Kamikaze. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.by ’n inspekteur gekry om van die skedule 6-medisyne wat verval het, ontslae te raak.”
“Whatever.” Sy hou haar hande voor haar uit om haar skelrooi naels te bestudeer.
In die truspieëltjie merk Claus weer die motor wat al van die huis af agter hom aan ry. Hy draai links by die robot op die M3, maar die motor bly op sy hakke. Sweet begin pêrel dadelik op sy voorkop.
Hy is verlig toe die motor aftrek en by ’n kafee stop. Shit, gaan hy van nou af gedurig sulke onnodige stres op homself plaas?
Sedert gisteraand is sy gedagtes net by die polisie. Hy’t beswaarlik ’n oog toegemaak. Die Pion se sogenaamde kontakman bekommer hom ook. Kan hulle die bliksem vertrou om stil te bly?
Hy kyk na Macy. “Sê weer vir my hoe ken jy hierdie kontakman?”
“Nelis Vermeulen?”
Hy knik.
“Jy luister ook altyd met ’n halwe oor, darling! Hy was mos in my begindae by die Blue Night een van die beste kliënte daar.” Sy giggel. “Ek moes byna elke aand vir hom ’n lap dance gee.”
“En hoe’t dit nou weer gekom dat hy jou van die Pion vertel het?”
“Jy onthou mos daai stalker van destyds? Elke aand by my kamer in Wynberg rondgehang en my club toe gevolg. Ek het Nelis van hom vertel. Toe sê Nelis hy ken ’n professional hit man wat die stalker kan uithaal, maar hy twyfel of ek genoeg geld sal hê. Die ou se dienste was toe al expensive. Iets soos vyftigduisend, as ek reg onthou.”
“En toe?”
Sy trek haar skouers op. “Nelis het sy business card vir my gegee, maar ja, ek het nie genoeg pitte gehad nie. Lucky vir ons hou ek mos als. As dit nie vir daai business card was nie, was jy en Brian nou nog senuweewrakke oor Fred Smuts.”
“Wat presies doen dié Nelis nou weer vir ’n lewe?”
“Hy’s ’n grootkop by ’n security firm of iets. Hy was glo in sy jonger dae ’n poeliesman in Port Elizabeth.”
“Goeie wetter, Macy! ’n Fokken polisieman! Dit het jy nooit vir my gesê nie!”
Sy lag. “Relax, darling. Dis nie goed vir jou hart om jou so op te wen nie. Daai pompie werk al klaar oortyd.”
Claus vryf agter oor sy nek waar die hare penorent staan. “’n Polisieman …” prewel hy verslae.
10
Kolonel Donald Daniels tuur peinsend na sy kantoor se plafon terwyl hy op Kassie wag. Sy gedagtes gaan terug na destyds toe hy bevelvoerder van die Nuweland-stasie geword het. Hy onthou goed hy was nie juis beïndruk met die vaal spannetjie speurders wat hy geërf het nie. En veral nie met Kassie Kasselman nie.
Kassie was veronderstel om die golden boy van die spul te wees, volgens sy personeelrekord en die vorige bevelvoerder se verslag. Maar net geoordeel na sy uiterlike het Daniels ernstige voorbehoude gehad – Kassie se slordige voorkoms en bedeesde houding was eenvoudig nie versoenbaar met dié van ’n bobaasspeurder nie. Hy het Daniels ook te veel herinner aan sy loser van ’n swaer, ’n smous van matskoonmaakmiddels. Boonop het hy gehoor hoe Kassie se kollegas onderlangs spot oor sy beheptheid met posseëls en boeremusiek – nie eintlik buitemuurse aktiwiteite wat Daniels met ’n sogenaamde topspeurder vereenselwig nie.
Maar gou moes hy sy siening oor Kassie verander. Onder daai fasade van onbeholpenheid is daar ’n vlymskerp brein, het hy vinnig uitgevind. Ook ’n ysere wil om selfs die moeilikste saak op te los.
Daniels en Kassie het al dikwels koppe gestamp oor die manier waarop Kassie sake hanteer – beslis nie altyd volgens die SAPD-reëlboek nie – maar hy moes talle kere toegee dat die Kassie-metode beter resultate lewer as dié van die handboekspeurders. Kassie het ’n ingebore flair om misdaad uit te snuffel op plekke waar ander speurders nie eers sou dink om te gaan ruik nie.
As hy doodeerlik moet wees, dink Daniels, is Kassie se suksesse die enigste rede waarom die Nuweland-polisiestasie vyf jaar agtereenvolgens as die beste eenheid in die Wes-Kaap aangewys is. Dit het weinig met Daniels se bevel hier te doen – maar dit sal hy natuurlik nooit hardop erken nie.
