Rooi haring. Schalk Schoombie

Читать онлайн книгу.

Rooi haring - Schalk Schoombie


Скачать книгу
Dan omsluit hy haar maer hand stewig in albei syne – ’n oondwarm greep wat haar intrek en anker.

      Drie sekondes lank staan hulle so. Verbasend sagte hande, ontdek sy. Sy hou onbewustelik asem op, probeer opreg glimlag. Sy voel sy gaan bloos. Wie gaan eerste iets sê? ’n Glimlag sprei oor die gasheer se maangesig. Sy merk ’n sekere gulsigheid in die wye mond.

      “Greta, so bly jy kon kom!” ’n Innige bariton, maar dis ook ’n riffellem wat kerf soos ’n rasper.

      “So ’n wonderlike voorreg, sjef Swiegers.” (Amper sê sy voorgereg!) “Dankie vir die uitnodiging. O, en baie geluk met die nuwe onderneming.”

      Hy knik. “Alles deel van dieselfde groot onderneming. Om mense te bederf met goeie kos. Geniet die aand en laat weet wat jy dink, nè?”

      Die klemgreep verslap dadelik, haar hand gly uit en Greta moet plek maak vir die volgende blosende BBP.

      Sy blaas haar asem stadig uit, herwin haarself met mening. Voel dit so naby ’n charismatiese wêreldleier? In die dampkring van ’n legendariese kunstenaar of evangelis? Asof die dronk gefladderde mot – gevaarlik naby aan die helder vlam – in een verblindende oomblik kan verskroei tot as.

      Greta tree met opgehoue asem oor die drumpel van Tydloos.

      En asem uit.

      Hier bruis die geroesemoes luider as buitekant op die plein, ’n klankbaan van waardering vir die ambiance, die ruimte, die subtiel stylvolle dekor!

      Sy drink dit alles in.

      Die plek se naam is heel gepas, besluit sy. Die eerste indruk is inderdaad dat tyd hier stilstaan.

      En die musiek wat met tussenposes bokant die rumoer uitstyg … kan dit wees? Tog nie die nuutgevonde, lankverlore Beethoven-stuk wat sy ’n paar dae gelede oor die radio gehoor het nie? Die hobokonsert in F-majeur.

      Blote toeval?

      Memento mori …

      Soos gewoonlik by sulke glansmakieties verskerp Greta se waarneming in kwantumspronge; dis al tweede natuur, asof haar sintuie ooreenkomstig ingestel word, die krane vol oopgedraai. Sy steek haar antennes in alle rigtings gelyk. Dit help dat sy langer is as almal, sy sien verbasende besonderhede, gesigsuitdrukkings en interaksies.

      Op sulke hiperparate tye verkies sy om in die sleurstroom maar bewustelik opsy te wees, sy wil die filter word waardeur alles instroom. Sy weier om eksklusief op een ding te fokus, vermy ligsinnige geselsies wat haar aandag kan annekseer. Sy wil gulsig kyk en luister, gewaarwordinge absorbeer, soos ’n dermstelsel op groot maat verwerk.

      Nou herroep sy die gevoelente wat nou die dag blykbaar deur presies dieselfde klassieke musiek gevonk is, ’n vae onrustigheid.

      Iets … afferig … in die omtrek. Wat kan dit wees?

      Om haar beweeg die ander gaste asof in ’n waas tussen die tafels, hulle “h’mmm” en “aaaa” terwyl hulle indrukke in die trop deel, kenmerke uitwys, oppervlakke aanraak, oppervlakkighede kwytraak.

      Hoewel sy geen kenner van modieuse interieurs is nie, merk Greta ’n ouwêreldse sjarme, die fyn balans tussen gister en vandag. ’n Rustige, skoongeskropte omgewing wat tegelyk modern en tog gerusstellend bekend is, verrekenbaar outyds. Sommige sou dit seker as retro beskryf, asof sy haar hier in ’n ruim Vrystaatse plaaskombuis van weleer bevind.

      Sy neig in ’n wye sirkel (antikloksgewys) om te verken: Teen die hoë wit muur regs hang talle geraamde swart-en-wit-foto’s, antieke tonele van plaaswerkers, melkers, boervroue by oop vure of steenkoolstowe, groot opstalle met breë sonstoepe waar vrugte op houtstellasies gedroog word. Kan dit die sjef se eie familiekiekies wees? Nee, te generies, te sepia-mooi …

      In kontras skep die oorkantste muur die indruk van gestapelde klippe, grys, swart, mosterdgeel (sandsteen?), met ’n enkele verbronste ploegskaar skuins gemonteer bokant ’n massiewe kaggel wat in wintermaande aangesteek kan word. Op ’n rof afgewerkte sementvloer staan sowat twee dosyn vierkantige houttafels gedek met wit tafeldoeke, elk met vier liggroen ontwerperstoele van plastiek daarom heen.

