Hoe kwesbaar die hart. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.jare mag ek jonk wees, maar in ervaring is ek baie oud.”
Brenda lag. “Hemel, dit klink of die pad van ginekologie en verloskunde lank en swaar kan wees.”
“Aits, oud maar nog nie koud,” kraai Thomas. “There’s life after …”
Weer is Brenda verbaas oor die afgesnyde, insinuerende sin en die frons op Charl se gesig. Hier gaan iets baie vreemd aan, besluit sy. Die kos kom egter, en hulle bespreking van die disse en die kwaliteit van die vleis neem haar aandag in beslag.
“Kry gerus nagereg,” moedig Charl hulle aan toe die borde weggeneem word. “Ek was al ’n paar keer hier en ek verseker julle dis vingerlek-lekker.”
Brenda is seker dat dié ete hom meer uit die sak gaan jaag as wat sy in ’n week verdien, maar sy kies ’n crème brulée.
“Dis ook my gunsteling,” sê Charl.
Die glimlag wat hy haar gee, is meteens sameswerend en ’n blos trek oor haar wange. Elke ding wat hy doen of sê, weeg net swaarder as enigiets wat iemand anders sê of doen. Wat ’n eienaardige gewaarwording.
“Baie dankie vir die heerlike dag,” bedank Brenda hom.
Charl glimlag en knik. “My plesier. Ek hoop Londen behandel julle verder goed. Kyk tog asseblief na my nefie. Moenie dat hy allerhande onbesonne goed aanvang, of met ’n Engelse verpleegster wegloop nie.”
Thomas grinnik. “Eerder ’n vrou wat my behoorlik kan onderhou. Ek is ’n duur ou. Net ryk vroue hoef aansoek te doen, dankie.”
Ongetwyfeld, dink Brenda. Sou hy ooit die vermoë hê om vas te byt en regtig ’n ginekoloog te word?
“Dit was ’n onverbeterlike dag, dankie,” sê Eben en skud Charl se hand.
Hulle wuif toe die groot, blink motor wegtrek. “Daar gaan my rolmodel,” sug Thomas. “Die probleem is net: ek kan nie soos hy wees nie. Ek het die een of ander ou sondaar van my voorgeslagte se gene ook gekry, en dit lei my die verderf in.”
“Het jy al gehoor van ’n wilsbesluit?” vra Brenda.
“Ja, Moeder Teresa. Ek wil dít doen en dát doen, ek wil, wil, wil.”
“Verspot soos altyd,” brom sy, maar sy glimlag vir hom. “Dankie vir jou aandeel, dat jy ons by jou oom as gaste aanbeveel het.”
Thomas haal sy breë skouers op en kyk spottend na haar. “Hy het nie al my voorstelle aanvaar nie, maar toe ek jóú naam noem, was hy inskiklik.”
Brenda is verleë. Sy weet nie of sy hom moet glo nie.
“Dankie in elk geval,” red Eben haar. “Ons het jou oom bankrot geëet.”
“Nie hy nie. Hy het genoeg geld. Sien julle weer.”
Brenda kyk Thomas agterna toe hy fluit-fluit wegloop.
“Weet jy, ons vriend Thomas hou hom pierewaaier en rokjagter, maar ek dink hy is meer onseker van homself as wat hy lyk,” sê sy vir Eben.
Hy knik. “Jy’s dalk reg. Hy het op universiteit deurgeskraap en ’n paar velle agtergelaat. Sy familie vereis natuurlik dat hy net so moet spark soos die res van hulle, maar ek vermoed hy is nie so toegewyd aan die mediese beroep nie. Hy speel maar net saam omdat hy verplig word.”
Brenda begin klim die trappe na die dokterskwartiere. “Daardie Charl Naudé is ’n voorbeeld van wat ’n geneesheer moet wees. Dink jy nie so nie?” vra sy oor haar skouer.
“Nee, my skat. Hy’s gans te mooi. Geneeshere moet heel, nie harte breek nie. Hy moes liewers ’n filmster geword het. George Clooney, move over. Ek is nou weer die perfekte materiaal vir ’n geneesheer. Net mooi genoeg, en teerhartig.”
Brenda lag net en boks Eben speels teen die arm.
