Met die oog op liefde. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.is. Hy dra ’n donkerbril en hou sy kop roerloos.
“Hier is dokter Harker,” kondig die ontvangsdame aan en laat Naomi agter by die drie mans.
Sy staan voor hulle soos ’n aktrise onder die kollig. Een wat nie haar woorde mag vergeet nie. Die twee jonger mans staan op. Hulle lyk baie na mekaar. Sy skat die een in sy middeldertigs en die ander een in sy vroeë veertigs. Albei is lank, donker van haar, soel van vel en aantreklik, maar die jonger een slaan omtrent haar asem weg. Hy het hemelsblou oë in ’n bruingebrande, hoekige gesig, en breë skouers onder sy wit jas. Sy lyf lyk lank en lenig.
Die mans groet en die ouer een van die twee jonger mans stel hulle voor. “Ek is Ray Baxter, en dit is ons pa, Max Baxter. En dit is my jonger broer, Anthony, wat pas terug is van Engeland. Hy is ’n oftalmoloog en ek is ’n optometris.”
“Aangename kennis,” sê Naomi. “Dankie dat ek vir die onderhoud kan kom.” Sy vermoed daar was heelwat aansoekers.
Ray Baxter beduie na ’n stoel en sy gaan sit.
“Ek kan hoor u is ’n jong vrou met ’n mooi stem,” sê die man in die rolstoel. “Dit is altyd goed as ’n dokter ’n sagte, simpatieke stem het. Ek het my sig in ’n motorongeluk verloor, maar my gehoor het verskerp om daarvoor te kompenseer. U wonder miskien wat ’n blinde man hier doen. Omdat ek weet hoe erg dit is om blind te wees nadat ek jare lank kon sien, het ek besluit om my toe te spits op die behandeling en voorkoming van geneeslike blindheid. Ek het my seuns aangemoedig om oogdokters te wees. Ons hoop om ’n verskil te maak. Daar is so baie swaksiende en blinde mense wat ons hulp nodig het.”
“Ek dink u doen wonderlike werk,” sê Naomi, en sien hy knik goedkeurend.
Met al haar navorsing en soek van inligting het sy dié belangrike feit omtrent Max Baxter nie uitgevind nie. Sy doen haar koel en kalm voor, maar haar hart klop nou teen snelgang.
“Dokter Harker, volgens u aansoek beoog u om in oftalmologie te gaan spesialiseer en wil u daarom op die oogtrein werk,” sê Ray Baxter. “Vertel ons asseblief hoe en waar u van die trein te wete gekom het.”
Naomi moet ’n senuagtige heesheid uit haar keel skraap. “Ek het geweet van die Phelophepa-trein wat eers ’n oogtrein was, en dat dit later alle mediese dienste ingesluit het sodat ’n tweede trein nodig geword het. Toe lees ek in die Sondagkoerant dat Baxter Pharmaceuticals ’n soortgelyke trein ingerig het. Ek het besef dit sal ’n uitstekende geleentheid bied om praktiese ondervinding op te doen. Ek het julle gekontak en gehoor dat julle juis nou besig is om nuwe personeellede en studente te werf vir ’n reis na Limpopo.”
“Ek het eers laat gisteraand uit Engeland geland en daarom kon ek nie u aansoek lees nie,” sê die aantreklike Anthony Baxter en glimlag om spierwit, foutlose tande te wys. “Kan u my asseblief kortliks oor u agtergrond inlig?”
Naomi vind hom te oorbluffend om direk na hom te kyk. Wees tog om vadersnaam koel en professioneel, Naomi, vermaan sy haarself. Hy is net nog ’n man met gebreke. Sy dwing haar om in die helderblou oë te kyk.
“Ek het MBChB aan Universiteit Stellenbosch gestudeer. Ek het my gemeenskapsdiensjaar op Alice in die Oos-Kaap gedoen, waar daar baie mense met oogprobleme was. My twee-jaar-internskap het ek by die Elim-hospitaal in Limpopo, naby Louis Trichardt, gedoen.”
“U ken dus daardie omgewing?”
“Ja, redelik goed. Op Elim het ek veral goeie ondervinding opgedoen, want dit is ’n Switserse sendinghospitaal met ’n oogeenheid onder bestuur van ’n Poolse dokter en sy vrou. Ek het heelwat met hulle saamgewerk.”
Anthony Baxter kyk haar met ’n skewe glimlag aan. “En het u daar ’n Damaskus-ervaring gehad wat u laat besluit het om oftalmologie te studeer?”
Waarom klink dit asof hy met haar spot, dink Naomi vies. “Dit is ’n groot voorreg om iemand se sig onmiddellik te verbeter. Dit het vir my gevoel soos ’n wonderwerk. In ander gevalle in hospitale kan die pasiënt lank siek bly en die prognose is dikwels swak. By oogheelkunde is die resultate onmiddellik, en die dankbaarheid van die pasiënte is lekker om te sien.”
