Kamikaze. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.met ’n taxi na ’n huis in die Bo-Kaap, waar hy vir ’n volle drie dae agter geslote deure vertoef het. Toe is hy weer vort lughawe toe, en het van daar af ’n vlug na Indië geneem.
Die huis in die Bo-Kaap behoort aan Suleiman Khan. Daar is nie veel bekend oor hom nie, behalwe dat hy ’n Suid-Afrikaanse burger sonder ’n kriminele rekord is, binnekort vyftig jaar oud word en ongetroud is.
En Khan kom nooit uit sy huis nie, het Moos die afgelope drie en ’n half weke agtergekom. Hy kry ook nooit besoekers nie, behalwe die vrou wat op Vrydae kruideniersware by sy huis aflewer en gewoonlik nie langer as tien minute bly nie.
Dis sieldodende werk om die huis veertien uur per dag dop te hou. En Moos is nog niks wyser oor Khan nie, wat frustrerend is vir iemand wat vinnig sy merk as ’n gerekende geheime agent wil maak. Sy status as junior veldagentjie staan hom eenvoudig nie aan nie.
Maar sy geduld sal weldra beloon word, sê Moos elke oggend vir homself as motivering wanneer hy die Golf aansluit.
Vanoggend is geen uitsondering nie. Hy maak eers keel skoon.
“Jou geduld sal beloon word,” sê hy, druk sy bril hoër op sy neusbrug en trek rukkend weg – ’n gevolg van die Golf se defekte koppelaar.
2
’n Telefoonoproep het kaptein Kassie Kasselman nuut laat dink oor sy loopbaan.
’n Lewe sonder die polisie was voorheen vir hom ondenkbaar. Sedert hy drie-en-dertig jaar gelede as neëntienjarige by die Diens aangesluit het, wou hy in geen stadium by ’n ander plek werk nie.
Hy was nog altyd ’n trotse en lojale speurder, gevorm en gebrei deur die SAPD. Hy is dankbaar teenoor die Diens, en hy’t deur die jare walgegooi as iemand sy werkplek kritiseer. Selfs toe ’n klompie hoë Wes-Kaapse offisiere, insluitend die kommissaris, in die onlangse tyd aangekla is van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery, het hy lojaal gebly.
Toegegee, daar is slegte appels in die polisiekissie, het hy aan sy filatelie- en boeremusiekgildevriende gesê, maar hy moet beklemtoon dat die meerderheid van sy kollegas uitstekende werk doen, en onderbetaal boonop. Hulle eie veiligheid word áltyd ondergeskik gestel aan die groter saak: om die burgers van die land teen misdaad te beskerm.
Twee weke gelede kry hy toe uit die bloute ’n oproep van ’n oudkollega. “Neem jou tyd, Kassie, en laat weet my oor ’n maand of so van jou besluit,” het Frans Terblanche hul uur lange gesprek afgesluit.
Sedertdien hou daardie verdomde oproep Kassie uit die slaap.
En dis ook heel moontlik die rede waarom hy nou met kritiese oë na sy werkgewer kyk. In die verlede het hy nooit die jaarlikse misdaadstatistiekverslag gelees nie, ook nie die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat se jaarverslag nie. Hy’t maar altyd net gefokus op die werk wat hulle hier by die Nuwelandstasie doen. Negatiewe mediaberigte oor die polisie het hy ook doelbewus vermy. Nie bevorderlik vir die moraal nie, het hy geglo.
Nou kyk hy gesteurd na sy kollegas wat voor sy lessenaar saambondel, elkeen met ’n beker koffie in die hand. Sersant Rooi Els, sy sidekick van die afgelope agt jaar, en kapteins Cliffie Arendse en Mario da Silva.
“Kassie, vertel bietjie vir die manne wat jy gister vir my vertel het,” sê Rooi. “Oor hoe kak ons nóú is.”
“Lees julle nie die koerante nie? Die jongste misdaadstatistiek? Opod se jaarverslag?” vra Kassie vies.
Hy is nie nou in die bui om alles te herhaal nie. Buitendien voel hy bietjie soos ’n Judas om daaroor te praat.
“Dis nie nodig dat óns dit doen nie,” sê Da Silva met sy alewige wisecrack-glimlag. “Jy’t dit mos gelees.”
“Sjarrap, Da Silva,” sê Rooi. “Stop jou kakpratery. Dis ernstige goeters dié.”
“Oukei, oukei, nie nodig om ’n fit van office rage te vang nie,” kap Da Silva terug.
