Koors. Deon Meyer

Читать онлайн книгу.

Koors - Deon Meyer


Скачать книгу
Pa beduie iets. Ek snap nie. “Vat die skoot,” fluister hy.

      Eers jare later sal ek besef dit was ook ’n betekenisvolle oomblik. Want hy het sy geweer saamgedra, maar hy het nooit, dink ek, bedoel om self te skiet nie. Dit was nou my taak. Later, om die vuur, haal hy ’n bottel rooiwyn uit en skink net vir homself en die twee vroue. Ek is nog nie oud genoeg vir wyn nie.

      * * *

      Ons eerste ete as ’n nuwe, klein gemeenskap is nie by Vanderkloof nie.

      Melinda Swanevelder maak roosterkoek-deeg met die bruismeel, suiker en sonneblomolie uit die wildplaas se ongeskonde spens. Ons eet dit saam met appelkooskonfyt. Ek en Pa braai die onbeholpe uitgeslagte vleis. Die kinders speel oral deur die gebou en buite in die gaslamp en die kampvuur se ligkring, hulle stemmetjies hoog en uitbundig, hul lyfies besig ná die dae van stilsit in die kamper. Ons eet almal saam om die vuur in die lapa, onder die sterre. Dit is lekker, ná die maande van afsondering, om die kinders se gebabbel te hoor, en ’n vrou se stem, en die braaivleis se geur, en die smaak van kos wat nie uit ’n blik of ’n boks kom nie.

      Toe die kinders almal slaap in die groot sitkamer van die oord, deurmekaar op rusbanke en gemakstoele, toe onder komberse, gaan sit ek weer saam met die grootmense buite. Pa skink die wyn en gooi nog stompe op die vuur.

      Beryl vertel haar storie. Sy was ’n gholfspeler, die inwonende professionele vrouespeler by die Pezula-oord buite Knysna. Sy glimlag ironies en sê dit was ’n beroep wat haar met absoluut geen vaardighede vir ’n post-apokaliptiese wêreld gelaat het nie, behalwe fiksheid, en ’n bietjie mensekennis.

      Pa sê dis dalk nie slegte vaardighede om te hê nie.

      Haar ma was oud en sieklik en een van die heel eerste slagoffers van Die Koors. Beryl het haar op Humansdorp gaan begrawe. Toe is sy terug werk toe, om besig te bly, om die verlies te verwerk, omdat daar eintlik niks anders was om te doen nie, want die land was verlam en deurmekaar. Sy het gesien hoe haar kollegas en die hotelgaste siek word, maar sy nie. Sy het gehelp waar sy kon, sy het by hulle gewaak, sy het elkeen van hulle sien doodgaan. Tot niemand oor was nie. Toe wil sy terug Humansdorp toe, dit was waar sy grootgeword het, dit was waar sy wou skuil of doodgaan of weer begin. Alles was onseker en seer en sleg.

      Beryl se stem dra daardie aand by die kampvuur swaar aan die trauma van haar reis, jy kan die ontbering in elke woord hoor.

      Sy het ’n ou wit Nissan 1400-bakkie gevat, sy het te skuldig gevoel om iemand anders se duur motor sonder toestemming te neem. Die eerste van die kinders het langs die N2 gestaan by Harkerville, ses jaar oud, honger en dors en baie alleen. Sy het gestop, en ’n hartverskeurende gehuil gehoor, in ’n houthuis daar naby. Sy het nog twee kinders daar gekry, klaarblyklik familie, hulle lyk na mekaar. Hulle is te klein om hul verwantskap te verduidelik, maar sy dink weerstand teen die virus is geneties. Want daar was ’n vrou wat ook oorleef het. Dalk die ma. Beryl het haar tweehonderd meter die Knysna-woude in gekry. Sy het haarself aan ’n boom opgehang.

      * * *

      Beryl Fortuin

      Soos opgeteken deur Willem Storm. Amanzi-geskiedenisprojek.

      Dit was ’n baie gevaarlike tyd, daardie tyd. Die Koors was nog nie heeltemal klaar nie, jy het siek mense op die paaie gekry, en siek mense in die dorpe en so. Jy kon nog nie sê wie gaan survive en wie gaan nie. Ek dink dit was ook oorlat dit die Tsitsikamma was, mense het in daai woude gebly ver van ander af, hulle het die virus kom optel soos hulle uitgekom het. Met die kinders by my, toe moet ek upgrade na ’n groter kar toe. Dit was vir my sleg, dit het maar altyd vir my geworry om so mense se goeters te vat. Hoe weet jy daai een kom nie terug en kom soek sy kar nie. Ek het ’n bussie gevat anderkant Plet.

