Vloek. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.vriendelik en behulpsaam – anders as O’Reilly en Du Randt, wat voortdurend lyk of hulle die laste van ontelbare wêreldprobleme alleen op hul skouers dra.
Sy skat Calvyn in sy laat dertigs. Getroud, met twee kinders, lei sy af van die foto op sy lessenaar, hoewel hy nooit na sy gesin verwys nie. T-hemp en jeans is sy standaardkantoordrag. Wilde boskasie altyd ongekam. Koffieverslaafde. Weet nie veel van internasionale politiek nie, maar dis nie waarvoor hy aangestel is nie.
“Ek’s Mercurius se snuffelaar,” het hy op haar eerste dag hier verduidelik. “Ek snuffel ander mense se geheime uit, dissekteer hulle lewens, grou in hulle verlede, krap hulle geraamtes uit die kas, stroop die varnish van hulle af.”
So dís hoe O’Reilly haar lewensgeskiedenis so op die punte van sy vingers geken het tydens die onderhoud, het sy besef.
“En watse geraamtes het jy uit my kas gekrap?” wou sy weet.
Hy’t geglimlag. “Bokkerol. Jy’s so straight soos ’n arrow. Was jy nie, sou jy nie hierdie job gekry het nie, dit kan ek jou promise.”
Sy konsentreer weer op haar rekenaarskerm, sug dan.
“Calvyn, ek glo ek het nou ál die Peter Butlers op sosiale media opgespoor. Wat nou? Hoe gaan dit ons gróót en vernáme ondersoeker help?”
Weer die giggellaggie. “Jy’t Carl nog nie eens ontmoet nie en jy dislike hom al klaar.”
“Wel, dit wat ek van hom weet, beïndruk my nie.”
“Trust me, Wim O’Reilly sal nie ’n paloeka inkry nie. Wat die Peter Butlers betref: jy’t nou eers die eerste stap afgehandel. Die groot werk lê nog voor. Jy moet ’n verslag oor elkeen van hulle skryf, met ál die info wat jy het. Beroep, maatskappy se naam, gesin, enige vermeldings van oorsese reise, politieke affiliasie, sportklubs …”
Sy hou haar hand op. “Ek het die meeste van daardie inligting nié! Drie het byvoorbeeld geslote Facebookblaaie, twee het …”
“Skryf net alles neer wat jy oor elkeen het, al is die inligting skraps. Sodra jy klaar is, stuur jy die verslae aan ons Mercurius-takke in die lande waar die onderskeie Butlers bly. Die kantore daar sal kyk of hulle woon- en werkadresse kan opspoor en check vir kriminele oortredings. Maar moenie daaroor worry nie, hulle ken die ropes. Jy stuur net vir hulle die Butler-geraamtes en hulle sal die vleis vir ons invul. Al die takke is ingelig dat ons navrae topprioriteit moet geniet. Ons sal nie lank vir hulle feedback wag nie.”
Haar selfoon lui. Dewald, sien sy op die skerm.
Sy staan op en stap in die gang uit. Hoeveel keer moet sy hom nóg vra om haar nie gedurig te bel nie? Dit raak nou ’n verleentheid. Sy’t al opgemerk hoe snaaks Calvyn haar aankyk elke keer as haar foon lui.
“Hallo, Dewald.”
“Hoe gaan dit?”
“Niks het verander sedert jy ’n uur gelede gebel het nie. Ek’s toegegooi onder die werk, ek kan nie nou met jou gesels nie.”
Sy druk die foon dood en moet diep asemhaal om nie van frustrasie te skree nie. Sit dan die foon af. En dit sal af bly vir die res van die dag, besluit sy.
Sy stap terug in die nou gangetjie. Die plek is stowwerig en die donker houtmure en deure met geriffelde vensters laat dink haar aan die kantore van privaat speurders in flieks uit die 1960’s.
Sy steek vas by O’Reilly se kantoordeur wat op ’n skrefie oop is, hoor sy gedempte stem. Hy praat seker met iemand oor die foon.
Maar waarom altyd so fluisterend, asof hy ’n geheim deel?
9
Saterdag 23 Junie 2018 – Kaapstad
Basil van Wyk skud sy kop toe hy sy selfoon op die kombuistafel neerplak. Hy was bleddie stupid, moes nie nou by sy suster gespog het nie. Sy kan tog só ’n moerse pyn in die gat wees.
