Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach


Скачать книгу
deurmekaar gelaat: Sy sukkel nou éérs om die warboel van emosies wat hy in haar wakker maak te probeer ontrafel.

      Ingedagte stap sy in die gang af na die gesinskamers om gou by Sunet in te loer. Die postnatale saal het agt groter kamers waar pa’s saam met hul vroue en pasgebore babas kan oorbly. Hierdie kamers is uiters gewild: Elkeen spog met ’n privaat badkamer en ’n balkonnetjie wat oor die hospitaal se tuin uitkyk. Mila moedig haar pasiënte aan om hulle met hierdie luukse te bederf, veral as die ma ’n keiser gehad het en dus hulp met die baba nodig het. Tog sou sy die kamers heeltemal anders ingerig het as dit van haar afgehang het. In plaas van die twee hospitaalbeddens met hul stywe wit linne sou sy elke kamer met ’n lekker groot dubbelbed, ’n vroliker duvet en klomp ekstra kussings gemeubileer het. En met gemakstoele waarin ma’s salig kan sit en borsvoed.

      Mila wens sy kon só iets in die geboorte-eenheid doen. Dit sou ideaal wees as daar genoeg kamers was om pasiënte vanaf opname tot ontslag te huisves. Dis ’n antiklimaks vir ’n nuwe ma om oorgeplaas te word hospitaal toe, en Mila voel nie altyd gerus om hulle kort ná die geboorte huis toe te stuur nie. Dit sou wonderlik wees as pa en ma ná die geboorte in die bed kon klouter met hul nuweling, as hulle daar bederf kon word tot hulle gereed is om huis toe te gaan. Die geboorte-eenheid het egter nie genoeg spasie vir sulke alles-in-een-kamers nie. Mila moet noodgedwonge die pasiënte so vinnig moontlik ná die geboorte oorskuif hospitaal toe ingeval nog iemand in kraam by haar opdaag. Op besige tye voel dit nogal na ’n geboorte-vervoerband, iets wat Mila bitter graag wil vermy.

      Hoewel Sunet normaal gekraam het, het sy en Marius ’n gesinskamer gehuur omdat sy ekstra hulp met klein Leila sou nodig hê. Slaapdeprivasie kan dikwels die sneller word vir ’n maniese episode by iemand met bipolêre versteuring, daarom was dit belangrik dat Marius van die begin af snags na Leila omsien. Die nagpersoneel sou natuurlik heel gewillig wees om in die babakamer vir haar te sorg, maar Sunet het gevoel dat sy self beter sou slaap as sy weet die kleintjie is binne hoorafstand. Sy het tydens haar swangerskap reeds besluit om Leila nie te borsvoed nie, maar haar psigiater het nietemin ’n paar dae van borsvoeding aanbeveel. Sy meen dat dit die baba sal kans gee om stadiger van die medikasie wat haar ma tydens swangerskap moes neem, te onttrek.

      Sunet se kamer is leeg toe Mila klop en instap. Eers wonder sy of Sunet badkamer toe is, of dalk selfs gangaf babakamer toe, maar toe sien sy dat die deur na die balkon op ’n skrefie oop staan. Sy maak dit al die pad oop en tree uit op die ouderwetse balkonnetjie, vyf verdiepings bo die grond. Die tralies om die balkon is van delikate wit broekiekant, die vloer baksteenrooi. Mila kon nog nooit verstaan waarom die ou hospitaalgebou sommige pasiënte afstoot nie. Sy veronderstel dat hulle meer moderne smaak het, maar vir haar was PMK nog altyd ’n pragtige, karaktervolle plek. Sy’s mal oor die boustyl van weleer, oor blokkiesvloere en rooi stoepe en gesellige komvensters.

      Sunet staan op die verste end van die balkon met Leila in haar arms. Van Marius is daar geen teken nie, seker bietjie huis toe. Iets in die toneeltjie voor haar – iets in Sunet se houding – stem Mila onrustig. Sy kan nie haar vinger daarop sit nie, maar sy weet instinktief dat daar iewers fout is.

      “Hallo, Sunet,” groet sy sag en tree nader aan die slordige gedaante voor die traliereling. Sunet was nog altyd ’n loskop, maar Mila skrik toe sy sien hoe onversorgd sy vanoggend lyk. Haar kastaiingbruin hare, wat sy gewoonlik in ’n blink poniestert vasmaak, hang toiingrig en dof in haar nek. Daar is vuil kolle op haar ligblou nagklere en haar gesig lyk olierig en ongewas.

      Sunet swaai om sodat sy reguit na Mila kyk. Die woorde plof hard en rukkerig soos geweervuur uit haar mond.

      “Bly waar jy is! Nie ’n tree nader nie! Dis te gevaarlik. Hierdie kind is nie my en Marius s’n nie. Dis ’n impostor: ’n Alien vanuit die buiteruim. Ek moet dit vernietig.”

