Geskenk uit die hemel. Christine le Roux

Читать онлайн книгу.

Geskenk uit die hemel - Christine le Roux


Скачать книгу
tion>

      

      CHRISTINE LE ROUX

      Geskenk uit die hemel

      HUMAN & ROUSSEAU

      Hoofstuk 1

      Pieter Louw het Maja leer ken toe hy haar omgery het. Hy het nog nooit in sy lewe so iets oorgekom nie; nie in agt-en-dertig jaar nie. Nooit eers ’n hond, kat of blombak raak gery nie. As iemand hom gevra het – wat niemand gedoen het nie – sou hy homself beskryf as ’n buitengewoon versigtige bestuurder. Hy ry nie as hy te veel gedrink het nie; trouens, hy drink nooit te veel nie. En op hierdie Maandagmiddag, in die middel van die somer, in die middel van Kaapstad, was hy sober. Haastig, maar sober.

      Die vriend saam met wie hy ’n vinnige middagete geëet het, het twee glase wit wyn gedrink, Pieter net sodawater. Daar was iets verkeerd met die restaurant se lugversorging sodat dit binne benoud warm was. Pieter het gevra vir ekstra ys in sy sodawater en dis ook wat hy vir die verkeerskonstabel gesê het.

      “U kan hierbinne gaan vra, u kan na my rekening kyk – ek het net water gedrink.”

      Die man het nie oortuig gelyk nie en die omstanders wat byna oombliklik om Pieter se motor saamgekoek het, het ook maar skepties gelyk.

      Hy moes terugkom op kantoor, daar was belangrike oproepe wat gewag het. Hy het die rekening betaal, kredietkaart en strokie in sy binnesak gedruk, sy vriend gegroet en direk na sy motor gestap. Dit was langs die randsteen geparkeer en die meter het nie verval nie. Hy het ingeklim, die enjin aangeskakel, in sy tru- en syspieëltjies gekyk en weggetrek. Een oomblik was daar niks voor, agter of langs hom nie en die volgende oomblik het hy twee verskrikte oë gesien en ’n dowwe stamp gehoor.

      Buite weste geskrik, het hy die enjin afgeskakel en uitgespring. Sy het half op haar knieë voor sy motor op die warm teer gehurk, half onderstebo gedruk deur ’n swaar rugsak. Hy het kennis geneem van ’n paar bruingebrande bene en ’n verontwaardigde gesig onder ’n gordyn dik donkerblonde hare.

      “Ek is so jammer,” het hy uitgeroep en oor haar gebuk. “Ek het jou eenvoudig nie gesien nie. Waarom het jy voor die kar ingestap?”

      Sy het regop gesukkel, nie maklik onder die gewig van die verslete rugsak nie. “Ek wou net oor die straat loop.”

      “Het jy seergekry?”

      “Watse vraag is dit?” het een van die omstanders gesê. “Kan hy nie sien hoe loop die bloed nie?”

      Pieter het in skok na die meisie se arm gekyk. Bloed het inderdaad teen haar voorarm afgeloop; haar linkerarm, en albei haar knieë was nerfaf geskraap op die teer.

      Dit was op hierdie moment dat die verkeerskonstabel opgedaag het. Hy was kennelik moeg vir parkeermeters en kaartjies en het met groot waardigheid op Pieter afgepyl.

      “Wat het ons hier?” het hy gevra. “Het u sommer net weggetrek, meneer? Sonder om te kyk? Nee, nee, nee, sulke roekeloosheid lei net tot trane.”

      Die meisie, nog altyd besig om die rugsak van haar lyf af te sukkel, het hom koel aangekyk. “Ek huil nie.”

      “Hy’t sommer net weggetrek, ja,” het een van die omstanders gesê. “Met ’n vaart.”

      “Ek het nie!” Pieter het na sy motor gewys. “Kyk net, ek is skaars uit my parkeerplek uit.”

      Sy motor was genoegsaam uitgeswaai dat dit die aankomende verkeer belemmer het en kwaai motoriste het begin toet.

      “Jissie,” het die meisie gesê en omtrent omgeval soos sy die bande van die rugsak oor haar skouers probeer kry.

      Pieter het dadelik nader gestaan en haar gehelp. Sy het beter gelyk en haar skouers verlig beweeg. Haar linkerarm was lelik geskuur en die bloed het tot teen haar vingerpunte gevloei en van daar op die teer gedrup. Die verkeerskonstabel het begin praat van ballonne opblaas en die alkoholgehalte van Pieter se bloed toets.

      “Dis nie ernstig nie,” het die meisie gesê. “Ek het eintlik op die pad geval, die motor het my nie so hard gestamp nie. Ek sal my uit die voete maak.”