      Daar het soveel vreemde goed gebeur, soveel goed wat jy nooit sal vergeet nie. Net voor Stormsrivier toe is daar ’n ou wat baie siek is, in ’n BMW, hy ry so reg voor ons in, ek dink dit was ’n attempted suicide, en sommer “I’m not going to die alone” ook. Gelukkig toe mis hy ons en hy ry so in die bos in, en hy tref ’n boom en die kar brand. En ek sê vir die kleintjies, moenie kyk nie, maar hulle kyk.

      Ek verstaan lat die mense se koppe uitgehaak het, regtig, ek verstaan. Ma’ jy wil ’n bussie met kindertjies in saam met jou vat graf toe? Daai is messed up, even under those conditions.

      By die groot filling station daar by die brug by Stormsrivier, toe is daar ’n vrou in ’n Fortuner, sy kom na my toe, sy kan skaars loop, jy kan sien Die Koors het vir haar. En sy sê kom kyk. Ek gaan kyk. In die Fortuner lê Lizzie en slaap, vier jaar oud. En die vrou sê sy gaan doodgaan, maar Lizzie makeer niks. Ek sê, asseblief, ek het klaar drie kinders by my … Maar sy sê, vat vir Lizzie. En sy draai om en sy huil verskriklik en sy loop die woud in, so val-val, en sy los die kind net daar in die kar.

      Toe sit ek met vier. Ek, wat nie kinders wou hê nie, toe sit ek met vier. En ek ken net een se naam.

      * * *

      Humansdorp in die onmiddellike afloop van Die Koors was nie ’n plek vir die kinders nie, nie met al die ontbindende lyke en waansin van die paar oorlewendes nie. Beryl kon nooit haar mense gaan begrawe nie. Sy en die vier kleintjies het weke lank op ’n plaas langs die Gamtoos gaan bly, tot die ergste verby was. Toe is hulle Humansdorp toe, en al wat sy gekry het, was nog ’n kleintjie. Daarna Jeffreysbaai en Port Elizabeth, waar die kinders nog meer geword het. Sy sê hulle was ’n soort “amalgamated Pied Piper of Hamelin”, want die kinders wat by haar was, se stemme het ander wesies voortdurend uit hul skuilplekke gelok. In Motherwell het twee mans vyf Xhosa-kinders in hul sorg gehad. Hulle het voorgegee om kragte met haar saam te snoer, maar die volgende oggend was hulle weg, en die kinders nog daar.

      Niemand wou die kinders hê nie. Almal was te besig om te oorleef.

      Sy het net aanhou beweeg.

      5 April

      Pa laat Beryl voor ry, want die kamper is stadig, dit sukkel om tagtig te haal teen die wind. Ons volg net ’n honderd meter agter hulle. Pa het vir Beryl ’n klein Zartek-tweerigtingradio gegee, ons kan met mekaar gesels.

      In die middel van Graaff-Reinet sê Pa: “Liewe land.” Hy hou in die middel van die straat stil en beduie.

      Ek sien die skildery, tamaai en kleurvol, wat strek oor drie ou geboue. Dit is van ’n trop Nguni-beeste in die veld, besonder realisties.

      Pa lig die radio na sy mond. “Sien julle die skildery?”

      “Die beeste?” vra Beryl.

      “Ja.”

      “Dis ongelooflik. Was dit nie altyd hier nie?”

      “Nee,” sê Pa. “Dis was historiese geboue hierdie. Die Camdeboo-restaurant en die hotel. Altyd wit mure gehad.”

      Ek sien daar is nog skilderye oor die geboue vorentoe, links en regs van die hoofstraat. En dan sien ek die kerk, ’n halwe kilometer vorentoe, in die middel van die pad, met sy hoë toring. Die kerkgebou is nou ’n Nguni-bees se skouers, die toring is besig om ’n kop en ’n enkele horing te word. Daar is ’n lang leer teen die kerk se toring, en ’n klein figuur aan die bopunt van die leer. Ek wys vir Pa met my vinger.

      * * *

      Ons hou by die kerk stil. Die man is hoog op die leer teen die toring besig, met ’n groot kwas. Hy is ’n swart man, lank en lenig. Die enigste kledingstuk aan hom is ’n heldergroen sportbroekie. Aan sy voete is bruin sandale. Hy waai met die kwas, sy wit tande ontbloot in ’n glimlag, sy linkerhand hou styf aan die leer vas.

      “You like?” vra hy en beduie na sy kuns.

      “Yes!” roep Pa terug.

      Beryl hou agter ons stil. Die sestien kinders borrel uit die kamper om te gaan kyk.

      * * *

      Later sê die skilder hy wil nie saam met ons Vanderkloof toe nie. Hy wil hier bly, by sy kuns. Daar is nog baie skilderye om te maak.

      Pa sê hy moet oppas vir die honde.

      20

      Domingo


Скачать книгу