“Jy gaan in gróót moeilikheid kom, Basil! Dis kriminele wat sulke goed aanvang!” het sy afgegaan toe hy haar vertel.
“Ek steel nie mense se geld nie, Sus. Ek hack net occasionally ander ouens se computer systems op sekere clients se versoek. Buitendien betaal hulle baie beter as my straight clients. Vir die hotel job het ek byvoorbeeld twenty K gekry. Hard cash ook nog. Dis goeie geld …”
“Dis teen die wet!” het sy uitgeroep.
Hy’t gelag. “Relax, Sus, ek doen dit nie full-time nie. Ek is wat jy ’n grey hat hacker noem, dis ouens wat tussen white en black operate. Só employ ’n hele klomp klein companies my om hulle data safe te hou van black hats. Ek kyk na die loopholes en hackable areas in hulle systems. Ek doen in other words meestal straight jobs, maar vir die regte pitte handle ek ook sekere takies vir ’n paar shady characters. Niks om jou oor te bekommer nie.”
“Jy meng jou met die semels, Basil. En hoe weet hierdie shady characters nogal van jou? Adverteer jy jou dienste?”
“No ways! Maar die woord travel in die IT world, Sus. Ek weet self nie altyd hoe hulle van my uitvind nie. Met die hotel job het Charles Bronson net aan my deur kom klop. Nie gemention waar hy van my gehoor het nie.”
“Charles Bronson?”
“Ja, daai mean-looking actor. Die ou het presiés soos hy gelyk, net met so ’n hinkstappie.”
“So jy weet nie eens wat sy regte naam is nie?”
“No need vir dit nie. Solank hy betaal, is ek min gepla oor wie hy is.”
Toe het sy éérs haar gasket geblaas en tien minute lank vir hom die leviete voorgelees. Van nou af sê hy nie weer vir haar ’n woord oor sy clients nie.
Hy sit die ketel aan en trek die gordyne toe. Die aand is koud en mislik, want dit reën omtrent katte en honde. Hy gaan nou lekker relax met ’n koppie koffie en ’n ou action movie. Hy love die seventies en eighties se flieks.
Die voordeurklokkie se gelui laat hom frons. Wie sal dié tyd van die aand in sulke kak weer kom kuier? Hy’t nie eens ’n kar gehoor nie. Seker omdat die reën op die sinkdak so hard is.
In die sitkamer trek hy die gordyne op ’n skrefie oop om te sien wie by die voordeur is.
Praat van die duiwel, dan trap jy op sy stert! Die einste Charles Bronson.
Basil se hart klop vinniger. Die ou moet weer ’n quick cash job vir hom hê. Lekker!
Hy maak die deur oop. Die man se wolmus is teen sy kop geplak en blink straaltjies water stroom oor sy gesig en teen sy donker jas af.
“Kom in, kom in,” nooi Basil en staan opsy. “Mislike weer, nè?”
“Nogal goor, ja,” sê die man afgemete.
Sy stem klink vir Basil soos trekkerwiele op ’n gruispad. Hy verwonder hom weer aan die man se breë skouers en die hoekige gesig wat lyk of dit uit graniet gekap is. Elke plooi is ingeëts in die blas vel en die neus sit skeef, asof dit op ’n keer gebreek is. Die oë onder die ruie wenkbroue is op skrefies getrek. En die wit scar wat van sy regteroog tot by sy ken loop, gee hom nogal ’n scary look.
Basil glimlag onderlangs. Dis asof die regte Charles Bronson in lewende lywe hier by hom ingestap het, reguit uit The Mechanic, sy all-time favourite movie.
“Hoe lyk dit met ’n koppie koffie?” vra hy. “Die ketel het nou net gekook.”
Die man knik terwyl hy die reëndruppels soos ’n groot beer van sy lyf skud. Basil merk hy’t weer leerhandskoene aan, soos met hulle eerste ontmoeting.
Very strange character, dink hy toe hy kombuis toe stap.
Die man volg hom.
“Nie nodig dat jy saamkom nie,” sê Basil. “Gaan maak jou eerder tuis voor die heater in die sitkamer.”
Maar die man ignoreer hom, kyk belangstellend in die kombuis rond.
Basil