Reën oor die Serengeti. Connie Luyt
Читать онлайн книгу.Ek het geleer om nie te huil nie.
Eers ná vyf-en-twintig jaar het ’n sielkundige die begrip “oorlewingskuld” aan my verduidelik. Die een wat bly lewe se ewige skuld oor hy nie ook dood is nie.
“Jambo, memsaab. Time for dinner.” Die mooi jong man se tande glim wit in sy mond.
Ek stap saam met hom. In die skemering gesels voëls in die bome en snork ’n bok iewers naby. Die geur van rook en grond en ou blare hang in die lug. Ek adem dit diep in my longe in asof dit al die holtes moet vol maak op hierdie aand in Afrika.
Ek wil terugkom. Sodra ek terug is in Berlyn, gaan ek na my dagboek kyk en die nommer bel wat ek by Wilderness Tours gekry het. Ek gaan hoor of die lodge met die mooi naam Ngaro Sero wat John Barklin bou al klaar is, en ’n bespreking maak.
Ná aandete sit ek eers lank op die stoep, voordat ek bed toe gaan. Dis bedompig warm en ek veg lank met die laken en kussings.
In my slaap hoor ek ’n vliegtuig. Die gedreun kom al nader. Harder en harder. Dun skreegeluide eindig met ’n harde slag. Ek wil stik in die stof. Dis pikdonker. Benoud. Warm. Ek kan nie beweeg nie. Iemand hou my vas.
Ek veg. Ek moet uit! Vir Rozl gaan soek. Rozl is nog daar in die hoë wit bed. Die bomme gaan op haar val! Rozl gaan doodbrand. Sy sal dink ek het haar vergeet. Los my!
Verstrengel tussen lakens en muskietnet skrik ek wakker, natgesweet en uitasem. Ontsteld. Die droom was te werklik.
Buite rammel donderweer en ek ruik die naderende reën op die wind wat die gordyne laat bol. Iets brand. Bewerig trek ek die gordyn weg en sien ’n rooi vuurstreep wat oor die veld aankruip soos ’n gloeiwurm. Waarheen vlug ek as dit tot hier kom?
’n Weerligstraal wys ’n boom wat ’n vlammedood sterf. ’n Geweldige donderslag volg binne sekondes.
Dan neem Gretchen Schmidt oor. Ek voel in die stikdonker na my kamerasak. Eers toe ek agter die lens skuil, keer daar ’n mate van kalmte terug. In die wit lig van die volgende bliksemslag is die vlamme nader, hoër, wyer.
Um Gottes willen, gaan ek hier in Afrika sterf? Hoekom is dit so stil? Wéét die hotel se mense dat daar ’n vuur op pad is? Die kamera val byna uit my hande toe die volgende donderslag volg. Daarmee saam sak ’n gordyn reën uit die hemel. Só dig dat die vuur nog net ’n oomblik of twee oranje skyn, voordat ek die venster toemaak.
Die vlae reën is, soos alles hier in Afrika, meer ekstreem, meer skrikwekkend as wat ooit in Duitsland die geval is. Geen wonder die donderslae het geklink soos die Britse bomwerpers wat nag ná nag hulle dodelike ladings op Berlyn laat val het nie. Dis tog logies.
Maar vannag het logika nie ’n plek in my kop nie. Niks omtrent my reis in hierdie vreemde, ongelooflike land is logies nie. Niks omtrent my verblyf in hierdie aardse klip-en-houthuis – waar geitjies teen die mure opseil en in die grasdak verdwyn, waar ek my skoene soggens eers moet uitskud om seker te maak dis vry van skerpioene of slange, waar ’n donderstorm soos die einde van die wêreld klink en die veld brand sonder dat iemand hom daaroor bekommer – is logies nie.
En tog. En tog. Hier is waar ek moet wees. Hier is niks afgestomp nie. Elke dag is ’n avontuur. Hier is ’n varsheid – ’n gevoel wat jou bybly vandat die eerste dou op die gras blink tot jy saans die sterre sien. En nêrens in Europa is die lug so blou of so wyd nie.
Hier is ek meer weerloos en terselfdertyd sterker as wat ek nog ooit was. Afrika het in my bloed ingetrek. Ek tintel, ek gloei; die wete dat daar gevaar om my is, die frisson van regtig lééf, het aan my ’n lewenslus gegee waarvan ek al vergeet het.
’n Donderslag vibreer deur die vertrek en weer hoor ek die dun gehuil wat in my droom soos ’n vallende bom geklink het. Nou weet ek dit moet ’n dier wees, of ’n voël dalk. Maar in my kop is ek in die kelder onder Berlyn se verwoeste strate, veilig op onkel Willi se skoot, waar ons blaai deur boeke waarin wilde en eienaardige diere, halfkaal mense met pyle en spiese, en tonele van berge en bome is wat ek nooit vergeet het nie.