      As fokuspunt op elke tafel pryk een silwer kerskandelaar met ’n wit kers, en ’n plat, wit, ronde erdebak met ’n enkele groen tamatie daarop. A5-grootte spyskaarte wag langs elke aansitplek.

      “Piekfyn,” hoor sy haarself mymer. “Deftig, tog koel en aards.”

      Uit haar hoogte sien Greta haar naamplaatjie in goue sierskrif dadelik op ’n tafel in die omgewing van die kaggel, stap nader en trek die stoel daarby uit. Die drie ander name op naamplaatjies op die tafel ken sy nie: Darius Swiegers, Bruce Sanders en Bernard Boucher.

      Reg oorkant haar staan ’n man wat hom duidelik nie aan die voorskrif vir formele drag gesteur het nie. Nie dat hy sleg lyk nie. Hy wag tot sy sit voor hy sy eie stoel uittrek. Hy is direk in haar siglyn en wat kan sy doen as kyk?

      ’n Sterk geboude man, ’n aks korter as sy, langerige ligbruin hare, driedagbaard en onnette snor, dunraambril gebalanseer op ’n dun neus waardeur blou oë haar takseer, wit katoenhemp met moue opgerol oor sonbruin arms, silwer Rolex aan sy regterpols, donkerblou denimbroek, verweerde stapstewels aan sy voete. ’n Wêreldburger, reisiger en kosmopoliet, som sy hom op. Hy het die geld en tyd om te doen wat hy wil. Sy bruin leergordel is te lank vir sy broek se lussies; die drieduim-punt hang soos ’n hond se tong slap langs sy linkerbroeksak. Probeer hy so vroulike bewonderaars se aandag trek?

      “Haai,” glimlag hy en gaan sit.

      Sy kan nie besluit of dit ’n Afrikaanse of Engelse groet is nie. Daai gordelpunt spook by haar.

      “Hallo,” antwoord sy, ewe tweetalig.

      “Ons deel ’n tafel vanaand,” bevestig hy die opvallende situasie. In goeie Afrikaans met ’n sagte Engelse (Australiese?) tongval.

      “Gee glad nie om nie,” erken sy.

      “Ek ook nie. Bruce Sanders … van Australië.” Steek sy hand oor die tafel, skud hare een keer ferm.

      “Greta Burger … van Pretoria. Aangenaam.”

      “Die plesier is myne. Veral, lyk dit my, waar ladies so skaars is.”

      “Ja-nee, ek tel presies drie.”

      Hulle kyk geamuseerd rond na omringende tafels, waar meestal mans in pakke begin plaasneem. “It’s raining men,” lag sy saam, tog effe verleë. “Jy praat goeie Afrikaans.”

      “Dankie. Comes and goes. Dit het begin by Hartman. Soort van.”

      “Werklik?” Sy is opreg verbaas. “Waar en wanneer?”

      “Ha, Parys! Mmmm. Meer as twintig jaar gelede, ek dink.”

      Greta wil verder uitvra, maar dit raas te veel. Die eetplek raak vinnig vol. Stoelpote skraap oor die sementvloer.

      Greta merk haar giftige klein gespreksgenoot van vroeër, Latoya Jones, by ’n tafel digby die kaggel in die klipmuur. Belladonna, dink sy wrang.

      Langs Latoya sit sir Sherman Wilberforce, “die meesterbouer van gastronomiese netwerke”, wat Latoya skynbaar eindeloos irriteer. Hy is druk besig om almal aan sy tafel te vermaak met ’n selfingenome monoloog en ratse handgebare. Hy ignoreer Latoya, sy groot arms flap voor haar gesig verby. Greta glimlag, heimlik dankbaar sy het nie daar beland nie.

      “Moet ons eerder Engels …” vra sy aan haar sjarmante tafelgenoot.

      “Nee, nee. Asseblief. Ek probeer die taal praat van elke land wat ek besoek.”

      “Ek skryf ’n kosblog, en jy?” waag sy met nuwe selfvertroue. “En as ek behoort te weet wie jy is, vra ek om verskoning …”

      “Relax. Ek’s nobody. Net die sjefs, handelaars en verspreiders ken my. Ek werk behind the scenes. ’n Soort … uhm … hoe sê … konsultant.”

      “Deel jy dan advies uit?”

      “Nee, ek guide. Ek influence. Smaakgiere.


Скачать книгу