Diep spoor. Jeanette Stals

Читать онлайн книгу.

Diep spoor - Jeanette Stals


Скачать книгу
skaars die familie uitmaak waar hulle in die lig van die sterre voor die huis staan en waai. Dis ’n wasige terugblik na ’n ander besoek saam met Stefaans, toe ’n morsdooie jaar op haar gewag het. Gelukkig is dit nou agter die rug.

      Sy skuif haar gemaklik langs haar man op die wakis en droog haar trane af. Hier is sy nou, saam met Stefaans, en sy gaan net vorentoe kyk.

      13

      DIT WORD LIG toe hulle naby die voetheuwels van Helderberg kom. Hoog bo hulle weerklink die roep van swarteende in die vars oggendlug en ver voor hulle strek die Hottentots-Hollandberge tot aan die see, ’n reusehand wat die mense uit die binneland weghou.

      “Moet ons daaroor?” wil Katrien weet.

      “Ja, vanaand slaap ons by die herberg hier aan die onderpunt van Lowry se pas en môreaand sal ons bo by Houwhoek of iewers oorstaan. Die osse moet genoeg kan rus, maar einde van die week moet ons anderkant dié berge wees.”

      “Dit lyk vir my baie hoog.”

      “Dis hoog, ja.” Hy kyk in haar oë en lag. “Maar met die nuwe pad is dit kinderspeletjies. Een goeie ding wat ’n Engelsman hier kom doen het. Die Overberg se mense kan nou hulle koring en dinge maklik in die Kaap kry. Ons is nie so afgesny van die beskawing nie.”

      Afgesny van die beskawing? Waarvan praat hy? Hý is tog beskaafd.

      “Dit was ’n ander storie met die ou kloof langs. Menige wa het daar skade gekry. Een van my osse het eenkeer ’n been gebreek.”

      Sy trek die mantel stywer om haar skouers, al is dit nie regtig koud nie; dis eerder ’n skoon, vars bergstroom waardeur hulle beweeg. Sy klim van die wa af en stap tot voor by Fransie wat langs Abel draf asof hy pas ’n verlore broer ontdek het. Maar Abel is oud genoeg om sy pa te kon wees, al is hy skaars ’n kop langer as die seun.

      Katrien beduie na die suikerkanne wat langs die pad groei. “Dis mooi, nè.”

      “Ja. Kyk daar!” wys hy opgewonde. “ ’n Bok op daardie rots.”

      “Klipspringertjie,” sê Stefaans. Hy het op die gelyk grond ook afgeklim en tot langs hulle gekom. “Kyk hoe lekker hoog staan hy. En moenie dink jy kan hom bekruip nie. Hy’t ons lankal gesien.”

      “Hy’s so klein,” sê Katrien. “Mens wil hom tog seker nie skiet nie?”

      “Gelukkig sorg jy nie vir die pot nie,” lag Stefaans en slaan sy arm om haar. “Ons sal omkom van die honger.”

      Die drie van hulle stap in stilte verder.

      Ná ’n rukkie kyk sy terug. Dina loop langs die wa, steun met haar hand op die leerboom. Haar oë is nog dik geswel en Katrien se hart mis ’n slag. Sal Dina haar mense weer sien? En ek?

      “Kyk, Fransman, daar’s die see,” onderbreek Stefaans haar somber bui.

      Asemrowend mooi strek die fynbos tot by Valsbaai se kus. Die oggendson gooi ’n sagte lig oor die groen tapyt met hier en daar ’n witgekalkte huis wat verspot klein, verdwerg deur die berg, ingebed tussen die fynbos lê.

      Op berge en in dale, en oweral is God. Waar ons ook telkemale mag swerwe, daar is God. Die psalm maal deur Dina se gedagtes terwyl sy na die massiewe berg kyk. Waar ons gedagtes swewe of styg ook daar is God. Die woorde onderskep haar emosies in ’n veilige net. Sy hoor weer hoe Gerrit dit op die orrel gespeel het, met jubeling en ontsag vir die grote God. In ’n onbewaakte oomblik ook hoe haar ma dit met boekevat gesing het, haar helder stem temerig soos ’n klaaglied.

      Trane brand in haar oë en sy kyk vasberade na die drie mense voor haar in die pad. Katrien en Fransie, haar familie. En Stefaans. Hy en Abel sal hulle bring waar hulle moet wees.

      Agtermiddag kom hulle by die herberg en nadat hulle uitgespan en geëet het, gaan Dina en Fransie by Abel om die vuur sit. Stefaans het ’n kamer vir hom en Katrien vir die nag gehuur terwyl sy en Fransie sommer in die wa sal slaap en Abel daaronder. Sy kyk op na die berg wat nou baie naby is. In die skemer lyk dit nog groter. Hoe gaan hulle tot bo kom? En as hulle eers anderkant is, sal sy ooit weer terugkom?

