Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.krisisuur verlang Fya vuriglik om terug te wees by seur en madame Beaumont, Alisha se ouers, daar in hulle groot huis teen die berg waar die verfyndheid van ’n ou Europese beskawing nog geheers het. In die Kaap sou daar nou minstens drie dokters om nooientjie Lisha se kooi saamgedrom het om haar met die bevalling van haar eersteling te help. Nou is dit net sy self en hopelik netnou die dokter, en hy is tog maar net ’n dorpsdokter.
Oomblikke later hoor sy verlig die geluid van die perdepote en wiele van die kapkar wat die dokter op die dorp moes gaan haal.
Alisha maak haar grys oë oop. Die oë is nou donker van die pyn, donker soos die stormwolke wat in die winter oor die Lootsberg rol.
“Ma-Fytjie …”
Ma-Fytjie streel liefderik oor die natgeswete gesig.
“Hulle is hier, nooientjie. Seur Heinrich het die doktertjie gebring!”
Die deur gaan oop en Heinrich kom die kamer binne. Agter hom herken Ma-Fytjie die swartgeklede dokter met sy ruitmanteltjie en bolkeil.
“Hoe gaan dit, Ma-Fytjie?” vra Heinrich bekommerd. Hy kniel langs die koperkatel en lig Alisha se fyn wit hand na sy lippe.
Alisha sien die angs in sy donker oë. Sy raak aan sy gesig en probeer praat, probeer hom gerusstel, maar haar woorde word ’n kreet toe ’n spasma opnuut deur haar buik skeur.
Die dokter sit sy hand op Heinrich se skouer en maak apologeties keel skoon. “Mijnheer von Albein …”
Heinrich kom orent. Sy gevoel van magteloosheid maak hom tegelyk verbouereerd en driftig. “Ek bly, dokter Janse! Ek wil by Alisha wees as –”
“Dit sal g’n deug nie, meester Heinrich!” Fya kom geskok orent. “Dis nie vir mansmense se oë nie. My nooientjie Lisha is ’n fyn mensie. Sy sal g’n wil hê jy moet bly nie! Loop!”
“Asseblief, Heinrich,” fluister Alisha floutjies.
Hy huiwer nog ’n oomblik lank. Dan buk hy af en soen die klam voorkop. Sy stem klink skor in die stil kamer. “Ek sal net hier buite wees …” Hy sluk swaar. Die trane prikkel vlak agter sy ooglede. “Alisha, ek het jou lief!” Hy kom orent en strompel die kamer uit.
Dokter Janse spring aan die werk. “Ons moet kookwater hê, genoeg daarvan.”
Ma-Fytjie knik. “Staan klaar en borrel op die stoof, meester dokter. Ek sal laat Hanna en die Toefiegoed dit begin aandra!” En sy haas haar deur toe.
Agter haar begin die dokter met sy voorbereidings. Dit gaan beslis nie ’n maklike bevalling wees nie.
Heinrich staar nikssiende in die vuur, wat laag brand in die kaggel. Sy wangbene en ken is donker van die baardstoppels. Dit kan hom nou min skeel. Alisha se pyne het begin, en daar is nie tyd vir verklee of skeer nie. Uit die voorhuis klink die uurslae van die ou staanhorlosie wat sy voorvader nog uit Duitsland saamgebring het dofweg op. Nege-uur! Hy kom ongedurig orent. Hoekom vat dit dan so lank?
Hy was seker al ’n dosyn of meer kere met daardie trap op, om net maar weer te staan te kom voor die toe deur, ’n onverbiddelike skeiding tussen hom en sy vrou se lyding en die wonder van sy kind. Hy draai terug na die vuur en staar weer na die gloeiende kole. Dis asof hulle gloed in sy siel inbrand, asof hy dáár die verskriklike pyn voel wat Alisha verduur. Hy moes versigtiger gewees het, verwyt hy homself. Sy is te tenger om kinders in die wêreld te bring.
Heinrich swaai vinnig om toe hy ’n geluid bo van die trap af hoor. Die deur staan op ’n skrefie oop. Hy hoor dit weer: die huilgeluid van ’n kind … ’n baba! Dit is sy kind! Vervaard storm hy die trap op. Niemand sal hom uit daardie kamer uithou nie!
Alisha lyk broser as ooit, gestut teen die sneeuwit kantversierde kussings. Toe sy opkyk van die toegedraaide bondeltjie in haar arms af, merk hy in haar silwergrys oë ’n warm lig, ’n lig wat iewers in haar siel sy oorsprong moes gehad het.
