Kopskoot. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.sy twee lang treë na die badkamermatjie.
Handdoek in die hand buk sy vooroor. Haar borste skommel ritmies saam terwyl sy haar bene afdroog. Toe sy orent kom, gooi sy haar hare agteroor en trek haar vingers deur die nat slierte.
“En nou, as jy my so aanstaar?” vra sy met ’n frons.
Rocco lag. “Mag ek nie kyk nie?” Begeerte vir haar roer in hom. Hy tik met ’n voorvinger langs hom op die bed. “Kom sit eerder hier by my.”
“Nie vanoggend nie.” Die frons van die afgelope tyd is steeds op haar gesig. “Ek kan nie romanties raak wanneer ek my met onheilige goed moet besig hou nie.”
Hy sug. “Ai, Katrien, kom ons stry tog nie wéér daaroor nie. Ons het mos besluit om deur te druk. Jy sal nie spyt wees nie. Net twee, dan kan ons Spanje toe verkas en vir die res van ons lewe in die son gaan lê. Ons kan …”
“Ja, ja,” onderbreek sy hom en tel haar bra van die stoel op. “Of vir ’n groot deel van ons lewe in ’n koue, vuil tronksel sit.”
Sy draai haar rug op hom, maak die bra-knippie agter haar rug vas en buk om ’n broekie uit die onderste laai te haal.
Hy staan op van die bed en stap na haar. Hy streel oor haar gladde rug met een egalige beweging tot by haar ferm boude, aansienlik bleker as die res van haar liggaam. Hy laat sy hande op haar naakte heupe rus toe sy orent kom. Hy wil haar in die nek soen, maar sy beweeg vinnig weg van hom.
“Ek moet gaan werk.” Sy tel haar jeans en T-hemp van die stoel op en loop met haar broekie in die ander hand uit die slaapkamer.
Hy glimlag. Sy gaan darem doen wat sy veronderstel is om te doen. Sy is amper klaar met die eerste een. Nog net een en hulle kan hul droom gaan leef.
Sy gedagtes loop terug na die dag toe hy haar die eerste keer gesien het. Tien maande gelede. Haar pa, sterwend aan kanker, wou hom en Bill sien. Hulle het hom nie geken nie, maar hy het van hulle geweet. Haar pa het sy storie vertel, met ’n huilstem gebieg. Toe Katrien vir hulle koffie bring, het sy sy asem weggeslaan. Haar pa het onmiddellik ophou praat toe sy die kamer binnekom. Nadat sy uitgestap het, kon Rocco nie weer konsentreer op die ou man se storie nie. Dit was in elk geval ’n saak uit die verre verlede, oor iemand wat hy nooit geken het nie en oor iets waaraan niemand nou meer kon verander nie.
Tot Bill se ontsteltenis het hy verskoning gemaak en haar in die huis gaan soek. Sy was aan die werk. Haar werk was uitsonderlik professioneel en hulle het lekker daaroor gesels.
Maar dit was haar skoonheid wat hom by tye stom van verwondering gelaat het. Hy kon nie glo dat só ’n pragtige vrou nie verbind was aan iemand nie. Sy is geskei, maar het haar pa al die afgelope drie jaar versorg sonder om weer ’n mansvriend te hê. Om haar pa op te pas was ’n voltydse en vermoeiende werk, het sy gesê. Hy kon die tamheid in haar oë sien.
Twee weke later is hy na haar pa se begrafnis met die uitsluitlike doel om haar weer te sien. Hy het die klein doodsberiggie in die koerant gelees, want hy was op die uitkyk daarvoor. Ná die seremonie in die kerkhof het hy haar gaan groet. Sy was bekommerd, want die begrafnis sou haar laaste spaargeld opvreet, haar pa het niks nagelaat nie. Die huisie het hulle spotgoedkoop by ’n familielid gehuur, maar dié wou dit nou terughê. Rocco het dadelik aangebied om te help met die begrafniskoste en het haar genooi om gratis in sy ruim huis in Constantia te kom woon totdat sy weer op haar voete is.
Hoewel sy baie dankbaar oor sy aanbod was, wou sy aanvanklik niks daarvan hoor nie. Sy sal regkom, het sy hom verseker. ’n Week later het sy hom gebel. Sy was verleë. Sal dit reg wees as sy net tydelik by hom kom bly, net vir ’n week of twee?
Hy glimlag. Die tydelik is nou blywend. Ná ’n paar maande het hulle besef hulle is bestem vir mekaar. Hulle liefde was volmaak, ’n gelukkige samesyn wat nie een van hulle in vorige verhoudings ervaar het nie.