      Die stand van sake tref Mila soos ’n hamer teen die kop. Voor haar is ’n geval van postpartum psigose: ’n ernstige nageboortelike versteuring waarin pasiënte alle kontak met die werklikheid verloor. Hallusinasies en paranoia is simptome van hierdie gevaarlike siekte wat jaarliks honderde tragedies veroorsaak, tragedies waarin nuwe ma’s selfmoord pleeg of hul hulpelose babatjies leed aandoen. Sunet het inderdaad die teoretiese moontlikheid van hierdie versteuring met Mila bespreek, want bipolêre ma’s het ’n verhoogde kans om dit te ontwikkel.

      Mila se bene word lam en sweetdruppels begin koud op haar voorkop pêrel. Hoe gaan sy vir Leila by Sunet wegkry voordat Sunet die baba by die balkon kan afgooi? Sy kan nie vir een sekonde haar rug op die vrou draai nie. Dit sal nie moontlik wees om by die kamer in te glip en die klokkie langs Sunet se bed te lui vir hulp nie. In die tyd wat dit Mila sal neem om na die bed toe en terug te beweeg, kan dit reeds te laat wees vir die slapende babadogtertjie. Mila oorweeg dit vir ’n oomblik om te skree om hulp, maar verwerp dan die idee. Kamer 24 is reg op die punt van die gang, die heel verste kamer van die diensstasie af. Die kanse dat iemand haar sal hoor, is skraal, en sy kan dit nie waag om Sunet verder te verbouereer met ’n gegil nie. Nee, sy sal met haar pasiënt moet probeer redeneer. Sy hoop net dat daar iewers in die verwaarloosde en beangste figuur voor haar ’n stukkie rasionaliteit oorgebly het, al is dit dan ook hóé diep begrawe onder die psigose.

      “Sunet, kyk na my,” beveel Mila. Sy praat in die kalmste, dog mees gebiedende stem wat sy kan uitkry.

      “Dis jou siekte wat praat, Sunet. Leila is jou en Marius se baba, die baba waaraan jy normaal geboorte geskenk het. Jy onthou mos? Sy is geen alien nie. Sy is ’n onskuldige mensebabatjie.”

      “Nee, sy is nie!” dring Sunet aan. “Sy is evil. Hier op die een of ander bose mission. Ek moet van haar ontslae raak. Ek kan my nie laat flous deur hoe sy lyk nie.”

      Mila was nog nooit in haar lewe so desperaat nie. Paniekerig kyk sy om haar rond vir iets – enigiets – wat sy kan gebruik om hulp te ontbied. Sy onthou van haar selfoon, voel die gewig daarvan in haar broeksak. Sou sy dit ongemerk kon uithaal om te SMS? Sy laat haar hand ongemerk na haar broeksak dwaal … laat vaar dan die plan. Instinktief weet sy dat die band wat op hierdie oomblik nog tussen haar en Sunet strek, uiters broos is.

      Sy kan in Sunet se verskrikte oë nog ’n greintjie vertroue in haar vroedvrou sien, vertroue wat Mila onmiddellik sal verloor as sy hulp probeer ontbied.

      “Sunet, ek weet dis moeilik – amper onmoontlik – om logies te dink as jy so siek is. Maar probeer net. Onthou jy nog van jou bipolêre versteuring, Sunet?”

      Daar’s geen flikkering van begrip in Sunet se oë nie, net angs. Mila probeer weer.

      “Ek en jy het mos oor die moontlikheid gepraat dat jy ná die geboorte ’n psigose kan ontwikkel, Sunet. Ons het planne probeer maak toe jy nog swanger was om jou en Leila te beskerm indien jy sieker word. Onthou jy, Sunet?”

      Sunet skud haar kop onbegrypend. Mila gee ’n treetjie vorentoe en steek haar een hand versigtig na Sunet uit. Sy kyk die vrou vierkant in die oë. Miskien is ’n outoritêre houding wat nodig is in hierdie situasie.

      “Gee die baba vir my, Sunet,” sê sy ferm. Maar Sunet skuifel net verder van haar af weg. Mila se hart ruk in haar keel toe Sunet die bondeltjie dreigend oor die tralies lig.

      Skielik raak Mila bewus van ’n figuur aan haar regterkant, binne die hospitaalkamer. Derek kom staan reg langs haar – aan die ander kant van die balkonvenster en net buite Sunet se sig.Toe Mila vlugtig na hom opkyk, plaas hy vinnig ’n lang wysvinger teen sy lippe. Hoop vlam in haar gemoed op. Sy loer na Sunet wat met vreemde afsku na die baba staan en kyk en fluister uit die hoek van haar mond.

      “Gou, die klokkie! Jy moet hulp kry!”

      “Nie nou nie,” fluister hy dringend.“As ons haar skrikmaak, is dit verby.”

      “Wat dan?” kerm Mila sag. Sy hou haar oog op Sunet, wat heen en weer wieg en ingekeer mompel.

      “Jy moet saamspeel. Sy kan nie nou logies dink nie.” Mila knik.

      “Dink, Mila. Hoe kan jy haar oortuig om die baba vir jou te gee? Hoe kan jy saamspeel met haar delusie? Sy vertrou jou. Gebruik dit.”

      Derek se woorde maak onmiddellik ’n plan in Mila wakker. Die vraag is net: Kan dit werk?


Скачать книгу