Maal. Nicole Strauss
Читать онлайн книгу.lekkerste sluk. Sy rangskik die halwe gedeeltes van die witloof – soos oopgesnyde tulpe – in ’n keramiekbak, sprinkel sout en swartpeper, knoffel, gekapte olywe en parmesaan in die holtes tussen die blare. Sy vryf met haar vingers en die palms van haar hande olyfolie om die kante van die witloof, sprinkel nog van die olie oor die bokant waar die ander bestanddele tussen die blare lê. Sy druk die bak in die warm oond.
Sy draai die klank van die musiekspeler op, teug aan haar wyn. Sy dek die beukehouttafel met wit linne en ’n wit bord, nog ’n glas vir as sy later lus raak vir rooi, ’n silwer vurk en mes. Sy onderdruk die impuls om rooi lipstiffie aan haar lippe te smeer. Die aroma van die knoffel en die kaas vul die huis, of in elk geval die verdieping waar sy kook. Sy breek Michiel se brood in stukke, sit dit op die tafel langs haar bord.
Die kos is reg. Sy haal dit uit die oond, dien vir haarself op. Sy gaan sit aan die kop van die tafel, strek haar arms reguit na weerskante, vat die tafelblad in albei hande vas. Sy sluit haar oë.
Gee dis myne. Issie dis myne. Myne. Myne. Dis myne. Katrijn, gee die ding vir Albert dat ons kan eet. Nee! Dis myne. Albert stamp sy waterglas om. Hy gryp na Katrijn se pop. Nee! Los! Myne! Sy spring op en kry ’n lap in die kombuis, vee verbete na die water wat oor die nuwe tafelblad loop. Hoe kon sy gedink het hulle kan hier by die tafel eet? Nie in die kombuis nie, maar beskaafd by die nuwe tafel sit en gesels en eet. Sy lig die glas wyn na haar mond, sluk twee slukke vinnig weg. Gee! Eet julle kos. Gee. Myne! Los my uit! Albert, Katrijn (nog ’n sluk wyn) eet julle kos, asseblief. Nee! Ek hou nie van vis nie. Ek hou nie van witloof nie. Ek haat ertjies. Sy sluk. EET JULLE KOS. Waar’s pappa? Jy skree net altyd op ons. PAPPA IS AL WEER NIE HIER NIE. EET. Katrijn keer haar bord kos op die blinkgevryfde tafel om, gryp haar pop by Albert, storm kamer toe. Ek hou nie meer van jou nie! roep sy uit haar kamer. Albert skree oor die pop. Sy sit, kyk met wye oë na die kos in haar bord. Sy drink.
Hilde bring stadig die kristalglas na haar mond toe, proe die wyn koud op haar tong, onthou die dae toe sy wyn wanhopig in haar keel afgegooi het eerder as om dit te proe. Sy neem haar mes en vurk, buig oor die bord voor haar. Die witloof ruik heerlik. Sy asem dit in voor sy begin eet. Sy neem ’n hap, doop ’n stukkie baguette in die sous, kou stadig. Sy drink nog ’n sluk wyn. Sy sit terug in haar stoel, die kristalglas in haar hand.
Piaf het ophou sing. Die malle fees speel agter haar mure. Die staanklok tik op ’n ander vloer. Die telefoon lui nie. Die kat is lankal dood. Hier binne is dit stil.
Soos die graf.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.