Die ou man lag. “Dit klink na ’n goeie rede om in oftalmologie te wil spesialiseer. Ek hou van die dame se stem. ’n Gerusstellende stem wat by ’n dokter pas. Ek beoordeel mense op grond van hulle stemme en manier van praat, dokter Harker.”
Dit laat Naomi sommer moed skep. Sy glimlag in sy rigting al weet sy hy kan haar nie sien nie.
“U het in u aansoek genoem dat u beoog om nagraadse studies in oogheelkunde aan die Universiteit van Kaapstad te doen,” sê Ray Baxter. “Nou wil u eers kyk hoe die dinge by ons werk?”
“Hierdie ondervinding sal my ’n beter kans op keuring gee, dokter Baxter. Hulle kry glo baie aansoeke en die keuring is dus streng. Ek sien nie kans om nou oorsee te gaan om ondervinding op te doen nie, want tans werk ek in my pa se praktyk op Stellenbosch. Die wedywering vir keuring en kliniese assistentposte is kwaai en ek wil alles doen om my CV te verbeter.”
Anthony Baxter leun terug in sy stoel en speel met ’n pen. Hou haar noukeurig dop. “Ek het ook aan UCT gestudeer en ek gaan in die nuwe jaar deeltyds daar klasgee. Die werk op die trein is vir my belangrik. ’n Mens leer mos heeltyd.”
Die blinde man praat weer. “Dit is vir ons ’n voorreg om ons minder bevoorregte naaste te kan help. Ons Baxters beplan al jare lank so ’n trein, maar dit is so duur dat ons dit nou eers kan bekostig.”
“Ja, dit moet ’n duur onderneming wees,” sê Naomi. “Ek het op die internet en in julle brosjure gesien hoe goed toegerus die trein is en hoeveel personeellede daarop werk.”
Ray Baxter kyk met skrefiesoë na haar. “Heelwat aansoekers verbeel hulle dis ’n lekker treinreis, die ene avontuur. Dis nie ’n vakansie op die Bloutrein nie, dis harde werk. Sien u kans om in beknopte en moeilike omstandighede te reis en baie pasiënte elke dag te sien? Dis nie vir almal maklik nie, hoor. Die werklading is swaar en die ure lank.”
Sy broer kyk haar stip aan. “Glo my, dit kan nogal uitputtend raak. Ons soek mense wat onder druk kan werk en wat nie opvlieënd of ongeduldig is nie. Mense trap op mekaar se tone op so ’n trein. Daarom is ons keuring uiters streng.”
“Ek is gewoond aan lang ure en ’n swaar werklading, dokter Baxter,” verseker Naomi hom. “En ek kom gewoonlik goed met allerhande uiteenlopende mense oor die weg. Ek is nie lui nie en ek soek nie gerief nie. Toe ek oor hierdie trein lees, het ek geweet: ek móét eenvoudig dié ondervinding opdoen.”
Die ou man lag en die ander twee glimlag. Naomi skep weer moed.
“So, u pa is ’n algemene praktisyn op Stellenbosch,” sê Ray Baxter. “En u is reeds verseker van ’n plek in die praktyk. U moet taamlik sterk voel oor oftalmologie om dit prys te gee.”
“My pa moedig my aan om te spesialiseer. Hy weet ek wil nie ’n algemene praktisyn wees nie. Ek wil konsentreer op ’n spesifieke veld waar ek omvattende en diepgaande kennis kan opdoen. Oogheelkunde is die perfekte rigting vir my. Ek wil niks anders doen nie.”
Ray Baxter kyk na ’n lêer wat voor hom lê. “Ek sal my broer inlig oor u agtergrond, dokter Harker. Verskoon asseblief dat hy nog nie kans gehad het om u aansoek te bestudeer nie. Dankie dat u vir die onderhoud gekom het. U is ongelukkig nie die enigste aansoeker nie en ons trein is nie so groot nie. Ons kan net ’n beperkte getal mense neem.”
Naomi voel meteens soos ’n ballon wat geprik word. Die onderhoud was eintlik kort. Hulle het haar nie met kliniese vrae gepeper nie. Sy hét darem breedvoerige inligting saam met haar aansoek ingedien.
“Kom asseblief hier, dokter,” sê die ou man.
Sy staan op en gaan groet hom met die hand. Hy skep die indruk dat hy haar probeer aanvoel. Sy kop kantel en die vleuels van sy skerp neus tril effens. Hy los haar hand. “Totsiens, dokter.”
“Totsiens, meneer Baxter.”
Sy groet Ray Baxter met die hand en daarna die onmoontlik aantreklike broer.