Rooi haring. Schalk Schoombie

Читать онлайн книгу.

Rooi haring - Schalk Schoombie


Скачать книгу
as “’n gevonde stuk gereedskap uit ’n vorige era” in ’n onhebbelike duur oudhedewinkel – skynbaar afgetree.

      Toe word die voorraad verkoop en die byl reis opnuut van hand tot hand tot in die mynkampongs van Johannesburg, waar dit die rondte gedoen het om tientalle dronktwiste te besleg. Kap!

      In die laaste dekade van die onrustige eeu het die moedswillige instrument in besit gekom van ’n gewoontemisdadiger wat dit gebruik het om sestien mense van wisselende ouderdomme, rasse en beide geslagte te versend.

      Sy handelsmerk was om die tong en neus van sy slagoffers af te sny.

      Die reeksmoordenaar is vasgetrek voor hy sy sewentiende slagoffer, ’n bejaarde albino, van kant kon maak, gevang en lewenslank gevonnis. Nou ja, hoe lank is lewenslank? Vyftien jaar?

      Sy wapen, die veelsydige klein handbyl, is nooit gevind nie.

Tydloos

      3

      Die uitnodiging arriveer in ’n goue koevert, met haar naam voluit geskryf in groen sierskrif en per hand afgelewer deur ’n vriendelike jong man in wit oopnekhemp, vlootblou baadjie en verbleikte jeans. Sy puntskoene (swart slangvel?) is blinkgepoleer. ’n Slegte ou gewoonte van haar, kyk iemand van kop tot toon, van kapsel tot skoen.

      Greta Burger kan voel sy bloos in haar lang nek af tot in haar hals toe sy die kêrel se koel hand skud. Hy stel homself voor as Wickus Gericke.

      “Aangenaam. Meneer Swiegers sal u teenwoordigheid by die opening van sy nuwe restaurant hoog op prys stel,” resiteer hy in ’n welluidende stem, nes ’n outydse akteur.

      “O, dankie … dis onverwags.”

      Soos gewoonlik wanneer sy oor ’n mooi man troon, selfs in haar platste skoene, knak sy haar linkerknie en draai haar kop skuins in ’n onbewuste poging om korter te lyk. Haar spotnaam op skool skroei steeds ná sowat twee dekades as volwassene: “Kameelperd!” “Langeraad se niggie!”

      Dis die eerste ding wat mense van haar raaksien, haar lengte. Dalk haar effense geboënheid, haar skugterheid. Dit skrik party mans af. Maar as mense dieper sou kyk, sou hulle sien sy’s eintlik ’n ratel, taai en trots. ’n Mol dalk, sy kan haar ingrawe in enigiets: navorsing, ’n lywige boek, ’n moeilike resep, ’n rekenaarkursus. Sy dink op haar voete, al is dit in platsoolskoene.

      “Mejuffrou Burger! Ons, meneer Swiegers en ek, sal baie bly wees om jou aan sy tafel te verwelkom. Daar sal tien tafels wees met vier gaste elk, Baie Belangrike Genooides op die aand.” Sonder ’n sweem van ironie, dink sy verwonderd.

      Sy het die sommetjie onwillekeurig vir haarself voltooi: vier per tafel … wat seker Hartman en sy metgesel insluit, die aantreklike jongeling wat haar so laat bloos met sy sensuele handdruk … 38 gaste; in totaal 40 mense vir aandete.

      “Antwoord asseblief binne drie dae, ag sommer direk aan my, per telefoon of e-pos. Tyd wag vir niemand nie, nè?”

      Greta verluister haar aan sy sonore stem, byna te diep vir iemand met so ’n oop, plooilose gesig, soos ’n baba met ’n megafoon. Sy moet haar inhou om hom nie te vra hoe oud hy is nie. Sy weet sy hou haarself te dikwels terug. En hy kan dink sy lê aan. As baie verleë Baie Belangrike Genooide kan sy nie haar nuutgevonde status en goue uitnodiging so weggooi nie. Daarvoor is sy te aartsnuuskierig. Sy skat hom so 26.

      “Ek aanvaar … ek bedoel … kan ek sommer nou …?”

      Greta kon voel sy gaan begin stotter, sy was altyd beter met die geskrewe woord.

      “Natuurlik kan jy!” lag Wickus en knipoog. “Dis hoe dit al heeldag gaan. Mense aanvaar nog voor hulle die koevert oopgemaak het! Ken ’n goeie ding as hulle dit sien!”

      En met dié guitigheid draai hy om en trippel die trappies af, die ene besige boudjies, selfbewuste tred en wipkuif (blond) van ’n model. Hoe bly hy so viets en vaartbelyn as hy gevoer word met Hartman Swiegers se vrygewige boereporsies?

      Greta skeur die goue koevert oop met vingers wat liggies bewe, skoon lighoofdig.

