Boomkastele. Schalk Schoombie
Читать онлайн книгу.niks van dié verfoeilike aard in hul buurt nie. Die swart sakeman se opgeknapte huis het al die jare leeg bly staan, ’n netjies afgewerkte oker-en-amber spookhuis waar daar soms laatnag ’n liggie in ’n venster flikker. Daaroor kon hulle eindeloos bespiegel – dalk ’n opsigter of familielid of wie weet ’n misdadiger wat wegkruip vir die gereg?
8
Twee weke voor die tragedie het die navorser ’n vreemde droom gehad. Hy het gedroom hy bou ’n massiewe houthuis in die verstrengelde takke van die twee boomreuse en sy oorlede ouma kom woon in die huis. Dis ’n soort nadoodse geskenk aan haar, dalk die enigste mens wat hom onvoorwaardelik liefgehad het en nooit veroordeel het oor sy lompheid en stadigheid nie. Sy geliefde ouma was ekstaties en het haar geplooide hande opgewonde geklap soos ’n appelwang-meisiekind wat ’n pophuis vir Kersfees kry.
Dit was die gelukkigste droom van sy lewe. Hy kon dit tot in die fynste besonderhede onthou.
Sy droom-boomhuis was ’n argitektoniese wonder, ’n houtkasteel wat na alle kante oopwaaier rondom die twee forse stamme, op verskeie vlakke, ineenskakelend, geniaal gestut op gespierde takke, met ruim sale en kamers en torinkies, uitkykposte en houtdekke, trapverbindings tussen vlakke wat vir veiligheid met dik toue opgetrek kan word. Selfs ’n fraai houthysbak vir sy ouma, al is sy in die droom ’n klimmer van formaat, huppelfiks en gesond.
Hy het getimmer en gekap en geklim en gemeet en gepas om alles betyds klaar te kry vir haar intrek. Onder sy raakvat-, alwetende, nie-swetende hande (al was hy nooit goed met sy hande soos sy oupa en neefs nie) het die houtkasteel aanhou groei tot ’n stewige konstruksie wat minimaal deur die takke gewieg is en wat selfs in die mees verwoestende wind of storm nie ontwrig of ontsetel kon word nie. ’n Gefortifiseerde houtwoning wat inherent deel was van die bome, in voeling met hul misterieus vloeiende lewensritme en daarom self lewend. ’n Kasteel waardeur die boomsap van twee bome stoot. ’n Fantasma.
Wit moerbeie het op die houtstoepe gereën, en wanneer hy by sy ouma gaan sit het vir ’n geselsie, het hy hande vol bessies opgeraap en in sy mond geprop. Dit was soeter as wat hy kon onthou, selfs soeter as die konfyt wat sy vrou gekook het, en hy het sy ouma se brose, benerige hand vasgehou (hy was altyd haar oogappel) en gedink hoe wonderlik dit is dat hy iets vir haar kon doen op haar gevorderde leeftyd. Hulle het glimlaggend deur die groen web van takke afgekyk op sy grasperk en die beddings in sy werf en oor die grys muur na die bure se agterplaas waar hulle besig was om te braai. Al kon hy nie hulle gesigte of geslag mooi onderskei nie, was hy verbaas om te sien hulle is eintlik gawe mense wat sowaar vir hom en sy ouma wuif, selfs al staan die twee bome waarin die kasteel gebou is streng gesproke op hulle erf (die witstinkhout natuurlik presies op die grenslyn). Die uitsig het na weerskante onbegrens gestrek, na die bure links en regs van sy huis, en almal was buite in hul hoogsomertuine, die jappies vir eens tuis en besig om te sonbaai in eina-swemklere en met Gucci-sonbrille op langs hulle sjiek swart niervormige swembad, terwyl die ingenieur en sy dwergvrou saam met die twee spruite onder ’n groot sambreel sit, almal beleefd met glase in die hand waarmee hulle ’n heildronk sein aan die bewoners van die wonderlike boomkasteel, die enigste van sy soort in die hele buurt, die hele stad en die ganse Suidelike Halfrond, iets waarvoor die Guinness Book of Records ’n spesiale erepenning kon toeken.
Waar sy vrou in die droom was, het hom nie juis gekwel nie, asof sy nie in dié alternatiewe bestel kon figureer nie. Hy kon glad nie eens onthou dat sy vrou wel as kind sy ouma ontmoet het nie, net daardie een keer voor haar dood op 92 aan brongitis. Sy vrou was gewoon nie belangrik in die droom nie, en hy en sy ouma het nie oor haar gepraat nie, miskien omdat sy vrou onder die lewendes tel en sy ouma lankal, sedert hy twaalf was, onder die dooies. Hy het geen verlange of skuldgevoel ervaar oor die afwesigheid van sy vrou van baie jare nie. Buitendien, van skuld, verlange of verlies was daar in elk geval geen sprake in die boomkasteel nie.