      “Dis darem baie hoog,” sê sy vir Abel.

      Die geelbruin, seningtaai mannetjie wat blykbaar oral tuis is se oë trek klein van innerlike lag. “Dis maar net ’n berg.”

      “Almiskie!”

      “Wat is dan erger?” wil Fransie weet.

      Abel skud sy kop. “Om in die sandwêreld te wees waar jy vir myle nie ’n boom of ’n druppel water sien nie, is baie erger.”

      “Is dit waar jy vandaan kom?” wil Dina weet van die mensie wat lyk asof hy Stefaans se regterhand kan wees. Nie dat Stefaans een nodig het nie.

      “Nee. Ek het my kindwees daar in die Wagenmakersvallei gekry. Stefaans-hulle het toe nog daar gebly. Maar my oupa het uit die dorre woestyn gekom.”

      “Vertel ons van jou oupa,” soebat Fransie en skuif hom reg vir die luister.

      “Wat is daar om te vertel? Hy het lankal vertrek.”

      “Maar hoe’t dit gekom dat hy by Stefaans se mense gaan bly het?” moedig Dina hom aan.

      Abel glimlag. “Hy’t nie juis daaroor gepraat nie. Net op ’n dag vir my gesê sy mense is almal in ’n oorlog dood en die wit mense het hom en ’n paar ander kinders vir hulle gevat. Hy kon toe nog nie die Boere se taal verstaan nie, maar Stefaans se familie was goed vir hom en hy het arbeider vir hulle geword.”

      “Stefaans sê niemand kan met spoorsny by jou kers vashou nie. Het jy dit by jou oupa geleer?” Só probeer Fransie uit ’n ander rigting by ’n storie uitkom.

      “Sekerlik by hom geleer, ja.” Abel kyk na Dina en toe hy sien sy wag ook, begin hy vertel. “Ek het kleintyd al saam met hom agter die vee geloop. Hy’t my alles geleer. Om te kyk hoe die spore lê, ver of naby mekaar, diep of vlak. Dan weet jy die dier se loop. Oupa het my ook geleer dat mens twee geeste het wat uit jou mond spring as jy sterwe. Een van hulle bly vir ’n tyd in ’n voëlnes, voor dit die lang pad na //Gamab toe vat. Aan die begin is die pad maklik, maar dit word met die gaan al hoe moeiliker. Net die heel dapperste en slimste kom tot daar.” Hy kyk van haar na Fransie en beduie in die lug op. “Dis hulle wie se oë julle daar bo sien blink.”

      Dina kyk op. Die oë daar bo is baie, soos die sand aan die see.

      “Oupa het ook die luiperd vir my gaan wys,” sê Abel. “ ’n Wyfie. Sy het bo teen die kranse vir haar lêplek gemaak.” Hy bly stil, dink blykbaar daaroor na.

      “En wat het van jou oupa geword?” vra Dina toe sy voel Abel het lank genoeg gehad om te dink.

      “Sonder spoor verdwyn.”

      “Hoe bedoel jy nou?”

      “Op ’n mooi dag was hy net nie meer by ons nie. Dit was omtrent ’n maand nadat my ouma begrawe is.” Hy glimlag skeef. “Oupa het nie gehou daarvan toe Ouma se kinders haar in die grond bêre nie. Dis om te versmoor, het hy gesê, want van waar hy kom, los mens jou oorblyfsel vir die diere om ook iets te kry.”

      Fransie ril. “Dink jy nie hy’s maar net terug na die woestyn toe nie?”

      “Nie op sy twee mensbene nie. Daarvoor was hy veels te oud.”

      “Was dit dalk ’n luiperd?”

      “Miskien. Die familie het so geglo toe hulle flenters van sy hemp in die veld kry. Hulle wou hê die seur moet haar gaan skiet, maar hy’t gelukkig gesê dis te lank ná die tyd, dit baat nie meer nie.” Hy kyk vir Fransie in die oë. “Ek was bly, want ek het die luiperdwyfie weer gesien, met twee kleintjies. En wie sal dan vir hulle gesôre het?”

      Dina kyk ingedagte na die vlammetjies. Sou sy die luiperd so maklik kon vergewe? Toe kyk sy terug na Abel en dis asof sy presies weet hoe die oupa gelyk het. Sy kan ook die ou man se gees vry oor die veld sien hardloop.

      “Maar ek is bly oor Stefaans weer


Скачать книгу