Spoor. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.investment in Mosambiek, maar dis te ver om te ry, time is money, kan ek hom kom haal? Dit was die begin. Nou’s dit só, Diederik bel en hy sê, ek soek dringend tractor parts uit Ermelo, of kom ons pop gou op Windhoek toe, of kom haal my pêl op Loxton. And you know how it is: To get paid for what you love … Het jy geweet, hy’t ’n landing strip op die plaas?”
Ek sê ek weet eintlik min van Diederik.
“He’s a real character. En hy’s ’n shrewd businessman. Vinger in baie paais …”
* * *
Musina se geteerde landingstrook lê van oos na wes, lank en luuks uitgestrek in die donkerbruin landskap.
Ons kom om twintig oor twee laag in oor die rioolwerke en begraafplaas, die dorp aan ons regterkant. Lotter land veersag, met ’n ongeërgde vaardigheid, draai om en ry terug na die oostelike punt, dan regs op ’n pypsteel-toegangspad na ’n klompie lae geboue en loodse toe. Hy hou stil, maak die kajuitvenster se knippe los. Hitte vloei in, dik en swaar.
“This is it. Die lorry gaan jou hier kom haal.”
Maar daar’s nie ’n lorrie in sig nie.
Ek knip die aansienlike gordel los, haal my swart sportsak en die toegedraaide haelgeweer agter die sitplek uit en bied my hand vir Lotter aan.
“Dankie.”
“Any time. And good luck.” Hy wys na die bondel wat ek soos ’n baba in my arms dra. “Ek hoop nie jy moet daai ding gebruik nie.” En dan, toe ek op die teer staan, net voor hy die perspeksborrel weer vasknip, roep hy bo die luierende enjin: “Lemmer, jy weet seker: Met ou Diederik, you always take your money up front …”
* * *
’n Stem agter my: “Meneer!”
Ek kyk om. ’n Man kom aangehuppel, sy gesig ’n pruim van verontwaardiging. Hy’s kort en bonkig, ’n bruingebrande Napoleon in ’n netjiese uniform van liggrys, met blou epoulette. “Waar gaan daardie man heen?” en hy wys met ’n beskuldigende vinger na die RV7 wat na die weste toe opstyg.
“Seker huis toe.”
“Het jy die vrywaring?”
“Watter vrywaring?”
“Sy landingsvrywaring.” Hy kom staan hier voor my, sit sy hande op sy heupe, staar Lotter agterna. “Hy’t oor die radio gesê hy het dit.”
“Nee,” sê ek.
“Ek moet sy vrywaring hê.”
Lotter is ’n stippel wat nou suidwaarts gly.
“Ek vermoed jy gaan dit nie kry nie.”
“Jirre,” sê Napoleon. “Die mense maak my lewe onmoontlik.”
“Waarvan vrywaar dit vir wie?”
Hy fokus vir die eerste keer op my, ’n kyk wat my voor die hand liggende swaksinnigheid bevestig. “Dit vrywaar die maatskappy, in die geval van ’n insident. Dis nie ’n publieke vliegveld nie.”
“ ’n Insident?”
“ ’n Ongeluk.”
“Maar hier was nie ’n ongeluk nie.”
“Maak nie saak nie.” Hy kyk af na die sportsak, op na die bondel teen my bors. “Wat maak jy hier?”
“Ek wag vir ’n lorrie.”
Arms terug op die heupe. “Nie hiér nie. Dis maatskappygrond.”
“Waar kan ek wag?”
“By die hek.” ’n Kort vinger steek soos ’n dolk in ’n oostelike rigting.
* * *
By die hek strek die teerpad voor my uit, die landskap hard, vaalbruin, droog. Hier en daar ’n boom. Ek gaan staan eers, rits my sportsak oop, plaas die MAG7 daarin, maak dit toe. Loop. Die hitte oorweldig my stelselmatig, die sweet word yl stroompies wat teen my rug afgly.
Die pad is stil. Verlate. Waar is Lourens le Riche?
Die hele ding het te vinnig gebeur, te ongekoördineerd. Ek moes Le Riche se selfoonnommer gekry het. Diederik Brand s’n ook. Daar was vrae wat ek wou vra. Soos waarom Brand so laat met my kom praat het, net ure voor die renosters gelaai word? Wanneer het hy besluit om my dienste te bekom?
Ek sien ’n kruising voor. Ek sal daar gaan wag.
Die enigste skuiling teen die vlymskerp son is vier verwese, byna blaarlose bome. Ek gaan sit my sak neer, soek ’n stukkie skaduwee, leun teen die skurwe stam. My hemp sit aan my rug vas, die sweet brand my oë. Ek het nie ’n hoed nie.
Ek kyk na my horlosie. Kwart voor drie.
Ek vee ’n mou oor my voorkop. En dan vloek ek, lank en suur.
24
Most animals prefer to remain hidden when feeding, and may take their food to a special feeding place where they can be safe while feeding.
– The Basics of Tracking: Classification of Signs
Om kwart voor vier sit ek op die grond, die dun stam tussen my en die genadelose son. My selfoon lui. Ek staan op, haal dit uit my broeksak, hoop dit is Diederik Brand, want ek het baie om vir hom te sê.
Dit is oom Joe van Wyk. Van Loxton. “Ou Lemmer, jong, ek hoor Diederik het jou in ’n ding in.”
“Ja, oom.”
“Het hy jou vooraf betaal?”
“Ek weet nie, oom Joe, hy doen dit deur my werkgewer.”
“O. Nee, dan’s dit reg. En wat moet jy vir hom doen?”
“Ek mag nie sê nie.”
“Ai, dié Diederik,” sê hy en lag sy vrolike lag. “Nou ja, sterkte, Lemmer, jong. Tante Anna stuur ook groete.”
Tien oor vier lui my selfoon weer. Oom Ben Bruwer, Loxton se bouer, die man wat my oor my huis se vrot dak adviseer: “Nou werk jy vir Diederik Brand,” kom dit verwytend.
“Net vir ’n dag of twee, oom.”
Hy herkou aan die inligting. “Ewenwel, as ek jy was, het ek vir ’n deposit gevra. Vyftig persent vooraf.”
“Hy onderhandel met my werkgewer, oom Ben.”
“Ewenwel, ek sal vyftig persent vooraf vra. Mooi dag.” En dan’s hy weg.
Loxton wat ontwaak ná die middagrus. Nuus wat soos ’n virus versprei.
Halfvyf bel eksentrieke Antjie Barnard, sewentig jaar oud, afgetrede internasionale tjellis wat rook en drink asof sy twintig is. “Emma sit hier by my op die stoep, ons drink gin en tonic en ons mis vir jou,” sê die diep, altyd-sensuele stem.
En ek staan hier in die Limpopo-son en sweet en wag, my geduld op. Ek sluk dit af. “Ek mis vir julle ook.”
“En sy sê jy werk vir Diederik. Maar sy’s baie geheimsinnig.”
“Dis my Emma. Altyd ’n enigma.”
Antjie giggel. Dit beteken sy is op haar derde jenewer. “Jy weet hoe werk ’n mens met Diederik?”
“Jy vat jou betaling vooraf.”
“Aaa, Joe het jou al gebel.”
“En oom Ben.”
“Die dorp is besorg oor jou.”
“En ek waardeer dit baie.”
“Wil jy gou met Emma praat?” Sodat Antjie kan luister en leidrade kry van wat ek vir Diederik doen.
Dit is nie nou die regte tyd om met Emma te praat nie.
“Ek is so bietjie besig, Antjie, sê vir Emma ek bel haar later.”
Tien