Gerugte van reën. André P. Brink
Читать онлайн книгу.en pogings tot selfmoord in aanhouding.) Dit alles om bo alle twyfel te bewys dat Bernard Franken nie maar ’n ratjie in ’n groot masjien was nie, maar die beplanner en brein daarvan. Dít het minstens geklop met die soort mens wat ek geken het.
“Gaan jy nie vir die saak Pretoria toe nie?” het Elise vroegtydig al gevra.
“Waarom sou ek? Ek het soveel werk om in te haal.”
“Julle was al die jare so …”
“Jy ken hom net so goed soos ek,” het ek haar in die rede geval. “Hoekom gaan jý nie?”
Sy het my oë ontwyk. “Ek het maar net gedink dit sou vir hom iets beteken om jou daar te sien.”
“Dis buite die kwessie. In my posisie.”
Sy het nie verder daaroor gepraat nie. En ek het my voorgeneem dat dit daarmee uit en gedaan was. Maar natuurlik, daar was die koerante, die radionuus, TV: net waar mens kom of gaan, was berigte of gerugte oor die saak.
Ek het dit aanvanklik tog reggekry om my tevrede te stel met die radionuus, die bondigste en onvolledigste van almal. En net teenoor Charlie, wat meer as ander aangedring het om oor Bernard te praat, het ek reguit gesê: “Ek kan dit glad nie verstaan nie. Hy was die laaste mens wat so iets hoef te gedoen het.”
“‘Hoef?’”
“Ja. Jy’t tog al opgelet: die mense wat hulle met sulke dinge inlaat, is gewoonlik dié wat ’n private hang-up het. Hulle meng hulle met gewelddadige politiek in om persoonlike probleme te probeer oplos. Maar tog nie Bernard nie. My liewe Here, man, Bernard het alles gehad waarvoor ’n mens kon wens. Vriende, vroue, geld, reise, sukses in sy werk, aansien, alles. Ek kan nie verstaan dat so ’n mens uit eie vrye wil dit alles sal prysgee om ter wille van ánder te gaan baklei nie.”
Agter sy bril het Charlie se oë geknipper. Met spot?
“Jy het een ding vergeet, Martin.”
“Wat?”
“Moraliteit.”
“Watse moraliteit?”
“’n Kwessie van gewete. Ek is net so min van ’n kerkmens soos jy. Maar op Bernard-hulle se plaas, toe ek en hy kinders was, toe’t die oubaas” – ek is seker hy het dit doelbewus gesê – “toe’t die oubaas graag vir ons die teksie voorgelees wat praat van die hele wêreld wen en skade ly aan jou siel. Dink jy nie mens moet dáár gaan soek nie?”
“Ag, nonsens. Bernard sal die eerste wees wat jou daaroor uitlag.”
“As jy hom regtig so goed ken, hoe sê jy dan vandag jy kan hom nie verstaan nie?”
“Nou kloof jy hare.”
Maar ek het nie meer rus vir my siel gehad nie. (Hier gebruik ek nou al self die woord!) Ek wou daar wegbly, ek wou uit die hele ding uitbly, maar iets het my soontoe gedryf. Ek het begin om al meer koerante te koop en te lees, oor die hele politieke spektrum; en in die openbare biblioteek het ek dié gaan naslaan wat ek vroeër misgeloop het. Ek het myself verwyt dat ek besig is om “saf” te word. Ek het Bernard verwyt dat hy begin om my subtiel te ondergrawe. Daar was dae dat ek hom daaroor gehaat het: die eerste en enigste keer in jare dat ek so sterk oor enigiets gevoel het. Maar wegbly kon ek nie. En teen die end van die derde week het ek douvoordag een oggend Pretoria toe gery. Ek het so lank deur die strate geslenter dat ek te laat was om plek in die hof te kry. Tot my verligting, eintlik. En die volgende dag was dit makliker om weg te bly. Die onrus in Westonaria het my ook ’n rede gegee om nie weer Pretoria toe te ry nie. Maar teen die end kon ek my nie meer verweer nie, en die laaste paar dae was ek daar. Die afsluiting van die Staat se saak. Die sensasie toe Bernard, wat sy eie verdediging waargeneem het, bekend maak dat hy geen getuies gaan roep nie. Die beredenering. Sy eie lang verklaring uit die beskuldigdebank. Die Vrydagoggend die uitspraak. En, toe Bernard volhard om geen pleidooi ter versagting te lewer nie, die vonnis.
Nou het ons deur die dor wêreld aangery, verder en verder weg van Johannesburg en Pretoria, van Kerkplein en die logge beeld van Oom Paul, die droogte in.
