Op die vrou af 2. André le Roux

Читать онлайн книгу.

Op die vrou af 2 - André le Roux


Скачать книгу
wat hard deur sy neus asemhaal.

      Maar selfone verander als, veral die vibrerende soort wat so prmm-prmm, prmm-prmm maak.

      Twee vroue klim in. Hulle gaan staan in die twee verste hoeke. Almal maak so: vul eers die hoeke op, dan die middel. Dié in die middel stamp aan almal met pakkies en handsakke wanneer hulle omdraai om na die genommerde liggies bo die deure te kyk. Jy staan in die voorste hoek om die knoppies te beman, nogal galant.

      Eerste ding wat die twee vroue doen, hulle kyk of hul hare nog reg sit in die spieël. Die een probeer subtiel loer of daar nie dalk lipstiffie op haar tande is nie. As hulle mekaar ken, praat hulle asof niemand anders naby is nie.

      “Hoe was Vrydagaand? Ek wil nie snaaks wees nie, maar ek’t jou gesê sy oë sit te na aan mekaar.”

      As hulle mekaar net van sien in die hysbak ken, staan hulle net. Of sê iets oor die weer. As niemand mekaar ken nie, gaan julle almal op in stilte. En as iemand se maag gôr, maak almal of dit iemand anders se maag is. Almal kyk na die nommers of na die vloer. (Só leer ’n mens baie van vroue se skoene.) As die hysbak by elke vloer stilhou, sal iemand die een of ander tyd sê: All stations.

      Dan staan almal weer.

      Tot daar agt vroue in die hysbak is. Jy drúúúk die toe-knoppie, maar op die nippertjie het ’n dun vrouehandjie met ’n gilletjie (“eee!”) tussen die toeganende deure in geswaai-waai om dit weer te laat oopgaan. Sy druk in en jy word subtiel agtertoe gedu. Nou’s daar nege.

      Jy sal moet skiestog, skiestog, skiestog om weer uit te kom, en dan kan jy seker wees ’n groot vrou gaan inklim sonder om jou ’n kans te gee om eers uit te klim. Dan’s daar tien. Langs die deur sê dit OTIS, 1 400 kg of 19 mense, kragtens een of ander Masjinerie-wet van 1983. Jy glo dit nie. Die hysbakmense het aandele in die sardientjiebedryf.

      Dan gebeur dit. ’n Selfoon lui.

      Daardie vroue gryp soos een man na hul handsakke asof hulle mik na ’n naelvyltjie. Wie s’n is dit? Die luitone kan wissel van God save the Queen tot Kurt Darren. Daar’s selfs ’n vrou wat vinnig ’n gehoorstukkie uithaal. Die draadjie loop by haar oor uit tot binne-in haar handsak. Hands free, en sy praat loshande die hardste wat jy nog in ’n hysbak gehoor het. Almal luister deur te maak asof hulle nie luister nie.

      “NEE! Sê vir hom ek laat nie aan my VAT en dan sommer LOS nie! Wag, ek is in ’n lift, die lyn breek op …” (Wie gaan dit weer regmaak?)

      Jy koes in die verste hoek in en vra om verskoning vir die vrou agter jou omdat jy op haar voet getrap en haar hoek afgevat het. In die ander hoek lig ’n vrou haar been. As sy alleen was, sou sy haar handsak plat op die vloer neergesit en begin uitpak het op soek na die luiende foon op die wysie van “Meisie, meisie”. Nou moet sy noodgedwonge haar knie effe lig om die handsak op haar bobeen te balanseer. Natuurlik stamp sy die vrou voor haar onder die boude en die vrou dink dis iemand wat aan haar probeer vat. Sy kyk onmiddellik om na jou, maar gelukkig is jy in die teenoorgestelde hoek en jy staan klaar skuins op jou tone om nie per ongeluk ’n gedrang te veroorsaak nie. Jy probeer maer lyk.

      Jy wil vir die vrou met die knieë sê dis in elk geval nie haar foon nie, toe gebeur dit weer. Jy voel glads ’n vibrasie in jou broek en skrik jou bene oorkruis. Demmit! Dis in jou broeksak en dis jou eie selfoon.

      “Hallo? Nee, ek kan nie nou praat nie. Hier’s tien vroue saam met my in die hysbak!” (Hoekom bel sy in elk geval as jy saam met tien vroue in ’n hysbak is?)

      “Watse stemme hoor ek?”

      “VAT is nie sommer vir VAT nie, hoor jy?!” sê die vrou met die gehoorstukkie.

      “Wat?”

      “Luister. Ek’t ’n moeilike dag sover. Ek kan nie nou praat nie.”

      Toe die hysbak se deure weer oopgaan, is jy eerste uit, jy weet nie eens op watter vloer jy is nie.

