Die boek van Ester. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Die boek van Ester - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
op die oomblik is hier ook trekkragte aan die werk wat ek nie kan verduidelik nie.”

      “Jy moes een of ander tyd kom vrede maak het.”

      Sy hou haar hand in die lug. “Ons praat beslis nog nie van vrede maak nie. Hoogstens van ’n verkenningsvlug.”

      “Hier’s ons.” Hy draai die venster af en sê vir die sekuriteitswag dat hy net iemand wil aflaai. Die toue word laat sak en hy parkeer reg voor die trappe. “Sal jy regkom?”

      “Ek kan darem al my eie veters vasmaak en my naam spel.”

      Hy dra haar tas teen die trappe op en soen haar skrams teen die wang.

      “Geniet dit, gedra jou en sê groete vir Sam.”

      2

      In die ingangsportaal van die konferensiesentrum stap ’n meisie met ’n skoongewaste gesig en kort, donker hare nader.

      “Juffrou Green? Samuel het gesê ek moet u bagasie neem. Die sekuriteitsmense sal solank daarna kyk.”

      Ester oorweeg dit om te sê sy sal sommer self na haar bagasie kyk, maar ’n groterige man het reeds haar tas geneem en hou sy hand uit om die twee kameratasse ook te neem.

      Ester skud haar kop. “Ek sal hierdie by my hou.”

      Die meisie het reeds ’n deur oopgemaak en beduie na drie rye van voor waar ’n sitplek oop is. Die ouditorium is dofverlig. In die kollig op die verhoog is ’n man reeds aan die praat.

      Samuel se oë het al aan die donker ouditorium gewoond geraak. Hy kan die figuur in die paadjie sien afstap. Hy hoor hoe mense verskuif om haar te laat verbykom en hy hoor haar iets mompel. Hy kan nie haar gelaatstrekke eien nie, maar aan die twee tasse wat sy langs haar onder die sitplekke inskuif, vermoed hy dis Ester Green. Hy bly net ’n oomblik stil voordat hy weer begin praat.

      “Iemand het per geleentheid na Afrika verwys as die teater van die absurde. Sommige beweer dat Afrika nog nooit ’n logiese kontinent was nie, maar dat die wonder van Afrika juis in hierdie onlogiese opgesluit lê.”

      Ester knoop haar baadjie oop voordat sy opkyk.

      “Die waarheid lê waarskynlik êrens tussen hierdie twee stellings,” gaan hy voort terwyl hy stadig heen en weer oor die vol saal kyk. “Hoe ons ook al oor hierdie donker kontinent voel, daar is een stuk waarheid waarvan ons nie kan wegkom nie, en dit is dat Afrika geseën is met ongeëwenaarde, natuurlike hulpbronne, waarvan die interessante natuurskoon net een is. Die ekosisteme in Afrika is van die mees diverse en produktiewe wildernisgebiede in die wêreld.

      “Maar teen die agtergrond van die ongeëwenaarde natuurlike rykdom, gaan Afrika gebuk onder enorme probleme en uitdagings. Armoede, beperkte ekonomiese geleenthede en onstabiele politieke sisteme veroorsaak groot druk op die mens sowel as op die natuurlike hulpbronne.”

      Ester sien hoe sy linkerhand ligweg in sy broeksak rus. Hy staan gemaklik met sy gewig op albei voete en praat rustig, sonder om te vroetel, asof hy dit elke dag doen. Sy vel getuig van ’n lewe in die buitelug. Selfs van hier waar sy sit, kan sy die sonplooie langs sy oë sien. Sy lyf is sterk en lenig en lyk goed in die ligte chino en olyfgroen hemp wat hy dra.

      Sy let altyd lywe op. Lyftaal, oogtaal en hande. Die drieeenheid wat alles verklap wat jy van ’n mens wil weet. Die verklikkers van diep geheime. Sy hare is donkerbruin, maar die ligte op die verhoog tel hier en daar ’n rooierigheid op.

      “Die term ‘derde wêreld’ is ’n algemene mistasting en impliseer ’n onafhanklike wêreld wat geen verbintenis met die res van die wêreld het nie. Sedert kolonialisme bestaan daar egter reeds ’n band tussen die eerste wêreld, of die Weste, en die derde wêreld. Die verbintenis was nie altyd ’n gelyke een nie en dikwels meer voordelig vir die ryker, eerste wêreld as vir die kolonies. Maar die feit bly staan, toe die eerste produk, of dit ’n olifanttand of ’n inheemse vrug was, vir die eerste keer uit Afrika geneem is, het die verbintenis ontstaan.

      “Die voormalige Britse premier Tony Blair het in 2001 op ’n kongres gesê dat die toestande in Afrika ’n litteken op die gewete van die wêreld is. Ek dink dit is ’n baie raak beskrywing van ’n baie komplekse situasie, maar hoe graag ons ook al die Weste verantwoordelik wil hou vir al die vergrype wat op die kontinent plaasgevind het, het dit tyd geword dat ons self ook verantwoordelikheid begin aanvaar vir wat hier gebeur.