      “Nie so vinnig nie, juffroutjie,” het die verkeersman gesê. “Ek het nog nie die ambulans gebel nie.”

      “Jy hoef ook nie,” het sy geantwoord en afgekyk na haar knieë. “Ek het veel erger geval toe ek geleer fietsry het.”

      Om die verkeersman te oortuig, was nie so maklik nie. Dit het ’n halfuur se argumente en teenargumente gekos, vermeng met baie waarskuwings en opmerkings oor mense wat agtelosig bestuur of oor strate hardloop sonder om eers na links en regs te kyk. Die omstanders het ook belangstelling verloor. Daar was nie genoeg bloed en drama nie, geen loeiende sirenes nie.

      “Wil jy nie ’n saak maak nie?” het die verkeersman vir haar gevra. “As jy wil, moet ons ’n verslag skryf.”

      “Nee, ek wil g’n saak maak nie, ek wil net die pad vat.”

      “Jy kan nie,” het Pieter gesê. “Ek sal jou hospitaal toe vat. Die seerplekke moet ontsmet word of iets.”

      Dit het nog tien minute gevat om háár te oortuig en teen hierdie tyd het die verkeersman se belangstelling ook getaan en was hy gretig om Pieter se motor uit die pad te kry sodat die verkeer normaal kan beweeg. Pieter het haar rugsak in sy bak gesit, die passasiersdeur vir haar oopgehou en baie dankbaar weggetrek.

      “My naam is Pieter Louw,” het hy gesê. “En ek is regtig baie jammer. So iets het nog nooit met my gebeur nie.”

      “Maja Henning,” het sy gesê en die bebloede arm versigtig teen haar hempie gehou sodat sy nie die bekleedsel besmeer nie. “Ek is ook nog nooit raak gery nie.”

      “Na watter hospitaal moet ek jou neem?”

      “Ek weet nie. Ek ken nie die stad nie. Ek het vanoggend eers hier aangekom. Met die trein.”

      Hy het probeer dink. Sy kennis van hospitale was skraal, maar hy het skielik onthou van die een waar hy twee maande vantevore was vir ’n roetineondersoek deur sy versekeringsmaatskappy vereis. Die plek het ’n ongevalleafdeling gehad.

      “’n Hospitaal is eintlik oorbodig,” het sy gesê. “Pleister en salf sal die ding doen.”

      “Ek het nie pleister en salf nie.”

      Sy het oor haar lippe gelek en die dik gordyn hare van haar voorkop gestoot. “Mens behoort dit altyd in jou motor te hê,” het sy streng gesê. “Jy weet nooit nie.”

      “Ek sê dan ek het nog nooit iemand raak gery nie! Dit was nog nooit ter sake nie.”

      “Tog,” het sy gesê en ’n gesig getrek. “Jy’t my teen my rugsak gestamp, sien, en dit het my omgestoot. Ek het my linkerarm uitgesteek om die val te keer. My pols is nogal seer.”

      En nou sit hy in die wagkamer.

      ’n Verpleegster het haar weggevat en hy kan haar hoor gesels agter die gordyn van ’n hokkie ’n entjie in die gang af. Sy vertel nou seker die hele storie. Hy voel natgesweet, al is dit koel in die hospitaal, en haal sy selfoon uit om sy sekretaresse te bel. Hy vertel haar niks nie, sê net hy is vertraag en weet nie wanneer hy terug sal wees nie. Sy mond voel droog en hy loop na die hoek waar ’n waterbottel en papierkoppies is. Ná hy water gedrink het, blaai hy deur ’n tydskrif of twee, loer die stil gang af en maak nog drie oproepe. Hy het net begin dink sy is deur ’n agterdeur uit en weg toe sy verskyn.

      Haar knieë is nou heldergeel geverf en haar linkerarm hang in ’n doek om haar nek, die voorarm in gips.

      “Dis gebreek,” sê sy vir hom. “Kan jy dit glo?”

      “Eenvoudige breuk,” sê die verpleegster en hou twee botteltjies pille na hom uit. “Ek het vir u vriendin verduidelik.”

      Maja stap tot by hom, wag tot die verpleegster weg is en sê fluisterend: “Ek het nog nie geld getrek nie en ek sal moet betaal.”

      “Nee, nee,” sê hy vinnig en stap na die toonbank om dit af te handel, sy skuldgevoel nou so swaar soos haar rugsak. Om iemand seer te maak, is erg genoeg; om haar pols te breek, is onvergeeflik.

      Toe hulle buite kom en na die motor stap,


Скачать книгу