Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach


Скачать книгу
minute later sit Mila die glibberige babalyfie in ’n oorstelpte Carlien se arms. Lise-Marie staan reg met ’n warm handdoek om oor die kleintjie te drapeer, want ma en baba bly nog minstens ’n kwartier saam in die geboortepoel. Daar is nie ’n droë oog in die kamer toe Carlien met haar vingerpunte oor die verrimpelde koppie streel nie. Haar moeë gesig straal van verwondering.

      Die ouma en tannie lyk so trots asof hulle die baba self uitgekraam het.

      Mila is die ene hoendervleis. Dit voel asof ’n heilige teenwoordigheid vannag in die kerslig van die geboorte-eenheid huiwer. Maak nie saak hoeveel babas sy vang nie, geboorte bly vir haar die allergrootste wonderwerk. En klein Michaela s’n was werklik ekstra-spesiaal. In haar pa se afwesigheid het die vier vroue ’n laer van liefdevolle ondersteuning om haar en haar ma getrek – ’n herinnering wat Mila vir die res van haar lewe sal koester. Sy glimlag bly toe Carlien opkyk en sê: “Dankie, Mila! Dankie, julle almal! Ek sou dit glad nie sonder julle kon doen nie.”

      Dis sulke woorde, dink Mila, sulke oomblikke, wat dit die moeite werd maak om ’n vroedvrou te wees. Al die ongerief en spanning van haar werk – die vreemde werksure, die laatnag-oproepe, die ontsettende verantwoordelikheid – vervaag wanneer sy só in ’n nuwe ma se oë kyk en trotse ekstase daar sien.

      Drie uur later is Carlien gereed om haar splinternuwe bondeltjie huis toe te neem. Die meeste van Mila se pasiënte verkies om direk huis toe te gaan in plaas daarvan om in die hospitaal opgeneem te word.

      “Weer eens geluk, Carlien,” sê Mila terwyl sy die skraal vrou teen haar vasdruk. “Ek sal vanmiddag ’n draai kom maak om te sien hoe dit gaan, en môre sal Lise-Marie ’n tuisbesoek doen. Bel asseblief as jy ons intussen nodig het.”

      Tot almal se verbasing skuif Carlien self agter die stuur in. Mila maak dadelik kapsie.

      “Jy’s nie ernstig nie, Carlien! Jy’t nou net ’n baba gehad. Jy kan nie bestuur nie, laat jou ma ry!”

      “Ag Mila,” stry Carlien verleë,“net ek verstaan hierdie ou tjorra van my. Ek’t self hiernatoe gery ook, en toe’t ek báie erger gevoel as nou! Ek voel piekfyn, regtig. Ma en Sus moet in elk geval agterna ry.”

      Mila sug. As sy geweet het Carlien beplan om self terug te bestuur, sou sy haar beslis na die postnatale saal oorgeplaas het. Minstens vir ’n nag. Maar sy weet dat geld skraps is en dat Carlien graag die onnodige onkoste wil spaar. Sy kyk vraend na Lise-Marie, en dié knik effens.

      “Nou maar goed,” gee sy teësinnig toe.“Belowe my jy sal stilhou as jy nie lekker voel nie?”

      “Maar natuurlik, en Ma is mos daar,” glimlag Carlien. Mila en Lise-Marie staar in stilte die afgeleefde rooi Corsatjie agterna, albei stomgeslaan deur Carlien se onafhanklikheid. Die vroeë oggendluggie is verfrissend en nou en dan kwetter voëltjies in die groot peperboom voor die eenheid. Net toe hulle omdraai om die kraamkamer te gaan opruim, klink die muezzin se oggendgesang op vanuit die nabygeleë moskee. Vanoggend klink sy stem vir Mila vol heimwee.

      “Ek sou haar nie ontslaan het as ek geweet het sy wil self huis toe bestuur nie,” sug Mila.

      Maar Lise-Marie is nie bekommerd nie. “Relax, Mila, sy’s fine. Sy’s ’n sterk vrou. En sy’s nie siek nie, sy het net ’n baba gehad. Haar ma sal mos sien dat als reg gaan.”

      “Tog …” mymer Mila, steeds nie oortuig dat sy die regte ding gedoen het nie.

      “Sy’t geen medikasie gehad nie en jy’t self gesê sy’t min bloed verloor,” redeneer Lise-Marie. “Ék sou kon bestuur het ná my kinders se geboortes.”

