Geheime liefde. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.kyk hoe Diana van hom af wegstap, die straat af. Sy oupagrootjie moes op dieselfde sypaadjie geloop het en ’n meisie gesien het wat hom laat voel asof hy nie genoeg suurstof inasem nie. Hy het in die dorp ’n aantal van dié Suid-Afrikaanse meisies opgelet: gesond, gesoen deur die son, met blinkskoon hare en mooi lywe. Vroue van gemengde afkoms is dikwels baie mooi. Juffrou Malan se mengsel van Hugenoot, Hollands en wat ook alles in so ’n Suid-Afrikaanse meisie se bloed is, het haar ’n uitsonderlike voorkoms gegee. Nie ’n konvensionele skoonheid nie. Nie soos Dresden-porselein nie, maar wat sy ma wholesome sou noem. Fynbesnede dog sterk gelaatstrekke. Goeie beenstruktuur, grasieuse manier van beweeg. Sy het seker in haar jeug ballet of een of ander vorm van dans gedoen, want haar rug hou sy regop.
Alex klik deur die foto’s op sy kamera. Hy het seker gemaak dat hy vir Diana op ’n paar inkry. Die geboue is fassinerend. Hier het sy oupagrootjie in sy toga, met sy andersheid, sy Britsheid, homself probeer tuismaak. Nie van plan om te lank hier te bly nie. Dit was maar net ’n sport op die begin van sy leer na vernaamheid en roem. Hy moes gedink het dit is ’n klein dammetjie, hier in die Kolonie.
Hy het waarskynlik nie gereken dat ’n Suid-Afrikaanse vrou sy voete onder hom sou uitslaan nie.
Môre gaan Alex uiteindelik die vermiste joernaal te siene kry. Dit het vele reëlings en delegering van verantwoordelikhede geverg vir hom om dié bewyse van wat sy oupagrootjie alles hier kom aanvang het, te sien. Sy ma en veral sy konserwatiewe ouma vrees natuurlik die openbaring van ’n skande, maar as hy ’n eerlike biograaf gaan wees, moet hy tog die waarheid skryf. Hy kan nie vir Sutherland witkalk net omdat hy sy oupagrootjie is nie.
Dié oggend het Alex Erskine ’n beige hemp, bruin koordferweelbroek en brogues aan en hy dra ’n skootrekenaarsak. Mense kyk na hom terwyl hulle loop. Dit is sy grootte en sy houding van selfvertroue wat die oog vang. Diana voel onsigbaar langs hom.
Hy het wat ’n mens gravitas noem. Erns, waardigheid, gewigtigheid. Hy laat selfs iemand soos Terry Swales, wat almal dink is aantreklik, vervaal.
Terwyl hulle oor die straat stap, kyk hy om hom rond. “Dis ’n mooi kampus, hier tussen die berge. Die berge skep ’n gevoel van koestering, van veiligheid, wat natuurlik net ’n waan is. Ek het gehoor hier is baie geweld in julle samelewing.”
“Ongelukkig, ja. Ons het ’n hoë misdaadsyfer.”
Hulle loop in stilte. Naderhand is sy ongemaklik. Sy weet nie eintlik waaroor om met hom te praat nie, want sy wil nie babbel of onkundig klink nie. Oor die misdaadsyfer wil sy sowaar ook nie praat nie.
“’n Ondergrondse biblioteek is redelik uniek,” sê hy toe hulle daar aankom en by die skuinsvlak na die ingang afloop. “Mens gaan na die onderwêreld, oor die Styx in Hades in.”
“Ek voel ook nogal so as ek in die dieptes afdaal. Sal ons eers na professor Bastiaanse toe gaan?”
“Nee wat, ek het reeds ’n lang gesprek met hom gehad. Kom ons gaan reguit na die joernaal toe.”
“Kom ek stel jou eers voor aan die bibliotekaresse wat dit ontdek het.”
“O ja, ek sal haar graag wil ontmoet.”
Anna Theron kyk hom met groot oë en openlike bewondering aan toe Diana hom by Spesiale Versamelings inbring.
“Deur die joernaal te ontdek het jy ’n onskatbaar waardevolle bydrae tot die studie van Sutherland se oeuvre gemaak,” sê hy sjarmant. “Ons gaan almal baat by dié nuwe inligting.”
Anna is blykbaar so oorstelp deur die man dat sy hom babbelend die hele verhaal van die vonds in die fynste besonderhede vertel. Hy luister hoflik en geduldig. Daarna stap sy ywerig saam na Klaas Erdeman se laboratorium om Alex kwansuis aan die restoureerder voor te stel, asof Diana dit nie kan doen nie.
