Elf dae in Parys. Elizabeth Wasserman
Читать онлайн книгу.ELF DAE IN
PARYS
ELIZABETH
WASSERMAN
Tafelberg
Vir almal wat graag deur die strate van Parys slenter.
Voorspel
Die eerste ding waarvan sy bewus raak, is die koue. Dit sypel deur haar vel tot in haar ruggraat. Sy maak haar oë stadig oop.
’n Deurdringende pyn klop in haar agterkop.
Sy probeer regop kom, voel-voel met haar hande langs haar. Sy lê op ’n klam, harde oppervlak, en haar duimnael krap teen iets wat voel soos die kop van ’n spyker of ’n skroef.
Waar is sy?
’n Sirene loei ver weg. Sy raak bewus van die geruis van verkeer en ander stadsgeluide, ver onder haar. Dan hoor sy iets: ’n nuwe geluid.
Klop-klop. Klop-klop.
Hoewe? En daarmee saam die geskuifel van sagte pote.
Moet sy roep sodat hulle haar kan kry? Maar wat as dit gevaar bring?
Moet sy eerder wegkruip? Of vlug?
Wat maak sy hier, en hoe het sy hier gekom?
* * *
Hoe dit alles begin het
Toe Emma die eerste keer gehoor het van die toer na Frankryk, het sy haar skaars daaraan gesteur.
“’n Reis na Parys?” het sy vir Salome gesê. “Dis omtrent nommer 86 op my lys van dinge-wat-ek-graag-wil-doen-of-hê.”
Salome het haar verstom aangekyk. “Is jy mal? Wie wil nou nie Parys toe gaan nie?”
“Wel, ek sê nie ek wil glád nie gaan nie. Net nie nou nie. Nie voor ek die eerste 85 goed uitgesorteer het nie.”
Wat was alles op daardie lys van haar? Eksamen. Atletiek. Mathew met die mooi blou oë. En haar ma en pa se dinge … Maar wat kan sy daaraan doen?
“Parys!” het Salome gesug. “Dis so ver, ver van hier!”
Dít het haar aandag getrek. Ver het skielik goed geklink. Hoe verder, hoe beter.
Maar Parys is tog steeds op dieselfde planeet of hoe – is dit ver genoeg?
* * *
“Ek dink dit sal goed wees as Emma ’n bietjie kan wegkom,” het sy haar ouma hoor sê. “Ek meng nie graag by julle sake in nie, maar die kind het baie hooi op haar vurk.”
Sy wou nie afluister nie. Sy was toevallig op pad kombuis toe, geruisloos in haar sokkies. Sy het buite die deur vasgesteek en geluister.
“Ek weet,” het haar ma gesug. “Ek is jammer. Ek weet nie mooi hoe om haar te hanteer nie. Dis moeilik vir ons almal.”
Haar ma en ouma Hebsodemma was besig om tee te drink, soos die twee se gewoonte is as hulle dinge bespreek. Bespiegel. Skinder.
Haar ma en ouma Hebs kom goed oor die weg, hulle het nie die gewone skoondogter-skoonma-struwelinge nie. Noudat haar pa koers gevat het, bring haar ouma nog meer tyd by hulle deur, kloek-kloek soos ’n hen met weerbarstige kuikens. Dit voel vir haar of ouma Hebs se wakende oog permanent op haar rug vasgenael is.
Dit troos haar en stel haar gerus, al sou sy eerder dood as om dit te erken.
“Die skool reël ’n toer na Parys. Net elf dae in die wintervakansie.”
Sy kon haar ore nie glo nie. Hoe weet haar ouma daarvan?
“Ek weet nie so mooi nie, Ma.” Haar ma se stem het vaag geklink, asof haar gedagtes iewers ver dwaal.
“Ek het nogal gewonder wat ek vir die kind kan gee vir haar sestiende verjaarsdag,” het ouma Hebs gepor. “Dis ’n belangrike een, sy word groot. Dis tyd dat sy die wêreld bietjie verken.”