      Sit aan vir ’n vyfgangmaal saam met Hartman Swiegers.

      Kom vier die terugkeer van gesonde troetelkos.

      Waar: Tydloos, Die Wilgers.

      Wanneer: 18:00 vir 18:30, Vrydag 13 November.

      Drag: Formeel.

      Sou haar swart mini haar bene te lank laat lyk? Kan sy dit waag om haar hakke aan te trek? Sou dit ander gaste intimideer? Hang af hoe opvallend sy wil wees.

      Hou op om heeltyd ander eerste te stel, hoor sy al haar tant Geitjie berispe. Stel jouself eerste!

      Greta streel die gladde greinerigheid van die papier, lees die sierskrifwoorde ’n tweede keer. Nee, sy het dit tog nie misgelees nie.

      Interessant dat sy nie saam met ’n metgesel genooi word nie … al is sy seker alombekend as trotse alleenloper. (Gehate konsep: oujongnooi.) Sou dit geld vir al die ander genooides ook? Indien wel, sou dit ’n ongewone affêre wees, slegs enkelinge aan tafel, almal vreemdelinge. En dit terwyl die gasheer saam met sy metgesel aanwesig is.

      Sy probeer haar die toneel voorstel, keurige ryk kosse en enkelinge wat mekaar dophou terwyl hulle proe en kou, hul gasheer komplimenteer met sy kreatiwiteit en goeie smaak.

      Wie sou die ander genooides wees?

      Vroeg die volgende oggend terwyl Greta haar joga-oefeninge met diep asemteue deurwerk, die styfheid uit haar lyf strek op haar oefenmat langs haar bed, kry sy die bewerasie.

      ’n “Gevoelente” soos tant Geitjie dit stel. Die woorde daarvoor wil nie aanmeld nie. ’n Vae onrustigheid.

      Op Classic FM spoel die soet-treurige note van Beethoven se hobokonsert in F-majeur lieflik en langsaam uit, die largo-beweging, golfies op ’n windgestreelde Nordiese meer. Iets wat sy nog nooit gehoor het nie, glo ’n komposisie wat volgens die omroeper eers ná Beethoven se dood gevind is en van ’n fragment af gerekonstrueer is. ’n Komposisie van verlatenheid.

      Oorblyfsels, peins sy. Memento mori. Genetiese skerfies, afdrukke van onsself. Wat van ons oorbly nadat ons die vertrek verlaat het. ’n Walm parfuum of sigaretrook. ’n Duik in ’n dubbelbed wat ’n lyf se vorm verraai. Dowe Beethoven se welklinkende klawerspel. Iets troosteloos en onsigbaar soos ’n spook in die hoek van ’n bedompige kamer.

      Maar dis nie onsigbaar nie, besluit Greta, oorblyfsels vorm tog die basis van die forensiese wetenskappe waarmee skurke vasgetrek en kriminele misdrywe besweer word. Elke haar, vingerafdruk en sandkorrel vertel ’n storie en laat ’n verdoemende spoor wat na die oortreder lei.

      Greta koop te veel boeke. Op 37 besef sy hulle is nou haar intiemste vriende. Sy staan dikwels voor haar boekrak en streel oor geliefde titels wat sy wil herlees. Indien sy één moes kies om na ’n eiland saam te vat (al kan mens deesdae honderde boeke op ’n Kindle saamvat), sou dit Umberto Eco se The Name of the Rose wees. Of AS Byatt se The Children’s Book. Miskien tog Orhan Pamuk se ongewone speurroman, My Name is Red, waarin ’n menigte vertellers aan die woord is: ’n lyk, ’n hond, ’n boom, die moordenaar, selfs die Dood kry ’n oortuigende stem en perspektief. Soms verbeel sy haar die voorwerpe in haar huis hou haar dop met koue, ongenaakbare oë, ooggetuies van haar eensame bestaan.

      Boeke is nou nader aan haar as vriende of familielede, besef sy.

      Sy geniet twee soorte leesstof: kookboeke en speurverhale (die outydse soort). Sy’s geen foendie nie, net ’n aanhanger. Maar sy leer obsessief by haar gunstelingskrywers, die fiktiewe speurders wat skynbaar onoplosbare sake met bomenslike vernuf kan oplos.

      Resepte is kenmerkend van beide soorte literatuur. Kosboeke bied resepte wat, indien jy dit stap vir stap en versigtig volg, lei na ’n voorspelbare uiteinde – hopelik ’n eetbare, selfs heerlike gereg. Speurverhale volg weer ’n resep van laakbare misdaad, moordondersoek, ’n rits verdagtes en leidrade, ’n eksentrieke baasspeurder met ongewone metodes (en dalk ’n drankprobleem of selfverwyt), langs ’n roete besaai met leuens, misleiding en


Скачать книгу