1 Recce, volume 2. Alexander Strachan
Читать онлайн книгу.carry your big packs.” Blaauw sê vir Queiroz om te antwoord dat hulle Spesmagte is en gewoond daaraan om hul eie uitrusting te dra. Die situasie raak toe baie snaaks want die president sê vir Queiroz: “Look at you. You look like a pack donkey.” Waarop Queiroz ewe pittig antwoord: “Mr President, I may be a pack donkey, but I am my own donkey.”
Intussen agtervolg die vyand steeds die groep. Omstreeks 14:00 vlieg ’n Mig-21 van die westekant af oor hulle. Die groep bly onder die bome. Gelukkig is die gebied baie boomryk en nie savanna-veld nie. Vanuit die bos hoor hulle in ’n stadium voertuie aan hul linkerkant. Hulle hoor hoe die voertuie stop en troepe afklim – dis duidelik dat hulle stoppergroepe op die pad aflaai. Tito se stem is baie dringend: “Come Major, come Major, we must move before we get captured.”
Hulle beweeg nou teen ’n nog vinniger pas deur die bos. Savimbi se sekretaresse, Ana Isabel Paulino, is ook deel van die groep. (Savimbi het later met haar getrou.) Sy is nog jonk en hardloop met haar tikmasjien op haar kop. Dis ’n ou Olivetti en agter haar is ’n troep met ’n tafel op sy kop, gevolg deur nog ’n troep met ’n stoel op sy kop. “Dit was skreeusnaaks want daar gaat hulle tussen die struike en bome deur … Ana voor met haar tikmasjien, gevolg deur die troep met haar tafel, dan die een met haar stoel. As Savimbi stop, kom hulle in daai presiese volgorde tot stilstand. Ana gaan sit reg en as Savimbi iets sê, tik sy dit. Die getikte vel word dan in ’n tas gebêre. Tussendeur dreun die choppers oor ons. Ek kon nie help nie en het hardop uitgebars van die lag.”
In ’n stadium bedaar die vyandelike bedrywighede effens en Blaauw gebruik die kans om radiokontak met Rundu te maak. Hy gee ’n vinnige situasierapport en sê vir kol Flip du Preez om op bystand te wees om hulle te onttrek want die situasie is baie plofbaar. “As die vyand met troepe van voor af kom, gaan ons heeltemal ingeboks raak. Skaars het ek die radio afgeslaan of Alcides Sakala kom na my toe. ‘The president wants to see you’,” sê hy.
Savimbi wil toe weet met wie hy oor die radio gepraat het. Blaauw sê hy het Rundu ’n opdatering van die situasie gegee. “But you are forbidden to speak on the radio,” sê Savimbi. “Because the enemy in the aircraft will hear what you are saying. The MiGs can hear everything you say.” Blaauw verduidelik dat hy op ’n hoëfrekwensieradio (HF-stel) praat terwyl die vliegtuie almal op baie hoëfrekwensie (BHF) is en hom dus nie kan hoor nie. Savimbi is duidelik nie gelukkig nie. “You must not do that,” sê hy net.
Hulle beweeg voort en die namiddag gaan hulle deur ’n shona. Savimbi kondig aan dat hulle daar gaan rus. Ana het klaar weer ’n vel papier in haar tikmasjien en begin verwoed tik. “In daardie stadium het Gert begin siek word. Hy ontwikkel ’n koors en ek sien sommer dadelik dat dit malaria is en Amilcar gee hom ’n klomp malaria-tablette in.”
Abel, Blaauw se lyfwag, sê daar is ’n watergat in die shona; hulle kan hul leë waterbottels daar gaan hervul. Blaauw het ’n waterbottel aan sy lyf maar die res is almal leeg en saam met sy radio in sy rugsak. “Ek gee toe sommer die hele rugsak vir hom aan, wat ’n fout is, want mens doen nie so iets nie. Abel vat ook leë waterbottels by Amilcar. Hy en ’n paar ander is toe daar weg met die waterbottels en die rugsak. Hulle wag, maar dit is doodstil, nie ’n geluid nie. Die volgende oomblik breek daar ’n hewige kontak uit en Blaauw besef dadelik dis by die watergat.
“En hier kom ’n troep aangehardloop, uitasem … hy sê daar is ’n groot waterpan en dis net daar waar die vyand se opvolggroep hulle geslaan het terwyl hulle nog water skep!” Blaauw vra vir Tito wat van Abel? “Abel has been killed,” sê Tito. “Dit ook nog,” dink Blaauw. Hy besef dat sy rugsak met die radio ook nou daarmee heen is. “Gelukkig het ek al my radiokodes by my en die radio is van Britse oorsprong, so dit kan nie na Suid-Afrika teruggespoor word nie.” Die enigste probleem is dat kol Jan Breytenbach se naam op die pamflet in die radiosak geskryf is.5
Queiroz het ’n bystaan-radiostel by hom, so hulle is nie van die buitewêreld afgesny nie. “Maar daar is Abel nou net weg, dood, en saam met hom my rugsak en die radio.” ’n Paar Unitas is doodgeskiet maar ’n klomp het dit reggekry om weg te hardloop en is iewers die bosse in.