Daniels glimlag. Hoeveel keer moes hy nie al cover vir Kassie se slordige voorkoms nie? Brigadier Filander, die streeksbevelvoerder, brom steeds elke nou en dan daaroor. En ’n generaal het op ’n keer amper ’n koronêr geskiet oor Kassie se kleredrag, wat volgens hom “die beeld van die SAPD in die openbare oog ernstig skaad”.
Maar Daniels het vrede gemaak met Kassie se klere. Hy sien nie meer die verweerde rooi windjekker raak wat Kassie dagin en daguit dra nie. Ook nie die hoogwaterbroeke, wit sokkies en nerfaf skoene nie. Dis hoe Kassie aantrek en basta met die res.
Trouens, Daniels vermoed dat Kassie se voorkoms, gekombineer met sy deur-die-kak-houding, ’n belangrike kompeterende voordeel vorm. Misdadigers wie se paaie syne kruis, onderskat hom hopeloos. Saam met sy handlanger, Rooi Els – self nie die mees intimiderende karakter met sy sproetgesig en kort, oorgewig lyfie nie – lyk hulle nie na ’n duo wat misdadigers se broeke laat bewe nie.
Een van Kassie se goeie eienskappe, uit ’n bevelvoerder se oogpunt, is dat hy nie ’n moaner is nie. Dis iets wat Daniels nie altyd van sy ander personeel kan sê nie. As hulle nie kerm oor salarisse en werksure nie, trap hulle sy kantoor se mat voos oor bevordering wat hulle glo hulle toekom. Kassie het nog altyd sy gat aan sulke goed afgevee. Hy doen sy werk sonder allerlei eise.
Maar nou hoor Daniels fluisteringe dat Kassie hom by die moaner crowd aangesluit het. Cliffie was selfs anderdag hier om daaroor te praat. Eers het Daniels gedink Cliffie is maar net weer jaloers op Kassie, dat dit net nog een van sy pogings is om die golden boy se gat by die baas toe te steek. Maar toe maak Da Silva ’n soortgelyke opmerking oor Kassie. En Felicity, Daniels se sekretaresse wat altyd alles van almal weet, het vroegoggend dieselfde boodskap oorgedra: Kassie is gatvol vir die polisie en hy verkondig dit wyd en syd.
Waar daar ’n rokie is, is daar ’n vuurtjie, glo Daniels. En dis die rede waarom hy Kassie nou onder vier oë wil spreek. Want die Vader alleen weet, die SAPD – of meer spesifiek, Daniels en die Nuweland-polisiestasie – kan nie bekostig om iemand van Kassie se kaliber te verloor nie. Daan fokken Nolte het reeds met sy onbesonne skietery van ’n onskuldige man ’n moerse klad op die stasie se rekord geplaas. Nou moet Kassie nie ook nog kom neuk nie.
Daniels kyk op toe Kassie in die kantoordeur verskyn en oudergewoonte oor sy platgeroomde hare vee. Hy moes vanoggend ekstra room gebruik het, want sy dos lyk kompleet soos ’n swempet wat styf oor sy skedel getrek is. Daniels beduie vir hom om te sit.
“Ek en Rooi sou … kolonel nog kom sien het oor die Smuts-saak …” begin Kassie.
Daniels skud sy kop. “Dis nie waaroor ek met jou wil praat nie.” Hy trommel liggies met sy vingers op die lessenaar. “Ek hoor rumours oor jou, Kassie.”
“Rumours?”
“Ja. Rumours waarvan ek nie hou nie. Hulle sê dit lyk of jy unhappy is. Jy kritiseer die SAPD glo heeltyd.”
Kassie se gesig verkleur effens. “Ek het nie geweet kolonel steur kolonel aan rumours nie.”
“Gewoonlik nie, maar te veel mense het nou al vir my gesê jy’s deesdae buitengewoon uitgesproke oor die polisie se fokops.”
“Wel, dis moeilik om dit deesdae mis te kyk. Ek gee maar net my mening.”
Daniels leun vorentoe in sy stoel. “Wat my veral hinder, is dat jou uitsprake effens rassisties voorkom. Asof ’n polisiediens met ’n hoofsaaklik swart topstruktuur nie in staat is om ordentlike werk te doen nie.”
Kassie skud sy kop driftig. “Die polisie maak nie droog omdat hulle topstruktuur swart is nie, kolonel, hulle jaag aan omdat hulle vrot polisieamptenare is. Dis nie ’n swart-wit-ding nie, dis ’n vrotpolisie-ding.”
Daniels sit stomverslae na hom en kyk.
“Kolonel moet my asseblief verskoon,”