In die stad kom mens die droogte nie so agter nie. Daar is waterbeperkings wat die tuin skaad (maar ons gee tog stilletjies saans die struike en grasperke water: waarom nie? dis ’n kwessie van bekostig), maar dis ook al. Sodra jy daarbuite kom, halfpad Potchefstroom toe, veral as Westonaria verby is, raak dit opvallend. En anderkant die Vaalrivier nog erger. Van die vorige lente af het dit nog nie gereën nie; in party streke al twee jaar nie. Selfs in goeie jare lyk die Vrystaat maar winters vaal, maar vanjaar is dit gruwelik. Tot die taai wit gras het die saak begin gewonne gee en oral het die kaal grond deurgeslaan, so donkerrooi soos droë bloed aan ’n ou karkas. En daar was nie eens brommers nie. Net, anderkant Theunissen, dié plaag van muggies uit die niks van nêrens; die veërs wat ons so onverhoeds in die steek laat; en ons twee turend agter die besmeerde ruite.
3
Teen wil en dank moet ons by Brandfort stilhou om die ruit te laat skoonmaak. Dit is weer nie soseer die tydsverlies wat my pla nie as die versteuring van ’n ritme en ’n patroon. Dit maak inbreuk op my planne, want ek het beraam dat ons Reddersburg kan haal vir petrol voor die vulstasies sesuur sluit. Met dié oponthoud mag ons dit net-net misloop, daarom moet ek die twee groot plastiekhouers in die bak ook laat volmaak, waarvan ek nie hou nie want dit is ’n onnodige risiko. Gelukkig werk die Mercedes se lugreëling, sodat ons darem nie van petroldampe bewus hoef te wees nie.
Dit is koud as mens uitklim. Die son sit nog ’n span bokant die vaal kliprante en die lug is vaalwit; maar die koue sny skoon en sekuur in jou in. Op dié vlakte is daar geen skuiling nie. Vierkantige huise staan op kaal erwe met droë bome en slap heinings; sinktenks in die agterplase, party deurgeroes; kleinhuisies en hoenderhokke; ’n paar duiwe sit koulik en kroeserig op ’n nok. Op die kliprant agter die dorp staan die kort stomp FM-toring. Gewoonlik jaag mens hier verby op die nasionale pad wat teen die dorp verbybuig. Nou is dit asof die afwyking van die skema my probeer dwing om nader kennis te neem – van wat? Want die toneel bly irrelevant en sonder samehang, selfs nou hier in my Londense weelde.
Teen die hoek van die garage, in ’n kolletjie son beskut van die yswind, staan ’n klompie opgeskote klonge op ’n bondel teen mekaar vasgedruk vir warmte, hul stemme luidrugtig skel; twee kleineres is besig om in ’n vullisblik tussen ou fish-and-chips-papiere te grabbel. ’n Meid kom verby met ’n paraffienblik op haar kop gebalanseer. Sy is al ’n blok ver, dan skree-praat sy nog, sonder om haar kop te draai, met die klomp voor die garage.
In die straat voor ’n afgeskilferde wit hekkie is ’n dogtertjie besig om met ’n frons van konsentrasie tou te spring, aanhoudend, sonder afwisseling of pouse; en aangeleun teen ’n paal op die stoep van ’n huis oorkant staan ’n ou oom haar met ’n dooie pyp in die mond en dophou. Ook hy is besig om op sy manier “kennis te neem” – waarvan? Dis Bernard wat vertel het van sý oupa in die Noordweste wat so op sy stoep sit kyk het na die opgeskote buurmeisiekind wat touspring terwyl haar rokkie al hoër wip en wip; en sy had glo nie ’n broekie aan nie. Oupa Bêrend het bly kyk en net sy kierie vaster gevat tot die kneukels naderhand wit deurslaan. Tot hy dit nie meer mooi kon hou nie en Bernard se ouma moes uitroep stoep toe:
“Vrou, kom verwiller hierdie meisiekind met haar kale affêring hier uit my pad uit.”
“Maar vir wat sit kyk jy dan?” vra sy.
Waarop oupa Bêrend sy gevleuelde woord gespreek het: “Help niks. Daai ding is soos die bliksem. Jy kyk hom nie, maar jy siet hom.”
Dit is wat ek nou wonder: Het ek daardie naweek, tóg, gesien wat ek nie gekyk het nie?
Louis, wat ’n draai gaan loop het, het weer teruggekom, sy hande in sy sakke gedruk.
“Koud, nè?” vra ek.
“Hoe laat sal ons op die plaas wees?” vra hy.
Ek kyk op my horlosie. “So na elfuur se kant toe. Is jy moeg?”
“Dis mos niks dié nie,” sê hy neerhalend. “Daardie dag toe ons by Sá da Bandeira verby is –”