Sien, dis hoe mense kan saamwoon en met oop harte uitreik en omgee vir mekaar, mekaar erken as medeskepsels, het sy ouma beduie, haar oë skrefies van die lag. Dís medemenslikheid in sy suiwerste vorm, en sy het uitgewei oor die goeie buurvrou wat sy vanmelewe was, altyd daar met souskluitjies, souttert of ’n pot bonesop in tye van nood, en van al die wonderlike, gul bure wat sy oor dekades heen leer ken het, eers op die kersieplaas naby Ficksburg en later jare op die dorp toe sy moes gaan aftree. Sy kon elkeen se naam en nering en geestelike gesteldheid onthou en opnoem (wie gered is en wie nie), anders as die navorser wat nie eens sy eie (lewende) bure se name geken het nie, net hul beroepe en tiperende sosiale kenmerke (ingenieur, jappie, tiener).
Dit was ongetwyfeld sy gelukkigste droom, een wat hy later jare van tyd tot tyd probeer herbesoek het snags, en selfs in dagdrome wanneer hy ’n koffiepouse geniet. Die genoegdoening van sy droom, ’n soort bonatuurlike nágloed, het deurgespoel na sy huwelik en sy werk. Dit het ’n stralekrans van welwillendheid oor sy voorstedelike bestaan gewerp. Hy het lief gevoel vir die hele wêreld en almal daarin, natuurlik ook vir die twee witter-as-wit boomvriende so saam op sy werf en die bure s’n. Hy het onthou om meer as sy tiende te betaal. Hy het rooi rose vir sy vrou gekoop by die smous onder op die hoek. Hy het ruim fooitjies uitgedeel aan karwagte. Hy het sy stiltetyd uitgebrei om die glorie van God en Sy skepping in sy studeerkamer te bepeins en sagkens te beneurie.
Hy het begin wonder of so iets in die werklike lewe moontlik sou wees: ’n houtkasteel met twee bome as fondamentpilare. Hy het boomkastele gegoogle en hom daaroor verwonder dat wat gedroom kan word, wel taklangs gebou kan word – iewers in Tibet, San Francisco of Kenia, deur mense met die weelde van tyd, geld en absurde ambisie.
Die nágloed het hom gevul met ’n verbysterende, bruisende energie, ’n verlange om opnuut ’n verskil te maak, en hy het vyfjaarplanne beraam waarmee hy sy vrye tyd kon opkikker. Byvoorbeeld: Hy het besluit om sy laaie vol notas alfabeties te organiseer, aantekeninge wat hy in A5-grootte notaboeke gemaak het oor insidente in die nuus en berigte wat sy oog gevang het tydens sy oggendritueel van koerant-spoedlees oor ’n espressobekertjie filterkoffie. Ook brokkies en stories en bevindings wat hy oor die afgelope dekade of meer sorgsaam uitgeknip het en wat in sy gedagtes ’n vreemde soort progressie toon waaruit hy sekere gevolgtrekkings maak (hetsy logies of onlogies) wat die wêreld vir ’n wyle vir hom laat sin maak. Wat hy met al die notas wou doen, was onduidelik, omdat daardie vertakkende insigte (as mens dit so kan stel) nie aardskuddend of wetenskaplik of eksperimenteel verantwoordbaar en toetsbaar was nie en dus net vir hom van belang – en helaas van tydelike waarde.
Hy het getorring aan die moontlikheid van ’n memoir waarin hy sy lewe in perspektief kan probeer stel, dalk selfs ’n fiktiewe memoir of ’n roman wat met fantastiese elemente versier is en so as ’t ware “waarde toevoeg” aan ’n andersins onmerkwaardige, vaal bestaan. Hy sou sy notas en die berigte kon myn om ’n naturalisties-historiese grein aan sy biografie te verleen.
Maar die blote gedagte aan soveel skryf-, sorteer- en dinkwerk, soveel aktiewe ordening, het hom met ’n vae weersin, ’n nihilistiese naarheid en sinisme vervul. Waar begin mens om ’n leeftyd van herinneringe, vervlietende indrukke, begeertes, onvervulde drome en insidente wat hom as individu laat “groei” en “transformeer” het op ’n skaal van Baie Belangrik, Belangrik, Minder Belangrik en Onbelangrik te plaas? Hy kon nie meer een van sy ambisies helder oproep nie, wat nog te sê verreken as persoonlike of universele gewaarwordinge.
Tog was die sorteer van die notas en knipsels ’n haalbare vyfjaarprojek. Dit kon taamlik moeiteloos alfabeties ingedeel word volgens onderwerp: Aardbewings, Navorsing, Konflik, Vermaak, ensovoorts. Ook volgens die knipsels se publikasiedatums, wat ’n sekere orde en tydlyn sou verskaf oor ongeveer wanneer hy sekere insigte gehad het oor nuusgebeure (plaaslik of internasionaal) en die veranderende wêreld wat dit weerspieël. Dalk moet daar selfs ’n spesiale afdeling (met onderafdelings) vir Bome wees, het hy gedink, want hy kon iets soos ’n verlange of ’n groen verwantskap in hom voel roer, ’n nuwe gewaarwording van iets wat lankal ontkiem het en wat nou ’n herkenbare vorm soek.
Hoe kon hy as professionele man in sy middeljare probeer vasstel wat die waarde van nog ’n dag in sy lewe is? Nog ’n vergeetlike dag, en daarmee saam al die ongemaklike vrae oor selfbeeld, identiteit en selfwaarde, selfs die kwessie van potensie. Dit kon tog net dui op iemand wat nie sy gewaande “lewensdoel” bereik het nie en steeds ná ’n handvol dekades nie weet