Sandroos uit Meob. Sarah du Pisanie

Читать онлайн книгу.

Sandroos uit Meob - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
>

      

      Sandroos

      uit Meob

      Sarah du Pisanie

      Jasmyn

      Hoofstuk 1

      Die windjie roer die riete liggies, pluk stout aan die meisie se hare en ruk aan haar rok. Soos ’n kind wat nie genoeg aandag kry nie, waai hy die volgende oomblik haar hare baldadig in haar gesig.

      Ansa lag hardop en probeer nie eens om die hare uit haar gesig te vee nie. Sy trek haar rok hoër op sodat haar knieë wit uitsteek en hardloop met haar kaal voete om die duin wat plek-plek met polgras en riete begroei is.

      Sy trek die vars, skoon lug diep in haar longe in en die vrede van die natuur met sy ongeskonde skoonheid kom vou warm om haar hart.

      Op hierdie oomblik is dit haar grootste wens dat hulle vir altyd en altyd net hier kan bly. Vandat die laaste delwers twee maande gelede getrek het, het hierdie verlate woestyndorp die eerste keer vir haar soos ’n tuiste begin voel.

      Sy kyk na die ruwe skoonheid om haar en sug. As dit nie vir vader Sebastiaan was nie, was hulle ook nie nou meer hier nie.

      “An-saa!” Haar naam kom dof op die windjie aangesweef. Traag om gehoor daaraan te gee, maak sy asof sy dit nie hoor nie.

      “Ansa, kom!” Hierdie keer is daar beslis ’n noot van kommer in die stem en Ansa vee die hare uit haar gesig en skerm met haar hand bokant haar oë.

      Suster Theresa se wit rok word deur die wind styf teen haar skraal lyf vasgedruk. Sy hou die wit sluier op haar kop krampagtig met haar een hand vas.

      Sy roep en wink en Ansa kan die dringendheid in haar hele houding sien.

      Ansa hardloop oor die dik, sagte sand en die kommer laat haar met meer krag vorentoe beur.

      “Wat is dit?” skree sy van ver af, maar suster Theresa het reeds omgedraai en drafstap terug na die houtkerkie en verdwyn dan om die gebou.

      Uitasem storm Ansa by die deur in. Haar oë is groot en verskrik. Sy haal ’n paar keer diep asem en knip haar oë vinnig om aan die halfskemer gewoond te raak.

      Suster Theresa is nie in die voorkamer van hul woonplekkie nie. Soos een wat ’n heiligdom betree, stap sy met die kort gangetjie direk na vader Sebastiaan se kamer toe.

      Suster Theresa sit voor sy bed, en met teerheid vee sy die skraal gesig met ’n nat lap af.

      Vader Sebastiaan se hare maak ’n donkerder kol op die wit kussing. Sy gesig is vertrek van pyn terwyl groot sweetdruppels op sy voorkop vorm.

      “Suster?” Ansa se vraende stem is net ’n fluistering.

      Suster Theresa kyk op. Haar blou oë dra ’n woordelose boodskap oor en Ansa voel hoe die vrees haar stadig bekruip.

      Wat gaan van hulle twee vroue alleen hier in die woestyn word? Meob het ’n spookdorp geword. Vandat daar diamante op Oranjemund ontdek is, het die delwers sommer oornag weggetrek om daar na groter rykdomme te gaan soek. Neels en Valerie Dreyer het nog gebly. Hulle wou aanvanklik nie vir haar en suster Theresa met die siek vader Sebastiaan alleen hier los nie.

      Vader Sebastiaan het beter begin word en toe, skielik, het dit sommer weer slegter gegaan. Twee maande gelede het die roepstem van die blink klippies selfs vir Neels en Valerie te veel geword. Die gevolg was dat hulle ook opgepak het, en daarna kon hulle nie vir suster Theresa heeltemal in die oë kyk nie. Neels het darem belowe om die polisiepatrollie hierheen te stuur om hulle te kom haal.

      Ansa staan versigtig nader en kniel voor die bed. Sy vou die maer hand waarop die blou are uitgeswel lê in hare toe.

      “Vader . . . vader moet gesond word. Ons kan nie sonder u wees nie. Ons was dan juis so bly toe u hier aankom om ons te kom haal. Wat . . . gaan nou van ons word?”

      Die moeë oë flikker oop en ’n glimlaggie kom lê om die droë lippe.

      “Julle sal regkom. Julle is die twee wonderlikste mense wat ek nog ontmoet het.”

