Vloek. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.toutjies getrek om Interpol te laat saamwerk. Wim het via sy kontakte die plaaslike owerhede se koppe geswaai, sodat die amptelike papierwerk nou feitlik afgehandel is.
Intussen het die Mercurius-tak in die Filippyne die ondersoeker se wegkruipplek opgespoor – iets wat Interpol in tien jaar nie kon vermag nie. Wat ’n groot genade is, want dis al man wat hierdie saak kan ontrafel, glo Wim.
Nou het die derde moord die operasie in hoogste versnelling geskop. Len du Randt is gisteraand al op ’n vlug Filippyne toe, met die opdrag om die ondersoeker so gou moontlik hier te kry.
O’Reilly kyk op toe Sarah en Calvyn by die vergaderlokaal inkom. Laasgenoemde lyk soos altyd asof hy pas uit die bed gekruip het. Sy bos krulhare staan wild en sy gesig is ongeskeer. En nooit sonder ’n stomende beker koffie in die hand nie.
Sarah se slankheid van figuur en grasie van beweging val Wim opnuut op. Sy is ’n uitsonderlik mooi vrou met haar dik, donker hare, sensuele gelaatstrekke, hoë wangbene en vol lippe – die voorkoms van ’n Hollywood-aktrise eerder as ’n politieke analis. Haar afstandelike hoflikheid laat hom vermoed sy is nog nie gemaklik in die Mercurius-omgewing nie. En hy moet toegee, dit ís ver verwyder van lesingsale op ’n kampus. Maar hy is seker sy sal mettertyd aanpas.
O’Reilly beduie hulle moet sit. “Dankie dat julle so vroeg hier is. Soos ek gisteraand laat weet het, is ’n derde man vermoor. Week gelede gebeur, maar ons kontakman by die polisie het ongelukkig gister eers uitgevind dis een van ons gelystes: Prince Kazadi. Hy was toe ’n Belgiese burger, nie van die Kongo soos ons gedink het nie. Dalk wel daar gebore.”
Hy haal die afskrif van die polisiedossier uit ’n lêer. “Kazadi het van Brussel af hierheen gevlieg en is dieselfde aand in sy hotelkamer dood aangetref – ’n vyfsterplek in die middestad. Volgens die patoloog se voorlopige verslag is daar tekens aan sy polse en lyf dat hy vasgebind was. Iemand het gif gemeng met melk in sy keel afgegooi, die onkruiddoder Gramoxone, beter bekend as Parakwat. Dis een van die giftigste onkruiddoders op die mark en daar is geen teenmiddel nie. Dit brand alles binne-in jou stukkend. Jy sterf bitter vinnig as jy dit nie dadelik opbring nie.”
Calvyn skud sy kop. “Dis die derde moord en al drie is op verskillende maniere doodgemaak. Wat sê dit vir ons?”
O’Reilly haal sy skouers op. “Ek raai, maar ek dink hulle wil die verband tussen die moorde wegsteek, daarom raak hulle op verskillende maniere en plekke van die mans ontslae. Anders gaan die polisie die verband raaksien en dít wil die mense agter die moorde duidelik nie hê nie.” Hy gee ’n laggie. “Ons ook nie.”
“Verskoon dat ek vra,” sê Sarah fronsend, “maar waarom wil ons nie hê die polisie moet ’n verband tussen die moorde trek nie? Is dit nie eintlik eerder ’n polisie-aangeleentheid nie?”
O’Reilly glimlag. “Dalk, ja. Maar ons liewe, onbeholpe en oorwerkte polisiediens sal nie alleen alles verongeluk nie, maar ook die media inlig. En dis die laaste ding wat ons nou wil hê. Hierdie is juis ’n klassieke Mercurius-aangeleentheid. Daar is iets veel groter agter die moorde – dit ruik na ’n internasionale cover-up. Een wat óns moet ontrafel, en dit sonder die inmenging van onbevoegde platpote en sensasionele en verdraaide mediaberigte.”
Calvyn sluk aan sy koffie. “As die moord in ’n vyfsterhotel plaasgevind het, moet daar tog seker CCTV footage wees wat die polisie kon help?”
“Die CCTV-kameras in die hotel was onklaar, so ook hulle rekenaars.” O’Reilly tik op die dossier. “Blykbaar ’n aanval deur kuberkrakers. Boonop het ’n groot Duitse toeristegroep die betrokke aand daar ingeboek. Daar was totale chaos en geen kans dat iemand die moordenaar in die skare sou raaksien nie. Omdat die hotelkamers klankdig is, sou niemand ook gehoor het as Kazadi om hulp roep nie.”
“Hel, die toeval het die moordenaar omtrent bevoordeel,” sê Calvyn.
“Ek dink nie dit was toeval nie,” sê O’Reilly.
“Dink jy die kuberkrakers is deel van die spul?”
