Buller se plan. Ingrid Winterbach
Читать онлайн книгу.bome wat snags hulle klein vonkies soos vuursteen skiet. Die kerkplein is omring van groot plataanbome, en ’n paar blokke verder op, verby die Dorpskafee, steeds in die ouer deel van die dorp, maar aan die teenoorgestelde kant as Antie Rose se huis, langs die grootpad uit die dorp op pad wes, vind Ester die Gemoedsrus Kamers. Sy onthou die plek omdat sy eenkeer op pad Kaap toe hier oornag het.
Op die ontvangstoonbank is ’n foto van die eienares se seun in volle polisie-uniform waar hy een of ander polisietoekenning ontvang – waarskynlik ’n medalje vir uitsonderlike dapperheid in die aangesig van dreigende gevaar. As dinge verkeerd gaan, sê die eienares (die trotse moeder), bel sy hom net, en hy is onmiddellik hier. Hier slaap ons rustig snags, sê sy, al gebeur daar wat ook al in die dorp. En daar gebeur deesdae, sê die mevrou – en sy swyg betekenisvol, en hou haar hande ’n paar oomblikke lank met dokumente en papiere besig, en haar oë dramaties neergeslaan – verskriklikhede in die dorp en die omgewing. Sy slaan haar oë op (ysblou): Verskrikkinge, barbaarshede, sê sy, soos in die res van die land. Sy en Ester kyk albei af. Albei het hulle eie voorstelling van hierdie verskrikkinge en barbaarshede.
Die kamers is in ’n L-vorm gebou op ’n groot vierkantige perseel. By die ingang is ’n hek met ’n wawiel. Daar is ’n enkele aalwyn in die een hoek van die groot vierkant met gruisklippies. Verder nie ’n blom of struik nie. ’n Smal, oop sementstoep voor die kamers. ’n Eetkamer grens aan die ontvangskamer, en ’n televisiekamer met gemakstoele en ’n tafeltennistafel in die een hoek lei uit die eetkamer. Die eienares bied ontbyt en aandete aan, en die gaste is te alle tye welkom om in die TV-kamer te ontspan of ’n potjie tafeltennis te speel.
In Ester se kamer is twee enkelbeddens, ’n bedkassie tussen die twee beddens, ’n tafeltjie en stoel, en ’n Bybel, geskenk deur die Gideoniete, op die bedkassie. Die venster kyk uit op die oop vierkant. Die gordyne is oranje en geel puntige, abstrakte vorms wat sy met ’n 1950-styl assosieer. Teen die een muur hang ’n foto van ’n seilboot op ’n meer. Die badkamer is ruim met ’n sementvloer en ’n groot bad.
Sy drink ’n koppie tee in die Dorpskafee, langs die vooringang van die kerk, waar sy en Boeta die oggend ontmoet het. Sy sit langs ’n nagemaakte plant in die hoek met groot groen blare sonder huidmondjies.
Op pad terug na Antie Rose se huis kom ’n man by haar verby met ’n vel van ’n donker ebbehoutbruin skakering en gelooide klere van dieselfde kleur. Hy stoot ’n supermarkwaentjie wat hy klaarblyklik vir sy eie gebruik toegeëien het. Daarin het hy ’n onidentifiseerbare versameling rommel: meesal karton en draad en iets wat lyk soos ’n enorme opgerolde skilderdoek. (’n Verloopte skilder – ’n verbete meneer Van Gogh – met sy waentjie op pad na Tarascon.)
Vriende en familie wat van ver gekom het, oornag vannag in Antie Rose se huis want die begrafnis is môre. Die vorige nag is daar vir Selene Abrahamson ’n lykwaak gehou, maar daarvoor was Ester en Boeta nie betyds nie.
Sy weet nie hoe lank Boeta wakker wil bly nie; hy slaap waarskynlik vanaand hier. Ester twyfel of sy vanaand die geleentheid sal kry om met Fonny te praat. Daar sit mense in die sitkamer (Boeta lê nie meer op die een rusbank nie). In die kombuis is die vroue besig met die kos – stomende potte kerrie en rys en varsgebakte brode, tamatie- en ui- en gevormde beetslaai.
Boeta sit by die kombuistafel in die hoek. Hy sit met sy kop in sy hande, afgesluit van die doenigheid om hom. ’n Koppie koffie, ’n glas wyn en ’n bord kos staan onaangeraak voor hom.
Ester gaan buitentoe waar mense op tuinstoele sit; op die twee groot tuintafels is wit tafeldoeke en kerse wat effens in die wind fladder. Jonah Voorsanger sit nog steeds waar hy gesit het; twee uur lank solied gedrink, daarvan is sy seker. Aan die een kant van Jonah, sien Ester, sit Bennie Potgieter, die Wonderkind, en hy eet soos ’n larwe, hy eet met neergeslane oë, hy keer hom wég van die geselskap. Hy is op hierdie oomblik met swygende oorgawe ingestem op sy orale bevrediging, sy sku mond beweeg soos die wurm se blinde monddele. Hy werk stelselmatig die geurige kerrie na binne, hy skeur en verorber die sagte vlees van die warm brode. Sy groot, sagte lyf swel tot steeds omvangryker proporsies. Hy hoor net die stem van Jonah Voorsanger – dit is die enigste stem wat hy op hierdie oomblik toelaat om tot hom deur te dring. (Ten spyte van hierdie vermoë om stemme na willekeur uit te doof, het die Wonderkind ’n bewonderenswaardige oor vir dialoog.) Jonah Voorsanger is besig om die dorpe op die Oos-Rand in terme van Dante se Divina Commedia te ontleed – Brakpan en Boksburg beskryf hy as sirkels van die hel.
