Roep van die woestynwind. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.Alia-lughawe buite Amman, die hoofstad van die Hasjemiete Koninkryk van Jordanië. Nadat hulle op Kaïro-lughawe ’n aansluitingsvlug moes kry en die vlugte vol en die toue by doeane lank was, voel Denise taamlik vlugvoos. Sy weet sy lyk moeg en geensins op haar beste nie. Maar nou ja, sy gaan nie moeite doen vir Dale Peters nie. Hy moet haar vat soos sy is, ook op haar moegste en lelikste.
Toe hulle deur die doeane is en in die ontvangsaal uitloop, staan hy en ’n seningrige jong Arabier met ’n bril op hulle en inwag. Denise se hart draai onwillekeurig om toe sy Dale se lang, donker gestalte herken. Hy is nog meer bruingebrand as voorheen en sy onbetwisbare manlikheid vang haar opnuut onkant.
Hy staan en glimlag en wuif. Is hy bly om my ook te sien? wonder sy.
“Hallo! Het julle voorspoedig gereis?” vra hy toe hulle by hom kom. Sy blik gly oor Denise en dan kyk hy na Julie.
“Vlieg is ontbering en my enkels is geswel, maar ons is veilig,” skerts Julie. “Hallo, meneer die vermaarde argeoloog. Ek kan sien die buitelug-opgrawings akkordeer met jou. Lenig en gesond en bruin soos ’n Arabier. Jy lyk vir my alte veel soos ’n woestynsjeik.”
“Hallo, professor. Ek is vuur en vlam vir die opgrawings en my enkels makeer niks,” skerts Arend. “Ek voel baie bevoorreg om hier te wees.”
“Ek gaan jou goed in die werk steek,” lag Dale. “Julle is almal welkome toevoegings tot ons werkspan.”
Hy skud Arend se hand, soen Julie op die wang en draai dan na Denise, wie se hart tot haar ergernis gevaarlik bons.
“Hallo, Denise.”
“Hallo, Dale.”
Wat gaan hy nou doen? wonder sy. Haar op die wang pik, soos vir Julie? Maar nee, hy plaas sy hande op haar skouers, trek haar nader en soen haar vol en heerlik op die mond. Glad nie ’n piksoen nie. Sy is omgeboul en haar wange word warm. Dié verwelkoming is amper soos in die ou dae, toe hulle verhouding nog vars was.
“Laat ek julle voorstel aan my assistent, Ahmed Al-Hossein, kleinneef van die huidige koning Abdullah. Hy maak vir ons allerhande deure in Jordanië oop.”
“Bloubloed, ons is geëerd,” lag Julie. “Aangename kennis, meneer Al-Hossein.”
“Ahmed, hierdie mense is my kollegas: doktor Denise Barry, professor Julie Maastricht en meneer Arend Smalberger,” stel Dale hulle voor. “Hulle is almal formidabele navorsers, en jy sal vind dat hierdie Suid-Afrikaanse vroue glad nie swakkelinge is nie, hoor. Hulle skrik gewoonlik vir niks.”
Ahmed Al-Hossein skud hulle hande glimlaggend. “Dis vir my ’n eer om u ook te ontmoet.”
Sy blik bly vir ’n lang oomblik verbaas en gefassineer op Denise. “U het goue hare soos ons voormalige koningin Noor.”
Denise glimlag verleë, want sy weet blonde vroue, veral dié met blou oë, staan nogal uit in die Midde-Ooste, waar byna almal donker is. Mense staar hier na haar en dit maak haar selfbewus.
Julie lag. “Sy lyk nie eens of die vliegrit haar moeg gemaak het nie. Hoe moet ék nou voel?”
“Haai, nee, ek voel en lyk toiingrig,” protesteer Denise.
Dale glimlag geamuseerd. “Julle het mos ekonomiese klas gevlieg, dan arriveer ’n mens maar in ’n toiingrige toestand. Kom, ons sal julle vroumense se bagasie neem. Die Land Rover staan hier buite geparkeer by die BBP’s se plek, want Ahmed het weer eens rang getrek. Hy is ’n juweel.”
Ahmed sit voor langs Dale, wat bestuur toe hulle van die lughawe wegry. Denise sit agter hom en kan sy oë in die truspieël sien. Sy voel werklik vuil en slierterig, en kort-kort merk sy op dat hy haar vlugtig beskou.
Wat sou hy dink? Dat sy nogal dikvellig is om hierheen te kom nadat hy met haar uitgemaak het? Wel, sy sal haar afstand hou en hom wys sy is bloot hier uit akademiese belangstelling.
