Noot vir dood. Ilza Roggeband
Читать онлайн книгу.en wil musiekvideo’s maak. Gevra of ons vir hom werk sal gee. Ek het gewonder of ons nie ’n kans moet waag nie? Ons het begroot vir ’n video en het mos besluit ons gaan ’n video van ‘Soeker’ maak. Ek dink dit sal dalk goed wees om iemand nuut te gebruik. En omdat dit sy eerste is, kan ons dalk publisiteit kry. Elke bietjie help.”
“Het ons dan nog publisiteit nodig? Hoe gaan dit met die verkope?” vra Carel.
“Goed, ek is tevrede. Staan nou op so 51 000. Maar ons hoop vir nog baie meer. Ek dink hierdie is ’n album wat by 100 000 kan draai.”
“Is jy seker? Die mark is in sy moer in. En die mense copy asof hulle betaal word. Mamma koop ’n CD en maak copies vir die wêreld en sy maatjie. Ek wonder of hulle weet dis net so erg soos diefstal. Kla hulle gatte af oor die politici wat die land rot en kaal steel, maar dink dis OK om dit te doen. Weet jy dat iemand nou onlangs by ’n konsert vir my ’n copy gebring het om te teken? Nogals in ’n CD-kissie mét ’n foto van my in! Die cheek!”
“Tot iemand ’n manier uitvind om dit onmoontlik te maak om CD’s te copy en die ekonomie sy gat uit die toilet uit kry, gaan dit aanhou gebeur,” merk André op.
“Is daar nog ’n toekoms vir CD’s? Gaan alles nie digitaal gaan nie?”
“Dit sal seker die een of ander tyd, maar Suid-Afrika is nog agter. In Amerika is digital al meer as die helfte van die mark. Ek dink dit sal nog ’n rukkie duur voor dit by ons oorvat. Die meeste mense hou nog van ’n CD in die hand.”
“Hoe lyk my digitale verkope?”
“OK,” antwoord André. “Die meeste kopers is in die buiteland. Expats wat terugverlang. Wat in die aand by die huis kom en snot en trane huil as jy so mooi Afrikaans sing. So by the way, het Linda al weer iets laat weet van Australië?”
“Nee, sy hoor volgende week, maar dit lyk of die toer in Mei volgende jaar sal wees. Kan jy dink, dat ’n Afrikaanse sanger in Australië kan gaan toer en vir sewe dae elke aand ’n vol saal trek? Wie sou ooit kon dink?”
“Ek sê jou, ’n klomp verlangende Afrikaners wat droom van braaivleis, Klipdrift en rugby. Ek dink hulle is so uitgehonger dat hulle enigiets wat Afrikaans is, sal gaan luister. En o ja, so gepraat van banggat Afrikaners … Riana Kruger se agent, daai skelm Morné Naudé, het gebel.”
“Regse Riana?” vra Carel. “Sy was die ander aand by die partytjie in die Waterfront. Nie met haar gepraat nie. Weet nou nog nie hoekom sy daar was nie. Dit was tog ’n Encore-partytjie.”
“Jong, sy het haarself ingewurm. Nes daai Viviers-vrou van Scoop. Maar in elk geval, het jy gelees wat het Riana nou weer kwytgeraak? Oor haar volk wat so uitgemoor word? En dat sy geweier het om ’n kleedkamer met Thandi Monsela te deel?”
“Ja, ek het gelees. Die vrou is nie lekker nie. Ek kan nie verstaan dat enige regdenkende mens se politiek so skeef kan wees nie.”
“Gaan lees bietjie haar Facebook-blad. Die meeste van haar aanhangers is net so fokken dom soos sy,” sê André.
“Wat wou Morné hê?”
“Riana wil hê jy moet ’n duet saam met haar doen op haar nuwe gospel-CD. Ek het sommer dadelik nee gesê. Sy is nie iemand met wie jy geassosieer wil word nie. Hou verby.”
Carel lig sy wenkbroue. “Dankie, ek sou self nee gesê het. Dis persone soos sy wat wit mense in die land ’n slegte naam gee. Maar terug by die video. Vertel meer van Nico de Jongh?”
“Hy het lank in Johannesburg gebly, maar het so ’n paar maande gelede Kaap toe getrek. Ek dink dis tough vir akteurs. As jy dink die kak ekonomie is sleg vir sangers, dan moet jou hart bloei vir daardie lot. Hoe moet hulle aan die lewe bly? So ’n movie hier en daar, dalk ’n bietjie TV-werk en ’n play wat ’n paar dae by ’n kunstefees speel as hulle gelukkig is. Ek weet nie hoe hulle aan die lewe bly nie.”
