Slagyster. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.’n afgekapte boom agteroor val.
Die twee kaalbolyfmans in die paadjie kyk nie weer na Osako nie. Hulle ignoreer ook die gillende vroue op die agtergrond. Die een hou die AK47 op Ryan gerig, die ander stap na hom en beduie hy moet sy hande agter sy rug hou. Ryan voel hoe die toue in sy gewrigte sny. ’n Naarheid stoot in sy keel op, sy bene is lam. Hy word in die paadjie af gelei na die oop terrein waar hulle die pypleiding herstel.
Die Nigeriese soldate se wapens lê eenkant op ’n hoop. Hulle staan arms in die lug saam met die werkers terwyl sowat tien rebelle hul AK’s op die groep gerig hou. Donald, die Engelsman, en Kiernan, die Ier, se hande is nes syne agter hul rûe vas. Twee gewapende mans staan by hulle. Die een wink Ryan nader. “Kom staan hier, jy gaan saam met ons,” sê hy in gebroke Engels.
“Dit het gebeur omdat Osako se fokken soldate sit en slaap het,” sê Kiernan vir Ryan. Sy stemtoon grens aan histerie. Een van die rebelle klap hom hard met die plathand deur die mond. “Jy raas!” Die Ier begin saggies huil. Ryan merk op Donald het sy broek natgemaak.
Onverwags skreeu een van die rebelle ’n bevel uit. Die geknetter van geweervuur laat Ryan verskrik omkyk. Hy sien hoe rooi vlekke op sy werkers se blou oorpakke uitslaan, hoe die soldate met hul hande probeer keer. Binne sekondes lê twee en twintig mans roggelend in die rivierdelta se modder.
Die gekwetter van voëls klink op uit die oerwoud. Dan is dit onheilspellend stil. Almal staar na die slagveld. Iemand kreun en ’n ander skop met sy hak ’n kluit modder los.
Vyf minute later stap een van die rebelle nader en skiet nog ’n paar skote na dié wat lewe toon. Sy oë is wild, sy lag weergalm deur die woud.
3
In die lang gang van die polisie se spesiale aksie-eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad lyk dinge normaal. Twee vroue gesels oor ’n koppie koffie, in ’n sykantoor neurie ’n man wat agter sy rekenaar sit ’n liedjie, iemand praat geesdriftig oor ’n telefoon, ’n ander een lag luid. Daar heers ’n atmosfeer van gemoedelikheid en hier in Kaapstad is dit selde anders op ’n Vrydagoggend.
Agter die toe deur met die kopernaamplaatjie wat sê Dir. P. Wessels, Hoof: Spesiale Aksie-eenheid teen Ernstige Georganiseerde Misdaad, sit ’n man met ’n frons op sy breë voorkop terwyl hy liggies met ’n potlood op sy eikehoutlessenaar tokkel.
Direkteur Piet Wessels kyk na die rol geld voor hom. ’n Papiertjie wat met ’n rekkie om die note gebind is, dui aan dit is twee duisend drie honderd rand.
Hy skud sy bleskop, sug en neem ’n sluk van sy koffie. Carl Bester was die beste. Hy het hom as ’n jong speurder by Moord en Roof leer ken. Van die eerste dag wat Bester aan hom gerapporteer het, was Wessels beïndruk met hom. Dit was nie net die man se staalblou oë en breë skouers wat ’n onmiddellike indruk op hom gemaak het nie; sy kalm houding, skerp intellek en die geesdrif en passie waarmee hy ’n taak aangepak het, het Wessels laat besef hy het met ’n buitengewoon talentvolle man te doen. Iemand wat vinnig vordering sou maak, wat in die praktyk ’n jammerte sou wees. Speurders van sy kaliber hoort nie in bestuursposte nie. Hulle moet aanhou doen waarin hulle uitblink. Maar uitstekende spesialiste se salarisse maak nooit groot spronge as hulle nie ook bevelvoerders word nie.
Hy sug weer swaar. Hy wat Wessels is, moet gedeeltelik die skuld dra. Hy rol die note in sy hand rond. Hy was direk daarvoor verantwoordelik dat Bester se salaris nederig gebly het. Hy is wel uiteindelik tot senior superintendent bevorder, maar het ’n speurder gebly en nooit groot bestuurspligte gehad nie.
Dit was te wyte aan Wessels se eie selfsugtige redes. Hy wou nie sy beste man aan ’n ander eenheid afstaan nie. Toe die polisie vyf jaar gelede dié spesiale aksie-eenheid in die Kaap tot stand gebring het, het Wessels die pos van hoof aanvaar op voorwaarde dat hy Bester met hom kon saamneem. As hy hom toe gelos het, kon Bester baas van enige van die ander groot eenhede geword het, hoewel sy velkleur in die nuwe Suid-Afrika teen hom kon getel het. Dít was ’n skrale troos, maar een waaraan Wessels nog altyd vasgeklou het om sy skuldgevoel oor die aangeleentheid te sus.