“Die arme Diana het so groot geskrik toe sy die toestand van die joernaal sien, maar ek het geweet ons restoureerder kan dit red,” babbel sy.
Klaas Erdeman lyk net so beïndruk soos Anna Theron toe hy Alex Erskine ontmoet.
Hy kyk hulle met sy fletsblou oë bokant brilrame aan. Sy krans wit hare laat Diana aan ’n middeljarige Einstein dink. Hy kom steunend orent, een hand op sy rug. “Wil u weet hoe die proses werk, professor Erskine?”
“Ja asseblief, as u nie omgee om te verduidelik nie.”
“Wel, hierdie papier is bros; dit is oud en in ’n swak toestand. Die sellulosevesels is meesal vernietig. Ek moes die papier uit die omslag haal. Die bladsye het dermate gedisintegreer dat hulle soos ’n legkaart aanmekaargesit moet word.”
Hy beduie met sy hande. “Sodra ek een bladsy aanmekaar het, plaas ek dit op ’n vakuumtafel. Ek blaas osoonstoom daaroor, want dit is baie droog. Ek sit die stukkies papier aanmekaar met nylon wat ek met ’n spesiale soort strykyster stryk. Dan spuit ek die papier met magnesiumkarbonaat, wat voorkom dat dit weer bros word. Dit bly so vir een dag.
“Daarna lê ek dit op nylon tissue en plaas ’n ander tissue bo-op, soos ’n toebroodjie. Dan gaan dit na die lamineringsmasjien, wat verhit word tot 110 grade Celsius, en dit word deur twee staalrollers gestoot om saamgepers te word.”
“Dit klink of dit baie geduld verg.”
“O, ja. Vir seker. En daar is seker ’n honderd bladsye om te red.”
Toe Alex Erskine uiteindelik die reeds gelamineerde bladsye te siene kry, bekyk hy dit asof hy van ander mense se teenwoordigheid vergeet.
“Professor Erskine, ek moet ongelukkig weer gaan,” trek Diana sy aandag.
Hy draai om. Vir ’n oomblik lyk dit asof hy eers weer sy oë op haar in fokus moet kry. “Natuurlik. Dankie dat jy my hierheen gebring het.”
Diana bid net dat hy nie voor haar die identiteit van die ander vrou in Sutherland se werk gaan ontdek nie.
Diana is nou so begeester dat sy die volgende oggend weer na die biblioteek wil gaan, al is dit Saterdag. Sy is nie besonder honger nie, maar sy skink melk oor haar pap, strooi suiker en proe daaraan. Buiten mieliepap is daar roosterbrood en Bettina se tuisgemaakte vrugtekonfyt en kaas. Vandag eet sy nie die broodjie nie, maar sy drink twee koppies vars geperkoleerde koffie. Sluk gou sodat sy kan loop.
Dit is ’n sonnige oggend. Die bome op kampus begin verkleur, blare dwarrel grond toe en alles ruik vars. Klaas Erdeman sal nie in die biblioteek wees nie. Sy sal die sleutel van die laboratorium by die hooftoonbank kry. Sê nou net Alex Erskine besluit om ook te kom werk? Die moontlikheid laat haar rugspiere styftrek.
Die sleutel is by die toonbank. Sy kry dit en loop af na onder. Die lab is verlate en spookagtig. “Oor die Styx na die onderwêreld” het hy dit genoem.
Sy is stoksielalleen. Minstens gaan sy ongestoord werk, vertel sy haarself. Sy kyk na die gelamineerde bladsye op die tafel. Dié wat herstel is, is netjies langs mekaar gerangskik. Daar is verbasend baie. Alex Erskine moes intussen aan die legkaart help bou het. Wat het hy alles gesien wat sy nog nie gesien het nie? Sy begin verwoed lees, skootrekenaar langs haar oop sodat sy aantekeninge kan maak.
Sy sit voor flenters papier wat sy teen mekaar pas, en vind iets wat haar polsslag laat versnel en haar asem laat jaag.
winsome lass, winner of my heart,
among her peers, pert straw boater on the lovely hair.
so attracted to one another
filings drawn to a magnet.
walking between classes, her head with its thick, shiny black tresses held high, her lovely profile turned away, but then she spots me too. Our eyes meet
Was never a face so pleased my mind; I did but see her passing by
O, watter wonderlike vonds! Hierdie stuk is nog nie gelamineer nie. Alex Erskine kon dit nog nie gesien het nie. Watter juweel in die hooimied van kollegenuus. Gretig soek sy verder. Sutherland vertel hoe vernaam hy gevoel het om as personeellid sy pluiskeil en manelpak te dra. Hy maak melding van ’n groot funksie, van die patriotiese inhoud van die toesprake, die heerlike verversings.