“Ja, moet moeilik wees,” sê Carel. “Gaan jy hom laat weet dat hy die video kan maak?”
“Ek dink ek en jy moet net eers met hom praat. Hoor watter idees hy het. Dis nog nie ’n uitgemaakte saak dat hy dit gaan doen nie, ek het net gedink dis dalk ’n lekker angle vir ’n storie. Ons kan vir Huisgenoot sê hulle kan ’n behind-the-scenes kom doen.”
“Dis reg, laat weet wanneer ek moet inkom.”
7
Nico de Jongh staan voor die OTM. Druk sy kaart in. Hy weet voor sy heilige siel daar is nie baie geld in sy rekening nie. As hy net R100 se petrol kan ingooi. Dalk nog R100 om elektrisiteit te koop. ’n Paar minute lugtyd vir sy selfoon. Saterdag doen hy ’n MC job waar hy hopelik kontant betaal sal word. R2 000. Fok. Dat hy opgewonde kan raak oor R2 000. Asof dit ’n salaris is. Asof dit die loon is wat iemand soos hy moet verdien.
Hy druk sy geheime kode in. Vra die masjien om R300 uit te spoeg. Wag vir die drie blou note wat hy vinnig in sy beursie sit.
Hy kyk na die strokie wat uitkom en sien hy het R175,34 oor in sy rekening. Die balans van al sy jare se harde werk is R175,34. Sepiester, bekende gesig wat in winkelsentrums voorgekeer word om te staan vir nog ’n foto en om nog ’n handtekening uit te deel. Honderd-fokken-vyf-en-sewentig-rand-en-vier-en-dertig-sent. Dis wat hy op sy naam het. Dit en ’n kar wat al lankal nuwe bande en ’n diens nodig het.
Hy stap na sy kar toe en kyk weer na die adres. Hy moet dit nie vandag opneuk nie. Hy het die werk nodig. As hierdie video ’n sukses is, sal daar dalk nog kom. Dalk kan hy op 38 met ’n nuwe lewe begin. Hy is klaar met acting! ’n Sukkelbestaan waar jy moet bakhand staan vir enige ou los werkie, tog te dankbaar as iemand jou raaksien en dink jy is goed genoeg.
Hy ry op met Adderleystraat, mik Tamboerskloof toe. André het verduidelik hoe om by die kantore uit te kom, maar hy is nog onseker wanneer hy in die Kaap bestuur. Hy sukkel om parkering te kry en is moerig toe ’n karwag nader stap.
“Will look after the car, boss.”
“You don’t have to. I’m sure it will still be here when I come back.”
Hy wil sleg voel, maar hel tog, hy is so gatvol vir die ewige gebedel. Jy kan deesdae nie by ’n verkeerslig stop sonder dat iemand iets aan jou probeer verkoop of ’n snot-en-trane-bordjie voor jou neus druk nie. Hy is self moeg gesukkel – hy het nie nog mense nodig om vir hom te wys hoe húlle sukkel nie.
Die ontvangsdame kyk op toe hy instap.
“Hallo,” sê sy en hy sien hoe sy haar beste glimlag uithaal en haar skouers net ’n klein bietjie verder agtertoe stoot. Ai, die poppies wat so swik voor bekendheid.
Hy draai die krane oop. ’n Mens weet nooit hoe belangrik sy in die hiërargie van Encore Musiek is nie. Gee sy mooiste glimlag, laat sak sy stem ’n aks.
“Hallo, ek is hier om vir André te sien. Ons het ’n afspraak.”
“Hy het gesê, ja. Wag net ’n oomblik.”
Sy staan op en Nico sien hoe sy haar heupies swaai. Hy kyk haar agterna. Nie te sleg nie. Hy ken nog nie so baie mense in Kaapstad nie en ’n stukkie vriendelike afleiding is dalk net wat hy nodig het.
Hy kyk haar in die oë toe sy teruggestap kom. Sy bloos effens.
“André is besig met ’n telefoonoproep. Hy is nou by jou.”
“Dankie. Sê my, is jy ’n Kapenaar?”
“Ja, gebore en getoë. Was hier in Jan van Riebeeck op skool. Hoekom vra jy?”
“Ek is nou al so uitgehonger vir ’n bord gekookte kos. Kan jy nie dalk ’n plek aanbeveel nie?”
“Ja, daar is ’n paar wat tradisionele kos het, maar hoekom sal jy na ’n restaurant toe gaan as jy lekker boerekos by iemand se huis kan eet?”
Hy speel dom. “Wat bedoel jy?”
“Ek doen dit nie gewoonlik nie, maar ek weet mos darem wie jy is. Kom eet