Kortetjies en 'n lange. PG du Plessis
Читать онлайн книгу.noukeurigheid wat hom op 28 al vermoënd gehad het.
In dié koers het hy van sy tyd afgeknyp en na Ria begin vry. Sy was van kleintyd af deurmekaar met sy neef Hannes.
Dié neef had dit bietjie beter. Nie ryk nie, maar darem ’n plasie naby die dorp en ’n mooi opstal. ’n Bietjie teruggeboer, maar darem die grondjie behou. Aangename vent. Soos Van Niekerk gewerk en gestreef het, het Hannes gekuier. Te veel rondgekuier na Ria se smaak, en sy vat toe maar uiteindelik vir Van Niekerk.
Dalk was Hannes vir Ria lief, want tot trou het hy nie gekom nie, en so met Van Niekerk se werkery het hy baie op die plaas gaan omsien. Net so dat die mense wonder, maar nie met oortuiging skinder nie.
Dié wintersdag, toe ek tussen al die boere-Mercedesse stilhou, sien ek die lewe het aangestap: Van Niekerk se enigste dogter het toe al ’n dogter. Van Niekerk is oupa.
Die hele buurt kom haal hul vreetjies van die braai-os, en ek sien Hannes loop ook daar rond met ’n allemintige wit baard.
Met die groetery laat haal Van Niekerk die kleinkind om te spog. Sy’s mooi en netjies soos sy beste diere. En al bekkig.
Hoe die pratery oor die oupa-skap gekom het, weet ek nie, maar toe Van Niekerk haar vra wie’s haar oupa, spring sy kort om en gaan haal vir Hannes.
“Hier’s my oupa,” sê sy.
Sommer kinderpraatjies, maar Van Niekerk se oë raak stil. Hy stap agter die huis om.
Ria moes toe al baie beskinder gewees het, want sy trek my eenkant toe en sy sê dis nie so nie. Die kind dink maar oupas het wit baarde, en Van Niekerk is baie van die huis af.
Ek stap na die skure toe en kry Van Niekerk daar. Hy kyk voor hom en hy sê met die oë waarmee hy van die skoensole af omgekyk het: “Ek het arm gebly.”
“Ria is nie so nie,” sê ek en ek glo dit. Hy ook.
“Sy sê ek het alles, maar ek moet nog leer leef …” sê hy.
Nou anderdag toe ek daar aanry, sien ek die hek hang skeef en ek vra by die huis of Van Niekerk daar is.
“Nee,” sê die dogter. “Pa en Ma is al weer see toe met die kind. Pa wil haar glo nog ses keer vat voor sy skool toe gaan.”
Hy doen niks half nie. Vir sy voorsitterskappe het hy bedank.
Hy loop al langs die see … en hy boer agteruit.
Dis sy wiel, laat hy hom draai, dag ek. So kry hy dalk ’n skoensool uit sy oë.
Gebeente van haar skoot
Ons droom drome en sien gesigte.
En ons ontken dit.
Ons sê dit nie vir mekaar nie, want dis ons geheime lewe. Daar waar ons mooi is, waar ons sterk is, waar ons ongelooflike dinge vermag. Dis waar dramatiese suksesse ons toeval; waar die ondankbares teenoor ons tot dankbaarheid gedwing word; waar dié wat ons haat, hul druiwe teenkom; waar ons dié wat ons beledig het, hul woorde laat eet, en dié wat ons nie voldoende gewaardeer het nie, laat spyt kry oor hul onderskatting.
Dis die droom wat die adolessente meisie – die een wat pas van die tafel af opgespring het omdat sy veronreg voel – op haar kussing gaan droom. Van hoe sy dood is en almal berouvol om haar tragiese graf staan.
Dis die droom waarin die jong man sy geliefde red uit wrede situasies, waarin die dommes slim word, velkwale verdwyn, spiere en rondinge uit die niet verskyn en verdwyn, waarin reusagtige bedrae ons toeval – en ons belangrik is.
Dis gek, dié drome, dis totaal onmoontlik, dis ver van enige waarheid, dis anderkant die moontlike – maar dis nodig in die wêreld met sy harde maniere om jou op jou plek te hou. Dis ál salf vir die ego wat werk. Want dis waar die twintig-voorgee die baansyfer klop en driehonderd tree dryf. Dis waar jong meisies hul prinse trou en mans hul maagdelike madonnas se teerste liefde ervaar.
