Vir die voëls. François Bloemhof
Читать онлайн книгу.weer na hóm gekyk, na hoe die avontuur in sy oë blink. Hy was skoongeskeer.
Toe het sy ’n tak vasgegryp en oor die rand van die takkiesnes geloer, waar die twee goedjies binne-in haar asem weggeslaan het. Duifkuikens, grys en donsig en snoesig opgekrul.
“Dink dis papegaaiduifies,” het Pa Ivan onder haar gesê.
“Dis die mooiste ietsie wat ek nog gesien het …”
En toe breek die tak in haar hand af. Gil sy, val sy uit die boom uit.
En skielik was sy nie meer vier jaar oud nie, maar agt, en skud die wêreld om haar. Sy was agter in die kar. Het orent gekom en haar oë gevryf, betyds om die bordjie te sien toe hulle verby dit ry.
QUEENSTOWN 20 MYL
Haar pa bestuur. Hy is nie skoongeskeer nie.
Oos-Kaap. Sy was al wes, suid en noord.
Haar ma sit links voor, waar vrouens altyd sit. Aan hoe sy oor haar nek vryf, kan Irma sien sy is moeg. Daar was nie so baie om in die klein lorrie te laai nie.
Irma kyk na die leë sitplek langs haar. Dis koelerig omdat Pa Ivan se ruit afgedraai is, maar sy kry nie rêrig koud nie omdat sy die geel trui aanhet wat Ma Alta laas vir haar gebrei het. As sy ’n boetie gehad het, sou hy nou opgekrul hier teenaan haar gelê het. As hy koud gekry het, sou sy die trui uitgetrek en oor hom gegooi het.
Soos Racheltjie de Beer. Al haar klere.
Racheltjie de Beer moes vreeslik koud gekry het, maar haar liefde was warm.
“Die kalf is weg! Boeta, kom help jou suster Racheltjie soek, toe.”
Sy wonder of sy dit hardop gesê het.
Maar haar pa kyk nog stip voor hom, en haar ma ook. Hulle dink seker sy slaap nog.
Sy en haar boetie soek links en regs.
“Brrr … Dis koud vanaand.”
Hy stem saam. Hy is so dapper vir iemand so klein.
“Waar is Pappa en die res?” vra sy. Dan die besef: “Ons het die grootmense ook verloor. Nee! Wat gaan ons maak?”
Totdat haar boetie beduie.
“’n Miershoop! Jy’s ’n slimkop, boeta.”
En dan die oomblik van opoffering. Sy besluit om haar lewe vir haar boetie te gee, dis hoe lief sy hom het.
Sy kom agter iets loop oor haar wange, nat en warm. Sy vee daaroor en maak haar oë toe.
En kom nie so ver om te sterf nie, want die mooi toneel is bederf deur ’n geluid wat nie daarby hoort nie.
Die agtjarige Irma Humpel maak haar oë oop om te sien hoe haar pa die bottel na sy mond bring. Toe hy ’n sluk neem – ’n stewige een wat twee slukke word – wieg die kar so ’n bietjie.
Hy vat weer die stuurwiel stewig vas.
Haar ma se nek, styf.
Haar ma wat, so het die dokter glo gesê, nie nog kinders kan hê nie. Daar sal nooit ’n boetie kom nie.
Die geluid van hoe haar pa die bottel neersit, en dit rol. Sy ken elke geluid wat bottels kan maak.
En nou is dit ’n bietjie meer as ’n dekade later. Irma Humpel se oë spring oop. Sy het nie besef dit is gesluit voordat sy deur die gebruik van haar naam oor afstand en tyd heen teruggeroep is nie.
“… beloof jy dat jy Sampie nooit sal verlaat nie …”
Sy en die lang ry jonger Irmas het met die aankomslag gesien hoe droog is die gras hier voor die kerk. Die paar motors, gepoeier met stof, wat in die parkeerarea gewag het.
“… dat jy hom in liefde sal eerbiedig en help, soos ’n Godvresende vrou aan haar man verskuldig is?”
Dis hier. Sy kan dit nie wegdink nie.