“Ahmed studeer aan die Universiteit van Jordanië en is besig met sy doktorsgraad in Nabatees-Egiptiese verhoudings,” vertel Dale. “Hy fokus veral op die Ptolemeïese tydperk van Egipte en hy sal Arend ook kan help. Ons werk onder die beskerming van die Departement van Oudhede in Amman, en veral saam met die direkteur, doktor Abdul Falawi. Ook saam met doktor Hamoudi Manawi van ACOR, en natuurlik saam met die direkteur van die onafhanklike Petra National Trust, Insar Bedawi, wat ’n vrou is. Ons sal julle later aan hulle voorstel.”
Denise se vroulike instink tel dadelik die laaste naam op. Is dié Insar Bedawi middeljarig, vaal en getroud, of is sy ’n mooi, ongetroude, jong vrou?
Nee, dis verspot dat sy jaloers reageer op enige vrou met wie Dale saamwerk, betig sy haarself streng. Veral noudat hulle nie meer ’n paartjie is nie.
“Wil julle eers iets in Amman gaan eet en rondkyk?” vra Dale.
“Nee, ons het op die vliegtuig geëet en dis beter dat ons by ons bestemming kom,” sê Julie. “Het ons konsensus?”
Die ander stem in. Denise is in elk geval te vlugvoos om nog in die stad rond te stap. Sy het die vorige nag op die vliegtuig niks geslaap nie, want daar was ’n baie spraaksame en lawaaierige toergroep saam met hulle.
“Goed, ons ry deur die bergagtige woestyn van die Wadi Araba en dit sal ons net so oor die twee uur neem,” sê Dale.
Hy kyk na Denise, wat voel soos ’n mot voor ’n vlam. Sy is vies dat hy al weer so ’n effek op haar kan hê.
“Hierdie heuwels is vol kalksteen, wat boumateriaal vir die land verskaf,” vertel Dale. “Dis natuurlik barre woestyn hier, maar die Jordaanvallei waar die rivier vloei, is die ware Kanaän. In antieke tye het die Nabateërs skoon water met pype van Ein Musa na hulle stad gelei. Daar is nog waterbronne by Petra waarheen die Bedoul steeds hulle bokke, kamele en donkies neem om te suip. Julle behoort dié Bedoul fassinerend te vind. Hulle hou nog vas aan die ou weë en tradisies, teel kamele en perde, en ry op donkies. Orals sien mens hulle tente staan.”
Denise kyk by die venster uit en maak of sy haar verwonder aan die barheid van die woestynlandskap.
“Denise, jy sal sien dat Petra se rotse op plekke lyk asof dit deur ’n skilder ingekleur is. Mense wat dit die eerste keer sien, is gewoonlik verstom oor dié natuurverskynsel.”
Sy is verplig om terug te draai na die donker oë wat haar weer uit die spieël bekyk. Sy kan maar net hoop haar emosionele toestand is nie te opsigtelik nie. “Baie interessant.”
“Daar is tans min toeriste, want dis buite seisoen en dit word nogal koud in die nag. Binne seisoen jaag die perdekarretjies deur die Siq, wat die ingang na Petra is. Die Bedoul bied ook donkie- en kameelritte aan. Die plek kan nogal besig raak, maar toerisme is vir Jordanië ’n belangrike bron van inkomste en van alles is Petra die mees gesogte besienswaardigheid. Daar is natuurlik die gewone stalletjies wat boeke, juwele en aandenkings verkoop – daaraan kan jy nie ontsnap nie. Die foto’s van Petra wys mos nie die menigte toeriste en smouse nie.”
“Waar gaan ons tuis?” wil Julie weet.
Dale glimlag vir haar. “In die oorspronklike ou hotelletjie naby die museum en die Wadi Siyagh. Maar as ons van opgrawingsterrein verskuif om die prinses se graf te gaan soek, sal ons ons eie kamp opslaan.”
3
Hulle ry deur die dorp Wadi Musa en Denise let op dat daar enorme internasionale hotelle is.
“Hier is nie ’n tekort aan akkommodasie nie,” merk sy op.
Dale kyk na haar in die truspieël. “Al die grotes is hier, want hulle moet die duisende toeriste akkommodeer. Petra is mos die vernaamste besienswaardigheid in die land. Ons ry deur die dorp en dan draai ons af na Petra, en ry in – ’n mens kan dit doen as die toeristeseisoen verby is. Ons ry dwarsdeur Petra na ons hotelletjie, dus sal julle mooi kan sien hoe groot dit is en watter wonders dit bevat.”
Denise kyk verstom na die veelkleurige rotsformasies en trek haar asem op toe hulle by die eerste graftombe kom wat uit die rots gesny is.
“Dis