Ek wens, ek wens. Zirk van den Berg

Читать онлайн книгу.

Ek wens, ek wens - Zirk van den Berg


Скачать книгу
Sy geselsies met die dooies is nie net eensydig nie, maar gewoonlik vertroulik van aard. Seb tel nou en dan interessante goed op by sy kollegas wat meer begrafnisse bywoon as hy, en wat daar hoor hoe die agtergeblewenes stories oor die oorledenes vertel, en blommerangskikkings en weduwees sien omfoeter. Hulle skerts in die kantoor, maar Helen wil nooit daarvan hoor nie, sy sê sy kollegas is oneerbiedig. Seb self kan net vertel van die vergrote lewers wat hy gesien het, die verbryselde skedels wat hy kunstig herbou en bedek met vel en hare totdat die kop weer normaal lyk; dinge waarvan die meeste sterflikes nie wil hoor nie. Dus hou hy sy werk- en huislewe so apart moontlik. Al wat van die een ruimte na die ander oorgedra word, is geld en herinneringe. Die een deel hy, die ander nie. Hy het vrede gemaak daarmee dat hy kamers in sy lewe het – ’n kamer vir werk, ’n kamer vir sy gesin, ’n kamer vir homself. En in elkeen van hulle hoor hy die desperaatheid soos ’n honger hond by die deur blaf.

      Die snelweg is weer stadig. Hy kan nie verstaan waarom almal nie teen dieselfde spoed kan ry nie. Daar is altyd die een of ander oponthoud vorentoe wat terugkabbel en jou botstil laat staan, soos ’n gebeurtenis in die toekoms wat terugvloei na die hede om jou te beduiwel.

      Teen die tyd dat hy by die supermark kom, is hy al goed opgewerk en wil hy so vinnig as wat hy kan deur die winkel woerts. Hy druk verby ’n paar besluitelose klante tot by die broodrak, en het al ’n brood onder die arm toe hy iemand agter hom hoor uitroep. Hy kyk om en sien ’n groot man, so in sy middel-dertigs, wat op een been spring en ’n tingerige omie aangluur wat aan sy trollie vasklou asof dit die lewe self is.

      “Kyk waar jy ry!”

      “Jammer,” kwaak die ou man.

      “Jammer se moer.” Die groot man lig sy broekspyp op en ontbloot ’n kol bokant sy sokkie waar die vel afgestroop is. Die plastiekbuffer vooraan die ou man se trollie is stukkend, en daar is ’n skerp rand. Toe hy die bloed sien, oorval woede die groot man, hy skel dat die spoeg spat: “Fokken blinde ou poephol! Loop in mense vas … Hoekom bly jy nie liewer by die huis nie, of vrek sommer!”

      Hy storm weg, laat die ou man stomgeslaan agter, nie in staat om te beweeg nie. Sy asem jaag vlak deur sy oop mond.

      Seb het al hoeveel sulke lywe op sy tafel gesien, uitgeteerde ou mans wat skaars meer as geraamtes in los velle is, maar nie een van hulle het al só weerloos gelyk nie. Op ’n ingewing tree hy vorentoe en vat die omie aan die arm. “Ek wens hý vrek liewer,” sis Seb sag, “onbeskofte vent.”

      “Ek het hom nie gesien nie.” Die ou man se stem sterf weg.

      “Dit kan met enigiemand gebeur,” troos Seb. “Hy’s net een van daai mense, probleme met woede …”

      Hy self glo nog al die jare in lankmoedigheid. ’n Saak het altyd ’n ander kant, meen hy. Die mense wat sy lewe bemoeilik, doen maar net dinge ter wille van hulleself, en jy kan nouliks iemand daarvoor verkwalik. Maar hierdie blikslaer moes van beter geweet het, ’n mens pik nie op die weerloses nie.

      “Sê nou hy kom terug?”

      Seb skud sy kop. “Hy sal nie.” Hy is allermins seker van sy saak, maar die ou man lyk so beangs dat hy aanbied: “Ek sal saam met oom loop.”

      Die omie vat sy tyd met sy inkopies, dwaal hier en draal daar. Met hierdie gedoente gaan hy hopeloos laat by die huis aankom, besef Seb.

      Hy laat die enjin brul toe hy wegtrek, maar die laaste stuk huis toe is deur kronkelstrate en hy kan nie vinnig ry nie. Die dun lote wat langs die sypaadjies gestaan het toe hulle hier ingetrek het, het bome geword, en gooi skadukolle oor die smal kanaal tussen die geparkeerde karre waardeur hy moet stuur.