Dis waar ons agterkom wat ons eintlik wou gehad het. Sy dit geld, mag, sukses, roem, totale liefde, skoonheid, en groter persoonlike dapperheid as Tarzan.
Wonderlik hoe dinge in drome altyd reg uitval vir die dromer.
So dramaties-reg, so oomblik-reg, so effektief-reg.
Net af en toe praat ons daaroor, net af en toe word een dalk regtig waar.
Soms slaan hy deur oppervlak toe wanneer kinders hul verbeelstorietjies speel, of ’n jong mens voor ’n spieël betrap word.
Dis nie goed om jou drome ontbloot te sien nie.
Die vrou kom by my en sy vra of ek haar kan help.
Die seun by haar in die rystoel is verlam, en hy moet na die toilet gaan. Dis ’n publieke plek. ’n Man moet dus help.
Daar is uiteraard geen weiering vir so ’n versoek nie, en ek stoot die rystoel na die toilet, sukkel in my ongewendheid met die ding deur die te nou deure. Help waar ek meen hulp nodig is.
Die seun sê ek moet hom maar ’n rukkie daar laat, want dis ’n kunsmatige aanbring van die storie en dit moet gewoon gebeur omdat dit tyd is, omdat hulle op reis is, en omdat dit die enigste geleentheid is wat verbygekom het.
Ek laat hom daar en weet ek sal hom later moet kom haal.
Dit sê ek vir die vrou buite, en ek sê ek sal wag, want wag moet ek in elk geval.
Sy vertel my van die ongeluk, van hoe die kind kleintyd atleties en woelig was, van hoe hy teen alle beserings en alle prognose in, nog droom van sy selfstandigheid, sy verlore bewegings, maar veral van sy selfgenoegsaamheid oor eet, loop, doen.
Ons praat dus oor drome en oor helde.
Dis in die jare toe Naas Botha die rugbywêreld verstom geskop het.
Sy vertel my hoe die seun Naas se dinge volg, sy rekords sukkel-sukkel in ’n heilige boekie opteken – met sy nog ongeoefende mond. Dit was ’n manier om hom weer aan die skryf te kry.
Het ek dan nie gesien nie, sê sy, dat hy met ’n tydskrif toilet toe is nie?
Ja, sê ek, ek het dit vir hom by ’n artikel oor Naas Botha oopgemaak.
Hy droom dikwels hy speel soos Naas, sê die vrou. Al weet hy seker dit kan tog nooit nie.
Ek sê vir haar drome is maar so. Vir almal in die vierde span is dit ewe onmoontlik.
Net so af en toe, in ’n oomblik van besef, daag die bitterheid op en slaan die werklikheid hom terneer, sê sy. Tot die droom weer vat.
Ek gaan haal die seun, voel hoe die spiere om die gebeente deur onbruik sening-min geword het. Vervul ’n plig wat ek nog nooit vir ’n ander mens moes doen nie. Wonder of die vrou die plig in berekening gebring het vir die ongewone toiletbesoek.
Sy het, want toe ons uitkom, skets sy hul omstandighede en die manier waarop die goeie man wat sou help, nie kon kom nie. Sy is op reis. Daar’s min deure wyd genoeg. Dis kunsmatig … Maar dit kan nie vir ewig uitgestel word nie.
Ek sê dis niks.
Sy stoot haar seun weg. Voor sy gaan, val daar ’n paar dinge uit haar woorde wat in my vassit:
Die wreedste mens wat bestaan, is dié wat met onaangename werklikhede tussen ander se redelose drome boer; helde en drome is reddingsgordels; en sy self droom soms haar seun se Naas Botha-droom. Vir hom en vir haar.
Ek bedink haar waarheid toe sy wegstap agter die rystoel met die gebeente van ’n kind voor haar. Opperman se “gebeente van haar skoot” flits deur my, en ook ’n nuwe definisie van die liefde.
Om vir ’n ander mooi dinge te droom, is dalk die enigste plek waar die liefde onselfsugtig sit.
Rondstoot en afvee is plig; die droom dat hy weer self sal kan regkom, het dalk selfsug by. Die Naas-droom móét die liefde wees.
Die dood se kleim
Dit