      Ansa se trane drup op die maer hande en suster Theresa se gewoonlik bedaarde gesig vertrek van hartseer en sy byt op haar onderlip om die trane te keer.

      “O, nee, vader Sebastiaan, u is die wonderlikste mens wat óns nog ontmoet het. U het u lewe gewaag om ons hier te kom haal. Alleen het u hierdie gevaarlike tog aangepak, en kyk net na die vreeslike gevolge. Ek háát daardie man wat dit aan u gedoen het,” sê Ansa snikkend.

      “Jy mag nie haat nie, my kind. Wie hy ook al is . . . hy is en bly God se kind.” Suster Theresa se hand kom rus op haar rukkende skouers en soos gewoonlik bring haar woorde dadelik berusting in Ansa se gemoed.

      Dis ’n paar oomblikke lank doodstil in die kamer en suster Theresa sit haar hand op vader Sebastiaan se voorkop.

      Sy oë flikker oop en sy glimlag is sag toe hy na haar kyk.

      “Jy is ’n wonderlike vrou, suster Theresa. Ek . . . het vir jou lief geword hierdie afgelope klompie weke. Liewer as wat ek ooit vir enigiemand anders in my hele lewe was.”

      Ansa loer vinnig na suster Theresa en die uitdrukking op haar gesig is byna goddelik, sodat Ansa vinnig haar blik laat sak.

      “Vader . . .” Die siek man hou sy hand op om suster Theresa stil te maak.

      “My tyd is kort . . . ek moet praat.”

      Twee blink trane loop nou oor suster Theresa se wange en Ansa kan sien hoe vader Sebastiaan met verwondering daarna kyk. Hy lig sy hand moeisaam op en vee liggies oor haar wang voordat hy dit weer moeg op die spierwit deken laat neerval.

      Ansa besef dat hierdie oomblik aan suster Theresa behoort en sy mik om op te staan.

      Vader Sebastiaan keer haar egter.

      “Bly asseblief hier, kind. Jy . . . moet mooi na Suster Theresa kyk wanneer ek weg is. Julle was so goed vir my. Julle . . . het my laat besef dat daar nog . . . liefde in hierdie wêreld is. Selfs . . . vir my.”

      “Maar hoe praat u dan nou, vader Sebastiaan? U is dan die een wat ander mense van liefde leer. Kyk net hoeveel het u vir ons twee opgeoffer! U het álles geoffer . . . U het u eie léwe vir ons geoffer.” Ansa se stem is rou. Hulle het so lief geword vir hom.

      Hy het hier aangestrompel gekom met ’n koeëlwond laag in sy buik. Suster Theresa het alles gedoen wat sy kon. Sy weet meer van medisyne af as enigiemand anders hier teen die kus.

      Nadat die Dreyers weg is, het dit met rukke beter gegaan. Hulle besef dat hy eintlik by ’n hospitaal moes kom, maar daar was niemand om hulle te neem nie. Maar van verlede week af het hulle besef dat hulle besig is om die stryd te verloor. Magteloos moes hulle toekyk hoe hy stadig maar seker agteruitgaan.

      Suster Theresa glimlag begrypend terwyl sy weer met die nat lap oor sy gesig vee.

      “Dis te verstane dat jy nederig sal wees, vader Sebastiaan. Die Meester was ook so. Ons sal jou met baie liefde onthou. Ons sal altyd onthou hoe jou onselfsugtigheid en nederigheid deel van jou menswees was.” Suster Theresa se stem is sag en baie teer.

      Vader Sebastiaan se hand sluit om hare en daar is soveel liefde in sy oë dat dit ’n knop in Ansa se keel bring.

      “Dalk is dit beter dat ek gaan . . . Die eerste keer in my lewe begeer ek ’n vrou en . . . daar sou vir ons geen toekoms saam kon gewees het nie.” Sy stem is so opreg en eerlik dat Ansa sommer hardop snik.

      “Sal . . . jy vir oulaas vir my ’n bietjie water gaan haal . . . by die pomp?” Hy glimlag vir suster Theresa, wat dadelik opstaan.

      Sy hand klem om Ansa s’n met ’n dringendheid wat haar intuïtief laat besef dat hy haar hier wil hou, dat hy vir haar iets wil sê wat suster Theresa nie mag hoor nie.

      Toe suster Theresa se skraal gestalte by die deur uit is, draai sy oë na haar en daar is soveel smeking in hulle dat sy weer stil op haar knieë langs die bed neersak.

      “Ansa,


Скачать книгу