Ys. Rudie van Rensburg

Читать онлайн книгу.

Ys - Rudie van Rensburg


Скачать книгу
Maartens nou hulle hoofverdagte, moes hulle in opdrag van die brigadier voortgaan om die ander beleggers te ondersoek.

      Die drie wat hy gaan sien het, woon onderskeidelik op Wellington, Malmesbury en Riebeek-Kasteel. Behalwe dat hy sy gat af moes ry, was dit ’n nuttelose oefening. Nie een het verdag voorgekom nie.

      Intussen wag hulle steeds op die vingerafdruk-vergelykings. Maartens se telefoonrekords sou eers laat vanmiddag beskikbaar wees, wat seker nie gebeur het nie, aangesien Colyn nog niks van hom laat hoor het nie.

      Dit lyk nie of die brigadier opgewonde is oor die Maartens-deurbraak nie. Toe Kassie en Colyn haar gistermiddag oor die verdagte ingelig het, was daar nie eens ’n flikkering van geesdrif in haar oë nie. “Kom ons wag maar eers vir die telefoonrekords en die uitslae van die vingerafdrukke voor ons begin feesvier. Vinnige afleidings is selde in die kol,” het sy op hulle batterye gepis.

      Kassie sug en tel nog ’n seël op, maar sit dit dadelik neer toe sy selfoon lui.

      “Jy was reg!” sê Colyn opgewonde. “Ek het nou net die telefoonrekords per e-pos gekry, sit al heelaand hier by die kantoor en wag.” Hy gee ’n laggie. “Maar dit was die moeite werd. Maartens het elke dag tot die Dinsdag na Dippenaar se kantoor gebel en toe nooit weer nie.”

      “Hy’s dalk ons man,” sê Kassie.

      “Al wat my effens gooi, is dat hy die Woensdagoggend ’n oproep van ’n algemene nommer van Dippenaar se kantoor gekry het. Die Saterdagoggend het hy ’n oproep van dieselfde nommer gekry. Tien minute later het die ontvangsdame die polisie van Dippenaar se direkte lyn gebel om sy dood aan te meld.”

      Kassie frons. “Dís vreemd. Dan moet ons weer met die ontvangsdame praat. Sy sal tog weet wie almal daai algemene nommer gebruik.”

      “Ek’t ook so gedink.”

      “As iemand anders op die Saterdagoggend by die kantoor was, moet die ontvangsdame mos daarvan weet?”

      “Dalk cover sy vir daai persoon?”

      “Klink al meer soos ’n komplot waarvan Maartens deel is,” sê Kassie.

      * * *

      Willie is bekommerd dat hy weens beperkte tyd ’n ondeurdagte besluit geneem het. Die Frankie Kriel-storie hinder hom. Hy kyk op sy horlosie. Oor ongeveer ’n uur vertrek Viking en Fortuin na die huis van Kriel se vrou. En van daar af is dit ’n onomkeerbare proses.

      Frankie kan volstrek weier om twee moorde te pleeg, al word hy groot geld belowe. Dit klink nie of die man ’n geharde krimineel is nie. As hy en sy broer oor ’n erfporsie gestry het, kom hy moontlik uit ’n welgestelde gesin en is hy dalk iemand met ’n goeie opvoeding. Sulke mense moor nie so maklik soos dom en gewetenlose boewe nie.

      Boonop kan die plan heeltemal ontspoor as Viking-hulle vannag opslip met Kriel se vrou en die polisie op hul spoor kry. En wie sê Kriel gaan môreoggend die storie glo dat sy vrou hulle gestuur het en gelate by twee vreemdelinge in die kar klim? Weier hy om dit te doen, sal Viking-hulle geweld moet gebruik, wat omstanders se aandag kan trek.

      Willie skud sy kop. Daar’s hopeloos te veel gate in die plan. Die slim ding sal wees om die hele storie nóú te kelder en na ’n meer geskikte kandidaat te soek. Twee dae is bleddie min tyd, maar hy gaan eerder sy gut feel vertrou en vir Viking bel …

      Toe hy sy selfoon optel, lui die landlyn in sy kamer. Dis MacArthur.

      “Is die plan op track, Willie? Ek werk hierdie kant my gat af om mense te swaai vir die wetswysigings. Maar daar’s nou ’n ander probleem … Althorp het gebel.”

      “Jou FBI-informant?”

      “Einste. My bleddie lêer het weer daar opgeduik.”

      “Ek dog dan dis saam met Donaldson begrawe? Dis wat Althorp jou laat glo het.”