Bennie Potgieter se vader het ’n garage op die dorp. Sy moeder het ’n haarkappersalon. Sy oupagrootjie is nie die veldkornet Potgieter nie wat die beledigende boodskap aan Sikobobo gestuur het waarin hy hom en sy mense as hoenderluise bestempel en hulle uitgedaag het om na Holkrans te kom en hulle vee te vat voor almal opgeëet is. (Sikobobo het die uitdaging op tradisionele Zoeloemanier aanvaar. Hy het Potgieter op 6 Mei 1899 aangeval. Die Zoeloes was gewapen met gewere en assegaaie. Altesaam 56 Boere is gedood en 3 gewond, en 380 beeste is teruggeneem; 52 Zoeloes is gedood en 48 gewond.)
Bennie se oupagrootjie was een van die manskappe in generaal Christiaan de Wet se geselskap wat met hom in die Roodeberge geskuil het en weer daarvandaan ontsnap het. Hy is een van dié wat gesien het hoe die agtergelate waens in vlamme opgaan. Hy was toe sewentien jaar oud (hy is gebore in 1884). Hy het gebrand van patriotisme en vurige bewondering vir De Wet. Maar teen die tyd dat die waens in ligte laaie op die swartgebrande veld gestaan het, was selfs sý jeugdige geesdrif geblus. Hy wou huis toe gaan en behoorlik eet en behoorlik rus en ’n vrou vat. Sy geslag was rou (van ruwe behandeling) en daar was luise in sy klere. Twee van sy broers was ook daar (een het later vir Eugène Marais in die Waterberge ontmoet). Bennie se oupagrootjie was een en dertig jaar oud toe Bennie se oupa gebore is in 1915. Bennie se oupa was drie en twintig toe Bennie se pa in 1938 gebore is. Bennie se pa was agt en twintig toe Bennie in 1966 gebore is. Bennie is sy enigste oorlewende seun. Bennie het ’n ensiklopediese geheue; op driejarige leeftyd kon hy vlot uit die Bybel voorlees; hy het geen probleem om enige feite, hoe kompleks ook al, blitsvinnig te absorbeer en met ander feite in verband te bring nie. Sy algemene kennis is indrukwekkend.
Jonah Voorsanger (meester van die hiperbool) sê dat die dorpe aan die Oos-Rand al meer mense tot selfmoord gedryf het as Stalin se suiwerings. Hy sê dit is dorpe waar niémand met hulle sanity ontsnap nie. Boksburg, Benoni, Brakpan en Springs vlak naas mekaar, sê hy, vorm die eerste sirkel van die hel en die dorpe Westonaria, Germiston, Nigel en Randfontein vorm die tweede sirkel. In die derde sirkel val Blokhuis, Edenvale en Carletonville. Al hierdie plekke, dink Ester, is in haar kop ’n vermenging van geskiedenis en herinnering. Wat sy nie meer onthou nie, is verlore. Dit weet sy vanaand vir seker.
Jonah Voorsanger en geselskap sit regs teenoor Ester; die mense links van haar ken sy nie. Feitlik regoor haar sit ’n man alleen by ’n draadtafeltjie. Boeta het haar vertel dat hy ’n gewese minnaar van die dooie vrou was – sy weet nie tot hoe onlangs nie. Hy het ’n Engelse gelaatskleur en grys stoppels in sy kort hare en Ester onthou dat sy van Woodgate is. Hy drink heelwat. Een van die vroue aan haar linkerhand herken Ester as die populêre historikus Maria Mulder – ’n vrou met ’n hoë profiel, uitgesproke oor menige openbare aangeleentheid. Sy het bloedrooi hare tot by haar boude en sover Ester kan vasstel, drink sy ook stewig. Haar stem is diep en welluidend soos ’n klok en sy aarsel nie om dit te laat lui nie.
Aan die ander kant langs Jonah Voorsanger sit Braams du Buisson. Sy oupagrootjie het met generaal Piet Joubert teen die Engelse by Spioenkop geveg. Sy oupa was sekretaris van die Gereformeerde Sinode. Sy een oom het hom beywer vir die FAK en die Afrikanersaak. Sy oupa aan moederskant was ’n Gereformeerde predikant wat op sy eerste reis na Nederland per boot langs die kus van Afrika siek geword het en in ’n Rooms-Katolieke sendinghospitaal in sy vrou se arms dood is. Hy is in ’n tropiese gebied onder ’n tropiese bos begrawe (so het dit vir sy vrou gevoel) en sy het nooit van die skok herstel nie. Sy het haar mond nooit weer aan tropiese vrugte gesit nie, óf haar voet weer op ’n boot nie. In haar besit het sy altyd ’n foto gehad van haarself in ’n verkreukelde wit rok saam met twee Pigmee-vroue, hoewel sy nie kon onthou dat dit ooit geneem is nie. Braams se pa is prinsipaal van die hoërskool op die dorp. Braams versamel materiaal vir ’n boek oor wellusmoorde, waarvan die motief gewoonlik seksueel is en die slagoffers dikwels gemartel en vermink word.
Ester