Kobra. Deon Meyer

Читать онлайн книгу.

Kobra - Deon Meyer


Скачать книгу

      “Ons gebruik dit gereeld. Dit voldoen aan al die vereistes. Dit is minder as ’n uur van die lughawe af, maar buite die stad. Dit is afgesonder, met goeie toegangsbeheer, ’n oop, bestuurbare perimeter, en personeel wat ons behoeftes en vereistes verstaan.”

      “O.K. Proceed.”

      “My aanbeveling aan Morris was ook ’n span van twee gewapende lyfwagte per dag- en nagskof. Hy het dit onmiddellik aanvaar, en gevra wat die volgende stap is om die transaksie mee af te handel. Ek het hom versoek om ’n deposito van een week se dagtariewe elektronies te betaal. Hy het …”

      “Hoeveel?” vra Cupido, ontvou sy arms, en kom sit in ’n stoel langs Griessel s’n.

      “Hoeveel was die deposito?”

      “Ja.”

      “Net meer as vyfduisend-tweehonderd pond. So sewentigduisend rand.”

      “Vir ’n week?” In ongeloof.

      “Dis reg.”

      “En hy het dit betaal?”

      “Binne ’n halfuur. En hy het die volgende dag, die Donderdag, ’n skandering van sy paspoort se fotoblad per e-pos aangestuur, wat ek aangevra het vir identifikasie- en registrasiedoeleindes. Dit wys dat hy ’n ses-en-vyftigjarige Britse burger is. Hy het ook die Donderdag geskakel met besonderhede oor sy aankoms. Ek het hom tydens dié oproep in kennis gestel van prosedure by die lughawe, en vir hom ’n beskrywing gegee van my mense wat hom sou ontmoet. Dit was die somtotaal van my kommunikasie met hom. Fikter en Minnaar het hom Vrydagmiddag by die lughawe gaan ontmoet – hy was op vlug SA337 van Johannesburg wat om vyftienhonderd-tien geland het. Hulle het …”

      “Johannesburg?” vra Cupido. “So hy het nie uit Engeland uit gevlieg nie.”

      “Dis moontlik dat hy van Brittanje na Johannesburg gevlieg het, en ’n aansluiting gekry het Kaap toe. Ek kan dit nie bevestig nie.”

      “O.K. Proceed.”

      “Fikter het Vrydagmiddag om vyftienhonderd-sewentien ’n SMS aan my gestuur om te bevestig dat Morris veilig aangekom het, en weer om sestienhonderd-twee-en-vyftig dat hulle in La Petite Margaux se gastehuis was, en alles was in orde. Hulle het daardie Vrydagaand die nagskof behartig, en Stiaan Conradie en Allistair Barnes die dagskof. Elke span het aan die begin en einde van die skofte per SMS gerapporteer. Daar was geen probleme nie. Ek het Sondagoggend, na afloop van die nagskof, met Fikter ’n selfoongesprek gehad om te hoor hoe dit gaan. Hy het gesê Morris is ’n baie beskaafde, hoflike man, en dat hy ontspanne en joviaal voorkom. Conradie en Barnes is op die oomblik hier onder, by die hek. Hulle is gereed om met julle te praat sodra die SAPD hulle toelaat om by die plaas in te kom.”

      * * *

      “So let me get this straight,” sê Cupido. “Al wat jy weet, is lat hierdie ou ’n Brit is met ’n fancy aksent en seventy thousand to burn. No address, no job description, niks. For all we know kan hy ’n serial killer wees.”

      “Dis reg.”

      “Ma’ julle is happy om vir so ’n ou bodyguard services te verkoop?”

      “Kaptein, as jy kontant het en ’n nuwe motor wil gaan koop, vra die handelaar nie of jy ’n kriminele rekord het nie.”

      “’n Cop met cash vir ’n kar? Fat chance. And it’s not the same.”

      “O?”

      “Bodyguard services is soort van personal, don’t you think?”

      Louw begin weer vorentoe sit, en Griessel vra: “Toe jy met hom oor die telefoon gepraat het – het hy bang geklink? Angstig?”