      Hy moet sy draai fyn vat by die oprit. Die buitelig is aan, en die dubbelverdieping-dorpshuis se wit nok staan skerp teen die aandlug afgeteken. Die huis is ontwerp met meer hoeke as verbeelding; ’n paar trapesiums geelbruin riffelglas gee karakter.

      Hy loop verby die kaal rotstuin voordeur toe en sit binne sy sleutels op die gietystertafel met die glasblad neer, langs ’n rangskikking geel krisante wat hy eergister van die werk af gebring het. Iemand het dit daar vergeet ná ’n diens in die kapel.

      “Hallooo!” roep hy oudergewoonte, en luister.

      Voetstappe bo by die sitkamer. Helen se bene verskyn op die trappies, en dan die res van haar, op pad na hom toe. Sy is nie lank nie, maar lyk adellik, iets omtrent haar houding, die manier waarop sy haar kop hou, met haar ken gelig en effe eenkant toe. Hy kan nie aan haar nuwe kapsel gewoond raak nie, kort aan die kante en met ’n skewe kuif. Blykbaar hou die meisies by haar werk daarvan.

      “Het jy die melk en brood onthou?”

      Verdomp. “Ek het die brood.”

      “Ek het jou gesê die melk is ook op.”

      “Ek sal teruggaan en dit gaan kry.”

      “Los dit,” sug sy. “Ons sal ’n plan maak.”

      Seb sal nie ’n kans kry om reg te maak waar hy verbrou het nie. Soms voel dit asof hy sy hele lewe lank goedkeuring soek. As die lewendes dit nie wil gee nie, wend hy hom tot die dooies. Hulle het ten minste goeie rede om sy goeie hoedanighede te misken, hy kan hulle vergewe. Die dooies is so goed as onskuldig, glo hy. Skuld is vir die lewendes, tesame met seerkry en wraak, die onophoudelike dans van foute en boosheid, met hoop en medelye wat van die kantlyn af toekyk.

      “Waar’s almal?”

      “Josh is by vriende, die Vader weet waar.”

      “Katrina?”

      “Waar dink jy?”

      Die kind is heeltyd in haar kamer, besig met die Vader weet wat. Wanneer een van hulle ook al inkom, sit sy voor haar rekenaar, sonder ’n oop program. Dit waarmee sy besig was, lê onderaan die skerm versteek, en nie een van hulle se sig is goed genoeg om uit te maak wat dit is nie.

      Blykbaar gee die kinders se ouderdomme – onderskeidelik agttien en sestien – hulle ’n verskoning om hulle te gedra op maniere wat hy sou gedink het is onverskoonbaar.

      Hy systap sy vrou, op pad slaapkamer toe. “Ek wil net iets anders aantrek.”

      “Stort sommer ook. Jy’t al weer daai reuk.”

      Hulle eet spaghetti bolognese en groenslaai, net hulle twee, en kyk na die kinders se leë plekke en borde. Helen dek nog steeds vir almal, uit gewoonte en hoop.

      “Hoe was jou dag?” vra hy.

      Sy gee hom ’n kyk wat hom jammer maak dat hy gevra het. Dis ’n vraag wat hy vroeër jare sonder vrees kon vra, toe sy nog openbare skakelwerk by die versekeringsmaatskappy gedoen het. Selfs nadat sy haar beroep prysgegee het om saam met ’n vriendin ’n restaurant te begin, kon hy vir die eerste ses maande of so vra. Nou maak die onderneming maand ná maand net genoeg geld om te keer dat die vlam van hoop vergaan, maar hulle maak selde ’n wins.

      “Rhonda se eks is so ’n vark oor die kinders se onderhoud. Sy moes al weer geld uit die kapitaal leen.”

      Seb voel die wrewel in hom opstoot omtrent elke keer wanneer Helen van Rhonda praat, wat deesdae byna die hele tyd is. Rhonda is haar vennoot, ’n enkelma wie se uitgawes nie deur haar salaris by die restaurant gedek kan word nie.

      “Teen hierdie tyd het sy seker al meer uitgehaal as wat sy ingesit het.”

      “Sy het die geld nodig.”

      Seb is seker Helen het lankal die skrif aan die muur gesien en sou die restaurant al toegemaak het, die verlies beperk het, as dit nie Rhonda se sielkundige ewewig en bankbalans help red het nie. Die vrou is broos, immer behoeftig. Seb dink altyd aan haar as “Help Me Rhonda”, soos die liedjie, en wag nog sy kans af om dié kwinkslag kwyt te raak.

      “Wat sal dit vat vir daai vrou om op te hou teer op almal om haar? Ek wens sy kry geld iewers vandaan, wen die bliksemse lotto of iets.”

      “Moenie dat ek oor jóú kollegas begin praat nie,”


Скачать книгу