“Wel, alles dui daarop. Ons het hier te doen met ’n uitgeslape en goed georganiseerde groep.”
O’Reilly sit die dossier terug in die lêer. “Dit bring my by die volgende punt. Julle wonder seker waarom Len nie saam met ons vergader nie?”
“Wou nog vra, ja,” sê Calvyn.
“Hy sal laatmiddag in Manila in die Filippyne land. Al gisteraand op ’n vlug soontoe vertrek. Sy taak is om ’n spesiale ondersoeker vir hierdie saak daar te gaan haal.”
“’n Filippyner?” vra Sarah met geligte wenkbroue.
“Nee, Suid-Afrikaner.”
O’Reilly leun terug in sy stoel. “Dis ’n baie lang storie wat ek kort gaan probeer hou. Mercurius se grootbaas wou die héél beste man vir hierdie job hê, maar hy wou nie een van sy topondersoekers in New York betrek nie. Hy het my versoek om iemand te kry wat vertroud is met die Suid-Afrikaanse omgewing. Ek het toe die een man aanbeveel wat ek weet aan sy standaarde van die heel beste voldoen.”
Calvyn en Sarah is nou die ene ore, kan Wim sien.
“Net vinnig ’n bietjie agtergrond oor hom. In 2005, toe ek nog in die polisiediens was, het ons besef die dwelmprobleem in die Kaap ruk hande uit. Die druglords het nie net die Kaapse Vlakte nie, maar ook ander dele van die Skiereiland in hulle greep gehad. Daar is besluit op ’n polisiemol om die dwelmkartelle ondergronds te infiltreer. Die diens se topspeurder, Carl Bester, is gekry om hom as ’n dwelmhandelaar voor te doen. Dit was ’n hoogs geheime operasie waarvan slegs enkele mense geweet het: die bevelvoerder van die destydse aksie-eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad, ek, wat van Johannesburg af gekom het omdat ek vroeër by ’n soortgelyke operasie betrokke was, en Bester. In die daaropvolgende drie jaar was ek Bester se enigste kontakman in die polisie.”
Hy gee ’n laggie. “Die hele ding was so geheimsinnig dat Bester nie eens my regte naam geweet het nie, hy het my bloot as Benade geken. Ondanks die gevaar dat hy enige oomblik uitgevang kon word, het Bester hom suksesvol in die druglords se binnekring ingegrawe. Sy uitsonderlike speurinstink en vasberadenheid het my grensloos beïndruk. In Mei 2008 het hy die belangrikste dwelmbase aan die pen laat ry en is hulle reusedwelmstoor in die Worcester-omgewing blootgelê. Dit was die grootste dwelmdeurbraak in die land se geskiedenis.”
O’Reilly trommel nadenkend met sy vingers op die tafel. “Deur die loop van daardie drie jaar het ek besef watter merkwaardige kêrel Bester is.”
“En toe wyk hy uit na die Filippyne, van alle plekke?” vra Calvyn.
O’Reilly sug. “Suksesverhale eindig nie altyd goed nie. Bester het homself aan miljoene rande se dwelmgeld gehelp toe hy alleen in daardie pakstoor was. As jy my vra, het hy sy daad geregverdig omdat hy drie jaar lank sy eie lewe op die spel geplaas het. ’n Medalje en handdruk van die minister van polisie sou die enigste blyk van waardering wees vir daardie helse opoffering. Maar Bester was gatvol vir moord en doodslag en hy’t by die polisie bedank. Met die gesteelde geld het hy ’n olyfplaas in die Klein-Karoo gekoop, maar sy destydse polisiebaas het uitgevind van die diefstal. Hy het met Bester ’n ooreenkoms gesluit: stilswye oor die geld as Bester hom ’n laaste keer met ’n ondergrondse operasie uithelp deur ’n wapensmokkelsindikaat binne te dring. Wat niemand geweet het nie, was dat die nasionale adjunkhoof van die polisie self betrokke was by die sindikaat. Bester het nie ’n kans gestaan nie – die adjunkhoof en sy meelopers het hom geframe as die grootkop van die sindikaat. Maar danksy ’n skerp speurder van die Nuweland-polisiestasie is die ware stand van sake oopgevlek. Die adjunkhoof en sy buddies is in boeie geslaan en Bester se naam is in ere herstel. Ongelukkig vir hom het dieselfde speurder óók uitgevind van die dwelmgeld wat hy gesteel het en die saak aan die destydse Skerpioene oorhandig. Bester het op ’n manier betyds daarvan te hore gekom en landuit gevlug. Hy is sedertdien op Interpol se lys van gesoektes. Deur die jare is hy eers in verskeie Suid-Amerikaanse lande opgemerk en daarna in Oos-Asië. ’n Paar maande terug is hy op ’n sekerheidskamera in Manila gesien, maar hy’t dit weer eens reggekry om Interpol te ontglip.”
“Hy’s darem seker