Hy trek weer Bester se persoonlike lêer nader. Die eerste ondersoek wat daarop gedui het dat die jong speurder ’n besonderse talent en aanvoeling vir sy werk het, was met die sogenaamde Jaguar-saak. ’n Bekende sakeman het selfmoord gepleeg, of só was die aanvanklike bevinding. Sy liggaamshouding op die bed in sy slaapkamer, rewolwer in die hand, en die hoek waarteen die koeël sy brein binnegedring het, was tipies van ’n selfmoord. Sy vrou was verslae, haar man was nie die selfmoordtipe nie, hoewel hy in ’n stadium medikasie vir depressie gebruik het, wat vir die polisie daarop gedui het hy kon wel sulke neigings gehad het. Bester het met al die gesinslede gesels.
Die stiefseun was ongemaklik tydens sy onderhoud met Bester. Iets omtrent die jong man se houding het die speurder agterdogtig gemaak. Sy versoek om die huis later weer te deursoek, is geweier — die stiefseun het namens die gesin gesê hulle wou nie die tragedie langer uitrek nie. Hulle het aanvaar hy het selfmoord gepleeg en ’n tweede polisie-ondersoek sou geen doel dien nie. Bester het ’n lasbrief gekry en die huis oor ’n naweek weer gefynkam, terwyl die vrou en haar kinders vir ’n kort vakansie weg was.
Bester het toe op ’n inskrywing in die oorledene se dagboek afgekom wat hom as vreemd opgeval het. Dit het met ’n motorbestelling te make gehad en hy het die handelaar se nommer geskakel. Ja, het die handelaar bevestig, die oorledene was twee dae voor sy dood by hom. En dié kliënt was ernstig en baie spesifiek oor sy besluit. Dit was vir Bester duidelik daar was gemene spel betrokke. Niemand bestel ’n nuwe Jaguar XJ8 L, ’n silwer een met rooi leersitplekke, en skiet homself enkele dae later nie. Uiteindelik is die stiefseun vasgetrek. Op Bester se aandrang is die lyk opgegrawe en ’n tweede lykskouing gehou. ’n Minuskule stukkie van die stiefseun se vel is onder een van die oorledene se naels gekry. Krapmerke aan die stiefseun se voorarms wat tydens die aanvanklike polisie-onderhoud deur sy hemp se mou verberg was, was die finale bewys om hom die hoofverdagte te maak.
By Wessels was daar destyds geen twyfel nie: Was daar ’n ander speurder by die saak betrokke, het die stiefseun met moord weggekom.
Sy oë flits oor Bester se ander groot sake: die harpoenmoord, drie grusame plaasmoorde, die opspraakwekkende boomsaagmoorde van ’n paar jaar gelede, die Milnerton-bankrowe, die reeksverkragtersaak in die Tuine … Die lys is ’n getuigskrif van Bester se fenomenale vermoëns. ’n Tweede Piet Byleveld, het almal gesê.
En toe kom die heel grote. Sy blootlegging van die grootste dwelmnes in die land se geskiedenis. Sewentien drug lords met hoë profiele in die tronk, sewe dood. Dwelms ter waarde van ’n paar miljard rand en sewe en ’n half miljoen rand se dwelmgeld opgespoor. Alles te danke aan Bester se genialiteit en deursettingsvermoë. Geen mol kon dit nog vermag nie.
Hy wou Bester aanvanklik nie vir dié dwelmtaak gebruik nie. Carl het deur ’n moeilike stadium in sy persoonlike lewe gegaan, geskei van die vrou wat sy werksure nie meer kon hanteer nie. En oor gerugte van ander vroue. Wessels kon nooit verstaan dat ’n man se werks-etiek so van sy persoonlike lewe en veral sy verhoudings met die skoner geslag kon verskil nie. Maar dit was nie tersaaklik nie. Bester was onmisbaar in die eenheid. Dié verantwoordelikheid sou hom jare lank uit die amptelike strukture hou.
Bester het egter aangedring: hy wou die taak hê. Dit was ’n nuwe uitdaging, ’n verandering in sy daaglikse roetine. Die meeste mense in die eenheid is onder die indruk gebring dat hy die polisiediens verlaat het. Wanneer ’n man ondergronds gaan, kan jy niemand vertrou nie. Nie eers jou eie mense nie. Bester het sy hare tot op sy skouers laat groei en ’n baard en bril het verder gesorg dat sy polisie-gesig onherkenbaar was. Hy het vir die eerste ses maande net daarop gekonsentreer om in die stad se hole sigbaar te wees, ’n bekende in die skemerwêreld te word. Vandaar het hy die dwelmkartel se trapleer geklim, hom ingegrawe en hul vertroue gewen. Sy finale verslag lees soos ’n bekroonde riller.
Wessels was geskok toe Bester kort daarna uit die polisiediens bedank. Hy het wal gegooi, hom ’n groot bevordering met bestuursverantwoordelikhede aangebied. Sy salaris sou met twintig persent styg. Maar Carl Bester wou nie byt nie. Hy was klaar met die polisie. Hy wou ’n normale bestaan voer, het hy gesê.
Dit