Geliefde heler. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.uit die swembad, droog hom af en strek hom met ’n behaaglike sug op die lêstoel uit. Gelukkig kon sy ma en Daphne afsprake by die haarkapper in die dorp kry en sy pa het hulle met tant Merel se Mercedes soontoe geneem.
Hy moet oor ’n uur of so na Lood se spreekkamer gaan. Intussen geniet hy die warmte van die son op sy vel. Die sonskyn is een van die voordele van Suid-Afrika. In Europa is dit nou winter en bitter koud. Hier in die warm suide sal sy wit vel gou genoeg kleur kry.
Dié tyd van die jaar gaan hulle en Daphne gewoonlik na die suide van Frankryk of Spanje. Suid-Afrika sal vir hulle ’n heel nuwe belewenis wees.
Hy hoor iets agter hom en kyk om. Dit is Naomi, in ’n swart baaibroek en kort wit-en-swart jakkie, met ’n veelkleurige strandhanddoek oor haar arm gedrapeer. Hy kom orent.
“Dag.”
Sy lyk asof sy skrik. “Môre, ek het gedink julle is almal uit.”
“Nee, net die ander. Ek moet binnekort spreekkamer toe gaan, maar ek wou net eers afkoel. Ons klomp Kase is nog nie gewoond aan dié hitte nie.”
Sy glimlag vir sy grappie, maar bly staan, asof sy onseker is wat om te doen. Die jakkie is oop voor en die gedeelte van haar lyf wat sigbaar is, is slank met net die regte rondings. Haar bene is goed gevorm en sy is mooi sonbruin. Kyk hoe blink daardie hare. Sy is wragtig ’n lus vir die oog. Dit doen iets aan sy lyf. Nee, hy mag nie so reageer nie, betig hy homself streng.
“Moenie skaam wees nie, jy kan gerus kom swem,” terg hy. “Moenie dat ek jou keer nie.”
Sy bloos sowaar. Vinnig beweeg sy na die ander lêstoel en sit haar handdoek neer. Hy kan sien sy is selfbewus en dit amuseer hom. Hy kan die glimlag nie van sy gesig afhou nie. “Ek gaan die warm somer geniet terwyl ek hier is.”
“Ja, sonnige Suid-Afrika is seker lekker vir oorsese besoekers.”
Sy kyk nie na hom nie, trek net haar jakkie uit. Nou sien hy duidelik die slanke nek, die regop rug. Sy beweeg met die grasie van ’n danser. Dalk het sy op ’n tyd ballet geneem? Sy oë volg haar na die swembad. Sy duik in en swem met lang hale na die oorkant, draai en kom terug. Daphne sal nie sommer in ’n swembad duik nie; haar grimering sal afwas en sy is versigtig vir haar hare.
Naomi klim na ’n paar lengtes uit. Haar hare is vasgeplak teen haar kop en hang in nat slierte teen haar nek. Sy het geen grimering aan nie; haar nat wimpers koek saam. Sy is soos die Nereïde, die seenimfe in die Griekse mitologie.
Moenie verspot wees nie, Geert Bouwman, dink hy. Maar hy kan homself nie help nie. Hy staar na haar en sy word selfbewus. Hy kyk weg, maar loer sydelings na haar. Sy droog haar af, skud haar hare en vryf dit droog. Hy dink sy gaan sit, maar sy tel haar jakkie op en glip dit aan. Nee, sy wil vlug. Hy moet haar keer.
“Gaan jy nie eers sondroog word nie?” vra hy. “Jy sal ’n nat spoor in die huis los.”
Sy huiwer, kyk na hom – onwillig en nogal geirriteerd. So asof sy dink dis haar ruimte dié en hy verjaag haar. ’n Indringer wat dit vir haar kom bederf.
“Ag, goed, ek sal seker eers ’n rukkie in die son kan lê. Ek is vandag en môre af, nou ontspan ek.”
Sy trek weer die jakkie uit, hang dit saam met die handdoek oor ’n stoel en gaan strek haar ook op ’n lêstoel uit.
“Af?” vra hy. “Jy sê skilder is net ’n stokperdjie. Wat is jou nering dan?”
Sy draai haar kop en die groot donkerbruin oë kyk direk na hom. Dit laat sy polsslag effens versnel.
“Ek is ’n verpleegster by die Medihelp. Eintlik ’n teatersuster.”
Hy kyk verbaas na haar. “Teatersuster? Tante Merel het my niks daarvan vertel nie. As ek opereer, gaan ek jou seker daar teëkom?”
“Miskien.”
