Sophia se beskermengel. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.nie.
Sy voel ook skuldig omdat sy heeltyd aan die aantreklike Geoffrey Doubell dink.
“Ek het nie nou lus vir stap nie,” sê Maria stuurs. “Ek is moeg.”
“Goed, dan gaan ek alleen.”
Sophia stap na die pan. Die manewales van die paar watervoëls wat nou terugkeer vandat die oorlog nie meer om hulle woed nie, trek haar aandag. Die voëls roep, kwetter, klap vlerke, jaag mekaar. Sit op die takke van die halfverdrinkte bome in die dam en op die riete. Hoe sorgloos is hulle tog nie! Hulle kan wegvlieg. Kon sy maar uit daardie kamp weggevlieg het. Daar het sy nie een voël gesien nie.
Hier by die pan dink sy aan Geoffrey Doubell wat gesit en waghou het terwyl sy haarself in die water was. Hy was lank, met breë skouers, en so manlik. Daar was egter meer, iets anders, iets besonders, omtrent hom. Hy het so slim geklink wanneer hy praat. Sy droom dikwels van hom. Wie weet, dalk kom kuier hy weer eendag hier.
Hier, waar perde, skaaptroppe en beeste altyd gewei het, is nou net kaal vlaktes. Hulle koei en perd wei naby die huis en word soos goud opgepas. Die gras begin geleidelik weer groei oor die heuwels en dale.
Sy skrik uit haar mymering toe sy ’n perd hoor aankom. ’n Yskoue hand wurg haar keel toe sy sien die ruiter is Niklaas Grobler. Hy het haar gesien en kom nader.
Sophia sit versteen. Hoe het hy geweet sy is hier? Spioeneer hy op hulle? Of ry hy sommer oor hulle plaas asof hy mag?
“Dagsê,” hoor sy, maar reageer nie.
Hy klim van sy perd af en kniehalter die dier. Dan stap hy afgemete nader. Hy is fris en sy klere is netjies en heel. Sy bewe liggies. Hy grinnik spottend. Sy blik gaan minagtend oor haar.
“Wat soek jy hier op ons plaas?” Sy probeer haar stem sterk hou, maar dit bewe ook. “Kom jy hier jag? Of kom jy kyk of ons swaar genoeg kry?”
“Dis waar dat ek julle plek bespied, en vandag het ek jou gekry. My ou vriend Lood se weduweetjie. Het jy nie ’n man nodig nie? Slaap jy nie snags koud nie?”
Hy kom nader, tot vlakby haar. Kyk na haar van onder sy hoed se rand. Hy haal dit aspris nie af nie, want hy wil natuurlik wys dat hy haar nie respekteer nie. Die son is agter hom. Dit verblind haar sodat sy nie die uitdrukking op sy gesig sien nie. Sy sit haar hand bo haar oë en kyk op na hom, te bang om op te staan. Skaam oor haar verflenterde rok en kaal voete.
Niklaas gee een tree nader. “Jy dink jy’s beter as ek, nè? Beter as ons Groblers. Jy was altyd so hooghartig oor jy van Pretoria af kom. Dink mos ons boere is agterlike takhare. Maar wat is jy nou? Jou skoonvader is nie meer die belangrike kommandant nie. Hy is so arm soos ’n kerkmuis. Jy het nie meer ’n man nie en jy is vir Lodewyk Joubert net nog ’n mond om te voed. Kyk hoe lyk jy! In vodde.”
Sophia staan op met die houding van ’n dier wat haarself met naels en tande moet verdedig. “Ons Jouberts mag arm en in vodde wees, maar ons is nie verraaiers nie, Niklaas Grobler. Jy het die Engelse gehelp om die Boere aan te val. Ek hoor jy sou gefusilleer gewees het as jy nie ontsnap het nie.”
Voordat sy kan keer, gryp hy haar en gooi haar op die grond neer. Haar rok vlieg onbehoorlik hoog op. Toe is hy bo-op haar en druk haar bene met syne oop. Sy veg en spartel verbete.
Sy hoor iemand skree. Skielik los hy haar en staan op. Sy trek haar rok af. Sy is bitterlik verneder. Tot haar verbasing hardloop hy na sy perd. Sy kyk hoe hy dit vinnig bestyg en in aller yl wegry. Die perd begin galop. Hy verdwyn oor die randjie.
Verdwaas kyk sy wie hom afgeskrik het. Haar hart bulder toe sy ’n man op ’n perd aangejaag sien kom. Hoe kan dit wees? Dit is dan Geoffrey Doubell. Sy is so skaam, so verneder. As sy tog maar liewer net daar en dan kan doodgaan en in die grond in verdwyn. Niklaas wou haar onteer, besoedel. Sy weet nie wat om te doen en hoe om teenoor haar redder op te tree nie.
