Verbode liefde. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Verbode liefde - Malene Breytenbach


Скачать книгу

      “Ja, dis die laird van Glenbogan wat julle gesien het,” hoor sy die toergids sê, asof Iain MacLean ’n besonderse besienswaardigheid van die eiland is.

      “Kom ons gaan na ons hotel,” stel Marian voor. “Dis koud hier op die kaai.”

      Hulle groet die ander mense en die toergids, en stap aan na waar die Mishnish Hotel op die seefront van die besige hawetjie is.

      “Hierdie plek bestaan glo al ’n eeu lank,” merk Marian op. “Dis baie oulik. Ek skat dis die vernaamste drinkplek vir die plaaslike manne.”

      Hulle deel ’n kamer en maak hulle tuis, maar Iain MacLean bly in Marian se gedagtes. Sy praat egter nie weer van hom nie, en luister na Morag se opgewonde gekwetter oor hoe lekker hulle gaan vakansie hou.

      Daardie aand, nadat hulle gebad en skoon aangetrek het, gaan eet hulle by die OneUp-restourant in die hotel.

      “Eers sop van die dag vir my, want dis koud,” sê Morag. “Dan iets bekostigbaars soos haggis, neeps en tatties.”

      “Ek verkies die biefstuk-en-bier-pastei,” sê Marian. “Ek was nog nooit besonder lief vir haggis nie. Die blaardeeg van Skotse pasteie is altyd lekker.”

      “Wag, ek dink ek moet die haggis los en liewer die salm neem. Met slaai en bruinbrood. Dis duurder, maar ons leef net een keer.”

      Naby hulle knetter ’n vuur in ’n herd en hulle bestel Franse wyn. Die plek is besig, veral in die kroeggedeelte, en dis taamlik lawaaierig.

      “Hierdie vakansie word vir my al lekkerder,” sug Morag en teug behaaglik aan haar wyn.

      Vroeg die volgende dag is hulle van die eerste mense wat ontbyt gaan nuttig. Hulle eet die volle Skotse ontbyt – eiers, sampioene, tamatie, spek en wors – voordat hulle Tobermory gaan verken.

      “Ons moet na die toeriste-inligtingskantoor gaan om uit te vind wat ons alles op en om Mull kan besigtig en waar ons wiele kan huur,” sê Marian toe hulle die hotel verlaat. “Ek hoop die plek is al oop.”

      ’n Vriendelike gryshaarvrou in haar tartan geklee is besig om die kantoor oop te sluit toe hulle daar aankom.

      “Goeiemore, ek sien julle is gretig om ons eiland te besigtig,” terg sy. “Ek is Geraldine Fraser. Kom gerus in.”

      “My van is ook Fraser en my naam is Morag,” vertel Morag haar. “My niggie hier is Marian Sinclair en ons voorouers kom almal van Glenbogan af. Ons wil dit die graagste van alles gaan sien.”

      Die vrou kyk belangstellend na hulle. “Julle voorouers is nie dalk van die mense wat weg is tydens die Clearances nie?”

      “Ja, hulle was,” sê Marian. “Natuurlik wil ons die hele eiland ook sien, en Iona, en die ander eilande. Ons het ver gekom. Van Suid-Afrika af.”

      “Nou toe nou! Julle is só welkom. Miskien is ons nog familie, Morag Fraser. Kom ons kyk wat ek kan doen om julle verblyf so lekker as moontlik te maak.”

      “Ons wil weet wat is alles besienswaardig, en ons wil graag ’n voertuig huur,” sê Marian.

      Mevrou Fraser skud haar kop. “Aan die tweede versoek kan ek nie maklik voldoen nie, maar aan die eerste wel. Julle sien, slegs die inwoners van Mull mag hier voertuie ry. Die ander, die besoekers, gebruik veerbote en busse. My seun Donald is ’n toergids wat –”

      “O, ons het gister vir Donald saam met ’n toergroep ontmoet, op die veerboot wat oorgekom het na Tobermory,” lig Morag haar in.

      Mevrou Fraser glimlag. “Ja, hy’s heeljaar so besig met die toeriste. Ons het nogal ’n toeloop, veral in die somer.”

      Sy bly ’n oomblik stil en toe glimlag sy nog breër. “Wag, ek het pas ’n idee gekry. Dalk kan ons vir julle Donald se Morris Minor leen. Dis oud en klein, maar dis heeltemal padwaardig. Hy kan dit tog nie op die oomblik gebruik nie, want hy werk. Hy is die volgende week heeltyd saam met die toergroep uit Kanada.”

      Marian en Morag kyk ingenome na mekaar en weer na haar. “Dit sal wonderlik wees, maar ons sal huur betaal en dit nie bloot leen nie,” dring Marian aan.

