Medusa. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.draai dit in rooi geskenkpapier toe. Dieselfde kleur papier waarin oom Wollie sy bootjie toegedraai het toe hy ses was.
Hulle twee was alleen by oom Wollie se huis, want sy tannie het saam met sy ma en pa na ’n toneelstuk gaan kyk. Hulle het gereeld by sy ma se suster en haar man gaan kuier en oom Wollie het gesê hy sal hom enige tyd vir die aand oppas. Hulle moet die toneelstuk geniet, want hy’t nie erg aan sulke goed nie.
Die grootmense was skaars weg toe oom Wollie die bootjie vir hom gee. “Jy moet net sien, dit kan op die water dryf.”
Hy het so ’n bootjie begeer, want een van die bure se seuns het altyd met presies so een in hulle visdam gespeel.
“Ek sê jou wat, hoekom gaan klim ek en jy nie in die bad nie?” het oom Wollie voorgestel. “Dan kan ons lekker met die bootjie speel.”
Dit het na ’n goeie plan geklink. Oom Wollie was so ’n gawe man. Hy’t hom altyd gegryp en gekielie as hulle daar kom. En wanneer dit ’n aandkuier was en hy vaak word, het hy op oom Wollie se skoot aan die slaap geraak. Sy ma het gesê oom Wollie is so lief vir kinders omdat hulle nie kinders van hul eie het nie.
Oom Wollie het die bad vol getap, al sy klere uitgetrek en hom toe ook laat uittrek. Hy wou eers sy onderbroek aanhou, maar oom Wollie het gesê sy ma gaan kwaad wees as dit nat is.
Toe wou hy oorkant oom Wollie in die bad gaan sit, maar die oom het gesê hy moet tussen sy bene kom sit, sy rug styf teen sy maag. “Dan’s daar meer plek om met die bootjie te speel.”
10
Kassie is al vroeg op kantoor. Hy kyk of daar enige aantekeninge op Rooi se lessenaar rondlê, maar daar’s boggherol. Rooi se boonste lessenaarlaai is gesluit, wat hy moes voorsien het.
Rooi sit nie sy mond aan die kantoor se Ricoffy nie en bêre sy eie fancy koffie in sy laai. En omdat hy glo Piedt steel gereeld daarvan, hou hy die laai deesdae gesluit. “Piedt is kwansuis ’n geregsdienaar, maar hy’s so geslepe soos ’n gewoontemisdadiger wanneer dit by my Douwe Egberts kom,” het hy nog verlede week gekla.
Kassie trommel met sy vingers op die lessenaar, grawe dan in een van sy laaie om die telefoonnommer van die Valke se Elektroniese Misdaadeenheid in Bellville te kry. Hy bel, maar daar’s nog nie antwoord nie.
Hy stap na die kombuisie en sit die ketel aan, hoor dan hoe iets buite die voordeur neerplof. Hy stap soontoe, sien dis die oggendkoerante wat afgelewer is. Hy raap Die Burger op. Die voorblad bevat ’n groot gesinsfoto van die Van Tonders en die opskrif: Nóg drie verdwyn uit noordelike voorstede.
Kassie weet die brigadier het gister ’n nuuskonferensie gehou. Sy kon seker nie wag nie, want sy lewe vir SGU-publisiteit.
Hy lees vlugtig die berig en swets saggies toe hy sien dat sy die wit paneelwa genoem het. Hulle het vooraf met haar afgespreek om nie enige besonderhede vir die media te gee nie. Hulle sou vandag vergader om te besluit watter inligting bekend gemaak kan word sonder om die ondersoek in die wiele te ry.
Mediadekking bly maar ’n tameletjie. Aan die een kant het die polisie ’n plig teenoor die publiek om hulle bewus te maak van die gevare, maar aan die ander kant weet die ontvoerders nou die polisie is op die uitkyk vir die wit paneelwa.
Hy drink sy koffie terwyl hy deur die stapel ouer dossiere blaai. Sy hart gaan uit na die gesiglose straatkinders. Slegs klein koerantberigte is by hul dossiere ingesluit, asof hulle verdwyning nie behoorlike dekking regverdig het nie. Hy kyk na die name: Clement April, Sipho Palela, Kadiso Mayana, Jermaine Carolis, Johnny January … Dis hoofsaaklik seuns, en sommige se ouderdom is geskat. Net drie meisietjies, een van nege en twee sewejariges.
Hy hoor hoe sy kollegas een ná die ander arriveer, Rooi heel laaste.
“Goeiemiddag,” sê Kassie toe hy by die kantoor instap.