      “Hy was verkeerd, die lêer was toe nooit saam met Donaldson op die vliegtuig nie. Dis nou by Ted Lipinsky – blykbaar ’n hardebaard. Hy was die leier van die FBI-groep wat ’n paar jaar gelede Irak toe is om hulle polisiemag te help oplei.”

      “Weet Althorp nie van iets wat mens teen hom kan gebruik nie? Onthou, ons het destyds ook gedink Althorp is onafpersbaar.”

      “Nee, Althorp sê hy’s skoon. Die lêer pla my nie regtig nie, volgens Althorp is daar geen bewyse teen my nie. Ek’s net bang Lipinsky begin dieper grawe sodra die nuus van Weismeyer se dood hier aanland.”

      “Wat nou, Jack? Los ons Weismeyer dat hy die referaat in vrede lewer?”

      “Is jy bleddie mal! Daai referaat gaan my harde werk van die afgelope tyd verwoes – al die draadsitters gaan verkeerde kant toe spring. Ons sal iets oor Lipinsky moet kry om hom stil te maak wanneer die nuus oor Weismeyer se dood uitkom.”

      “Moet ek my aasvoëls opdrag gee om te begin krap?”

      “Ja. Begin sommer nóú bel.”

      “En as Lipinsky so skoon is soos Althorp beweer?”

      “Dan skep ons ’n situasie soos met Donaldson.”

      “Ek sit in Suid-Afrika, Jack! Dit gaan moeilik wees …”

      “In Chicago sou jy in elk geval ook net telefoniese opdragte gegee het. Daar’s geen verskil of jy die toutjies in Suid-Afrika of van hier af trek nie.”

      “Reg, Jack.”

      Willie sug toe hy die gehoorbuis neersit. Dit help nie om met MacArthur te redeneer nie. En met sy nuwe opdrag kan hy nie bekostig om Viking-hulle nou te keer nie, dit sal net sy aandag verdeel.

      Die onbekookte Kriel-plan moet tog maar voortgaan. Hy kan net hoop alles verloop glad.

      * * *

      Shaheena skrik wakker toe Elton se wekker om middernag skril lui. Hy sit die bedliggie aan, staan op en trek aan terwyl sy hom deur skrefiesoë dophou.

      Waarheen sal hy dié tyd van die nag op pad wees? Sy wil nie vra nie en maak of sy slaap. Hy het die hele aand vreemd opgetree. Eers broeiend voor die TV gesit sonder sy gebruiklike half-jack. Toe sonder ’n woord halftien kom slaap, wat haar verras het. Hy was nog nooit ’n vroeë slaper nie.

      Sy sit regop in die bed toe sy motor wegtrek. Is hy op pad na ’n ander vrou? wonder sy. Of het hy ’n afspraak met sy pelle in een of ander dobbelhool of nagklub?

      Sy staan op en sit die slaapkamer se hooflig aan, beskou haarself in die spieël voor die hangkas. Haar wang lyk beter, die swelsel het gesak. Die blou kleur is nou geel. Sy staan nader aan die spieël. Die donker kringe om haar oë was nog nooit so opmerklik nie.

      Sy sug diep. Haar vaste voorneme om net op haar werk te fokus, begin weer wankel. Hoe lank gaan sy nog hierdie situasie verduur? Dis mos nie normaal nie! Sy voel soos ’n vreemdeling in haar eie huis. Kommunikasie tussen hulle is beperk tot Elton se beledigings. En sy leef gedurig in vrees vir wat volgende gaan gebeur.

      Die wete dat haar huwelik ontspoor het, tref haar opnuut. Dis soos ’n vuishou in die maag.

      “En daar’s niemand na wie jy kan hardloop nie, Shaheena,” fluister sy. “Hierdie ding sal jy op jou eie moet solve.”

      11

      Dis ’n trietsige Kaapse winteroggend, maar vir Frankie is dit die mooiste dag van die afgelope vyftien jaar. Hy is skaars bewus van die fyn reën wat op hom neersif en in straaltjies uit sy hare langs sy nek afloop.

      Met die reuk van vryheid in sy neusvleuels en die vooruitsig dat hy binnekort Sue se warm lyf teen hom gaan vasdruk, gee hy nie om om soos ’n verkluimde hoender in net ’n kortmouhemp, jeans en plakkies in die halfskemer op die sypaadjie te wag nie.

      Hoe lank het hy nie oor hierdie dag gedroom nie! Hoe het hy nie die tyd om gebid om uiteindelik hier te kan staan nie.

      Hy het effens vroeër uitgekom as die amptelike tyd. Die bewaarder wat hom uitgelaat het, het gesê dis twintig voor sewe. Die horlosie


Скачать книгу