Die groep pak onmiddellik op en beweeg met ’n hardlooppas by die tydelike stelling uit. Teen die namiddag stop hulle en Savimbi vra dringend vir Blaauw om ’n noodonttrekking per helikopter aan te vra. Blaauw praat dadelik met Rundu. Du Preez sê op grond van sy vorige situasierapport het hulle reeds twee Pumas na Omauni gestuur om op bystand te wees by 32 Bataljon se operasionele basis. “Ons moet vanaand nog onttrek word aangesien die vyand weet waar ons is en ons is besig om ingeboks te raak,” antwoord Blaauw. Hy stel Savimbi in kennis dat die helikopters hulle omstreeks 22:00 sal kom uitlig: “But Mr President, how big is your group?” wil hy weet. Savimbi sê dat hy nie met minder as 31 mense kan gaan nie. “Ek sê vir hom dis onmoontlik, die choppers kan nie met 31 mense opstyg nie en dan is daar nog ons drie Suid-Afrikaners ook. Die choppers gaan met vol brandstoftenks inkom en hulle sal nie daai vrag kan lig nie.
“Maar Savimbi sê vir my: ‘I would like to extract 60 people.’ Nou wil hy sowaar 60 mense onttrek! Ek sê vir hom ’n Puma-helikopter kan ’n maksimum van 12 mense neem, so dit is heeltemal buite die kwessie. Hy sê: ‘Okay, wait.’ Ná ’n rukkie kom hy terug: ‘I can’t go with less than 31; I must take out 31 people.’ Ek sê vir hom staan by, ons sal sien of dit moontlik is.”
Dit word nou vinnig donker en die helikopters moet omstreeks 21:00 by Omauni opstyg om 22:00 by Blaauw-hulle te wees. “Net hierna trek ons egter mortiervuur, selektiewe vuur, kwelvuur … Hulle is nie 100 persent seker van ons posisie nie en gooi dus 60 mm-mortiere in die kol waar hulle vermoed ons is.”
Die mortierbomme laat Blaauw besef dat ’n onttrekking nie nou moontlik is nie. Hy kontak Rundu per radio en sê die woord “abort”. Die uitlig is te riskant want hulle trek mortiervuur uit alle rigtings. Sodra die vyand die helikopters hoor inkom, gaan hulle hul vuur spesifiek op hulle instel en mortiere op die landingstrook gooi.
Die helikopters, wat al klaar onderweg was, draai toe terug na Omauni. Blaauw oortuig Savimbi dat hulle op hul eie moet uitbreek: “This is what we do now. We sneak out silently. We just keep on moving. We are virtually surrounded. We can break out. We just move slowly, silently so that we can break out of this circle,” stel hy voor. “Savimbi sê dit is reg so. En daar gaat ons.”
Hulle loop die hele nag deur. “Toe die son opkom, is ons uit daai gevaargebied uit. En ons hoor nie geluide nie, ons hoor absoluut niks nie. Ons hoor nie dat ons agtervolg word nie en daar is ook nie vliegtuie nie.” Die groep hou aan beweeg en bly die aand in ’n tipe tydelike basis. Blaauw probeer weer om die uitlig te bewerkstellig. “Ek praat met Rundu en sê niks het gedurende die dag gebeur nie. Dit is alles stil en in hierdie stadium positief, so die onttrekking kan nou gedoen word.”
Maar hy sit steeds met 31 mense wat Savimbi wil uitlig. Diegene wat nie deel van die groep van 31 is nie, moet aangaan na die Klein Cunene-gebied waar daar ’n basis is. Die troepe moes eenvoudig net aanhou loop en in ’n westelike rigting hou. Die vroue was op ’n soortgelyke maar ander roete. Hulle was teen hierdie tyd ver van Savimbi en daar was geen kontak met hulle nie.
Dit het begin donker word en Blaauw sê vir Savimbi hy sal sy bes probeer om te reël dat al 31 mense uitgelig word. Dit was al 21:45 toe die helikopters uiteindelik radiokontak met Blaauw maak. John Church, ’n goeie vriend van hom, is die missieleier. “My roepsein is Moby Dick en John s’n is Retriever. ‘Okay, Moby Dick, we are 10 minutes out,’ sê hy. ‘Retriever, ek het ’n probleem, ek sit met 31 mense,’ lig ek hom in.” Church antwoord vinnig: “Jis, dis ’n chopper hierdie, nie ’n Londen-bus nie.” Kan hulle nie ’n plan probeer maak nie, wil Blaauw weet, al moet hulle van die brandstof ontslae raak?
“John sê hulle sal kyk wat hulle kan doen en hier kom hulle … hy sê ook ons sal vinnig moet maak want oral om ons sien hy vure en dit lyk asof ons omsingel is.” Met dié kom die helikopters in om te land. Blaauw neem beheer op die grond en deel hulle in twee groepe in van vyftien elk. Net 27 van Savimbi se 31 kan saamgaan. Savimbi, Ana en die Fransman is in Blaauw se groep.
Toe die twee helikopters land gaan Blaauw vorentoe om hulle te ontmoet. John sê dis reg, hulle gaan brandstof uit die twee