Die enigste spoedwal op hulle liefdespad het twee maande gelede opgeduik toe hy die plan opper van hoe hulle skatryk kan word. Dit het drie weke se oorredingswerk geverg. Sy het aanvanklik botweg geweier, maar hy het haar stelselmatig oortuig hulle sal nie uitgevang word nie. Hy het vir haar ander gevalle opgenoem, haar gewys op die foute wat ander gemaak het. Hy het haar verseker hulle gaan nie gulsig wees nie, want dít was die ander se doodsteek. Hulle gaan dit tot net twee beperk en dan die pad vat. Dis ’n sakegeleentheid wat hy nie deur sy vingers kan laat glip nie.
Uiteraard het haar talent hom die plan gegee. Dis natuurlik nie ’n oorspronklike idee nie, maar in Suid-Afrika kan dit nog werk. Veral met die oplewing in dié spesifieke mark.
Hy het die afgelope twee maande genoeg navorsing gedoen om te weet hoe om die slaggate te vermy, om te verstaan hoe die wiele van die bedryf draai. Hy het die veldwerk afgehandel, maar nog ’n bietjie leeswerk lê voor.
Oor haar deel van die taak het hy nie slapelose nagte nie. Sy is briljant.
3
Kaptein Kassie Kasselman klim die trappies met gekromde skouers. Hy sluit die deur oop. Selfs die gerusstellende reuke van sy woonstel besweer nie sy donker gemoedstoestand nie. Kassie sug. Dit was nie ’n goeie dag vir hom nie. Hy kom van dokter Leo Moerdyk se spreekkamer af nadat kolonel Daniels daarop aangedring het dat hy gaan.
Hy is veronderstel om elke jaar ’n dokter te besoek, maar hy het dit telkens vermy. Daniels was ontsteld toe hy op Kassie se personeelrekord sien sy laaste doktersbesoek was ses jaar gelede.
“Fok, Kassie, die brigadier is deesdae juis so knaend oor die gereelde mediese ondersoeke. Hy’t ’n bleddie obsessie daaroor. Jy’s boonop nege en veertig. Jy behoort elke ses maande by ’n kwak uit te kom,” is hy berispe.
As Kassie eerlik met homself moet wees, het dit óók die afgelope ses jaar aan sy gewete geknaag. Maar sy vrees vir die ergste het hom weggehou. Hy het voor sy geestesoog gesien hoe die dokter sy hande in die lug gooi, vir hom sê hy het ’n terminale siekte en sy dae op aarde is getel. Kassie verkies om sulke nuus nie voortydig te kry nie.
Dan was daar natuurlik die verdomde prostaatondersoek. Net die gedagte aan die prosedure het hom die nag voor die ondersoek ure lank laat rondrol in sy bed. Tot sy verligting het die dokter eergister gesê deesdae kan prostaatprobleme opgespoor word deur ’n bloedtoets. Maar tot Kassie se ontsteltenis het hy vinnig bygevoeg hy doen ook maar altyd die vingertoets, net om doodseker te maak.
Gelukkig is sy prostaat nog gesond, maar vir Kassie voel dit asof dit ál rat is wat nog geolied draai in sy afgeleefde rammelkas. Hy lewe nog net deur die genade. Tydens die ondersoek het dokter Leo sy groot beerkop bekommerd geskud oor sy hoë bloeddruk. En vandag moes hy hoor sy bloedtoetse wys sy cholesterol is ook hemelhoog.
“Moenie dink jy kan nie ’n hartaanval kry omdat jy net vel en been is nie,” het die dokter met ’n swaaiende voorvinger gemaan. “Baie mans wat skraal is, kap om van hulle hart.”
Hy het vir Kassie ’n lys kositems gegee wat hy ten alle koste moet vermy. ’n Vlugtige blik daarna het Kassie laat besef sy dieet van vleispasteie, hamburgers, pizzas en geblikte frikkadelle is iets van die verlede. Hy gaan voortaan soos ’n bok blare moet vreet. En hy sal ook minder moet rook.
Kassie het vir die dokter gelieg toe dié hom vra of hy rook. “’n Tyd gelede opgehou.” Hy het nie kans gesien vir nóg ’n lesing nie.
Maar wat hom vandag veral in ’n put van neerslagtigheid gedompel het, was die testosteroonbevinding.
“Jou testosteroontelling is hopeloos te laag,” het die dokter gesê. “Ons sal jou elke drie maande moet inspuit om dit te verbeter. Ons noem dit testosteroonvervanging.”
G’n man wil geëtiketteer word met ’n te lae testosteroontelling nie. Beslis nie ’n speurder in die SAPD nie. As Daniels dit op die doktersverslag sien en dié skande onder sy kollegas versprei, gaan Kassie nie die einde daarvan hoor nie.
Hy het verleë verduidelik hy is al meer as twintig jaar geskei en daar was nie intussen vroue in sy kooi nie.
Dokter Leo het bulderend gelag. “Dit het niks daarmee te doen nie, Kassie. Dit gebeur maar