Boomkastele. Schalk Schoombie
Читать онлайн книгу.dogter wou nie, kón nie glo dat sy na hom aard nie. Sy was oortuig sy is minder van ’n lafaard as hy, ’n tawwe koekie met ’n swart gordel en ’n sleg gebreekte been wat met ’n paar lelike letsels herstel het. Maar waar anders het sy haar oplettendheid gekry, die vermoë om indringende vrae te vra? Die koppigheid? Haar vrae was seker nie van die onbeantwoordbare soort nie, want sy het gewoonlik antwoorde gekry wat later misdaadstories geword het.
Hy was trots op haar, en het dit gereeld vir haar gesê. Tog was hul verhouding altyd effens ongemaklik. Miskien bloot omdat hy nie goed oor die foon is nie. Sy voer immers daagliks lang telefoniese onderhoude, dis een van haar vaardighede as misdaadverslaggewer. Wanneer sy soms laatnag bel, doen sy die praatwerk en hy luister. Sy gesels meer dikwels en baie langer met sy vrou op die foon.
Daar is ’n soort wedersydse respek tussen hom en sy dogter wat soms tot huiwerige gebare van familiariteit oorgaan. ’n Geel tipuana-bloeisel wat van sy baadjie gevee word. ’n Drukkie op haar skouer. Hulle is ’n koddige paar, pa en dogter, met dieselfde skewe fronsie en priemende bruin oë.
Hy is bly dat sy nie ’n navorser geword het nie, hy het groter drome vir haar. Ondersoekende joernalis . . . selfs ’n skrywer van boeke wat wyd gelees word. En tog, wat is ’n misdaadverslaggewer anders as ’n soort navorser? Hoe gerus kan hy voel as sy haar dae deurbring in besoedelde omgewings waar bloed verspil is, waar sadistiese moorde plaasgevind het, waar geweld in die lug hang soos die swaar stank van afval?
Wanneer sy een keer in twee maande huis toe kom, trek sy haar kamerdeur toe en slaap ’n hele dag om, kruip op vreemde tye uit met dik ooglede en muisneste in haar gemoed. Dan wil sy oor niks praat nie, nie misdaadtonele of haar liefdeslewe nie, asof daar ’n sinistere verband tussen die twee kan wees.
Sy het grootgeword met haar pa se stories van die boommoorde en ander “aanvalle”, en sy lag daaroor asof dit ’n deurlopende grap of ’n eietydse sprokie is. Hy moes tot sy skok besef sy jare lange bemoeienis met die agterste bure is vir haar op ’n manier bespotlik, niks ernstigs nie. Hoe kan die buurmisdade wat hom steeds so diep grief enigsins vergelyk met die gruwels wat sy daagliks moet konfronteer? Die besef het hom kleinlik en kleinburgerlik laat voel, en hy het hom voorgeneem om sy private oorlog voortaan vir homself te hou.
Net toe hy begin dink daar sal nie meer “aanvalle” van agter die grys muur kom nie, net toe hy wil ontspan oor die turksvy van buurmanskap . . . kom die baba.
Lank terug was sy gesofistikeerde dogter ’n stroopsoet baba wat ná die eerste twee weke deurnag geslaap het, opvreetbaar oulik van kop tot toon. Hy het gespog met die “ander vrou” in sy lewe, die dogter wat so rustig kon doedoes, so gou leer praat en kruip het, altyd so gebalanseerd, so onbedorwe was (vir ’n enigste kind). ’n Stil, denkende kind vol onvoorstelbare dieptes.
Daarom is die skril, uitgerekte krete so skielik van die buurman se huis af vir hom skrikwekkend. Hy weet babas kan baie huil, veral as hulle sieklik is of aan koliek ly, maar heelnag, heeldag? Martel hulle die kleintjie? Iemand wat so wreed kan wees teenoor bome, sal tog nie genade aan sy eie vlees en bloed betoon nie?
Sy vrou was gou terug by oorpluisies en kussings-oor-die-kop, hy was terug in sy tronk van slapeloosheid en woede.
Sal hy ’n tweede klabrief waag? Of sal dit die toppunt van onbuurmanskap wees?
Hy het ’n bandopnemertjie gekoop en snags in die tuin neem hy stelling in onder versmorende wolke om die babagille op te neem. Wanneer hy dit in die huis terugspeel, klink dit komieklik en blikkerig, pieperig maar nie regtig ontstellend nie, soos ’n stemkunstenaar se nabootsing van ’n baba in ’n animasieprent op oggendtelevisie.
Sy vrou skud net haar kop. “Wat wil jy daarmee maak? Bewyse van wat? Dis hoe babas en koliek klink. Almal het simpatie met babas en die ouers van babas.”
Hy speel dit weer, stel die volume harder. “Maar dit klink tog soos kindermishandeling, hoor net!”