En soms as dit stil geword het, het die enigste oorblywende olifant in die Berlynse Tiergarten moedeloos getrompetter. Hoe alleen en ver van Afrika het hy nie gevoel nie? ’n Ontheemde dier vasgevang in ’n plek en tyd waar niks sin gemaak het nie. Ek onthou dit.
Maar daar is baie dinge waarvan ek niks onthou nie, waarvan ek seker nie geweet het nie, wat Mutti se oorlogsdagboek my vertel het.
14 Februarie 1945
Vandag is hulle vyf jaar oud. Frau Welbe het muckefuck gemaak, slegte koffie van gemaalde sade en neute en wie weet wat nog. Willi het ’n paar dun broodjies uitgepak en ’n boek oor diere in koerantpapier toegedraai as ’n geskenk vir Gretchen. Hy het foto’s by hom gehad.
“Kyk hoe lyk jou kind,” sê Frau Welbe. Vuil gesig, wilde bos hare, voddeklere. Oë wat ouer is as wat ’n kind van vyf moet hê. Wat voel ek vir haar? Ek weet nie. Hoe kan sy hier wees en Rozl nie?
Wat gaan gebeur as hierdie nagmerrie verby is?
“Lasst uns geniessen den Krieg, denn der Frieden wird Furchterlich!” Dit sê hulle op straat. Kan die vrede erger wees as die oorlog?
Willi sê ons leef soos die eerste mense. Heeldag soek ons na kos, en snags bondel ons saam om te skuil teen die vyand soos grotbewoners. “Al wat ons red, is ons inherente beskawing.”
Herr Welbe proes. “Beskawing? Kyk hoe lyk ons, kyk hoe leef ons! Vyf-en-tagtig lugaanvalle in tagtig dae. Ons is voos, klaar.”
“Das ist wahr,”antwoord Willi, “maar mense smag steeds na iets. Môremiddag is daar ’n konsert van die Berlynse Filharmoniese Orkes en al die kaartjies is uitverkoop. Hulle gaan die vioolkonsert van Beethoven speel.”
Jare later lees ek van die konsert op daardie ysige dag in 1945. Van die bibberende gehoor in verslete jasse, wie se trane op hulle wange verys het. Die Vervloeking van die Gode. Die Einde van die Reich.
Ek het ’n brief vasgespyker teen die lindeboom buite op die sypaadjie voor die woonstel waar ons gebly het toe Rozl verdwyn het. Die woonstel is nou net ’n gapende wond tussen die puin. Sal Rozl my briefie tussen al die ander kry?
Ek wens ek kon huil oor die verwoesting, maar my trane is opgebruik. Ons leef hier in ’n sterwende stad, en tog speel die orkes en gaan luister mense wat niks meer oorhet nie. Soos op die Titanic?
Hoe lank nog?
Hoekom het Mutti my verstoot? Hoekom is ek saans met ’n afwysende gebaar in onkel Willi se arms geprop? Hy was tog nie familie nie. Te oud om oorlog toe te gaan, was hy die pa én oupa wat ek nooit gehad het nie. Hoekom het sy toegelaat dat ek heeldag wegbly saam met Werner Schmidt, my enigste maatjie?
Ek was daar – Rozl was nie, maar sý het al my ma se tyd en aandag in beslag geneem. Ek moes kos soek, toustaan vir ’n stukkie brood of ’n koppie sop. Ek moes ons paar besittings oppas terwyl sy by die hospitaal of by ons ou woonstel gaan waghou het vir Rozl. Ek was so klein, maar ek onthou die enigste plek waar ek veilig gevoel het, was in onkel Willi se fotowinkeltjie.
Saam met die reën, wat nou sag en deurdringend suis, val my trane op die beddegoed. Trane vir die verlies van my kleintyd. Vir die woede wat so lank deel van my bestaan was.
Die Katolieke sê ’n kind se ingesteldheid word gevorm voordat hy sewe jaar oud is. Ek is die bewys daarvan. Bitterheid het soos infeksie deur my liggaam versprei en vasgesteek in my hart.
Flardes van my ma se dagboek swem deur my gedagtes.
Ek hoor dat die Rooi Kruis help om mense op te spoor. As die oorlog verby is, gaan ek hulle vra om my kind te vind … Was ek dan nie ook haar kind nie?
Vandag het Gretchen vir ons brood gebring. Dit was nog warm. Ek vra nie hoe sy dit regkry nie. Ek het nou maagpyn … Selfs my klein diefstalgeskenke het haar nie tevrede gestel nie.
Die onweer het verbygetrek. ’n Koel wind dra die geur van nat gras aan. Reëntrane drup van die bome af. Die kussing vou om my kop en die laken is opgetrek tot teen my ken, soos toe ek klein