3
Brenda sit diep ingedagte. Dis ’n week gelede dat hulle saam met Charl Naudé uit was en sy kan hom steeds nie uit haar gedagtes kry nie. Sy wonder oor hom, sy lewe, sy omstandighede. Sy durf nie vir Thomas uitvra nie. Hy kry dalk die verkeerde idee en dink sy stel belang in die man.
Toe ’n jong, blonde dokter skielik by haar tafel kom staan, skrik sy terug na die werklikheid.
“Gee jy om?” vra hy met ’n glimlag. “Die kafeteria is so vol, daar is nie meer tafels oop nie.”
Sy Engels is beslis Brits, dink sy. “Sit gerus.”
“Dankie. Ek is Kevin Wakefield, en jy is een van die Suid-Afrikaners.”
“Brenda Wiechers. Aangename kennis. Is jy van hier?”
“Gebore in Woking, al tien jaar lank in Londen. Is Suid-Afrika vol mooi mense soos jy en daardie bruingebrande dokters?”
Sy glimlag skeef. “Ons is maar soos julle, mooi én lelik. Die son bak ons net bruiner daar onder. Hier hou die weer ’n mens wit.”
“Julle sal ook nog verbleik soos ons. Jy lyk byna Skandinawies met daardie rooibruin hare en helderblou oë.”
“Ek is deels Duits, deels Iers, deels Nederlands en deels Frans.”
“Sjoe! Hulle sê mos die hibriede kan so goed uitkom. Sterk ook, want hulle is nie ingeteel nie.”
Sy glimlag net en eet haar broodjie, bewus daarvan dat hy haar met iets soos verwondering dophou.
“E … wil jy nie saam met my ’n vertoning gaan kyk nie? Agatha Christie se The mousetrap speel in die West End.”
Sy kyk op, skoon onkant gevang. Hoe kan hy haar so vinnig en halsoorkop probeer uitneem?
“Wel, ek weet nie …”
“Gaan jy vas uit, of is jy verloof?”
“Nee, nie een van die twee nie.”
“Ek het gedink as ek nie aanstaltes maak om kennis te maak en jou uit te vra nie, gaan niks ooit gebeur nie. Ek het jou lankal raakgesien, maar ek moes eers my moed bymekaarskraap.”
“Regtig?” Sy lag. “Nou ja, ek byt nie. Ek is mak, al kom ek uit Afrika.”
“Ek is ook mak. Glad nie ’n wolf nie.”
Nee, nie in die Thomas-liga nie, besluit sy geamuseerd. Hy lyk oopgesig en oulik. Sy oorweeg sy uitnodiging ’n paar sekondes voor sy instem. “Goed, dit sal lekker wees.”
Hy glimlag breed, en sy hou sommer van sy vriendelike bruin oë. Om ’n vertoning te gaan kyk, kan tog nie skade doen nie. As sy nie sy geselskap geniet nie, gaan sy net nie weer met hom uit nie.
Eben por haar in elk geval aan om uit te gaan. Anders, beweer hy spottend, gaan sy ’n oujongnooi word met net ’n kat vir geselskap.
“Is jy môreaand vry?” vra Kevin Wakefield.
“Nee, eers die aand daarna.”
“Dan koop ek solank kaartjies vir daardie aand. Ons sal met die moltrein moet gaan. Gee jy om?”
“Nee, glad nie. Dis altyd vir my ’n belewenis om met die moltrein te ry. Ons het nie ondergrondse treine in Suid-Afrika nie.”
“Ons het weer nie almal motors nie. Ek hoor julle het almal motors.”
“Nie almal nie, maar die meeste. Die afstande is groot en ons openbare vervoerstelsel is nie baie goed nie.”
Hy vra haar adres en skryf dit neer. “Ek vergeet dalk iets, dan is ons in die moeilikheid. Ek is taamlik verstrooid.”
Sy staan op. “Verskoon my, ek moet draf.”
Toe sy omdraai, stamp sy in iemand vas.
“Vlug jy oor jy my sien?” vra Thomas, teatraal seergemaak, met ’n skinkbord kos in sy hande.
“Nee, ek is oor ’n paar minute weer aan diens.”
“Wie