Oorweldig deur ’n gevoel van nederigheid kniel Heinrich langs haar, onbewus van die trane wat oor sy gesig stroom. Die skoonheid van sy vrou met die mensie wat uit hulle gebore is in haar arms, maak die fluistering van haar naam ’n gebed. “Alisha, ek sal hierdie nag nooit vergeet nie! Ek het jou nog nooit so lief gehad soos juis nou nie.”
“Dis ’n dogtertjie, Heinrich …” Sy lig die babadeken van die gesiggie af weg om hom te laat sien.
Die wesentjie maak haar ogies oop en staar uitdrukkingloos na hom, onbewus daarvan dat haar pa se hart in daardie oogwink vir ewig met hare versnoer raak. Vol verwondering en dankbaarheid lig Heinrich die bondeltjie mens in sy arms op.
“Ons sal maar weer moet probeer om vir jou ’n erfgenaam vir Sorgenfrei te gee,” sê Alisha sag.
Heinrich kan niks sê nie. Sy gemoed is oorvol. Hy dra sy dogter na die venster toe en kyk na die sneeubedekte velde van Sorgenfrei, bleek in die lig van die maan en die sterre.
Uiteindelik het hy genoeg vertroue om te praat. “Nee, Alisha,” sy stem is sag. “Die erfgenaam van Sorgenfrei, my dogter, hou ek nou hier in my arms vas.”
Heinrich draai terug na Alisha toe. Die trots en liefde op die groot, sterk man se gesig ontroer haar. Sy voel lomerig gelukkig.
“Hoe sal ons haar noem?” vra sy slaperig.
Heinrich huiwer nie. “Deborah … Deborah von Albein. Sy sal ’n rigter onder die mense word.”
Buite verskiet ’n ster met ’n vlammende heerlikheid, blink en groot in die kristalkoue nag.
Hoofstuk 1
Die voshings steier verwoed op sy agterpote. Sy voorhoewe klief die lug. Hy probeer desperaat om ontslae te raak van die ruiter wat sy wil na hare wil dwing. Die stang byt ’n oomblik lank in sy bek. Sy oë rol wild. Hy runnik rasend. Dan hoor hy die ruiter met hom praat. Haar stemtoon is gerusstellend.
Onverwags gee die ferm jong hand wat die teuels vashou die perd speling. Verward skiet hy vorentoe in ’n dawerende vaart na vryheid, onwetend dat dit reeds buite sy bereik lê.
Deborah von Albein buig laag oor die perd se nek waarop die salpetervlekke nou kollerig begin uitslaan. Sy weet sy het gewen. Sy weet sy het die vurige dier onderwerp aan háár wil. Sy haat die woord “inbreek”. Die stuwing van sy spiere tussen haar bene maak haar onverklaarbaar opgewonde. Haar rinkelende lag klink op bo die gedawer van die voshings se hoewe. Ruiter en perd word een in hulle vaart om en om die perdekamp. Hulle spoed skeur die wind, wat weerwraak neem deur die jong meisie se hare los te ruk sodat dit vlasblond om haar gesig en skouers wolk.
Deborah se mond is na aan die hings se platgetrekte ore.
“Vinniger! Vinniger!” por sy hom aan.
Nog twee maal om die perdekamp. Die jong vrou dryf hom aan met druk van knie en dy. Die dier se breë bors hyg. Hy raak vaagweg bewus van ander stemme wat aanmoediging skreeu. Dan voel hy die ligte pluk van die stang in sy bek, en hy weet verlig sy hellevaart is vir eers oor.
Deborah bring die hings geleidelik tot stilstand. Sy spring af en streel oor die moeë, geboë nek. Sy lig sy kop op en kyk hom vas in sy bloedbelope oë. In dié oomblikke van oogkontak word ’n hegte band gesmee tussen perd en ruiter. Hy laat haar gelate toe om die teuels oor sy kop te swaai. Sy lei hom na die houtreling, waar twee ander mense wag.
April Sardyn, die stalkneg van Sorgenfrei, klouter flink deur die tralies om die nuwe perd te gaan koudlei.
Heinrich von Albein kom orent waar hy langs April teen die hek geleun het. Daar is ’n onmiskenbare uitdrukking van trots op sy gesig. Hy wag vir sy dogter wat nog met hul getroue ou perdeman staan en praat.
Daar is min jong kêrels in die hele kontrei van Graaff-Reinet wat hulle sit só op ’n perd kan sit, en dit boonop op dié vurige voshings! Is dít dalk die rede waarom Deborah so min trek het vir die klompie vryers wat deurentyd rede soek om te kom kuier? Maar dan was sy dogter van meet af aan van ’n ander stoffasie gemaak as hulle.
Heinrich onthou nog die nag van haar geboorte soos gister.