      “Jy’s seker reg,” gee Mila toe, effe gerusgestel deur die stem van eerstehandse ervaring. Want hoewel Mila al meer as vyf honderd babas in die wêreld gehelp het, het sy self nog nooit die pyn of vreugde van natuurlike geboorte geken nie. Lise-Marie het egter met al vier haar kinders normaal gekraam. Een van die rouste seerplekke in Mila se lewe bly die feit dat haar klein Melissa stuit gelê het. Hoe ironies dat juis sý wat natuurlike geboorte vir soveel ander vroue moontlik maak, daarvan ontneem moes word. Die ervaring wat sy so graag self wou hê en wat haar nou waarskynlik nooit beskore sal wees nie …

      Mila is vodde toe sy by haar meenthuiskompleks naby die hospitaal indraai. Teen die tyd dat sy en Lise-Marie die geboorte-eenheid eksie-perfeksie gehad het, was dit reeds so laat dat sy deur die oggendverkeer huis toe moes ploeter. ’n Rit wat gewoonlik tien minute neem, het vanoggend ontaard in ’n stop-ry-stop-nagmerrie van veertig minute. Die ergste is dat dit haar so laat gemaak het dat haar ma en Melissa reeds kleuterskool toe vertrek het. Mila het so gehoop om haar dogtertjie te siene te kry, al kon sy haar net ’n vinnige soentjie gee. Dalk is dit tog maar beter so, troos sy haarself, want minstens kan sy haar moeë lyf nou dadelik in ’n warm bad gaan week, en daarna so gou moontlik verlore slaap gaan inhaal. Sy sal maar môre iets lekkers met Melissa doen …

      Net toe Mila haar klere afstroop en haar linkervoet in die aanloklike skuimbad steek, lui die deurklokkie. ’n Gloed van irritasie wel in haar op. Wie op aarde is nou so ontydig? Haar vriende en bure weet almal dat sy onvoorspelbare ure werk en dikwels bedags slaap; niemand sal so onbedagsaam wees om sonder ’n afspraak op te daag nie. Haastig spartel sy om weer aangetrek te kom. In die kamer struikel sy oor Melissa se houtperdjie wat op die vloer vergete lê. Gelukkig herwin sy haar balans deur so half bo-oor die speelding te spring, maar in die proses stamp sy haar groottoon hard teen die deurkosyn. Haar besoeker kies daardie presiese oomblik om die klokkie ’n tweede keer te lui, en Mila uiter ’n gedempte kragwoord. Dis seker ’n astrante besemverkoper of iemand wat ingeglip het toe ’n inwoner die hek oop- of toegemaak het, dink sy beneuk.

      Oorgehaal om vir die ontydige smous sy fortuin te vertel, pluk Mila die voordeur oop. Haar woorde stol op haar lippe toe sy vaskyk in die lieflikste man wat sy nog in haar nege-en-twintig jaar raakgeloop het. Dis sy oë wat Mila eerste opval: blinkblou kykers wat perfek beklemtoon word deur die netjiese ligblou strepieshemp wat hy aanhet. Sonder skroom hou hierdie pragtige oë hare gevange, en Mila verwonder haar aan die feit dat sulke ysblou irisse tog soveel warmte kan uitstraal. Hy’s lank en lenig en om sy soenbare lippe speel ’n sexy glimlag. Mila hou gewoonlik van skoongeskeerde mans met kort hare, maar hierdie een lyk wraggies net aantrekliker met sy effense stoppelbaard en donker hare wat wil-wil krul. Mila trek haar asem in. Sy voel asof die man se oë haar soos ’n kragtige gety intrek en sy gee haarself ’n oomblik lank geheel en al oor aan die sensasie. Gelukkig bring haar gesonde verstand haar terug aarde toe sodat die gety haar darem weer op die strand uitspoel. Sy word ongemaklik bewus van dansende lagduiweltjies wat intussen in die onweerstaanbare oë hul intrek geneem het. Vinnig kyk sy anderpad. Vervlaks, hierdie man weet maar alte goed watter uitwerking hy op die vroulike geslag het. G’n wonder hy gloei behoorlik van selfvertroue nie!

      Die vreemdeling hou sy hand na Mila uit.Verbeel sy haar, of is daar iets tergends in sy glimlag ook? Sy neem sy uitgestrekte hand en verlustig haar in sy warm, ferm handdruk. Hmm, ouma Mart sou van hierdie man gehou het, skiet dit haar te binne. Ouma het geglo dat ’n man se handdruk ’n aanduiding van sy karakter is. Hierdie donkerkop-hunk sou ongetwyfeld die toets geslaag het …

      ’n Rilling van lekkerkry gaan deur Mila se lyf toe die vreemdeling sy linkerhand ’n oomblik lank liggies op haar pols laat rus. Sy voel hoe die haartjies op haar arm van plesier rys. Genade, Mila, dink sy vieserig, wat gaan met jou aan? Jy staan hier en kwyl soos ’n bakvissie! Is dit nou die manier vir ’n enkelma en ’n hiperverantwoordelike vroedvrou om haar te gedra? Ruk jouself reg, man!

      Die man glimlag geamuseer vir Mila asof hy haar gedagtes soos ’n grootdrukboek kan lees.

      “So,” sê-vra hy,“dan is jy Mila? Jy’s nog mooier as wat ek gehoor het!”

      ’n Verwarde frons huiwer tussen Mila se wenkbroue. Hoe sou hierdie vreemdeling haar naam ken? En met wie op aarde het hy haar voorkoms bespreek?

      Derek merk op hoe Mila se bittersjokolade-oë gevaarlik begin smeul. Haar linkerhand skiet uitdagend na haar parmantige heup. Haar hele houding waarsku dat sy nie ’n katjie is wat ’n mens sonder handskoene wil aanpak nie. Nie dat dít hom afskrik nie. Allermins! Hy was nog altyd ’n ou vir ’n uitdaging,


Скачать книгу