Sy vrou begin haar gesigroom aansmeer. “Dit klink soos ’n baie klein baba, punt!”
Sy en sy dogter konkel agter sy rug oor sy obsessie met die bure.
“Raak gewoond aan die baba se huilbuie,” paai sy dogter. “Dit sal verbygaan soos die kind gespeen en groter word. Alles gaan verby.”
Makliker gesê as gedaan. Dis vir hom moeiliker om aan die baba gewoond te raak as aan die ganse – nie dat hy ooit met die geveerdes vrede gemaak het nie. Hulle het net betyds uit sy lewe verdwyn. Die ganse was nie verwaarloos of mishandel nie, net ’n blerrie oorlas. Maar die baba – wie weet wat gaan in ander mense se huise agter geslote deure aan? Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat berug is vir babaverkragting!
Hy probeer weer oorpluisies, hoewel nie die kussings-oor-die-kop nie (dit herinner hom aan kindermoord). Die oorverstopping help effens (vir die lawaai, nie die slapeloosheid nie), maar die blote teenwoordigheid van oorproppe laat hom dommelend dink aan sy nemesis, die man met die leepoog wat uit ’n Punch and Judy-poppespel ontsnap het.
Die aanslag van die baba is so geslepe, so subtiel ondermynend. Nie die soort geheime wapen wat ’n redelike mens verwag nie. Dit werk onderbewustelik op hom in, volg hom werk toe en beroof hom van sy sinne.
Daardie jaar kry hy nie ’n verhoging nie. Sy aandag is duidelik elders; die eggo’s van babagille rank in sy gedagtes. Hy’t nie eens die moed om beswaar te maak nie. Tog, dis vernederend. Sy kollegas het die gebruiklike 8%-verhoging gekry, ’n paar is selfs bevorder.
Sy werk het nie verswak nie, hy het sy beskeie deel gedoen – daarvan is hy heilig oortuig. Maar hy is lusteloos, ’n uitgewaste afskynsel van sy gewone puntenerige self. Sy fut is uit, sy lont geknip. Sy sekretaresse dra koffie en hoofpynpille aan, vra wat skort. Hy praat dit weg.
Eendag tydens ’n koffiepouse steek hy impulsief by die afdelingshoof voelers uit oor vroeë aftrede. As hy dan ontman moet wees, sny ook die laaste duim af! Ja, hy kwalifiseer daarvoor, sê die afdelingshoof, maar hy sal ongelukkig ’n tiende van sy pensioen moet inboet. Hy kan geakkommodeer word indien hy so graag . . .
Sy vrou klim vir die eerste keer werklik van haar trollie af. “Wat gaan aan met jou? Bome, ganse, babas!”
Dit laat die navorser homself betwyfel. Het hy oornag ’n vreemdeling op aarde geword? Wat het geword van aanpasbaarheid, inskiklikheid, plooibaarheid, “konstante verandering is hier om te bly”? (’n Gesegde wat hy tot vervelens toe aangehaal het teenoor dese en gene.)
Tot sy diepe krenking moet hy aan homself erken hy voel glad nie aangepas nie, hy voel behoorlik wánaangepas in huis en huwelik. Ná dekades is hy gryser maar niks wyser nie; “ervare” is ’n begrip wat hy nie eens op sy motorbestuurdery kan toepas nie. Hy kan darem sy gat bykom om dit skoon te vee, en dit met moeite!
Is hy besig om uit te rafel? Dit word sy innige bede dat die baba so gou moontlik deur sy vermetele pa versmoor moet word (kussing-oor-kop) om daai kermende keelgat eens en vir altyd te snoer. Anders is hy kapabel en gaan doen dit self.
14
Kruipende verkeer het sy voordele, weet Dawid. Vandat Johannesburg se paaie chronies herlei en verander word, deur vernouings, versperrings, padwerke waar bekende roetes omgedolwe word om plek te maak vir futuristiese busstasies op hoë middelmannetjies en die land se heel eerste moltrein in druppende ondergrondse tonnels, het hy die betekenis van wag leer ken. Die alfabet van kruie in eerste rat. Voet-innie-hoek se dae vir eers getel.
Die radio se nuus en advertensies en kletsprogramme kan hél irriterend raak, bladiebla, ’n dodelike aankarring en herhaling van gemeenplase en kakpraat. Almal het ’n vrot eiertjie te lê. Gelukkig het die motors met mense om hom ’n soort stokperdjie geword.
Almal kyk mekaar uit. Onderlangs of openlik. Soms ’n hoflike knik of ’n skaam groet, soms ’n glimlag of selfs ’n toegewing.
Dit help dat hy hoog en droog sit. Hier van sy uitkykpos in die Defender sien hy wat mense in die privaatheid van hul voertuie doen, watter soort gaskoeldrank of bier hulle tussen hul lieste vasknyp, wat alles binne vatafstand op passasiersitplekke lê, klere wat geskik