      Sy skud haar kop. “Nee. Ek het tydens die gesprek net twee afleidings gemaak. Die eerste was dat hy nog nie vantevore dié soort diens gebruik het nie, en die tweede was dat hy so min moontlik oor homself bekend wou hê.” Sy kyk na Cupido. “En dit is nie uitsonderlik nie. Persoonlikesekuriteitsdienste is uit die aard daarvan diskreet. Die meeste van ons kliënte is sakemense wat dit nie aan die groot klok wil hang nie …”

      “Why not?”

      “’n Behoefte aan ’n lae profiel. En ek dink dit is ook omdat hulle nie hul gashere aanstoot wil gee nie. Hulle kom vir sake met plaaslike maatskappye, en die baie publieke vertoon van sekuriteit skep die indruk dat hulle dink Suid-Afrika is ’n gevaarlike plek.”

      “Nou hoekom gebruik hulle die service? Da’s omtrent niks crime teen tourists nie.”

      “Dis ’n algemene wanpersepsie onder buitelanders …”

      “Which you are happy to indulge. Kon jy uit die email address sien wa’ hy werk? Wat was die domain name?”

      “Dit was ’n Gmail-adres. En die naam was Paul underscore Morris vyftien of so iets.”

      “En die deposit se betaling? EFT?”

      “Ja. Van ’n Switserse bank, Adlers, as ek reg onthou. Ek sal gaan seker maak.”

      “Mevrou …” begin Griessel.

      “Asseblief. Ek is nie ’n mevrou nie. Noem my Jeanette.”

      “Die twee lyfwagte daar binne …”

      “B.J. Fikter en Barry Minnaar.”

      “Ja. Hoe lank terug is hulle weg uit die SAPD?”

      “So sewe, agt jaar …”

      “Hoe lank werk hulle al vir jou?”

      “Vir dieselfde tydperk. Ek kan jou verseker die aanval het niks met hulle te …”

      “Nee, dis nie wat ek bedoel nie. Hoe … goed was hulle?”

      Sy snap wat hy wil weet. “Ek stel net die bestes aan. En vir die soort werk wat hulle doen, is daar jaarliks verfrissingsopleiding en toetsing, en die standaarde vir fiksheid, wapenhantering en selfverdediging is hoog. Ons doen selfs sesmaandelikse dwelmtoetse. Ek kan jou verseker Fikter en Minnaar was uitstekende operateurs.”

      “And yet …” sê Cupido skepties.

      Jeanette Louw verloor finaal beheer. Sy plant haar voete uitmekaar, leun vooroor, sit haar elmboë op haar knieë. “Ek sê nou vir jou, as jy nie ’n poliesman was nie, het ek jou vandag gebliksem.”

      * * *

      Die jong vrou, nie veel ouer as Tyrone Kleinbooi nie, kyk na die stapeltjie note, en dan na die rekenaarskerm. “You owe seven thousand rand,” sê sy.

      “Hoekom gooi jy Engels – ek dog dis ’n Afrikaanse universiteit dié,” sê Tyrone. “Hierdie is al wat ek nou kan betaal. Eenduisend-tweehonderd-en-vyftig.”

      Sy vererg haar so ’n bietjie. “Dit maak nie saak in watter taal mens dit sê nie, meneer, die rekening is agterstallig. Uitslae word net beskikbaar gestel wanneer dit ten volle vereffen is.”

      Dis frustrasie wat hom met haar laat karring. “Nou gooi jy wit Afrikaans, en ek kan sien jy’s ’n Cape Flats girl.”

      “Ek kom van die Pniel af, nie die Flats nie. En ek’t gesien jy’t nog geld in jou wallet. Weet jou pa jy maak só?”

      “Jirre,” sê Tyrone Kleinbooi. “Watse naam staan da’ op jou computer, dollie?”

      “‘Nadia Kleinbooi’. En ek is nie jou ‘dollie’ nie.”

      “Lyk ék vir jou soos ’n Nadia?”

      “Hoe moet ek weet? Daar’s snaakse name in dié computer.”

      “Nadia is my suster, dollie. Ons het nie ma nie, en ons het nie pa nie. Hierdie is geld wat ek met my eie hande ge-earn het, versta’ jy? En wat oor is in my wallet, moet ek vir haar loop gee vir haar flat se rent. So moenie jy vir my da’ sit en judge nie. En have a heart, ons betaal soos ons kan, sy’t flippen hard gewerk, dis háár results, nie julle s’n nie – vir wat mag sy dit nie


Скачать книгу