Sy is sowaar nie wat hy verwag het nie. Dit gaan lekker wees om haar daar te sien wanneer hy opereer. Veral as sy gaan assisteer. Sy maak haar oë toe en lê soos een wat slaap. Stokstyf en doodstil. Dit lyk nie asof sy lus het om te gesels nie. Sy gee hom beslis die koue skouer. Dis ’n vreemde reaksie. Miskien hou sy nie van hom nie. Waarom is sy so afsydig?
Een van die wit katte kom aangeloop. “Kietsie,” roep hy. Die kat is glad nie skaam nie en kom sommer dadelik nader vir aandag. Gelukkig is Daphne nie nou hier nie. Hy streel die dik pels dat die kat spin. “Pragtige kat.” Hy durf nie die ander woord gebruik nie.
Naomi reageer nie; lê net daar met toe oë.
Met ’n sug staan hy op. “Ek moet seker gaan. Terloops, jy kan gerus vanaand saam met ons eet. Mits jy nie ander planne het nie.”
Haar oë gaan oop en sy kyk na hom. “Ek … nee, ek …”
“Ag toe, ons sal jou nie opeet nie,” terg hy.
“Nou goed dan … Ek gaan nie vanaand uit nie.”
Aha. “Kom drink eers saam met ons skemerdrankies, so teen sesuur. En jy kan gerus môre ook saam met ons kuier.”
“Wel … mits ek nie uitgaan nie.”
Sy klink nie geesdriftig oor die uitnodiging nie. Wat is dit met haar? Wou sy dalk môre saam met ’n man uitgaan? Watter man is so gelukkig om haar te kry?
“Tot later dan,” sê hy.
“Tot later, dokter.”
“Ag nee, jy kan my gerus Geert noem.”
’n Klein fronsie keep tussen die mooi gevormde donker wenkbroue. “As jy wil … Geert.”
Hy glimlag en loop. Dit was omtrent nodig om ’n afspraak met haar te maak. Sy sou seker nie andersins vanaand haar gesig gewys het nie. Sy is soos ’n pragtige wilde katjie wat ’n mens moet vang. ’n Katjie wat sommer sal byt, en naels het wat terugtrek en soms uitkom om seer te krap.
Hy draai sy handdoek om sy onderlyf en loop met lang treë die huis in.
Hy sou darem graag nog ’n rukkie na haar wou sit en kyk.
3
Naomi trek ’n wit T-hempie, denimromp en plat sandale aan. Sy het gestort en hare gewas en stileer dit om blink en reguit tot op haar skouers te hang. Sy wend ligte grimering aan en dra silwer oorringe. Nie te sleg nie, Naomi, dink sy toe sy in die spieël kyk – maar jy gaan in elk geval afsteek by die blonde godin.
Nie dat sy enigiemand wil beïndruk nie.
Suzy Wong sit naby haar. Die kat lyk ongemaklik met haar groot magie. Sy kyk na Naomi. “Wat sien jy?” vra Naomi. “Lyk ek darem oukei? Jy moenie naby daai Daphne gaan nie, hoor. Sy gee reeds genoeg probleme. En pas op vir suur ou Jan-Karel. Hy hou nie van diere nie. Sê vir Ching Wong hy moet ook van hulle af wegbly, hoor.”
Sy kan sweer Suzy Wong lyk moedswillig. Asof sy te kenne gee dis mos haar en Ching Wong se huis dié. Waarom kan hulle nie gaan waar hulle wil nie?
Naomi kyk by die venster uit. Die klomp Nederlanders sit naby die swembad by ’n tafel waarop drankbottels staan, elkeen met ’n glas in die hand. Sy moet seker nou afgaan, langer kan sy dit nie uitstel nie.
Toe sy uitstap, sien sy dat sjef Dwayne doenig is by die braaiplek aan die punt van die stoep. “Braai jy vanaand vir ons?” vra sy glimlaggend.
“Ja, Naomi. Die mense wil ’n tradisionele Suid-Afrikaanse braai hê.”
“Gaan jy vir hulle poetoepap voorsit?”
Hulle kyk betekenisvol na mekaar en lag.
“Ek sal dit nie waag om sommer vir hulle straight pap te bedien nie,” sê hy saggies en knipoog. “Ek maak ’n paptert met kaas en groente.”
Naomi giggel saggies. “Heerlik. Dankie, Dwayne. Nou moet ek myself seker gaan oulik hou by die mense, en ek het nie juis lus vir hulle nie.”
Hy grinnik. “Hulle is ’n lekkerbekkige en veeleisende