Sy onthou die laaste blik in die spieël. Weet nou sy hoef nie so te gebodder het met die grimering nie, want daar is g’n manier wat trane dit nié sou laat smeer nie.
Die dominee se fluistering: “Irma!”
Sy in haar rok so wit soos sneeu in ’n sprokie, en agter haar die mense, bekendes, geliefdes, hier as getuies. Maar die waarheid is voor haar, lángs haar.
“Wat is jou antwoord?”
“Jammer, wat was die vraag, dominee?”
Sy kan nie glo sy vra dit nie. Maar dis net te veel. Sy moet vra om seker te kan wees waar in die verrigtinge hulle nou is. Alles gebeur dan nou so vinnig en sy moet inhaal.
Skuifelgeluidjies agter haar. Iemand giggel saggies.
’n Halwe armlengte weg van haar is Sampie se bruin oë groot. Gespierde boerseun met die troupak ’n aks knap oor sy skouers. Haar bruinkop-bruinoog-amper-eggenoot. Ongeloof is op sy voorkop gestempel en sy wonder wat is daar op hare te lees: suiwer angs?
Die stem van die dominee, oftewel die stem van die noodlot, gaan voort: “Beloof jy dat jy Sampie nooit sal verlaat nie, dat jy hom in liefde sal eerbiedig en help, soos ’n Godvresende vrou aan haar man verskuldig is?”
Irma bly na Sampie kyk en weet wat die antwoord is. Al een wat sy kán gee, asook darem wat sy wil sê.
Tog is dit nie wat uitkom nie.
“Laat ek net ’n bietjie dink.”
Sampie se oë was toe nie werklik so groot nie. Nóú is hulle.
Geskokte geluide, ’n gesnak na asem.
Asem is iets waaraan sy self ’n tekort het. Omdat haar bene nie meer doen wat hulle gemaak is om te doen nie, sak sy neer op die eerste die beste plek, een van die trappies. Die trourok doen min om die hout minder hard onder haar sitvlak te laat voel.
Dit maak nie saak hoe baie sy oor die saak geredeneer en dit met haarself probeer uitpluis het nie, hier is die oomblik toe groter as wat sy gedink het – nadat sy geweet het dit gaan moerse groot wees.
Dis moerse, vreeslik, flippen yslik, oneindig groot!
Die ding is ook, sy weet wat sy in Sampie het en hoe ’n goeie man hy vir die regte vrou sal wees. Maar is dit sy daai? Sy sien hom hier voor haar en wonder hoe hy so seker kan wees.
Die dae van speletjies speel en verbeel is jare gelede verby. Sy het die dogtertjie verloor wat haar allerhande dinge kan wysmaak; kan nie meer ’n lewe met boeties en gelukkige ma en nugter pa optower nie. Selfs toe sy kon, was dit net vir rukkies.
Sy het te vinnig grootgeword. Sterk geword. Haar eie mens. En juis deur daardie sukses is daar dinge wat sy verloor het.
Mense is altyd so seker oor dít wat sy vandag hier wou kom aanvang. Dit lyk so maklik as ander dit doen.
Maar sy weet doodeenvoudig nie of sy haar lewe met hierdie man wil deel nie.
Of sy haar lewe met énige man wil deel nie.
En nou skok sy almal wat gekom het om deel te wees hiervan, en vir Sampie ook, en sy is self geskok, want dis die dag wat meisies van kleins af glo hulle mooiste gaan wees, maar niks val in plek soos dit moet nie. En noudat sy nie ’n antwoord op die Groot Vraag kon gee nie, noudat daar soveel ander vrae voor haar opdoem, is daar een wat reg teenaan haar kom staan het en nie langer geïgnoreer sal word nie.
Hoe op dees aarde het sy hier beland?
1967
1
So, dít gaan die nuwe huis wees. Dis vir die agtjarige dogtertjie moeilik om te dink die leë plek met die vertrekke wat so eggo, sal nog ’n plek word waaraan sy gewoond is.
Sy weet sy sal, want aan elke nuwe huis het sy gouer gewoond geraak as aan die vorige