Geoffrey Doubell is nou by haar en spring van sy perd af. Sy kan hom nie in die gesig kyk nie.
“D- … dankie,” is al wat sy uitkry.
Geoffrey staan voor haar. Sy kyk na sy laarse. “Wie was daardie man?” vra hy.
Sy dwing haarself om op te kyk in sy gesig. Wat sy daar sien, is woede en verontwaardiging maar ook jammerte. “O … ons verraaierbuurman, Niklaas Grobler. Hy het my k- … kom aanval.”
Sy kan haar nie inhou nie en bars in trane uit. Geoffrey Doubell se arms sluit sterk om haar en sy huil teen sy breë bors. Hy streel haar rug en maak troosgeluide.
“Gelukkig het ek hier verbygekom om ’n rif te bekyk wat oor julle plaas na Groukrans loop. Ek sal daardie man ’n les gaan leer.”
Sy klou aan die sterk lyf vas. Voel vir die eerste keer in ’n lang tyd beskerm en geborge. Hoe heerlik is dit tog om teen hom te staan! Haar hart klop woes en trillings trek deur haar lyf. Sy smag al so lank na liefde.
Maar sy moet dit nie by dié vreemdeling soek nie … hierdie halwe Engelsman. Sy moet haar stigtelik gedra, soos dit ’n weduwee betaam.
“Nee, los dit,” sê sy. “Jy moenie in ons lelike oorlog ingetrek word nie. Ons oorlog is nie verby nie. Ons en die joiners haat mekaar.”
Hy los haar. “Ek kan dit verstaan, maar ’n man mag nie ’n weerlose vrou aanval nie. Ek sal jou huis toe neem.”
Sy kyk verskrik op in sy diepbruin oë. “Nee, ek sal terugloop. Jy hoef nie saam te kom nie.”
Hoe sal dit nou lyk as sy met hom by die huis aankom? Sal hulle nie dink sy ontmoet hom skelm nie? Hy soek steenkool op die plaas sonder haar skoonvader se toestemming. Sy is ook te skaam om te vertel wat Niklaas aan haar gedoen het. Haar skoonvader sal hom wil gaan straf, dan is daar tog net weer ’n bakleiery. Sy wil nie hê haar skoonvader moet seerkry nie.
Hy kyk fronsend, verbaas na haar. “Gaan dan, maar ek hou jou dop.”
Sy draf omtrent terug na die opstal. Kyk een keer om en sien hom sit op sy perd, roerloos. Dankbaarheid, ’n sagte warmte, vul haar hart. Hy het haar eer gered. Sy hou soveel van hom. Te veel.
5
Geoffrey ry tot voor die groot sandsteenhuis van die Groblers. In vergelyking met die huise op die buurplase lyk dié een asof daar nooit ’n oorlog was nie. Daar is selfs ’n blomtuin. Hy sien werkers doenig by die buitegeboue en op die heuwel daar naby wei ’n trop skape. Hy kniehalter sy perd, stap op met die stoeptrappe en klop hard aan die deur.
Lettie Grobler maak oop. Onmiddellik verwelkom sy hom met daardie kruiperige, onderdanige glimlag wat hom heimlik irriteer. “Alla, dis mos meneer Doubell. Kom in, kom in. Ek stuur iemand om my man te gaan roep. Julle wil seker besigheid praat.” Sy knipoog vir hom.
Sonder om terug te glimlag, sê hy: “Dag, mevrou Grobler. Ja, ek kom met u man praat, maar ook met u seun Niklaas.”
“Ek laat hulle albei roep. Hulle is by die stalle. Kom in. Ek maak koffie en ek het lekker soetkoekies gebak.”
Sy los hom in die sitkamer vol vooroorlogse meubels. Alles is blink en gepoets. Daar is blomme in ’n glasvaas op die tafel. Die gesigte van voorgeslagte kyk suur na hom van die mure af. Dit is nie mooi mense dié nie, dink hy. Nóg van buite nóg van binne.
Stefaans Grobler kom ingehaas, gevolg deur sy fris seun Niklaas.
“Dis darem nou goed om jou weer te sien, neef,” sê Stefaans Grobler, alte bly om die gans te sien wat goue eiers kan lê.
Hy en Niklaas skud Geoffrey se hand. Niklaas kyk Geoffrey egter agterdogtig, behoedsaam aan. Asof hy iets slegs verwag, want hy weet natuurlik hy is skuldig.
“Dag, menere Grobler,” sê Geoffrey. “Ek kom eintlik oor iets onaangenaams.”
Nou lyk Niklaas verskrik dog stuurs en Stefaans se oë is ongerus. Hulle sit almal en die Groblers kyk Geoffrey stip aan.
“Ek het afgekom op ’n onaangenaamheid op die bure se plaas,” sê Geoffrey bars. “Meneer Niklaas Grobler het die jong