      “Nou goed, ek bel Donald gou op sy selfoon, dan vra ek hom.”

      Mevrou Fraser gaan na ’n telefoon en skakel. Hulle kan nie verstaan wat sy sê nie, want sy praat Gaelies. Sy kom terug met ’n glimlag.

      “Hy sê julle kan dit met plesier leen. Julle hoef dit nie te huur nie; julle kan net weer die brandstoftenk vol maak as dit leeg word. Hy weet wie die twee mooi meisies is en hy vertrou julle.” Sy lag. “Hy het maar ’n oog vir ’n mooi nooi. Die brandstoftenk is nog vol, sê hy. Gelukkig is die motor naby, want ons woon net hier agter.”

      Sy haal sleutels uit ’n laai en gee dit vir Marian. “Goed, dis dan gereël. Laat ek eers vir julle vertel wat julle hier op ons eiland kan doen. Hier is ’n kaart. Kom ek merk vir julle die plekke en gee vir julle brosjures.”

      Met ’n rooi pen maak sy ’n paar kruisies by plekke op die kaart. “As julle in skeepswrakke belangstel, ons het heelwat om ons kus. In die Mull Museum hier in die hoofstraat kan julle na ’n uitstalling kyk.”

      “Ons weet van die San Juan de Sicilia, want Donald het gister daarvan gepraat,” sê Marian. “Ons het afgeluister as hy met sy toergroep praat, want hy het so interessant vertel. Ek het daardie boek van Iain MacLean oor die skeepswrakke gelees. Is hy dalk tans besig om na die San Felipe de Valencia te soek?”

      Mevrou Fraser knik haar kop. “Ja, Iain MacLean het ’n boot, en hulle is glo besig om in die see naby die Glenbogan-kasteel te soek voordat die herfs- en winterstorms begin. Ek glo nie hulle het dié seisoen al iets gekry nie. Daar is mense wat sê die skip bestaan nie regtig nie, behalwe in Iain MacLean se verbeelding. Hy moet al ’n aardige bedrag bestee het om dit te soek. Maar nou ja, die MacLeans kan dit seker bekostig. Gaan kyk gerus na die museum. As julle in skeepswrakke belangstel, sal julle dit baie interessant vind.

      “In Tobermory sal julle alles kry wat julle nodig het. Ons het ’n apteek, viswinkel, wassery, supermark, slagter, bakker en poskantoor. As julle wil visvang, is daar plekke wat visvanggereedskap verkoop. Julle moet net permitte kry. Ons het ’n bank, OTM, kuns- en kunsvlytwinkels, en natuurlik goeie pubs en restourante. Ongelukkig is die ceilidhs of konserte van die somer verby, maar daar is bootritte oral en mense kan gholf ook speel. Binnekort vind die Tour of Mull, ons beroemde motortydren, plaas. Terloops, Iain MacLean het dit al meer as een keer gewen, en ek vermoed hy neem vanjaar weer deel.”

      Marian spits haar ore. “Donald het dit genoem. Dit lyk my Iain MacLean is ’n regte aksieman.”

      “O ja, hy is, maar hy hoef nie die landgoed te bestuur nie en het dus baie tyd vir rondry. Sy broer en Andrew MacTavish, hulle steward, bestuur die landgoed en die boerdery, en Andrew MacNab bestuur die hotel. Waar was ek? O ja, ons het ook ’n heerlike koffiewinkel in Tobermory, met die beste skons en brosbrood denkbaar.”

      “Ons wil eintlik so gou moontlik by ons kothuis by die Glenbogan-kasteel uitkom,” sê Marian. “Ons kan weer later terugkom en ander toere kom bespreek. Ons wil Iona ook besoek.”

      “Goed, julle sal hierdie pad neem. Dis nie ver nie, maar die paaie hier op Mull is smal en kronkelrig, ry dus maar versigtig.” Haar pen wys vir hulle die roete. “Ek hoop julle sal dit baie geniet. Ongelukkig is die weervoorspelling nie te gunstig nie, maar doen soveel soos julle kan so gou soos julle kan. Dis nogal laat in die jaar.”

      “Ons kon ongelukkig nie vroeër kom nie, want Morag is ’n kleuterskoolonderwyseres en sy moes wag dat iemand haar plek inneem vir die laaste maand van die skooljaar. Ek kon ook nie vroeër afkry nie,” verduidelik Marian. “Ek is ’n verslaggewer en ons koerant het ’n personeeltekort. Daarom kan ek ook nie lank vakansie hou nie.”

      “Dis jammer dat julle nie die Hooglandspele in Julie kon bywoon nie. Maar daar is darem baie ander dinge om te doen. Terloops, daardie MacLeans is albei besonder goeie doedelsakspelers, al is hulle lairds. Dis die MacLeans se trots.”

      “Ons


Скачать книгу