“Op haar eie?” Haar ma se stem was skielik skerp.
“Waarom nie? Op sestien het ek al gewerk, ver van my ouerhuis af, en vandag se kinders is baie meer selfstandig. Boonop is daar selfone, jy kan elke dag met haar praat.”
Haar ma het nie geantwoord nie, net haar tee geroer.
“Emma, wil jy melktert hê?” het ouma Hebs skielik, harder, gesê.
Sy het gewip van die skrik en skuldig die kombuis binnegeskuifel. Hoe weet haar ouma altyd waar sy is?
“Nee dankie, Oumie.”
“Vars gebak. Met laevetmelk, spesiaal vir jou!”
Die tert het heerlik geruik, maar die kaloriesom beduiwel mos alles. Elke happie soetgoed word die dreigende botsel van ’n spekrol wat net ’n walvis sal begeer. ’n Mens kan nooit jou waaksaamheid verslap nie. Selluliet, verstopte porieë, hare met gesplete punte … dis die soort verskrikkings wat jou toekoms kan vernietig.
“Komaan, jy groei nog. En jy’s gans te maer soos dit is!”
Ouma Hebs het ’n dun skyfie tert op ’n bordjie gelaai en vir haar tee geskink in een van haar ma se ligblou porseleinbekers. Met ’n blerts melk en sonder suiker, net soos sy daarvan hou.
“Dankie, Oumie. Ek vat dit maar kamer toe, ek moet leer vir ’n toets môre.”
Sy het haar kamerdeur dig agter haar toegetrek. Op haar bed, met sy kop op haar kussing, het Willem wakker geword en sy stert gekwispel vir die melktert.
“Joune!” het sy hom belowe en haar op die kussings by die venster tuisgemaak, haar oorfone op haar kop geplak. In haar kamer kan sy die wêreld met al sy probleme ’n bietjie terugskuif. Musiek is haar troos, nie melktert nie, maar sy het eers ’n stewige hap gevat voor sy die res vir die spanjoel gevoer het.
Maar wegkruip in jou kamer stuit nie die gang van die lewe nie. Voor sy geweet het wat haar tref, was sy op pad na Parys. Sy het uiteindelik min sê gehad in die besluit.
“Toe, Emma, ’n vakansie sal jou goed doen!”
“Maar wat van Ma?”
Vandat haar pa uit die huis getrek het, voel sy soort van verantwoordelik vir haar ma. Nie dat haar ma dit agterkom nie, sy verdrink haarself in haar werk. Altyd besig, besig. Kop hoog, ken in die lug.
“Ek is piekfyn. Ons kan Skype of Facetime of wat mens ook al deesdae gebruik. Jy kan foto’s vir my stuur met WhatsApp of wat ook al. Dis net elf dae.”
“En wat van Willem?”
“Ouma Hebs het belowe sy sal met hom gaan stap, elke middag. Jy voer hom in elk geval te veel soetgoed. As jy terugkom, is hy sommer weer hups.”
* * *
Salome wou vrek van jaloesie.
“Parys! Die stad van lig en liefde! O, ek wens ek het ook ’n ryk ouma gehad!”
Maar Emma was min lus. Sonder haar beste vriendin? Hoe kan dit pret wees?
Net vyf ander kinders van haar skool gaan saam, en sy is nie maats met een van hulle nie. Drie van hulle ken sy skaars. Die skool is groot en dis maklik om net van ver af van iemand te weet, veral as julle nie ’n klas deel of saam sport doen nie.
Van die ander twee meisies weet almal in die skool.
Tombisa Alemayehu is nogals iets. Daar is haar hare: ’n yslike bos vlegseltjies wat sy elke dag in ’n ander formasie rangskik. Almal is jaloers op daardie hare: so anders, so eksoties. Daar is haar houding: regop soos ’n kers. Sy sweef rond in die skoolgange soos ’n model wat met ’n boek op