Nacional Mozambique) begin mekaar die burgerlike stryd aansê. Amper twintig jaar lank saai die oorlog verwoesting. Teen 1992 is meer as 1 miljoen Mosambiekers doodgemaak deur Mosambiekers, 1,7 miljoen het landuit gevlug en miljoene van hulle is dakloos. Vuisvoos. Verniel. Oorlogsmoeg.
En eendag het nog nie vir my aangebreek nie. Want ek was nog nie in die idilliese plek nie. Of wat eens idillies was … Wat daarvan oor is, kan ’n mens maar net wonder. Al wat ons hoor, is dat daar net landmyne oorgebly het, oral op die paaie en in die bosse. Daar’s gerugte dat alle wild uitgeskiet is.
Maar in 1992 het vrede gekom tussen die twee faksies. Hoe, waar en hoekom is nie ter sprake nie. Vrede is ter sprake. In 1993 het 1,5 miljoen Mosambiekers teruggekom in een van Afrika se grootste terugvoerings ooit. As jy ooit in Mosambiek was, sal jy verstaan dat ’n mens wil terugkom na die plek toe. Al is die land so te sê bankrot, bly dit min of meer die mooiste plek op Gods aarde. Twee jaar later, in 1994, hou hulle verkiesing en blykbaar is daardie jaar ’n goeie jaar vir Suider-Afrika, want daai verkiesing werk ook.
’n Jaar later kan ek dit nie meer hou nie. Eendag breek aan en ek skuif oor die grens by Komatipoort. So ver ek ry, word die plekke van drome en destydse sprokies werklikheid. Hoor net die name … Inhambane, Xai-Xai, Bazaruto, Vilankulo, Praia do Tofo met sy reuse-pylsterte en walvishaaie. Oral wit sand, palmbome, blou lug, ruimte, asem, vreugde. Garnale vir ’n appel en ’n ei. Aan die een kant. ’n Verwoeste infrastruktuur met ruitlose geboue vol gate en stukkende drome aan die ander kant. Hulle sê Mosambiek is een van die armste lande in die wêreld.
Nou is ek weer terug in Mosambiek. Dis net ná een die middag en die son skyn wakker oor die vlak. Die Hilux se vensters is oop hier waar ek van die EN1-pad afgedraai het op die minder bevolkte 102, op pad Tete toe. Ek moet so teen sononder daar wees, maar is op die oomblik nie te haastig nie. Hongerte begin ’n kwessie raak – ek is lus vir ’n lekker hap. Proviand is nie ’n kwessie nie, want ek is goed gelaai vir die pad. Agterin is genoeg kos en koue goedjies om my deur te dra totdat ek eendag weer kan aankoop.
Wat wel belangrik is, is dat ek die regte plek kry om my kossie te kou. Hier geld ’n paar kriteria. Daar moet ’n groot en genoeglike groen koelteboom wees. Ruimte. En ’n totale gebrek aan ander mense. Stilte. Ek hou van alleen wees. Veral as ek kou … So ry ek kilometer ná kilometer en kry baie mooie bome vir my piekniek, maar onder elkeen sit ’n skare. Of so lyk dit.
Dan skielik, hier rondom halfdrie, verskyn ’n reusejakkalsbessie aan die oorkant van die pad. Nie net is hy groot genoeg, mooi genoeg en reg genoeg nie; daar is ook nie ’n siel in sig nie. Ek skuif tot stilstand, draai om en kruie stadig tot onder die boom. Met die enjin af hoor ek Mosambiek se bos. Sonbesies kap dit uit saam met ’n rooikophoutkapper, in die verte kô-kok ’n geelbekneushoringvoël afgewissel deur die tergroep van ’n nabye kwêvoël. Verder net stilte. Stofasem en warm sand onder my voetsole.
Behaaglik maak ek die bakkiekappie se deur agter oop. Behaaglik haal ek ’n koue Dosh M uit die yskassie, maak oop en sluk. Dan maak ek die blikkie tuna oop, sny die tamatie netjies in skywe, haal die mayonnaise uit en bou vir my ’n toebroodjie. Twee skaapwagtersnye growwe brood, kraakvars blaarslaai en die res. Bier in die een hand en toebie in die ander, vat ek ’n ordentlike hap en draai om om op die rand van die bakkap te sit. Dis net daar waar die brood dik word en in my keel stol.
Netnou nog was ek stoksielalleen onder die reusejakkals-bessie, maar nou staan daar sowat 30 Mosambiekertjies in ’n halfmaan voor my. Hulle wissel tussen omtrent drie jaar en tieners en hul oë kyk witgroot uit gitswart gesigte met hongerte die kos uit my hand uit. Skurwe handjies vat gebleikte, stukkende kledingstukke vas. Neusvleuels rek ruikend om uit te vind wat op my tafel is. Ek sluk swaar, verloor my eetlus en vat instinktief die res van die toebroodjie, die halfgesnyde tamatie en blikkie tuna met sy oorblyfsels en sit dit op ’n klip agter die bakkie neer.
Net met my bier in die hand klim ek terug agter die stuur in en maak die deur toe. Nie een van die halfmaan swart gesiggies beweeg nie. Dan stap ’n maer, opgeskote knaap, ek skat hom so 17, tot by die oop venster en sit sy hand op die raam neer. Afrika groei grillig onder sy te lang naels. Hy kyk my net onverpoos aan. ’n Bottelgroen vlieg knibbel aan ’n skeur in sy ooglid. My hart kibbel in my kas.
“I want your money,” sê hy afgemete in ’n jong maar moeë stem.
Ek besef hy dreig my nie. Hy probeer vir my iets sê, maar sy Engels is te min. Ek sien sy pleitende oë sê eintlik maar net hy wens hy het gehad wat ek het. Die halfmaan toeskouers staan steeds doodstil en kyk ons net aan.
“Jammer,” is al wat ek vir hom kan sê terwyl ek stadig wegtrek. Sy hand val slap van die vensterraam af. Die oomblik toe ek in die pad draai, duik al 30 van hulle soos een af op die klein offerhande van ’n toebroodjie, ’n halwe tamatie en ’n tunablikkie. Ek gee net vet om weg te kom. Sou ek al my kos nou vir hulle gee, los dit niks op nie. Hulle gaan nie vol kom nie – ek gaan net ook begin honger ly. En ek het nog ’n lang pad oor in Afrika.
Terwyl ek wegry, kan ek nie help om aan my ma en pa en my gekoesterde grootwordtyd te dink nie. Sekuriteit tussen ’n spreeu en ’n meeu. Sowat ’n kilometer verder besef ek ek het mos vroeër omgedraai en ry nou in die rigting waarvan ek gekom het. Ek draai terug.
My jakkalsbessieboom