Rooi kyk vlugtig op sy horlosie. “Ek’s net vyftien minute laat. Nie nodig om sarkasties te wees nie.”
Kassie frons. “Ons tyd is te kosbaar vir jou om ’n fokken minúút laat te kom.”
Rooi kyk verbaas na hom. “Bliksis, maar jy’t met die verkeerde voet uit die bed opgestaan!”
“Wat het jy gister uitgevind oor Facebook en die ander vermistes?”
“Kan ek net eers gaan koffie maak?”
“Nee.” Kassie vertel vlugtig van die boodskappe op Danie van Tonder se Facebook-blad. “Ons moet dadelik by die Valke se rekenaarboffins uitkom. Maar dit sal beter wees as ons vooraf kan weet of Jakkie Prans ook die ander kinders gekontak het.”
Dít laat Rooi uit sy oggendslaap wakker skrik.
“Ja, drie van die familielede wat ek gister in die hande kon kry, het bevestig hulle oudste kinders was op Facebook doenig. Maar ek sukkel nog om die mense te kry wie se kinders in Canal Walk verdwyn het.”
“Het niemand iets van speelgoed of sporttoerusting gesê nie?”
Rooi skud sy kop. “Niks. Die meeste was nie eintlik …”
Hy bly stil toe brigadier Fortuin by die kantoor instorm. Daar is ’n blos op haar wange, soos altyd as sy belangrike nuus het.
“Ek het nou net ’n oproep gehad van die Durbanville-polisie. Moira van Tonder se lyk is by ’n gruisgat langs die Vissershokpad gekry. Hulle was vroegoggend daar besig om met ’n stootskraper ’n nuwe gat of iets te grou, toe kom hulle op die lyk af. Die eienaar van die gruisgat is honderd persent seker dis Moira, want hy ken die Van Tonders verlangs.”
“Niks wat daarop dui daar’s nog lyke begrawe nie?” vra Kassie.
Die brigadier haal haar skouers op. “Die eienaar het die stootskraperspan opdrag gegee om nie verder te grawe nie. Maar julle sal nou bleddie vinnig daar moet uitkom. Ek sal forensies bel sodat hulle dadelik ’n span uitstuur.”
* * *
Vanoggend gebruik Zach ’n internetkafee in Langmarkstraat. Hy wil op Facebook kontak maak met Esté Willemse, die meisie met die drie sussies. Hy was lanklaas in die stad, en was dit nie vir die swaar oggendverkeer op die N1 nie, sou hy hierdie plek meer gereeld besoek het. Dit het lekker afgesonderde hokkies waarin ’n mens ongestoord kan werk.
Festus het belowe hy sal vanoggend na die park naby die kinders se huis gaan soek. Omdat Zach die Opel gevat het, sal Festus met die motorbike moet ry. Hy ry nooit met die paneelwa om plekke te gaan uitcheck nie. Al is die ding nou blou, is dit beter om veilig te speel.
Zach maak die vals profiel van Saartjie Benno oop. Hy het ’n foto van ’n swartkopmeisie met ’n bril as profielfoto gebruik. Bietjie nerdagtig, maar dit laat haar onskuldig lyk.
Hy druk eers die like-knoppie by ’n paar van Esté se inskrywings. Sy is ’n groot fan van Justin Bieber, wat Zach soos ’n handskoen pas. Daar is ’n klomp Bieber-T-shirts in die paneelwa wat hy eenkeer by ’n musiekshop gesteel het.
Zach druk die message-knoppie en skryf: ek sien jy luv Justin Bieber ok. ek het al sy cd’s en n t shirt wat hy self geteken het. ons het op fakansie in amerieka een van sy shows gekyk toe teken hy dit vir my. hy is awesome.
Hy stuur die boodskap. Eers net die aas uitgooi en kyk of Esté byt. Sy sal nou in die klas wees en seker eers later die boodskap sien, maar hy sal weet of sy van die chat-soort is as hy vanmiddag hierheen terugkom vir sy tweede skof.
Hy trek die lysie van sy ander geteikendes nader om ook met hulle gesprekke aan te knoop, maar sy selfoon lui.
Festus.
Wat nou tog? Dis nie sy broer se gewoonte om te bel nie.
“Ons het bietjie shit,” sê Festus toe Zach antwoord, maar hy klink nie eintlik gerattle nie.
“Watse shit?”
“Ek was met die bike op pad Kenridge toe, toe’s daar ’n moerse lot cop-karre op die Vissershokpad. Ek het agter hulle aangery. Hulle het die vrou by die quarry gekry.”
“Waarvan