      Jy stuur dadelik ’n SMS: Ai, my lief, bel my liewer vanaand, dan vibreer ek. So prmm-prmm, prmm-prmm.

      Maart 2004

      Moet nóú eet!

      Dis nou wel nie ’n erkende mediese term nie, maar die toestand is eg. Hulle noem dit die Ek-moet-nóú-eet-sindroom.

      Nie netnou nie, nie later nie: NOU! Dit slaan enige tyd, enige plek toe, al is dit kort voor ete. Uit die bloute, jy wou nog iets sê, toe sê sy wag, ek moet nou eers iets eet. Jy was nog besig om met haar te praat, in die middel van ’n sin, toe staan sy met die yskas se deur in haar hand.

      En sy weet presies wat sy wil hê. As dit maaskaas is, los sy die jogurt net so daar op die eerste rakkie. As dit ’n piesang is, kan jy haar nie omkoop met ’n appel of ’n ei nie.

      Dan sal sy na haar aandete kyk en vir die ertjies op haar bord sê: Ai, julle, die kos lyk so lekker en nou’s ek nie meer honger nie. (Die ertjies beland in ’n leë margarienbakkie in die vrieskas asof dit hulle skuld is.) Jy kan vir haar sê dis dalk oor die twee bakkies maaskaas wat sy skaars sewe minute gelede geëet het, en toe nog ’n piesang daarna.

      “Maar ek was tóé honger!” verdedig sy nog voordat jy iets kan sê.

      Teen skemer kondig sy aan sy gaan gou kafee toe, die melk is min. As ’n vrou teen skemer aankondig sy gaan kafee toe, die melk is min, kan jy maar weet sy soek iets om te eet. Dis die enigste keer dat sy jou nie stuur nie, want jy’s te stadig. Sy’s lus vir Paasbolletjies.

      NOU!

      ’n Rukkie later is sy terug met ’n leë bruinpapiersak in haar hand.

      “Waar’s die Paasbolletjies?” vra jy. (Miskien gee sy vir jou ook een.)

      “Óp,” sê sy en frommel die kardoes tot in die drommetjie links van die yskas.

      “Hoe bedoel jy óp?”

      “Opgeëet,” sê sy. “Dit was net ’n halfdosyn.”

      Tussen die kafee en die huis, twaalf minute se ry, het sy ses Paasbolletjies opgeëet. Dis een elke twee minute, jy kan maar self uitwerk.

      “Jy verstaan nie, ek móés dit net eet.”

      Die telefoon lui.

      Een van die irriterendste dinge vir ’n man: As hy die telefoon optel en iemand kou of sluk aan die ander kant. Dis soos beskuit eet in die bed, práát nie van die krummels wat altyd jou kant toe rol nie. Dit krttts-krttts-ghloep-ghloep deur jou ore, deur jou are tot in jou murg.

      Vir ’n vrou klink dit soos musiek.

      “Hallo?” sê sy. “Nee, wat, ek gee glad nie om dat jy in my ore kou nie. Trouens, dit maak my honger. Wat eet jy? Is daar rosyntjies by? Ja, ek hou ook die meeste van peanuts mét rosyne. Maar ek hou ook daarvan sónder rosyne, dan moet dit salted wees.”

      Só word noodsaaklike inligting oorgedra in keurige Afrikaans, want dis al wat ’n vrou in die lewe nodig het: Iets soets of iets souts (dit het geklink of sy sê “iets stouts”). Die iets soets staan vir sjokolade, en blykbaar, as ’n vrou skielik móét eet, is dit meestal sjokolade. (Vir mans is dit glo pizza.)

      Of sy peusel aan ’n Provita, want dit maak nie vet nie – met Camembert-kaas of Brie daarop.

      “Partykeer kan ek twéé pakkies peanuts gelyk opeet,” erken sy. “Daar moet net nie doppe om wees nie. Dit maak my dors.”

      Voedingkundiges sê juis skielike, drastiese hongerpyne beteken eintlik maar jy’s dors. Drink water. En pasop vir suiker. Dit het geen voedingswaarde nie, dit laat jou net honger voel en maak die aptyt-beheersentrum in jou brein deurmekaar.

      “Dan styg jou bloedsuikervlak abnormaal vinnig. As dit weer val, dink jou brein jou liggaam het kos nodig. Dis wanneer jy NOU moet eet,” verduidelik jy toe sy klaar “oukei-baai” gesê het. “Boonop stuur die pankreas insulien-mannetjies om daardie ekstra suiker om te sit in … VET!”

      Sy kyk jou aan of jy skielik ’n selfaangestelde dieetkenner geword het (hoekom


Скачать книгу