      “Die vernietiging van die aarde se natuurlike hulpbronne is potensieel een van die grootste rampe wat die mens in die een en twintigste eeu in die gesig staar. Afrika het die hoogste bevolkingsaanwas ter wêreld. Die bevolkingsgetalle van Afrika, suid van die Sahara, het vanaf 1950 tot en met 1990 van tweehonderd miljoen na seshonderd miljoen inwoners verdriedubbel. Na verwagting sal Lagos in Nigerië in 2015 vyf en twintig miljoen inwoners hê. Die omvang van so ’n megastad in Afrika is ontsagwekkend en maak omgewingsbeplanners bekommerd. Die streek kan nie hierdie soort bevolkingsgroei dra nie en die gevolg is dat grond ’n skaars kommoditeit raak en daar ’n voortdurende stryd tussen mens en dier en mens en mens is.”

      Hy bly stil terwyl sy blik oor die mense voor hom gaan. Hier en daar herken hy gesigte in die voorste rye en hy weet hulle hoor hom. Dis nie die eerste keer dat hy oor hierdie dinge praat nie, maar tog moet dit weer en weer gesê word, want dis asof die mense vergeet.

      Miskien is dit makliker om te vergeet of anderpad te kyk. Hy sou ook graag anderpad wou kyk en iemand anders laat wakker lê het, maar hy het nooit werklik daardie keuse gehad nie. Sommige mense kan deur die lewe gaan sonder om te wonder, maar blykbaar is hy een van die ongelukkiges wat van kleins af gewonder het. Nie net oor hoe dinge werk nie, maar veral wat hy kan doen om dinge beter te maak. En solank hy ’n stem het, sal hy praat. Al is dit dieselfde woorde oor en oor, tot dit ’n refrein word. Miskien is dit die enigste manier om ’n boodskap oor te dra. Weer en weer, tot dit ’n mantra word. ’n Inkantasie wat oor die vasteland gehoor word, soos oeroue tromslae.

      “Die mense in Afrika moet begin om die hulpbronne met verantwoordelikheid te gebruik. Die oorloë, etniese konflikte en voortslepende onrus het die streek duur gekos en is steeds een van die grootste oorsake waarom soveel state op buitelandse hulp moet staatmaak vir oorlewing.

      “Wapenvervaardigers is afhanklik van oorloë om hulle wapens te verkoop. Die lande van oorsprong is afhanklik van hierdie vervaardigers se belastings en die geld wat op so ’n manier in die staatskaste beland, maak dat owerhede té dikwels blind is vir wat die maatskappye aanvang.

      “Gedurende 1972 is daar na raming wêreldwyd ses honderd en tagtig biljoen dollar, gemeet teen die 1988-prysindeks, aan wapens en gewapende magte bestee. In dieselfde jaar was die getal oorlogsvlugtelinge ongeveer drie miljoen. Twintig jaar later, in 1992, het wêreldwye militêre spandering gestyg tot net onder die agthonderd biljoen Amerikaanse dollar, weer gemeet teen die 1988-prysindeks, en die getal vlugtelinge het vermeerder tot ongeveer vyftien miljoen. Afrika kan nie oorloë bekostig nie en moet noodgedwonge weer bakhand staan vir die Weste om te help,” gaan hy voort.

      Ester kyk om haar rond. Mense sit stil en luister. Hier en daar knik ’n kop instemmend of dalk uit gewoonte en bygeloof, dink sy geamuseerd.

      Hy versit sy gewig effens na sy linkervoet. Sy een hand bly egter steeds ontspanne in sy broeksak, wanneer hy nie albei hande gebruik om te beduie nie.

      Ester haal haar selfoon uit en begin ’n boodskap tik. Is dokter Doolittle een of ander Messias-figuur? Sy tik Ira se nommer en maak die selfoon toe.

      “Afrika het baie probleme en ek wil geensins beweer die oplossings is maklik en voor die hand liggend nie, maar heelwat van die oplossings lê in die streek self en sy mense opgesluit. Julle gaan gedurende die volgende week veral na Oos- en Suidelike Afrika kyk en dis veral hierdie streek wat met van die wêreld se rykste wildernisgebiede geseën is.

      “Wildernisgebiede kan egter nie meer net eksklusiewe areas wees waar die wêreld se rykes in luuksheid na die inheemse wild kom kyk of die natuurskoon kom geniet nie. Dit het tyd geword dat plaaslike gemeenskappe ook deur hierdie proses bevoordeel word. Maar terselfdertyd het dit tyd geword dat plaaslike gemeenskappe deel van die bewaring word en help dra aan die verantwoordelikheid


Скачать книгу