“As julle die moeite gedoen het om dié goed te lees, sou julle geweet het die publiek het deesdae maar bleddie min vertroue in ons,” sê Kassie. “Amper fokol, om dit sagkens te stel.”
Da Silva grinnik. “Jy klink nou soos kolonel Daniels wanneer sy aambeie hom hel gee.”
Rooi gluur hom aan. “Jissis, Da Silva!”
Da Silva ignoreer hom. “Dit geld dalk vir die publiek in die res van die land, maar hier in die Wes-Kaap doen ons die dinge nog reg.”
Kassie skud sy kop. “Die Wes-Kaapse polisie was die afgelope jaar verantwoordelik vir die meeste klagte van aanranding, verkragting en die rig van ’n dienswapen. Volgens opnames het byna die helfte van die Wes-Kaapse publiek boggherol vertroue in ons.”
“Genuine?” sê Cliffie.
Kassie knik. “Ons is ook tweede in die land met korrupsie en ons is laks om sake aan te meld. Ons reaksietyd ná die aanmelding van ’n misdaad is die kakste in die geskiedenis, en ons verloor of steel wapens asof dit die nuwe tydverdryf is. Ons word ook gekap oor patetiese ondersoekwerk en die swak insameling van forensiese bewyse.”
Cliffie frons. “Ek’t nie besef dit gaan só sleg nie. Wat sê hulle is die rede?”
Kassie haal sy skouers op. “Volgens die media kan dit toegeskryf word aan swak bestuur op senior vlak, mense wat uit hul diepte is. Ook ’n gebrek aan werklike spesialiste en ’n te groot werkslas. Ons is onderbeman. Die nasionale gemiddelde van driehonderd lede van die publiek vir elke polisiebeampte is klaar hoog, maar in ’n plek soos Mitchells Plain is daar amper duisend mense vir elke beampte. Nie ’n wonder daar word gemiddeld vyftig mense per dag in die land vermoor nie, en dis veral in die plekke wat die ergste onderbeman is.”
“Shit!” Cliffie fluit deur sy tande. “Is dit nou al vyftig?”
“En wat’s daai stats oor die speurders nou weer?” vra Rooi.
“Ons hanteer drie keer meer dossiere as die internasionale gemiddelde,” sê Kassie en kyk kwaai na hom. “Wat my daaraan herinner dat ek en jy ’n moerse klomp onafgehandelde dossiere het. Tyd dat ons iets daaraan doen.”
Hy trek die pak dossiere op sy lessenaar nader en beduie vir die ander die koffiekonferensie by sy lessenaar is verby.
Hy tel die eerste dossier van die hoop af op. Ná ’n paar paragrawe moet hy van voor af begin lees. Die verdomde oproep wil nie uit sy gedagtes wyk nie, dit klou soos stront aan ’n wolkombers.
* * *
As hoofbestuuder en mede-eienaar van Prins Pharmaceuticals het Claus nie nodig om soos sy werknemers stiptelik halfnege by die kantoor aan te meld nie. Buitendien is Ivan daar om ’n ogie te hou.
Al is dit skaars tienuur, gooi Claus vir hom ’n stewige dop whisky en twee blokkies ys in ’n kristalglas. Hy stap van die kroeg na die sitkamer en plof op ’n rusbank neer. Rangskik eers sy japon só dat dit sy kaal maag bedek. Hy wil homself nie nog daaraan herinner dat hy hopeloos oorgewig is nie.
Hy het genoeg ander bekommernisse.
Of dalk is dit ’n bietjie oordrewe. Eintlik één groot bekommernis.
Die Pion.
Hy het aaklige nagmerries oor die man gehad, en vanoggend voel hy steeds bewerig. As dié storie backfire, is dit nie net die einde van Prins Pharmaceuticals nie, maar ook van hom, sy vennote én Macy.
Dis hoekom hy Brian Beukes, die mede-eienaar, vanoggend na sy huis laat kom het.
Brian stap met gekromde skouers van die kombuis af in, ’n beker koffie in die hand. Hy gaan sit op die bank oorkant Claus, langs Macy, wat vanoggend in haar skrapse gimklere besonder verleidelik lyk. Sonder haar oordadige grimering lyk sy jonger as haar amper veertig jaar.
Brian trek sy klein mondjie op ’n punt en blaas in die stomende beker terwyl hy vlugtig na Macy se kaal bene kyk.
“Hel, Claus, ek voel nog steeds ongemaklik,” sê hy. “Was ons nie bietjie